Читать книгу Suid-Afrikaanse geweldenaars sonder genade - Chris Karsten - Страница 4

Die swerwer

Оглавление

Pieter is op 9 Junie 1936 in Pietersburg gebore, die oudste van vier kinders, twee susters, twee broers. In 1954 matrikuleer hy in Pietersburg, ’n uitblinker in gimnastiek en rugby, met sy fris kuite.

Op die familieplaas in die Soutpansberg (in Limpopo) ontwikkel hy sy liefde vir die natuur, wat danksy die invloed van sy skrywersma, Emily Pieterse, later in sy skryfwerk en kontreistories tot uiting kom. Hy is al ná matriek op die plaas aan ’t skryf, maar besluit om ’n polisieman te word, en later gaan werk hy by ’n versekeringsmaatskappy in Kaapstad.

Sy eerste boek, Smokkelaars in die nag, verskyn in 1963. Hy trou ook vroeg in die jare sestig met Annatjie, maar sy hart is in skryf en in die middel sewentigerjare is hy terug in die noorde, op die plaas Kom tot Rus in Soekmekaar waar hy heeltyds begin skryf. Hy het vier dogters, Shirley, Madi, Emsie en Annetjie, en ’n seun, Ferdi, wat later in ’n motorongeluk sterf.

Maar die swerfpad roep en nadat hy en Annatjie in 1984 geskei is, kry hy met sy Ford-trokkie en woonwa koers Weskus toe, en plaas Tietiesbaai in die volksmond. Waar hy en Jenny einde 1985 trou.

Hy kry met sy Ford-trokkie en woonwa koers Weskus toe, en plaas Tietiesbaai in die volksmond.

Met Jenny aan sy sy begin die gróót trek, al skrywende met die Spookhuis na Timbavati, na die monding van die Ugabrivier in Namibië se Skedelkuspark, na die Kavango-rivier in die Caprivi. Hiervandaan onderneem hulle ekskursies na Zambië. Teen omstreeks 1990 keer hulle terug na St. Helenabaai en Stompneusbaai aan die Weskus, kampeer ook vier maande op Dasseneiland. Hier ontwikkel Jenny se eie sluimerende skryftalent in die eerste van haar twee jeugboeke, Flash Flood, wat ’n bronsmedalje verower in ’n wedstryd vir jeugfiksie. Dit handel oor die avonture van ’n jong seun in die Kavango.

In 1994 ry hulle na Venda, en daarvandaan op ’n lang toer deur Mosambiek, Zambië en Malawi.

Teen hierdie tyd is Pieter, naas sy boeke, ook ’n bekende gesig op TV. In sy eerste TV-reeks, Swerwerskos, vat Pieter kykers met sy woonwa op ’n kossafari langs die Weskus, en in Boude en blaaie stel hy op die wal van die Timbavati-rivier langs die Krugerwildtuin bosveldkos bekend en sing: “Ek is ’n koning hier op my Bosveldplaas / Weg van die mense wat so skinder / en hul brakke wat so raas / Nou eindelik en ten laas is ek doodtevrede / hier op my Bosveldplaas.”


Pieter Pieterse

NB-Uitgewers

In Van die Kaap tot die Kunene in 1993 reis hy met TV-kykers van Kaappunt noorde toe na plekke soos die Sandveld, Ai-Ais, Damaraland, die Kaokoveld tot by die Kunene in Namibië.

Ook met sy skryfwerk verken hy omtrent elke genre: draaiboeke vir flieks (Kom tot rus, Mooimeisiesfontein en Bosveldhotel, die moewie), TV-reekse (Suidpunthotel, Rieksie Rautenbach, Baasspeurder, Die pad van ’n man, Bosveldhotel, Bosveldwinkel, Roep van die visarend, Momvula, Kind van die reën en Maata), radioverhale (Die laaste geveg van Baasman Benade, As die gety draai, Goggorop en Vlakpatrys, Kom tot rus en Nag van die tarentale), koerantrubrieke, jeugverhale, kontreistories, sketse, prosa, en verwerf verskeie pryse. Hy skryf meer as dertig boeke, en Jenny vertaal agt in Engels.

Maar in die Caprivi doen Pieter malaria op. Die siekte trek hom meermale plat en hy besef dat hy nou ’n meer permanente staning naby dokters moet vind. In 1997 is hulle terug aan die Weskus.

“Ek het besef die aand kom aan. Ons moet nader as 130 km van ’n dokter af ’n laaste uitspanplek soek. Sedert 1974 het ek oral kamp opgeslaan: Timbavati, Apdolsbaai, by die Ugab in Damaraland, Kavango, Buffeljags, Soldatenbaai, Tietiesbaai, Caprivi, Mosambiek … Maar die plekkie by Stompneusbaai het die meeste kerfies vir die laaste rusplek gekry.”

“Ek het besef die aand kom aan. Ons moet … ’n laaste uitspanplek soek.“

In Augustus 1997, by sy geliefde staanplek voor die groot albasterrotse op Stompneusbaai, braai hy, nou 61, snoek in ’n drom. Maar Pieter is beswaard. “Die onsekerheid vreet ons op. Ons het gedroom dat hierdie plek ons laaste uitspanplek sou word. Maar daar is mense wat wil hê ek en Jenny moet hier skoert.”

Hy probeer al jare amptelik die stukkie grond huur waarop die Spookhuis nou weer staan. In April 1987 is die staanplek vir “verblyfdoeleindes” aan hom verhuur “vir ’n periode van nege jaar en elf maande met ’n opsie om die huur vir ’n verdere tydperk te verleng”.

“Ons wil net in vrede en liefde aanbly,” sê Pieter. “Ons onmiddellike droom is om net weer ’n toilet en ’n badkamer met lopende water te hê.”

Toe kom die skokke. Bouplanne kan nie goedgekeur word nie, want dit is ’n staatskusreserwe waar hy wil bou, sê die oorgangsraad vir Pieter. En ’n petisie teen “plakkery” word opgestel, want Pieter het intussen ’n tydelike sinkstruktuur oor die lekkende ou woonwa gebou om die winterreën uit te weer, met ’n tydelike houthuisie op ’n bestaande betonblad neffens.

Hy sê in ’n brief aan die Weskus-oorgangsraad erf 17 is natuurlikerwys deel van ’n bestaande woongebied en histories ’n woonerf. In die laaste 35 jaar is dit vir langer as 20 jaar bewoon en niemand het gekla nie. In die onmiddellike omgewing is verskeie geboue op die kusreserwe, selfs nog nader aan die water. Party daarvan is selfs deur die munisipaliteit opgerig. Hy kla ook in die brief dat hy vier maande laas aan die skryf kon kom met sy eie skrywery. “Die kop is maar die hele tyd net met die onsekerhede van ons verblyf besig, aan die wonder waar het ek ’n fout begaan dat ek verdien om so uitgesonder te word, dat my lewe so ontwrig moet word?”

Terwyl die briewewisseling en rompslomp voortduur, skryf Pieter op 20 Augustus 1997 ’n brief aan Rapport: “Die oorweldigende reaksie van bure en vriende landwyd oor my en Jenny se probleme met ons verblyf, vervul ons met groot dankbaarheid, ook teenoor ons Skepper. ’n Wonderlike genade is dit om onder sulke omstandighede te besef daar is iemand wat vir jou omgee. ’n Onbekende vriend daar ver in die noorde, in Mpumalanga se kontrei, het selfs aangebied om ’n trustfonds te stig om ons finansieel te ondersteun. Aan almal wat hand uitgereik het om ons te help, ’n dankie diep uit die hart. Geld is egter nie die behoefte nie. Wat nodig is, is die gebede van medegelowiges dat die Here ons duidelik lei om sy wil te verstaan. Ons wil graag hierdie holte vir ons voet hê, waar die doodsengel van malaria nie voortdurend oor ons skouers loer nie. – Pieter Pieterse, Stompneusbaai.”

In die houthuis met sy sandvloer by Boventrekstraat 15 word Pieter tydig en ontydig deur besoekers oorval. Hy kry min tyd vir skryf, want hy kan niemand die deur wys nie. En hy stig ’n natuurskool vir kinders van die plaaslike gemeenskappe van die omgewing, soos van St. Helenabaai se Agterbaai. Hy leer hulle van die natuur en gee die kinders voëlname: Muisvoël, Kwêvoël … Hy is Oupa Uil, hul leermeester, met die bril teen die voorkop.

En hy is betrokke by dominee Fanie se NG gemeente van Agterbaai, nog voor daar ’n kerkgebou was en daar nog in die skoolsaal kerk gehou is. Pieter het later die nuwe kerk help bou en verf, en Sondae ry hy vir Susan Kouter-hulle en Klara Garies-hulle van Stompbaai met sy 4x4 aan kerk toe.

Suid-Afrikaanse geweldenaars sonder genade

Подняться наверх