Читать книгу Suid-Afrikaanse geweldenaars sonder genade - Chris Karsten - Страница 7

Roudienste

Оглавление

Op 25 Maart, op die 85ste verjaardag van sy ma, Emily, word ’n gedenkdiens vir Pieter gehou in die NG gemeente Floraunapark in Pretoria-Noord. Onder die sowat 250 mense is ook bekendes soos Zack du Plessis, Danny Pretorius en Ollie Viljoen, regisseur van Maak ’n las.

Dr. Herman Carelsen lei die diens en sê onder meer: “Pieter Pieterse loop kaalvoet in die hemelstrate en êrens vandag eet engele Weskuskos met ’n resep wat Pieter vir hulle gegee het. Hier is vandag geen huldeblyke nie, want ons sal nie kan ophou met huldeblyke aan ’n groot man wat nederig geleef het nie.”

’n Gedeelte, “Elkeen se stukkie Bosveld”, word voorgelees uit sy boek Boude en blaaie waarin hy vertel hoe hy en Jenny na die Weskus wil terugkeer. Hierin vertel hy van hul omswerwings in die Kaokoland, Damaraland, Kavango, Mosambiek en die Caprivi.

“En nou is Pieter by ’n ander staning. Vandag lééf hy sy lewe,” sê dr. Carelsen.

“… en êrens vandag eet engele Weskuskos met ’n resep wat Pieter vir hulle gegee het.”

’n Paar dae later, nadat Pieter se oorskot in Nelspruit veras is, vlieg Jenny Kaap toe vir Pieter se roudiens in die NG gemeente Agterbaai op St. Helenabaai. Dr. Fanie Herholdt sê hy kan onthou hoe Pieter op ’n Paassondag met “’n vaal hempie en ’n nog valer broek, en bril skeef op die kop” op ’n agterbank ingeskuif het toe die kerkdienste nog in die skooltjie aangebied is.

Nou, in die nuwe kerk wat Pieter help bou het, sit sy Weskusvriende wit, bruin en swart die banke vol met rooi oë.

Reg voor die kansel (in die vorm van ’n skip se stuurkajuit) hang ’n reddingsboei wat Pieter aan die kerk gegee het, met daarop in vet rooi letters: Geloof. Hoop. Liefde.

Een hele ry word beset deur Susan Kouter-hulle en Klara Garies-hulle en sewe kerse word in die kerk aangesteek deur die kinders van Pieter se natuurskool op Agterbaai.

Saam sing hulle by die diens: “Ek sien die veld – die bosse, berge, vlaktes / Ek hoor hoe fluister grasse, stroom en wind / O Heer, U sorg vir klein, vir groot, vir alles / En U sorg dag na dag vir my, U kind.”

Die teksvers (Lukas 15:20) handel oor die verlore seun wat huis toe gekom het. Dr. Heroldt sê die skrywer het groot klem gelê op “die genade wat God aan hom betoon het”.

Dr. Herholdt sê Pieter het tydens ’n Pinksterbiduur gebid: “Here, dankie dat u 35 jaar kon vergewe …”

“Geen wonder hy het sy nuwe huis op Marlothpark Genade gedoop nie,” sê die leraar.

Drie weke ná die moord, om drie-uur die oggend van Saterdag 6 April, slaan die ondersoekbeamptes, kaptt. Thinus Rossouw en Manie van Zyl, en ’n span polisiemanne op twee huise naby die suidelike deel van die Krugerwildtuin toe. In die een huis in Tonga is Phillemon Malinga en Sesh Makamo, en in die ander een in Hectorspruit is Frans Shabangu nog aan die slaap toe lede van die polisie se eenheid teen ernstige geweldsmisdaad op Middelburg (Mpumalanga) by hulle opdaag.

Nou word die reusesoektog oor honderde vierkante kilometer gefokus op Kenneth Mhlongo, maar hy is soos ’n paling, totdat hulle hom ook uiteindelik op 18 Mei, twee maande ná Pieter se dood, op ’n sitrusplaas by Malelane vastrap.

Frans Shabangu is ’n staatsgetuie en word nie saam met Kenneth Mhlongo, Ndukwana Sesh Makamo en Phillemon Malinga aangekla in die moordverhoor wat in Augustus 2003 in die rondgaande hof op Graskop begin nie.

Jenny getuig oor hoe sy haar man naby die swembad gekry het en van sy liefde vir Tassenberg in ’n tweeliterbottel, soos dié een wat die moordenaars uit die huis weggedra het. Sy ken van haar en Pieter se gesteelde besittings op foto’s in die hof uit.

Frans Shabangu getuig hoe Pieter met die aanvallers geworstel het. Hy het een van hulle saam met hom in die swembad ingetrek toe hulle hom daarin gestamp het.

Al drie ontken skuld op die aanklagte van moord en roof met verswa-rende omstandighede, maar hulle word op 19 Augustus 2003 skuldig bevind.

Regter Johan Els verwerp hul getuienis en sê: “Dit is onverklaarbaar hoekom julle op só ’n barbaarse wyse opgetree het. Dit was op ’n afgeleë plek in die bos, hy (Pieter) was klaar vasgemaak sodat hy hom nie meer kon verset nie. Julle kon met gemak die (gesteelde) goed verwyder het sonder om hom dood te maak.”

Hy vonnis hulle elkeen tot lewenslange tronkstraf plus nog 25 jaar weens roof en sê as hy kon, sou hy nie geaarsel het om die doodstraf op te lê nie. Die regter vra dat die departement van korrektiewe dienste nie parool vir die drie oorweeg voordat hulle 40 jaar van hul vonnisse uitgedien het nie. “Hervorming is nie ter sprake vir mense soos julle nie.”

Ná die verhoor gee Jenny op versoek van die kurator van die Polisie-museum in Pretoria toestemming dat Pieter se drafskoene, die Tassenberg-bottel en die muurhorlosie uitgestal mag word.

“Wat is dit met Maak ’n las se mense? Is die program dan gepaljas?” vra Marita, weduwee van Tolla van der Merwe oor Pieter se dood. En Zack du Plessis sê: “Nou kap hulle darem erg in óns bos.”

Hulle verwys na die verskeie sterfgevalle die laaste paar jaar van mense wat by dié program betrokke was, soos Jan Spies, toe Tolla en Koos Meyer, en Estelle Viljoen, vrou van regisseur Ollie Viljoen, die sangers Worsie Visser en Bles Bridges, wat as gaskunstenaars opgetree het, en Gert Coetzee, lid van die produksiespan, en nou Pieter.

Suid-Afrikaanse geweldenaars sonder genade

Подняться наверх