Читать книгу Suid-Afrikaanse geweldenaars sonder genade - Chris Karsten - Страница 3
Kaalvoet in hemelstrate
ОглавлениеOp 10 Oktober 1985, toe nog ’n vakansiedag (Krugerdag), word die Spookhuis finaal te eensaam vir hom. Skemeroggend ry hy die 16 kilometer met sy Rooiford gly-gly deur die modder om die Ingilsman op Vredenburg te gaan opsoek.
Hy wil by iemand wees, en sy het hom laat onthou hoe dit voel om by iemand te wees. Hy het aan haar geraak, en sy is sag.
Die swerwende skrywer staan nou al twee jaar hier op Tietiesbaai aan die Kaapse Weskus, en hy jeuk om weer die Spookhuis (soos hy die woonwa noem) agter die rooi lorrie te haak, maar nie langer alleen nie. Jonk is hy ook nie meer nie. Op 49 het ’n man ’n vrou nodig wat kan saam trek, nie net honde nie, al is Flossie en Floors getroue geselskap wanneer hy saans ’n Tassies skink en die hotnosvissie oor die kole oopvlek. Maar hy het iemand nodig met wie hy al die wonderlike stories kan deel wat hy nog uit sy kop op die tikmasjien moet uitkry. (Later kry hy darem ’n laptoppie.)
Hy eet viskoppe en hy sê “Hallo” in Afrikaans en sy sê “Hallo” in Engels, en hulle verstaan mekaar.
En só iemand het hy pas op Tietiesbaai ontmoet, die jong Engelse Jenny, net 25 jaar oud, tuinboukundige van Vredenburg wat in ’n bont Volkswagen rondry. Ná die ontmoeting het hulle al meer van mekaar gesien, en gehou van wat hulle gesien het. Hy eet viskoppe en hy sê “Hallo” in Afrikaans en sy sê “Hallo” in Engels, en hulle verstaan mekaar. Daarom ry hy op Krugerdag Vredenburg toe.
Twee maande later, die aand van 10 Desember, staan sy in die Spookhuis se voortent en ertappels skil. Hy dop die kreef af wat hulle laatmiddag by Footloose se gat gaan uithaal het. Die gesprek verloop min of meer só:
“Ek was vandag dorp toe. Het jy geweet dat mens sommerso by ’n plek kan instap en getroud kan raak?”
“Jy meen … enige plek?”
“Nee, nou nie in die Checkers of so nie, maar by ’n predikant of ’n landdros, jy weet.”
“O? Jy bedoel … sommerso?”
“Sommerso. En dis nie net die prokureur wat dit sê nie, ek was by ’n dominee ook. Hy sê dis maklik, jy kan net by hom instap en sê: ‘Trou ons.’ Net so. Enige tyd, jy weet. Soos sê nou maar môre. Enige plek, as daar net ’n dak oor jou kop is. Dis wat die wet sê. ’n Dak oor jou kop. ’n Seil is ook mos ’n dak.”
Die volgende middag, 11 Desember, sit hy vir haar en wag. Halfvier kom die bont Volkswagen oor die bult en ’n entjie agter haar kom dominee Patrick Peterson.
Hy besef hy het vergeet om skoene aan te trek. Maar die Ingelsman is ook kaalvoet, in haar wit kraaghempie. Ná die plegtigheid in die voortent, met pienk hartjieblommetjies, sit die pasgetroudes die skuitbakkie in die water. Sy vat die roeirieme en stuur hulle op die stil somersee by die bek van die baai uit. Agter die deinings, tussen die bamboes, gooi hulle die kreefnette af. Laataand maak hulle die botteltjie sjampanje oop.
“En toe ons eindelik saam die lang stuk pad in die Rooiford vat, met die Spookhuis agteraan, ná ons die Ingilsman se paar stukkies meubels verkoop het, is die vrag klein. As nie een van julle hou van bagasie nie, is daar in een rooi lorrie en een karavaan oorgenoeg plek vir twee mense.”
(In sy bundel Baai baai Tietiesbaai beskryf Pieter Pieterse hierdie troue met Jenny, nadat hulle mekaar net twee maande geken het. Die huwelik sou 16 jaar duur, tot met sy moord op Sondag 17 Maart 2002.)