Читать книгу Boos en Bisar - Chris Karsten - Страница 7

Die verhoor

Оглавление

Frans en Theuns se verhoor oor die verskillende voorvalle van verkragtings begin op 12 Junie 1995 in die hooggeregshof in Port Elizabeth. Talle vroue wag hul beurt af om te getuig wat met hulle gebeur het.

Die eerste een wat getuig, is die kunsstudent wat Frans verkrag het nadat hy haar by ’n pizza-eetplek ontvoer het.

Die tweede is die swanger vrou wat gaan sigarette koop het die Sondagoggend toe Frans en Theuns haar verkrag het terwyl sy gepleit het vir haar baba. Sy is nou nege maande swanger. (Op 21 Junie skenk sy die lewe aan ’n dogtertjie, sonder komplikasies vir ma of baba.)

Frans en Theuns word skuldig bevind op al die aanklagte teen hulle oor hierdie twee voorvalle.

Die derde vrou wat getuig, is Dané de Bruyn wat vertel hoe sy net-net van Frans en Theuns weggekom het.

En dan getuig Alison oor daardie verskriklike nag. Sy onthou in gruwelike besonderhede wat hulle alles met haar gedoen het, en selfs wat sy gedink het terwyl hulle haar verkrag en gesny het.

Adv. Allan Frost, wat Frans verdedig, wil van haar weet wat sy dink van Frans se “berou”. Sy sê hulle is boosaardig en sy voel niks vir hulle nie. En vertel hoe die voorval haar lewe beïnvloed het. Sy sê sy is nie bang vir mans nie. “Ek is net baie skrikkerig vir ’n romantiese verhouding.”

’n Groot snywond aan haar keel is duidelik sigbaar en sy kry fisioterapie vir die beperkte beweging in haar nek. Maar dit is die beserings aan haar ingewande wat haar veral kwel, as sy dalk eendag swanger wil raak. Sy slaap ook sleg. “Die gebeure kom terug, maar dan stoot ek dit weg. Ek hou nie daarvan om daaroor te dink nie.”

Sy is baie gespanne en ly aan stres. Hoewel sy nie wou hê die gebeure moes haar lewe verander nie, het sy uit haar ou woonstel getrek en haar motor waarin sy ontvoer en verkrag is, verkoop.

Frans getuig oor die inkubus wat hom gedryf het om vroue te verkrag en Alison dood te maak. Die demoon woon in hom en praat in sy kop, sê hy.

Frans getuig oor die inkubus wat hom gedryf het om vroue te verkrag en Alison dood te maak. Die demoon woon in hom en praat in sy kop, sê hy.

Hy beken dat hy en Theuns Alison verkrag het. Ná die verkragtings het hy haar aangesê om weer haar klere uit te trek. Hy het op haar gaan sit. “Ek was op haar toe ek ’n stem duidelik hoor deurkom: ‘Nee, ek soek haar dood.’ ”

Hy het haar gewurg. Hierna het die inkubus hom opdrag gegee om haar liggaam te verniel.

“Theuns het haar ’n ligte sny oor die keel gegee. Daar was baie bloed. Ek het absoluut berserk geraak en haar oor die keel gesny met die doel om haar dood te maak.”


Frans du Toit en Theunis Kruger buite die landdroshof in Port Elizabeth

Eastern Province Herald

Hy het Theuns op sy togte van verkragting saamgevat omdat Theuns ook demone wou hê. Theuns het na hom “opgekyk”.

Frans getuig ook hy is baie bekommerd dat die “demone wat in hom was”, nou in sy seuntjie (van skaars twee jaar oud) ingevaar het. Sekere goed wat klein Joshua skielik begin doen het, bevestig dié vermoedens, sê hy.

Hy getuig dat Theuns “baie in sy skik” was toe hulle die mes, met Alison se bloed nog daaraan, die Sondag gebruik het om kos te berei.

Staatsadv. Grant Buchler sluk swaar aan die demone, en sê hulle wou Alison doodmaak nadat hul vorige, swanger slagoffer hulle by die polisie gaan verkla het.

Natalie du Toit getuig huilend dat sy lief is vir haar man, al belieg hy haar. Toe sy die waarheid oor die verkragtings hoor, was sy geskok. Hy het egter gesê hy is jammer. “Hy het gesê hy het hierdie goed in hom wat veroorsaak dat hy dit doen. Ek het dit aanvaar.”

Sy getuig ook dat haar en Frans se seksuele verhouding nie normaal was nie. Hy wou baie gereeld seks gehad het, maar dit was nie “obsene seks” nie.

Kol. Kobus Jonker (destyds nasionale hoof van die okkultverwante misdaadeenheid van die polisie) getuig dit is ’n “wilsbesluit” of iemand ’n opdrag van ’n demoon wil gehoorsaam.

“Dit pla my dat die voorvalle so deeglik beplan is. Dit dui nie op ’n demoon wat oorgeneem het nie. Demone is ook nie kieskeurig nie. Hulle soek nie slagoffers uit nie.”

Regter Chris Jansen vonnis Frans du Toit op Maandag 7 Augustus drie keer tot lewenslange tronkstraf vir die verkragtings van die kunsstudent, die swanger vrou en Alison, Theuns kry 25 jaar vir die verkragting van die swanger vrou en lewenslank vir Alison se verkragting.

Die regter weier hul aansoek om appèl teen die vonnisse.

Regter Jansen vergelyk die twee verkragters se optrede met dié van “’n seuntjie wat met ’n kettie loop en voëltjies doodskiet net om dood te maak”. Hy sê sy uitspraak moet in hul tronklêers gehou word sodat hulle nooit op parool vrygelaat mag word nie.

Alison is tevrede met Frans en Theuns se vonnisse en bel Tiaan Eilerd om hom daarvan te vertel.

Theuns begin sy tronkstraf in die St. Albans-tronk naby Port Elizabeth uitdien en Frans in die Goedemoed-tronk naby Aliwal-Noord waar sy ouers woon, sy pa ’n polisieman en sy ma ’n bankklerk.

Die ondersoekbeampte, Melvin Humpel, sê die positiewe ingesteldheid van al drie die slagoffers het hom gedryf om seker te maak die skuldiges kry wat hulle toekom.

In sy 21 jaar in die polisie het hy al baie lelike dinge gesien, soos halssnoermoorde, maar veral die wrede verkragting op Alison het hom diep geraak.

“Die walglike dinge wat aan die drie vroue gedoen is, het my kwaad gemaak.” Sy vrou, Mercia, het hom deurentyd bygestaan, veral omdat dit sy eerste verkragtingsaak was en dit nodig was om die vroue se vertroue te wen.

Op 20 Julie 2004 tref ’n groot slag Humpel. Sy linkerbeen word bokant die knie geamputeer toe ’n swaar houtstomp sy been vergruis.

Boos en Bisar

Подняться наверх