Читать книгу Suid-Afrikaanse geweldenaars sonder genade - Chris Karsten - Страница 11
Die bekentenis
ОглавлениеOp Vrydag 31 Augustus, twee dae ná sy inhegtenisneming, verskyn Pieter sonder ’n regsverteenwoordiger in die hof om aansoek te doen om borgtog.
Voor landdros Nico Noeth doen hy ’n verstommende bekentenis. Hy sê hy en Amelia het nooit baklei nie en geld het nie ’n rol gespeel nie.
In ’n sagte stem vertel hy dat hy daardie Dinsdagoggend met sy bakkie van die huis weg is, maar net tot by die boonste hoewe, waar hy stilgehou en teruggestap het huis toe.
Hy het van buite deur die venster van die babakamer ingeklim en sy vrou in hul bed oorval. Hy het haar wakker gemaak terwyl hy die mes versteek het. Hy het haar mond toegedruk en haar tot by die kamerdeur gesleep.
“Ek het haar keel met die mes afgesny, wéér deur die venster geklim en gaan werk. Ek het geweet ek tree verkeerd op en geweet sy was swanger.
“Ek is jammer oor wat ek gedoen het. Dit was verkeerd.
“Ek weet nie hoekom ek dit gedoen het nie. Ek was nie myself nie.”
Borgtog word geweier en die moordsaak teen Brian en Sam word teruggetrek.
Maar benewens hierdie bekentenis in die hof en Pieter se verklaring en uitwysings aan die polisie, het die polisie geen bewyse wat Pieter as moordenaar plaas nie.
Die direkteur van openbare vervolging beslis ’n paar maande later dat Pieter nie weens moord op sy ongebore baba aangekla kan word nie, omdat ’n fetus van vyf maande regtens nog nie as ’n “mens” beskou word nie.
In Maart 2002 doen Pieter in die Pretoriase hooggeregshof ’n tweede keer aansoek om borgtog. Hoewel hy vroeër voor landdros Noeth in Pretoria-Noord beken het dat hy Amelia se keel afgesny het, sê hy nou dat hy in daardie bekentenis en in sy verklaring oor die moord gelieg het omdat die polisie hom gemartel het, onder meer deur ’n rubberhandskoen oor sy kop te trek sodat hy nie kon asem kry nie.
“Ek het vir my lewe gevrees en bloot om hierdie marteling vry te spring erken dat ek my vrou vermoor het,” lui sy eedsverklaring nou.
Maar regter M.S. Stegmann weier ook borgtog, en Pieter appelleer hierteen. Op 27 Augustus 2002 misluk sy appèl toe ’n volbank regters van die appèlhof in Bloemfontein beslis Pieter kon nie bewys sy vrylating op borgtog is in die belang van regspleging nie.
In sy verhoor in die Pretoriase hooggeregshof ontken hy op 1 September weer skuld op die aanklag van moord. Hy betwis sy vroeëre verklaring aan die polisie, sy skuldbekentenis in die hof, asook die bevindings in die outopsieverslag.
Brian Moyo getuig hoe hy daardie Dinsdagoggend iemand uit een van die huise op die hoewe om hulp hoor roep het.
Hy het Amelia in die badkamer in ’n plas bloed gekry. Sy het op haar gesig gelê, maar nog geleef. Haar bene het beweeg en sy het om hulp gesmeek.
“Ek het nie gekyk watter beserings sy het nie. Ek was bang. Sy was vol bloed,” getuig hy. Hy het Onica Makola gaan soek en Piet Viljoen gebel.
Onica getuig sy het deur die venster geklim en roepend deur die woonstel gehardloop. Daar was bloed aan die gangmure en in die badkamer. “Sy het op die badkamervloer langs die toilet gelê. Ek het na haar geroep, maar sy het nie geantwoord nie. Ek het nie geweet wat om te doen nie.
“Ek het die wasgoed uit ’n skottel gegooi en dit vol water getap. Ek het mev. Viljoen se waslap natgemaak en die bebloede lakens van die bed getrek.
“Ek is nie seker wat ek wou doen nie, of ek iets wou afvee nie. Ek was baie deurmekaar.”
Op 9 September daag Alexa by die hof op, in ’n swart leerbroek en stywe goue bostuk. Pieter kyk nie na haar terwyl sy getuig nie.
Sy sê Pieter het haar sedert Januarie 2001 al om die tweede week by die gesellinklub besoek of vir seks “geboek”. Die aand voor sy vrou se dood was hy weer by die klub, maar hulle het nie seks gehad nie. Hy het sy troufoto’s gewys. “Sy gewete het hom gepla, hy wou bewys hy is getroud,” getuig sy.
Die aand ná die begrafnis, ’n week later, het hy haar vir seks bespreek, en toe gesê sy vrou “is vandag begrawe”.
“Ons kliënte gesels baie dinge met ons. Jy vat dit nie kop toe nie, hulle het hul eie probleme.”
Regter Essop Patel gelas dat Alexa se regte identiteit op geen manier gepubli-seer mag word nie, onder meer omdat haar seun die volgende jaar skool toe gaan en onbewus is van hoe sy ma haar brood verdien.
Die aand ná die begrafnis, ’n week later, het hy haar vir seks bespreek, en toe gesê sy vrou “is vandag begrawe”.
Prof. Hendrik Scholtz, ’n forensiese patoloog, getuig oor hoe grusaam Amelia se laaste oomblikke moes wees.
Die regter bevind Pieter se bekente-nis voor landdros Noeth, asook sy vroeëre verklaring “onder dwang en aanranding” aan die polisie, én die uitwysing wat hy aan die polisie gaan doen het, mag nie as getuienis aangebied word nie omdat dit neerkom op ’n skending van sy grondwetlike regte. Hy is onder meer, sonder regsverteenwoordiging, nie gewaarsku dat hy die reg het om te swyg nie.
Die enigste getuienis wat teen hom gebruik is, is dié van die tuinier, die huiswerker, die prostituut en die patoloog – en hierdie getuienis verbind Pieter nie met die moord op sy vrou nie.
Met sy uitwysings aan die polisie het Pieter gaan wys waar hy ’n stel bebloede klere en skoene in ’n oop stuk veld sou gegooi het. Dié veld het kort voor die uitwysing afgebrand en die polisie het net verkoolde skoene gekry. Dit het geen forensiese bewyse opgelewer nie. Die moordwapen is ook nooit gekry nie.
Op 25 September 2002 staan regter Patel ’n aansoek van Pieter se regsverteenwordiger toe dat Pieter onskuldig bevind en ontslaan word.
Hy stap verheug as ’n vry man uit die hof, trane van verligting oor sy wange.
Prof. Petra Swanepoel van Unisa se departement straf-en straf-prosesreg meen dit kan gereeld gebeur dat beskuldigdes onskuldig bevind en ontslaan word as die staat se saak net steun op bekentenisse wat in geskil is. Sou dié bekentenisse nie toegelaat word nie, het die staat nie genoeg getuienis om sy saak bo rede-like twyfel te bewys nie.
Hy stap verheug as ’n vry man uit die hof, trane van verligting oor sy wange.
In Pieter se geval is vingerafdrukke waardeloos omdat hy saam in die woon-stel gebly het. Bloed-en haar-monsters van Pieter het geen forensiese bewyse opgelewer nie. Hy het ’n sny aan sy hand gehad ná sy vrou se dood, maar sy bloed is nêrens in die woonstel gekry nie.
Prof. Swanepoel sê ’n verdagte se regte moet aan hom verduidelik word met inhegtenisnemings, en dié regte moet gereeld herhaal word, ook met uitwysings. Ook ’n hofverslag moet weerspieël dat ’n beskuldigde al sy regte verstaan, soos swygreg en reg op regsverteenwoordiging.
Koos en Annatjie Brits vertel enkele dae later op hul kleinhoewe van die skok oor Pieter se vrylating en dat hul dogter se moordenaar nie boet nie.
’n Kort entjie daarvandaan werk Pieter aan sy bakkie, buite die woonstel waar Amelia se liggaam gekry is.
Annatjie sê Amelia was stralend gelukkig oor die baba wat sy verwag het. “Die Donderdag voor haar dood het sy ons almal nog laat voel hoe skop die ou kleintjie in haar maag.”
Amelia se oupa, Robert Greeff, sê hy sal elke sent op sy naam gebruik sodat geregtigheid kan geskied. En Koos skryf ’n brief aan die minister van justisie waarin hy sy ongelukkigheid uitspreek dat Pieter op ’n “tegniese punt” vrygelaat is ondanks sy aanvanklike bekentenis dat hy Amelia se keel afgesny het.
Oor hierdie brief word Koos in Junie 2003 in die hof deur regter Patel geroskam. “Ek weet nie wat jóú belang in die saak is nie, maar ministers meng hulle nie in met regters se werk nie,” sê die regter vir hom.
Regter Patel hoor toe ’n aansoek van die staat aan waarin verlof tot appèl gevra word sodat sekere regsvrae oor die ontoelaatbaarheid van die verklarings, uitwysing en skuldbekentenis aan die appèlhof in Bloemfontein gerig kan word.
Regter Patel weier die aansoek.
Supt. Rudi van Olst van Pretoria se moord-en-roof-eenheid sê hierop die polisie soek nie na ’n ander verdagte nie.
In September 2004, twee jaar nadat Pieter vry by die hof uitgestap het, verhuis Koos en Annatjie Brits na Bela-Bela (Warmbad) om van al die slegte herinneringe oor hul dogter se dood weg te kom.
Maar staatsadv. Elna Wait, adjunk-openbare direkteur van vervolging in Pretoria, is nog nie klaar nie. Sy wil aan die appèlhof aandui dat regter Patel ’n “regsdwaling” begaan het, en die appèlhof vra vir ’n beslissing dat Pieter herverhoor word, dié keer mét die betwiste bekentenis, ver-klarings en uitwysings as toelaatbare getuienis.
Adv. Wait sê in haar geskrewe betooghoofde in die appèlhof die staat het 21 regsvrae wat hoofsaaklik daarom wentel dat Pieter se regte twee keer voor sy bekentenis deur die polisie aan hom verduidelik is.
“As [regter Patel] reg was in sy bevinding dat die landdros [Noeth] ’n plig gehad het om Viljoen se swygreg aan hom te verduidelik voordat hy gepleit het, [is] regtens fouteer deur te bevind dat dié [verhoor-] hof nie kennis mag neem van die feit dat Viljoen vóór sy pleit reeds deur die polisie oor sy regte ingelig is nie.
“Gevolglik het die hooggeregshof fouteer deur te bevind dat die [landdros se] nalating Viljoen se verhoor onbillik en strydig met die reëls van gesonde regspleging gemaak het.
“Die hooggeregshof het fouteer met sy bevinding dat Viljoen in elke stadium van die verrigtinge oor sy regte ingelig moes gewees het voordat hy inkriminerende verklarings gedoen het.
“Die hooggeregshof het ook fouteer deur getuienis te weier dat Viljoen voor die uitwysings aan die polisie en die pleitverrigtinge in Pretoria-Noord inderdaad [deur die polisie] oor sy regte ingelig is, wat insluit sy reg op regsverteenwoordiging.
“Solank mnr. Viljoen bewus was van sy regte en ’n oorwoë keuse gedoen het om nié regsverteenwoordiging te kry nie, is nóg sy regte aangetas en is nóg die verhoor onbillik.”
Maar Pieter se regsverteenwoordiger, adv. Gerhard Wagenaar, sê in s´y betooghoofde onder meer: “Dit word aan die hand gedoen dat die reg tot ’n billike verhoor ingevolge die Grondwet, ’n reg is wat ’n aangeklaagde het – maar nie die staat nie.
“Die staat moet en kan hom dus nie nou beroep op sy reg op effektiewe vervolging en dat hy dus die spreekwoordelike tweede hap aan die appel moet kry met ’n bevel van heropening van die verhoor nie.
“Die hooggeregshof het inderdaad op die getuienis bevind dat daar inbreuk gemaak is op die grondwetlike regte van mnr. Viljoen ten einde bepaalde getuienis te bekom.
“Met inagneming van al die feite het die hooggeregshof bevind dat die toelating van daardie getuienis die verhoor onbillik sal maak en nadelig sal wees vir die regspleging.
“Die vrae met betrekking tot die verrigtinge in die landdroshof hou verband met twee fundamentele regte van ’n beskuldigde (nie die staat nie).
“Ek doen derhalwe aan die hand dat selfs al word die staat se 21 regsvrae met betrekking tot die verrigtinge in die landdroshof beantwoord [deur die appèlhof], sal die antwoorde daarop bloot akademies van aard wees.
“Die hooggeregshof het inderdaad (tereg) beslis dat die bekentenis, die uitwysing en die pleit van skuldig deur mnr. Viljoen in die land-droshof getuienis is wat verkry is nadat inbreuk gemaak is op sy fundamentele regte.”
Op 2 Desember 2004 lewer ’n volbank van vyf appèlregters eenparig hieroor ’n bevel wat as “grondverskuiwend” in Suid-Afrikaanse regs-pleging beskou word:
“Verrigtinge in verband met dieselfde misdaad waarop Viljoen vry-gespreek is, mag weer ingestel word … asof hy nog nooit aangekla, verhoor en vrygespreek is nie.”
Die appèlhof stel ook die voorwaarde dat nóg regter Patel nóg sy twee destydse assessore die saak weer verhoor, en bevind die hooggeregshof het fouteer deur: op hoorsê-getuienis in dokumente tydens ’n aansoek om borgtog staat te maak terwyl die dokumente nie tydens die verhoor ingedien is nie; die toelaatbaarheid van bepaalde getuienis te weier sonder om die partye ’n kans te gee om getuienis oor die relevante feitekwessies van sulke getuienis te lei; te bevind dat die toelaatbaarheid van die bekentenis nie tydens ’n binneverhoor bepaal kan word nie net omdat die toelaatbaarheid van die bekentenis op grondwetlike grondslae betwis word, en te bevind dat Pieter se grondwetlike reg op stilswye aangetas is.
“Ons sal die nuwe verhoor so gou moontlik aan die gang kry.”
Adv. Wait sê: “Dit is baie goeie nuus vir reg en geregtigheid. Ons sal die nuwe verhoor so gou moontlik aan die gang kry.”
Adv. Norman Arendse SC, nasionale voor-sitter van die algemene balieraad van Suid-Afrika, sê: “Hierdie is ’n grondverskuiwende uitspraak. Sover ek weet, is dit die heel eerste keer dat iemand ná ’n verhoor op aanklag van moord vrygespreek word en daar dan beveel word dat hy weer aangekla word.
“Die uitspraak het twee belangrike gevolge. Eerstens stuur dit ’n harde sein aan die gemeenskap dat die howe en die regstelsel steeds daar is om na hul belange om te sien en nie sal toelaat dat mense wat van ’n walglike misdaad verdink word, vry rondloop nie.
“Ten tweede maak die appèlhof dit baie duidelik dat hy beslissings van ondergeskikte howe fynkam en dat regsdwalings nie maklik deur die vangnet van hul kollektiewe wysheid sal glip nie.”
Koos Brits sê: “Ek weet vir sommige mense sal dit lelik klink, maar ek sien uit na Pieter se tweede verhoor. Nie omdat ek gevoelloos is nie, maar sodat ek rus kan kry oor hoe, waar en waarom my kind moes sterf.”
Pieter sê hy is teleurgesteld en “uiters geskok” om te hoor dat hy weer aangekla gaan word en gee hom op 7 Desember 2004 aan die polisie by die landdroshof in Pretoria-Noord oor, waar hy op borgtog van R10 000 vrygelaat word.