Читать книгу Boos en Bisar - Chris Karsten - Страница 13
‘Hou op kla’
ОглавлениеDie Brett Goldin-beursfonds word gesamentlik deur die Royal Shakespeare Company in Engeland, The Actors Centre in Johannesburg en die Baxter-teater in Kaapstad gestig. En in Kaapstad stel Craig Port op ’n spesiale modeparade, wat deel is van die Suid-Afrikaanse Modeweek, die Richard Bloom-stigting bekend, ’n trustfonds om jong ontwerpers in die bedryf te help.
Maar net twee maande ná die gruwelike moorde ontlok die minister van veiligheid en sekuriteit, Charles Nqakula, groot omstredenheid en woede onder die derduisende slagoffers van misdaad in die land. Hy sê in die parlement misdaad is nie so ernstig nie en dis net wittes wat daaroor kla.
“Hou op kla of trap uit die land,” sê Nqakula in die bespreking van sy begrotingspos. Wat die DA-leier, Tony Leon, herinner aan die woorde van ’n vorige minister van die gewese regerende Nasionale Party. Jimmy Kruger het in 1977 oor die dood van die swartbewussynsleier Steve Biko in polisie-aanhouding gesê Biko se dood “laat my koud”.
Hy sê in die parlement misdaad is nie so ernstig nie en dis net wittes wat daaroor kla.
Nqakula se opmerkings volg kort op een van die grootste optogte teen geweld in Suid-Afrika wat deur ’n bekende Kaapse egpaar, Soli en Toni Philander, gelei is. Hulle het al ’n paar keer onder misdaad deurgeloop, en die optog het gevolg nadat Toni se ma, mev. Eugene Schaefer, op Parys in die Vrystaat in haar huis vermoor is.
Toni sê: “Dis skandalig [die minister se woorde] en ’n belediging vir die land se inwoners. Die ANC-politici is meer bekommerd oor hul eie politieke speletjies as die land se inwoners.”
Denise Goldin noem die uitspraak “ongevoelig, skokkend en in uiters slegte smaak. Dit wys hy is iemand met absoluut géén meegevoel met slagoffers of hul naasbestaandes nie. Hy gee nie ’n aks om hoe ons mense voel wat gesinslede gewelddadig verloor nie. Ons gesin is heeltemal gebroke, ons lewe verwoes.”
Anita Rabie van Bellville, wie se ma, mev. Christelene Rossouw (78), drie weke tevore in Welgemoed vermoor is, sê: “Ons sal aanhou kla, want jy mág kla as jou geliefdes vermoor word. Waar anders as by die regering moet ons kla as ons regte vertrap en ons lewe vernietig word?”
“Hy gee nie ’n aks om hoe ons mense voel wat gesinslede gewelddadig verloor nie. Ons gesin is heeltemal gebroke, ons lewe verwoes.”
Oloff Bergh van Somerset-Wes wie se ma, Joy van Aarde (78), die vorige week in haar huis in Gordonsbaai met ’n vleishamer doodgeslaan is, besoek selfs die parlement om te vra dat iets aan die misdaadsituasie gedoen word.
Die swanger verloofde van Clifford Bacon, die vermoorde mev. Van Aarde se buurman, is dieselfde nag verkrag en Bacon, sy seun, Calvin, en dié se vriend Michael Billson (19) is ure lank in hul huis met messe geterroriseer.
Bacon sê: “Ná wat met ons gebeur het, sal ons seker maak ons stem word gehoor. Dis ’n verskriklike gedagte dat ons nie op die regering kan staatmaak om ons te beskerm nie. Die minister se ongevoelige uitspraak is ’n klap in die gesig van landsburgers.”
Tina van Wyk van KwaZulu-Natal sê die minister se woorde maak haar woedend. Sy en haar man, Koos, was in April die slagoffers van ’n aanval waarin haar man se voetsole afgesny en hy in ’n bad vol kookwater gegooi is.
“’n Mens se lewe verander, alles verander, jou liggaam, siel en familie.”
Chris Roos, wie se broer, De Ville, kort tevore op ’n plaas buite Brits vermoor is, sê hy is stomgeslaan. “Die minister het misluk, hy het die stryd teen misdaad verloor.”
Yusuf Bhamjee, ANC-LP, wie se doktersvrou, Sabera, enkele dae tevore in Pietermaritzburg doodgesteek is, sê: “Wie sou iets só wreeds aan haar wou doen? Sy was die sagste en vriendelikste mens denkbaar.”
Brett se suster, Samantha, skryf ’n brief aan pres. Thabo Mbeki wat Tony Leon in die parlement voorlees in die debat oor die president se begrotingspos, net ’n week ná Nqakula se opmerkings.
Die brief lui onder meer: “Mnr. die President, ek kan nie die omvang van die hartseer en lyding wat ons ervaar, aan u verduidelik nie. Dit is die gevoelens wat so baie ander in soortgelyke trauma moes verduur nadat hulle geliefdes in die onbeheerste misdaadsituasie in Suid-Afrika verloor het.
“As iemand wat die wreedhede van apartheid gesien en ervaar het, weet ek u sal empatie hê. Brett se dood en die sinlose moord op ander onskuldige mense kon maklik verhoed word as misdaad boaan die nasionale agenda was en ernstig opgeneem is.
“Dit is tyd dat die verskonings stop. Hoekom word misdaad nie ernstig opgeneem nie? Waar is dit op die agenda? Waar is die hulpbronne?
“Ek is hier om u by te staan op enige manier wat ek kan, mnr. die President. Ek sal saam met u baklei.”
Op 5 Maart 2007 is daar weer ’n groot betoging teen misdaad in Kaapstad. Dit is die dag waarop die verhoor van Shawaan Marlie en Clinton Davids in die Kaapse hooggeregshof sou begin. Die verhoor word uitgestel tot in Mei sodat hul pleitooreenkomste afgehandel kan word.
Denise Goldin sê sy is verbyster oor die uitstel. “Ek wens dit was nog dié tyd verlede jaar toe Brett én my man nog geleef het. Hy [haar man, Peter] was gesond, maar het Brett se dood só swaar verwerk dat hy aan ’n beroerte gesterf het. Hy kon nie die verlies van sy seun hanteer nie.
“Hul dood is soos ’n groot swart gat in my waarom ek moet leef. Ek wil hê geregtigheid moet geskied sodat my seun en Richard in vrede kan rus.
“Ek is teleurgesteld met die uitstel omdat ek gehoop het dat ons dinge kan begin afsluit. Ek doen ’n beroep op [pres.] Thabo Mbeki om te luister na wat sy mense sê.”
Op 21 Mei 2007 luister Brett en Richard se ouers en familie en vriende in die hof toe Shawaan en Clinton se pleitverduidelikings voorgelees word.
Denise sê later sy het, terwyl sy geluister het, “elke laaste asemteug van my seun saam met hom herleef. Ek het sy dood gedeel, sy laaste oomblikke ervaar.”
Ná die pleitooreenkoms bevind regter John Hlophe Shawaan en Clinton skuldig op twee aanklagte van moord, twee van menseroof, twee van roof met verswarende omstandighede en aanklagte wat verband hou met die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie. Hy vonnis albei tot 28 jaar effektiewe tronkstraf.