Читать книгу Drieklawerblaar - Christine Barkhuizen-le Roux - Страница 5

Hoofstuk 1

Оглавление

“Omdat ek myself nie kon toelaat om iemand ooit weer so na aan my te laat kom nie.” Die stem van die ou vrou in die swart rok was gelate, suf geleef.

Met elke tree wat Kate op pad na die Katolieke kerk in Graaff-Reinet gee, eggo ouma Sarah se antwoord op haar vraag van destyds; sý toe ’n dogtertjie van sewe of ag wat by die kombuistafel haar somme sit en doen het.

Bo die rante stoot wit koppe donderwolke steeds hoër op in die lug, dreigend. Van vanoggend vroeg af is die weer broeiend. Die romp kleef aan Kate se bene; in die Green Cross-sandale wat sy gekoop het om in Ierland mee te loop gly haar voete, daar is ’n verbetenheid in die seningrige kuite. Vandag, meer as enige ander dag, moet sy by hierdie kerk uitkom.

Die bulterriër by die grys huis aan haar regterkant storm blaffend uit die agterplaas en spring teen die voorheining. Hy druk sy varkkop deur die drade en sper sy bek oop dat die skerp tande wys; die klein spleetogies gluur haar aan. Sy loop nog vinniger, probeer die skrik vir die hond en die onrus in haar binneste van mekaar skei.

Voor die kerkie staan sy ’n paar minute, leun teen ’n boom. Sy hyg om haar asem terug te kry. Dan loop sy tussen die eenvoudige steenpilare deur. Sy is moeg. Die houtkruis wat teen die wit muur hang, is deels in die son, deels in die skaduwee. Regs en links van die ingang blink twee lang, smal brandglasvensters. ’n Skielike windvlaag ruk aan haar klere.

By die deur aan die agterkant van die kerk gaan sy in, kry die sleutel waar die koster dit op ’n spesiale plek vir haar laat, soos hy vroeër vir ma Grace ook gedoen het. Sy het Protestants grootgeword, maar in haar hart het sy Katoliek gebly. Soos haar ma. En ouma Sarah.

Dis donker in die kerk, somber, strak eintlik, afgesien van die skille­tjies sonlig wat deur die brandglasvensters op die banke val. Die klok van die groot kerk verder weg slaan afgemete. Drie slae. Toe sy nog by die hospitaal gewerk het, het sy eers ná sewe in die aand by die huis gekom.

Sy buig haar vooroor, probeer haar leegmaak van die warboel ge­dag­tes in haar kop. Vanoggend, sesuur, het die onrus haar buitentoe gedryf; sy het haar stapskoene aangetrek en die strate van die dorp deurkruis. Terug by die huis was sy natgesweet maar rustiger. Op die bank in die sitkamer het sy aan die slaap geraak. Toe sy wakker word, het die son hoog gesit.

Met albei hande vou sy die Bybel oop. Prediker, waaruit haar ouma so baie gelees het dat die blaai vanself daar oopval:

1 All things have their season, and in their times

all things pass under heaven.

2 A time to be born and a time to die. A time

to plant, and a time to pluck up that which is

planted.

3 A time to kill, and a time to heal. A time

to destroy, and a time to build.

4 A time to weep, and a time to laugh. A time

to mourn, and a time to dance.

5 A time to scatter stones, and a time to

gather. A time to embrace, and a time to be

far from embraces.

6 A time to get, and a time to lose. A time to

keep, and a time to cast away.

7 A time to rend, and a time to sew. A time

to keep silence, and a time to speak.

Ouma Sarah het dié reëltjie soveel keer onderstreep dat die dun Bybel­­blaadjie voos en stukkend is by die teksvers. ’n Lang tyd bly sy sit, kyk na die figure in die vensters waardeur die middaglig val.

“Maria,” bid sy, “Moeder van ons Redder, wys my die weg. My ma se woorde op haar sterfbed was maar net dit wat ek van kleintyd ingegee is: Jy is die laaste lewende van hierdie geslag wat wéét, Kate. Aan my lê dit om daardie stilte te verbreek, die swye tussen my ma en ouma Sarah, die dooie oë van oupa Jakob. Maar hoe gee ek woorde aan so ’n gebeure? Hoe vertel ek ’n ander mens wat alles in die geskiedenis gebeur het?”

Meteens is daar weer ’n rukwind, dan sidder ’n harde donderslag oor en deur die kerkie. Kate kyk op – hoog teen die muur, byna teen­aan die dak, het ’n stuk van ’n luik afgeruk en op die vloer neergetuimel. Deur die opening stroom ’n verblindende bondel wit lig na binne tot by die bank waar sy sit; die helder straal val oor haar kop en bolyf. Sy voel haar hande ruk, haar hele liggaam bewe; ook haar binneste kom onwillekeurig in beroering.

Na ’n lang tyd – sy weet nie hoeveel minute verbygegaan het nie – skuif sy uit die bank. Haar bene is rukkerig toe sy die Douay-Rheims-­­Bybeltjie in haar somerbaadjie se sak steek en in die paadjie opstap na die deur. Net voordat sy uitloop, kyk sy terug. Die lig deur die brand­­glasvensters gooi ’n groen-en-rooi beeld op die vloer. Sy bly staan. Kyk. Kyk weer. Deur die ligval is dit ’n hand wat op die vloer geteken lê. ’n Hand met ’n vinger wat vorentoe wys?

Sy stap huis toe onder die skadu van die bome deur, so vinnig haar bene haar nou toelaat. Hier en daar hang groot rooi, trompetagtige blomme tussen die blare. Of dit God is wat haar vandag geantwoord het, weet sy nie. Maar dat sy moet gaan, dit weet sy. Vanmiddag nog. Ierland sal moet wag.

Nou, wanneer sy by die huis kom, sal sy pak. Sy sal Alex vra om te kyk of hy op die internet ’n plek kan kry waar sy vir so twee weke in die omgewing van die wildplaasman kan bly. Sy sal die regte tyd moet afwag; ’n mens kan nie sommer op iemand afstorm en met die deur in die huis val nie.

Vandat sy uitgevind het wat in die lang jare voor haar geboorte gebeur het, het sy gebid dat sy ’n antwoord mag kry, en vergifnis. Absolusie. Vir hulle almal. So het haar ouma dit op die papiertjies in die Bybel van grootouma Fanny geskryf.

Sy loop ’n ander pad as die een verby die huis met die kwaai hond. Bo die dorp troon die hoë toring van die NG kerk uit. Sy huiwer, bly staan. Om die spits vlieg ’n klompie duiwe in ’n sirkel. Rondom, rond­­om, rondom. Op hulle vlerke flits die lig wat tussen die wolke deur blits.

Wanneer sy verder loop, is daar meer vastigheid in haar bene en voete. Daar het druppels begin val; sy ruik die grond, die aarde, die stof waar­uit die mens gemaak is en waarna hy terugkeer.

Maar voordat sy huis toe gaan, al reën sy ook nat, sal sy by Mathilde, haar buurvrou, móét stop. Haar tienerseun en sy kennis van die kuber­ruim het Kate al met baie dinge gehelp. En dis immers ook hy wat haar die vorige dag gesê het dat die man oor wie sy destyds die beriggie in die koerant gelees het, nou oor die internet sebras bestel het. Dis die herroep van hierdie Marais se naam wat haar die vorige nag wakker gehou en vroegdag deur die dorp se strate laat swerf het.

Daar is ’n klomp goed wat sy nou baie vinnig hier agtermekaar moet kry. Vir alles onder die son is daar ’n tyd – óók om die gebeure van die afgelope maande by die hospitaal agter haar te laat. Want nou is die tyd om Abel Marais te gaan soek.

* * *

By die Midlandshospitaal kon die ander personeel en Matrone nie begryp waarom sy so skielik wou bedank nie. Dis nie asof sy sieklik was of ander verpligtinge gehad het nie en in ’n paar ekstra jare kon die neseier vir haar oudag nog aansienlik groei. Sy was byna op aftree­ouder­dom, ja, maar sy sou langer kon aanbly, het die superintendent haar verseker, hulle het haar kundigheid nodig gehad. Die toestemming daar­voor sou nie ’n probleem wees nie.

Hý, dokter Ludick, het haar na sy spreekkamer laat kom toe hy die bedanking kry. “Jy was nog altyd koelkop, ’n redelike mens, Kate. Wat is dit dan nou van ’n bedanking so uit die bloute?”

Sy kon kwalik met hom gepraat kry die middag. Op die ou end vol­staan met iets soos: “Ek vertrou nie meer my eie professionaliteit nie.”

Hy het haar daar laat sit en sweet; gesê nie hy, óf sy, gaan êrens heen voor hy die hele storie gehoor het nie. Op langelaas het sy hortend begin vertel wat haar weke na die voorval steeds snags laat wakker lê.

Sy het afgekyk op haar skoot terwyl sy praat, haar woorde gesmoord in die somerwarmte van die vertrek. Hy het haar nie in die rede geval nie; af en toe het sy hom hoor keelskoonmaak. Toe sy klaar was, het hy gewag tot sy opkyk voordat hy gepraat het.

Hy het oorgeleun na haar, tussen die silwerwit hare kon sy sy kop­vel sien deurskyn. “Niemand, nie ’n siel, het iets oor hierdie saak gerep nie. Die Maandagoggend toe ek by die hospitaal kom, het ek Matrone se inskrywing gesien; ons het twee of drie minute oor die geval gepraat. Maar niemand het enigiets genoem van ’n ongerymdheid nie.”

Hy het afgekyk na sy vingers, die smal, sterk hande wat sekuur en fyn met ’n operasiemes kon omgaan. “Kate, is jy nie te hard op jouself nie? Ek ken jou oor die dertig jaar; nog altyd was jy een van die betrou­baarste susters wat ’n mens maar kan verlang. Ons het byna dieselfde tyd hier begin, dieselfde leerskool deurgemaak. As daar gepeuter is – ek weet dit kon nie jy gewees het nie. En om nou terug te gaan op die saak, om die personeel wat die nag aan diens was te ondervra, sal vir niemand iets beteken nie.

“Vergeet daarvan, vergeet van so iets, of probeer ten minste. Jou reputasie by Midlands was nog altyd bo verdenking. Ons het jou vaar­digheid en kennis hier nodig; buitendien, suster Visagie wat net onder Matrone is, tree af. Sonder jou is ons dan regtig verlore.”

Sy het haar eie voetstappe gehoor toe sy die middag wegstap uit die hospitaal, weg van die verweerde buitemure met die afgedopte wit verf. Soveel jare was hierdie plek haar hawe, haar wegkruipplek. Hier kon sy bloed stelp en wonde toewerk, pasiënte probeer gerusstel oor die noodsaaklike en wrede ingrepe op hulle liggame.

Maar sy kon nie aanbly nie; minder nog kon sy dokter Ludick vertel van die onrus wat sy met haar saamdra. Selfs ’n algehele bloedoortapping sou haar nie kon skoonwas van dit wat sy met DNS en moedersmelk ingekry het nie.

Haar bedanking het die middag op die superintendent se lessenaar bly lê. Deur die blindings agter dokter Ludick se stoel het die skadu van die bloekom voor die venster op die woorde geval: Hiermee wens ek …

Sy het tot laat die middag agter haar huisie bly sit, tot ná die donker oorgeneem het. Niks sou haar oortuig om die betrekking weer op te neem nie, al was die hospitaal ook hoe kort aan personeel.

* * *

Die wete waarmee sy loop, iets veel dieper as die gebeure by die hos­pitaal, kan sy ná gister en vanmiddag in die kerk nie langer ignoreer nie. Soms, in die nagte wanneer sy wakker lê, die vensterrame bo en onder oopgeskuif sodat die lug kan deurtrek, wonder sy: kan ’n mens iets regmaak wat jy nie self verbrou het nie? Is dit soos Afrikaners ook voel? Dat almal, ook die jongste geslag, ly aan kollektiewe skuld; dat hulle moet jammer sê oor wat gebeur het, al het hulle nie self deel gehad aan die onreg van apartheid en die nawerking daarvan nie?

Maar ’n mens se bloed dra die reg én die onreg in jou are. So spreek die Bybel. Die onreg en sondes van die vaders word besoek aan die kinders, van geslag tot geslag. Soggens wanneer sy steeds oopoog lê en staar, hoor sy die uil in ’n boom ’n paar strate verder op roep.

Die dinge van gister en eergister sit met weerhake in haar wese. Sy wou ook nie trou met Dewald van Greunen wat haar lank gelede vir meer as twee jaar probeer oortuig het om sy ring te aanvaar nie. Al was hy ’n internis wat saam met haar lewens probeer red het en al het hulle soos ’n tweeling by mekaar gepas.

Ná haar bedanking twee maande terug het sy nog eens geweet: sy het reg besluit destyds. Dis beter dat Dewald padgegee het Johannesburg toe en met die fisioterapeut getrou het. Iemand wat met die kennis in haar brein en haar hande die knoppe uit medemense se lewens kon wegmasseer.

By Mathilde se hekkie staan sy ’n oomblik stil. Haar vingers bewe toe sy die hingsel oopmaak, haar binnekant is wiebelrig soos dié van ’n mens wat die eerste keer in ’n boot op see kom. Sy voel skuldig, asof sy misbruik maak van Alex, maar wie anders kan sy vra? Sy is nie geskool in hierdie kuberruimte-hede nie. Sy druk die knip af, stoot die hek oop; dit skree piepend soos sy dit oop- en dan weer toedruk. Mathilde se man is vyf jaar terug dood; wie olie die skarniere, wie vervang jou gloeilampies as daar altyd iemand was wat dit kon doen? Of hoor sy nie die gekerm van die hekkie nie?

Vir ’n wonder kry sy die seun buite onder die prieel – sonder oorfone.

“Sal jy my help, Alex?” vra sy sonder om eers middag te sê. “Asseblief? Ek moet vanmiddag nog ry. Wat jy gistermiddag gesê het oor die man in die Klein-Karoo – ek kan nie anders nie. Ek kan ook nie verduidelik nie. Maar jy ken die internet en Google en al daardie goed. Kan jy nie asseblief vir my kyk waar ek blyplek naby daardie wild­plaas kan kry nie? Barrydale is mos daar naby? Of Riversdal?”

“Sharp, suster Kate. Moenie worry nie, ek gaan sommer nou kyk. Ek sal jou kom sê wat ek gekry het, jy kan maar jou goedjies gaan pak, ’n blyplek sal ek kry. Maar vir hoe lank? En wat nou van Suster se Cork-toe-ganery?”

Sy’t klaar na die hekkie begin loop, maar draai ’n halfslag terug. “Ek weet nie, Alex, dit moet eers bly. Ek weet jy het my alles help uitsoek, maar nou moet ek eers Klein-Karoo toe. Miskien net vir ’n paar dae, of dalk vir lank. Ek het geen idee nie. Maak dit sommer twee weke. As ek vroeër moet weg, dan skryf ek maar die ekstra geld af.”

Die klere glip onder haar hande terwyl sy inpak. Wat vat sy? Wat los sy? Hoe is die weer dié tyd van die jaar in die Klein-Karoo? Herfs. Soms baie warm nog, soms te koud om sonder trui of baadjie te loop? Die weer is niemand se maat nie. Ook nie dié van die weervoorspellers saans na die nuus nie.

Sy skakel die ketel aan, gooi solank twee lepeltjies van die Jacobs Krönung-kitskorrels in die beker. Dokter Waterfall het haar die eerste keer skeef aangekyk toe hy die flessie koffie in haar kantoor sien: “Duits!” Maar later het hy hom ook die troostende geur laat welgeval na ’n lang teatersessie.

Terwyl sy wag vir die water om te kook, gaan staan sy in die gang. Lang jare terug het haar ouma een Saterdag op ’n bankrotvendusie ’n afdruk van die Angelus-skildery van Millet gekoop en die aand vir haar sit en vertel hoe die mense met geboë hoofde op die lande gestaan en bid het wanneer hulle die kerkklok hoor slaan. “Om die Here te hoor. Om erkenning te gee aan sy almag, sy genadegawe waarvan ons elke dag nog eet.”

“Hoekom,” het sy later op vyftienjarige ouderdom wysneusig vir ouma Sarah gevra, “hoekom het Ouma dit eintlik gekoop? Mamma sê dis van ’n Franse skilder en dit het met hulle godsdiens te doen, niks met Ierland of ons nie. Ook nie met Suid-Afrika nie. En meneer Pieterse van ons aardrykskundeklas sê die mense staan by ’n kissie van ’n dooie kind en dat Dali, hy was ’n skilder met ’n snor, gesê het …”

“Dit kom nie daarop aan nie,” het haar ouma geantwoord, haar hande op die raam van die prent met die biddende mense, “dis dieselfde geloof, dieselfde Here. En dié vent met die snorbaard, wat kan hy weet van ’n kind wat dood is?”

Kate druk haar hand agter die prent teen die muur in, lig die toutjie van die haak. Dis hierdie God, die God van die Angelus, die Een wat alles sien en alles weet, wat snags met haar praat. En nou, veral in die tyd nadat sy weg is van die hospitaal, noudat sy die vrees al hoe feller in haar voel woeker.

Sy moet die plek waar die Marais-man bly, gaan soek. Sy het haar lewe daaraan gewy om siek mense te versorg en op te pas, maar dit het die skuld nie weggeneem nie. Die dubbele skuld, maar waarmee sy vir Abel Marais miskien ’n ander kant van die verhaal kan laat sien.

Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat … Nog een van ouma Sarah se onder­streepte reëltjies.

Dis meer as twee jaar terug dat sy die stukkie die Saterdag in die koerant gesien het. ’n Onderhoud eintlik, waarin ene Abel Marais gesê het dat hy ’n wild-cum-vakansieplaas op die plaas Doringboomlaagte wou vestig. En dat sy familie jare gelede hulle grond daar naby verloor het.

“Kyk vir my, asseblief,” het sy dié dag vir Alex gevra, “kyk of jy dié man se voorgeslag dalk kan opspoor? Of sy oupa se naam dalk Abraham was? En waar hy vandaan kom, waar hy gebly het voordat hy die plek in die Klein-Karoo gekoop het.”

Haar aanvoeling was reg. Sy was op die regte spoor. Abel wás die kleinseun van Abraham Bier. Maar twee jaar terug was sy nog by die hospitaal. Die stukkies aftyd om sommer die vertes in te ry was nie daar nie. En, sy het geweet: sy was self ook nog nie reg om die man van aangesig tot aangesig te sien nie. Die brokkie inligting het sy agter, in ’n ver onthouplek van haar brein, gebêre. Eendag sou die tyd kom – dan sou sy hom in die oë moes gaan kyk.

Haar koffer staan in die gang. Die Angelus het sy tussen klere toe­gedraai, seker gemaak dat dit nie sal breek nie. Vir oulaas loop sy deur die huis; in die kamer huiwer sy, vat die breë koperarmband van die spieëltafel af en skuif dit oor haar linkerhand sodat dit die rooi plek aan haar pols toemaak. Op die ingewing van die oomblik draai sy na haar ouma se buffet met die glasruitjies. Sy steek haar hand diep in, tot agter, en haal die porseleingoedjies uit, draai dit toe in die vorige dag se koerant wat langs die vuilgoedsak lê.

Die wolke het weggetrek wanneer sy die tas en drasak met skoene in die kar laai. Maar dit is die uur wat gekom het, al moet sy ook die fel lig in haar oë verduur. Alex het oor die heining gespring, opgewonde, kom sê dat daar ’n gastehuis is wat Doringboom heet; dat dit lyk of dit reg langs Abel Marais se plaas, Doringboomlaagte, is. En dat dit lyk of daar wel plek is. Hy het die nommer, geskryf op ’n stuk­kie afgeskeurde koerant, uit sy sak gehaal. Hy het ’n paar ander plekke ook genoem. Die Warmwaterberg Spa, ’n paar gastehuise op Barrydale, plekke op Riversdal. Met al dié se nommers ook.

Die vrou wat geantwoord het, was saaklik. Ja, daar was ’n kansellasie by Doringboom. En die dae nadat die mense van die vorige bespreking sou vertrek, is oop. Die veertien dae is hare. Maar sy het skepties ge­klink. Asof sy nie kon glo dat iemand twee weke lank in die middel van die Klein-Karoo sou wou oorbly nie.

Sy sal op Beaufort-Wes oorslaap, dink Kate. Dit sal donker wees as sy daar aankom, maar sy is nie bang nie, sy was altyd onafhanklik. Sy het nooit toegelaat dat ’n man haar voorsê wat om te doen nie.

Tussen wat haar ouma Sarah verswyg het en wat haar ma vertel het nadat sy dood is, het sy dit aangevoel – dis mans wat die wêreld regeer en mans wat vroue bring tot soveel verdriet dat hulle hul eie mens­wees verloor. Na haar pa se vroeë dood het ma Grace nog meer in haarself gekeerd geraak. Soms het sy, wanneer sy op haar eentjie besig was om ’n pot te skuur of die vloer te was, ouma Sarah se woorde saggies vir haarself herhaal: “Ek moes nie getrou het nie. Wat het tog daarvan oorgebly?”

Kate het na haar ma se rug gekyk. Gedink: Dan was ek ook nie hier nie. Dalk was dit dan beter.

Daar was tye nadat sy Dewald afgewys het dat sy ’n gesin gemis het, tye dat sy na ander mense se kinders gekyk het, gewens het sy het iemand of iets van haar eie. Maar dan het haar rede ingeskop.

Sy skuif die kantspieëltjie sodat sy nie heeltyd die helfte van haar eie gesig in die weerkaatsing hoef te sien nie. Die hoë voorkop het sy van oupa Jakob geërf, iets waarmee sy moet saamleef.

Die pad is nie besig nie, dis nog ’n rukkie voor die einde van die eerste kwartaal en die begin van Paasnaweek. Die skole is nog aan die gang.

Sy sit die radio aan. Tjailatyd met Amore. The truth is, everyone is going to hurt you. You just got to find the ones worth suffering for … Bob Marley se woorde dwing haar vingers na die kruis om haar nek. Kelties. Onder haar hand voel sy die reliëf binne-in die ring.

Hierdie land is in die moeilikheid. Die regering is korrup, die geld wat moet gaan na die mense wat ’n nuwe bestaan moet vind, word weggemoffel deur amptenare. Parlementariërs skree in die parlements­gebou, jou mekaar uit. Hospitale is oorvol, personeel is min en die kragkrisis het al die dood van meer as een pasiënt veroorsaak.

Matrone het haar die vorige week weer gebel, gevra sy moet asseblief terugkom, al is dit net vir ’n tydelike pos. In Matrone se oë is sy wat Kate is gesond en fiks; sy kan vir die hospitaal nog van groot waarde wees. Selfsugtig, so het sy haar genoem, en ’n ekstra skuldlas op haar skouers gelaai.

Hoe moes sy aan die gesagsvervulde vrou met die vreemd platterige gesig en prominente ken, altyd omgewe deur die reuk van hospitaal, verduidelik wat gebeur het, selfs al het dit miskien net in haar eie gemoed afgespeel. Hoe sê jy van die woorde wat jou ma by jou ingebeitel het dat jy nooit op enige manier aandadig moet wees aan ’n pasiënt se lyding of dood nie; dat jy daar geplaas is om mense se nood te verlig. En hoe sê jy vir die streng blou oë dat daar iets anders is wat jy moet gaan doen, sonder dat sy sal kan verstaan wat so dringend is. Sonder dat jy self weet wat – maar wel dat jy moet gaan bieg.

Na haar bedanking het sy haar begin besighou met die hospies op die dorp. Gewag. Haar ouma sou sê dis ’n bestiering dat die Alex-kind die naam van Marais en sy sebrakopery raakgelees het op die internet. ’n Naam wat haar ouma soms laat val het, en dan onderlangs geprewel het: “Ja, so het die bokant onder gekom, Jakob Doherty, maar waarom moes die onreg wat jy gedoen het, my ook alles laat verloor?”

Twee jaar terug toe Kate die berig gesien het oor die man wat die stuk grond gekoop het om ’n wildplaas daar te vestig, het die koerant die letters met naam en van na haar toe uitgespuug. Implisiet was daar toe al die wete: daar is nie omdraaikans nie. Dit was slegs ’n kwessie van tyd.

En gister, toe Alex so ongeërg Abel Marais se naam noem, het sy geweet, langer kan sy nie wag nie. Sedert sy daardie inligting gelees het, het die ding waarmee sy geleidelik grootgeword het, in haar nesgemaak. Maar ’n nes waaromheen die voëls onrustig heen en weer vlieg, die woning weer uitmekaar pluk en aanhoudend van voor af begin sodat daar geen nuwe lewens gebore kon word nie.

Ís dit haar verantwoordelikheid? Is dit reg dat haar ouma, en haar ma, omdat hulle dit sélf nie kon doen nie, haar hierdie plig opgelê het? Maar sal sy ooit van die las ontslae kan raak as sy versuim? En sal dit vir dié man nie ’n stuk vertroosting bring om te weet daar is nog ’n kant van die saak nie?

Dit kan tog nie toeval wees dat sy daardie berig gelees het nie. Is daar iets soos toeval? Of is daar slegs dinge wat saamval op ’n bepaalde tyd?

Agter haar, tot daar waar sy nie kan sien nie, lê die Vallei van Verlatenheid, weerskante van haar die Kamdeboo-natuurreservaat. In die truspieël sien sy Spandaukop, blou in die laatmiddaglig. Langs die pad is borde met afbeeldinge van skilpaaie om te wys dat hulle dwars­­oor die pad voor voertuie kan inloop, dat jy op die uitkyk moet wees sodat jy nie die kraak van die dop onder jou rubberbande hoor nie.

Daar is ’n paar High Accident Zone-waarskuwings. Wanneer die pad reguit is, verloor ’n mens jou konsentrasie, is die kans op ’n ongeluk soveel groter. So waarsku die verkeersowerhede. Hou stil. Rus. Daar kan koedoes voor jou in die pad spring.

Voor haar strek ’n grys lintwurm; tot in die verskiet sluk dit gulsig aan die kilometers na die stuk land waar haar grootouma tereggekom het. Dit trek haar in, teen wil en dank. Ten noodsaak.

Sy laat ’n vallei van godverlorenheid agter haar, maar in haar ge­moed word die eensaamheid steeds groter. Weerskante van die pad glip blou­apies met wit-omrande oë wat lyk of hulle verskrik is, maar hulle onnutsigheid weerspreek die onthutste blikke. Buite Aberdeen staan daar vir kilometers ver verkiesingsborde wat mense aanmoedig om ANC, DA of SAKP te stem.

Sy ry die dorp in om petrol in te gooi; haar lyf bewe nog altyd. So deurmekaar was haar kop dat sy nie eens by Graaff-Reinet se laaste petrolpomp stilgehou het nie. Wanneer sy stilhou, stamp sy die petrol­pomp liggies met die buffer. Sy ry agteruit, bevrees vir die skade aan die kar sowel as aan die pomp. Sy druk die deur oop, klim uit, gaan kyk na die wit merk wat die pomp afgegee het aan die voertuig. Sy sien die petroljoggie naderkom. “Ek is verskriklik jammer, ek het nie bedoel, ag, ek is …”

“Nee wat, Mevrou, daai’s oukei, net ’n ou stampie. Ál die petrol is nog hier binne-in, eintlik onder die grond, nè, daai kan nie ’n duik maak in dié outjie nie, hy staan al jarre hierso, al baaaie merke gekry. Moenie warrie nie!”

Anderkant Aberdeen is padwerke; dit gaan maak dat sy definitief in die skemer, of eerder nog, donker, by Beaufort-Wes aankom.

Regs, westekant toe, is die wolke brandende koraalriwwe teen die horison. In die skemerlig is die blou van die garingbome en hul dooie, skewe blomstele nog indrukwekkender as gewoonlik. ’n Musseljaatkat wip oor die pad en maak dat hy wegkom deur die draad.

’n Hele aantal kilometer voor Beaufort-Wes sien sy die skynsel van die dorpsliggies wat opslaan teen die rant aan die westekant. Die staan en wag by die padwerke het ’n groot duik in haar tyd gemaak. Sy soek net iets basies. Êrens om te slaap, êrens om te was. Sy is nie honger nie; die toebroodjie wat sy gemaak en onderweg geëet het, sit nog op haar krop. Aan haar pols kriewel die vel wat haar die afgelope weke so begin pla het.

Sy ry agter die advertensieborde aan wat oornagkamers adverteer. Dis anderkant toe, Leeu-Gamka se rigting. As sy uiteindelik stilhou en binnetoe loop, is dit donker. Bo in die swart hemel blink die vlieër van die Melkweg. Dis nie regtig so laat nie, maar haar oë brand van die ent se bestuur. Dis baie jare laas dat sy buite Graaff-Reinet bestuur het. En hemel, sy was so bang die eienaar van die vulstasie by Aberdeen kom vreet haar uit, of stel ’n eis teen haar in.

Die man by ontvangs lyk alreeds dof en deur die slaap toe sy binne­kom. “Kamer regs af in die gang, nommer 8, is oop,” sê hy en vee met die agterkant van sy hand oor sy oë. “Die badkamer moet Mevrou deel met die kamer langsaan se mense. Dit kan sluit van al twee kante af. As dit orraait is so, dan kry ek gou handdoeke.”

Voor die venster in die ordinêre vertrekkie trek sy die gordyne oop. Sy nies. Die stof van jare het deel geword van die karige mat onder haar voete. Sy haal haar pajamas uit die tas, klop aan die deur aan haar kant van die badkamer; daar is geen geluid uit die vertrek nie. Die mense in die kamer aan die ander kant slaap waarskynlik lankal of eet ’n hamburger en tjips by die Spur.

Sy draai die stort oop, dit neem ’n rukkie voor sy die water uit af­son­derlike krane so gereguleer kry dat daar ’n net-net-louwarm stroom­pie water oor haar spoel. Met die spons uit haar sakkie was sy haar, skrop haar met die harde kant sodat haar bene en arms rooi uitslaan. Sy wil skoon wees, klinies, onbevlek. Sonder sweet, sonder stof, vlekkeloos. Teen haar linkerpols slaan die merk onder die vel deur.

As sy eindelik in die bed lê, is die lakens verbasend vars en koel en welriekend. Laventel. Sy probeer haar oë oophou, dink aan hoe sy hier­die reis moet aanpak. Die allerlaaste wat sy uit die donker onthou, is die roep van ’n onbekende voël êrens nie ver vandaan nie.

* * *

Fanny, die jongste van die groepie Ierse meisies, gaan staan ’n entjie opsy van die res. Niemand sal haar wil hê nie. “Julle gaan om te gaan werk,” het die vrou by die weeshuis gesê, “so moet julle nie ’n Bybelse paradys voorstel nie!”

Die vrou wou haar nie laat gaan nie – so ’n ongeskoolde, onopgeleide kind! Maar haar tante, haar ma se suster wat werksaam was in die kombuis van die weeshuis, het vir haar ingetree: “Laat haar gaan – saam met Mary, saam met haar suster; dit sal wreed wees om die twee te skei, nie een van hulle het iemand anders oor nie.”

Fanny se klere is dun en die wind van die see af maak haar koud al skyn die son. In die Workhouse het hulle aan lang tafels gesit en sop gekry wat soos effens sout louwarm water gesmaak het; op die skip was min groente. Van die mense is dood onderweg; elke paar nagte het die matrose in die donkerte iemand oorboord laat val. ’n Seeman. Of kinders. Later, na ’n paar weke, het sy snags gewag om die dowwe slag te hoor wanneer nog ’n toegedraaide lyf met toue wat daarin keep in die blinkswart water beland. Sy het oor haar eie lyf ge­vryf, die vel oor haar bene en arms was styf getrek, die dun vlies van ’n skaap se binnegoed.

Soggens het sy saam met Mary en die res van die meisies geloop en tel, gekyk wie nie meer daar is nie. Tot Fanny op ’n oggend in die gierende wind op die dek loop en soek het na haar suster. Ook sy was weg.

In die helder lig van die Kaap die Goeie Hoop is die dogtertjie se gesig wit, die kleur van die dikmelk van beter tye, toe haar ma soggens vir elke kind genoeg daarvan in ’n kommetjie kon uitgooi. Maar ná haar pa is haar ma ook dood, en ook een van haar susters. Haar boetie is na ’n ander weeshuisplek geneem as sy en Mary, waar hy moes leer om met hout- en handwerk sy kos te verdien. Sy het hom nie weer gesien nadat hulle hom kom haal het nie. Hy was haar beste maat.

Fanny is die jongste van die gesin, haar pa se lieflinkie. Maar haar pa lê êrens onder die sooie weggebêre in ’n land wat sy nooit weer gaan sien nie.

Sy kyk om haar rond. Die mense wat die vragte van die skip afdra, is amper swart; sy verkyk haar, so iets het sy nog nooit gesien nie. Nog net ’n paar van die weeshuismeisies is oor, byna almal is al gevat deur boere wat werksmense kom soek het.

As sy net ’n bietjie water kon kry. Die honger is iets waaraan sy deur die maande gewoond moes raak, maar haar keel brand van die dors. Sy wens sy kon Mary se hand om hare voel.

Daar is ’n geklap van perdepote. ’n Groot man klim van ’n perde­kar af en kom aangeloop na die vier meisies wat nog daar staan.

“Mijnheer Redelinghuys!” Die man wat die meisies uitgee aan die kopers groet die man met die vilthoed met ’n harde stem.

Fanny sien die gesigte van die ander meisies, hoe elkeen pleit dat dié mijnheer háár sal kies. Maar daarmee saam is daar die vrees. Wat sal hulle moet doen vir ’n vreemde man en vrou op die plek waar hulle gaan bly? Die mense wat hulle uit die weeshuis gehaal en weggestuur het om op die skip te klim, het gepraat van plaaswerk. Van vloere skrop en skoonmaak weet hulle, maar hoe sal hulle die taal in hierdie vreemde land verstaan?

Sy voel die man se oë op haar. Sy kyk op; die lig flikker in haar oë. Hierdie land se son is honderde kerse wat gelyktydig in jou oë brand.

Die grond knars onder sy skoene toe hy nader tree en haar aan die dun armpie vat.

“Dié een.” Sy verstaan sy woorde nie, maar sy weet dat hy haar wil saamneem.

Die man wat die meisies uitgee teen betaling begin hard en vinnig praat; hy skud sy kop, wys na die ander, ouer meisies wat nog daar staan. Maar Mijnheer steek sy hand uit na die man, sit ’n sakkie daar­in en trek Fanny agter hom aan soos hy na die perdekar toe loop.

Hy tel haar teen die kant van die perdekar op; in sy arms voel sy vir haarself soos ’n stuk hekellap, so lig. Sy sit met haar voete op die trommeltjie waarin haar paar stukkies klere is, voel met haar hand aan die ketting om haar nek. Dit het Mary self om haar nek gesit toe sy die koors begin kry het.

Toe hulle almal nog saam was, het hulle na die mis gegaan, elke keer wanneer hulle maar kon. Sy, haar pa, haar ma, haar susters en die een broer. Nou is sy al wat oor is. Sal die man wat haar nou saamneem ook ’n kerk hê? As sy vir sint Patrick net een ding kan vra, is dit dat hy die drome oor Mary en haar dun, dun lyf en wit gesig voor sy dood is, van haar sal wegvat.

Die pad wat hulle ry, is lank. Dis koud toe dit donker word. Die man gooi ’n velbaadjie oor haar skouers, maar nog steeds voel sy die wind teen haar ribbes. Sy kry die dierereuk van vel en vet en harigheid aan die baadjie van die man en die tabak wat hy in sy pyp stop, maar sy ruik ook die veld rondom; dis ’n droë reuk, anders as in haar eie land waar dit groen is en na die bosse by die see ruik. En die drieklawer­blaar. Dis wat Mary op die skip oor en oor vir haar vertel het – dit is hoe sint Patrick verduidelik het van God, en van die Gees, en van dié Een wat hulle Christus noem. Die drie almal één, maar elkeen ook apart.

In die maanlig, toe Mijnheer uiteindelik die perde inhou, is daar twee jong seuns, ’n bietjie ouer as sy, wat ook donker lyk soos die mense wat sy op die kaai gesien het. Hulle maak die hek oop, die een begin die twee perde uitspan nadat hulle afgeklim en Mijnheer haar trommeltjie gevat het. Die ander een beduie vir die man iets na die kraal se kant toe. Die woorde wat hulle praat, klink hard en vinnig, anders as die klanke van haar eie taal.

Sy sien en hoor haar pa en oom Enda, destyds voor die groot honger gekom het. Dit was warm in die ale-huis. Die viole het gespeel en ’n weemoedigheid gekerm, maar dan was daar die vrolike deuntjies saam met die akkordeons: diddley idle dum, hi dee doodle dydle dum, wat ’n lag op haar ma se gesig gesit het. Haar pa het sy groot beker met ale gelig as hy en oom Enda tussenin ’n ruskansie kry. Sy het vaak geraak van die warmte, van die stemme van die grootmense, maar kon nog sien hoe haar ma en die tannies hulle wye rokke swaai, hoe hulle dans met die manne en met mekaar. Met lag wat in haar ore klink, het sy op ’n bankie aan die slaap geraak.

“Vergeet,” het haar ma se suster, tante Bridget, gesê toe sy die Bybel­tjie by die weeshuis in haar suster Mary se hand gedruk het voordat die sussies al twee weg is om op die skip te klim. “Los hierdie land agter, my kind – niks sal ooit weer wees soos dit was nie. En kyk na jou sussie.”

’n Deur in ’n gebou wat geelwit in die maanlig skyn, gaan oop; die deur is in twee helftes gedeel, ’n bokant en ’n onderkant. ’n Vrou met wye, wit slaapklere kom op die agterstoepie uit. Op haar kop is ’n mussie en langs die kante van haar kop hang stringetjies hare. “Jáás!” Sy roep na die man op ’n manier dat Fanny kan hoor sy is kwaad. Ergerlik. Sy kan nie hoor wat die vrou sê nie, maar aan die manier wat sy praat en hoe haar gesig trek, voel dit of die vrou oor háár praat; of sy ontevrede is dat haar man háár saamgebring het. ’n Klein meisietjie, ’n kind, nie iemand wat kan werk nie. Sy weet die ander weeshuise sou nie ’n kind van vyf jaar weggestuur het nie, maar deur die genade van haar ma se suster kon sy saam met haar suster gaan. En nou is Mary dood. Sy is alleen in hierdie nuwe land.

Maar sy sal hierdie vrou van Mijnheer wys, sy kán werk, al is sy nog klein. In Ierland moes hulle gou grootword; genade was daar nie. Die groot vrou druk haar vinger op haar eie bors. “Su-san-na. Rede-ling-huys. Missus. MEVROUW.” Dan wys sy met haar vinger na die meisie. “Jy? You?” “Fanny,” antwoord sy, haar stem ’n dun rafeltjie wat wegsweef in die donker agter haar.

Die perde is uitgespan, die man wat haar baas gaan wees, saam met die missus-mevrouw, gaan sit op houtstoele by die tafel. Mevrouw wys vir haar ’n bankie om op te sit. Die kers se lig maak ’n geel kol op die tafeldoek en die borde. Mijnheer sluit sy oë, hy prewel ’n paar woorde. Fanny begryp hom nie, maar sy weet dat dit die dankiesê is vir die kos wat moet kom.

Mevrouw staan op; sy haak die swartpot van ’n ketting in die haard af. Die geur van vleis damp in die kombuis toe sy die deksel afhaal. Die spoeg loop Fanny se mond vol. Lank, lank terug het sy op so ’n manier by haar ma in die kombuis gesit, anders as in die weeshuis, anders as op die skip. Maar toe was haar ma rond en sy het ’n gesig gehad wat altyd lag, voor die honger haar van binne af opgevreet het. Mevrouw is lank en maer en haar ken is skerp soos die hoek van ’n binnedeur.

“Skaap,” sê Mevrouw na Jaas se kant, en sy haal nog ’n pot af. Sy haal ’n paar goed wat lyk soos baie groot aartappels uit ’n ander pot en sit dit ook op die tafel saam met die vleis. Uit die houtvaatjie langs die haard tap sy water in ’n blikbeker om saam met die kos te drink, gooi vir elkeen ’n paar monde vol in kleiner blikbekers.

Die aartappels met die skille nog daarom se vleis is soet, sagter as dié wat Fanny ken. “Patats,” sê mijnheer Jaas toe hy haar verba­sing sien. Sy verstaan hom nie, dit lyk soos aartappels, maar haar ooglede begin slap raak; haar maag het warm kos gekry, haar dors is geles.

“Nee!” Mevrouw pluk haar regop toe sy vorentoe sak oor die tafel. ’n Klomp woorde wat Fanny se ore hoor, maar haar kop nie begryp nie, rammel en rol uit die vrou se mond. Sy wys na die waskom en ’n kommetjie daarnaas; na ’n groter lap wat sy om ’n bord vryf en draai. Sy praat woorde wat Fanny nie verstaan nie, maar die werk verstaan sy – in die weeshuis het sy ook op ’n kissie gestaan en koppies en borde gewas.

Mevrouw se stem is kwaai. Sy het ’n stem soos dié van die hoofsuster in die weeshuis. Kwaai. Hard: “Ek wys net een keer. Deeglik werk, ek hou nie van ’n brouery nie!” Sy wys met ’n dun vinger na die kom, na die lap en die wasseep. “As jy klaar is, kan jy jouself was.” Sy vryf met die materiaal oor haar arms en beduie na die sinkbad, gee die kind ’n blok wit seep om haarself later mee skoon te kry.

Mevrou se woorde klink soos ’n deurmekaar gerammel soos wanneer oom Enda te veel bier gedrink het. Sy kyk na die borde en die messe en vurke in die skottel, die lap wat Mevrouw in haar hande gedruk het, sy weet wat om daarmee te doen. Die man en die vrou verdwyn binnetoe waar dit donker is, maar die binnedeur bly oop.

Toe sy klaar is met die borde en bekers, loop sy na die sinkbadjie, vat die lap en die stuk seep; sy dink dis wat Mevrouw bedoel het, dat sy haarself moet was. Na al die dae op die skip ruik sy die rouheid aan haarself. Sy haal ’n dungewaste naghemp uit haar trommeltjie, versigtig om die paar goedjies wat onderin lê nie te laat breek nie. Mary se goedjies, maar nou is dit hare.

“Hier,” sê mijnheer Jaas, wat weer in die deuropening kom staan het en wys met sy arm na binne. “Bed.” In sy hand hou hy ’n kers in ’n blaker. Sy voel sy ander hand in haar rug soos hy haar vooruit du na die bed van houtplanke en die dun klapperhaarmatras in die kamertjie langsaan.

* * *

Die dogtertjie van vyf wat in die Kaap aangekom het, word slaaf by die Redelinghuyse. Die baas, Mijnheer, probeer vir haar in die bresse tree, maar Mevrouw dryf haar. Jaas en sy vrou het nie kinders nie. Wanneer Mevrouw haar soggens uitjaag buitentoe om onkruid tussen die wortels en beet uit te trek, sien sy aanhoudend Mijnheer se oë voor haar toe hy haar die aand op die plaas aangebring het, asof hy vir sy vrou wil sê: ek het vir jou ’n present gebring. Maar Mevrouw se oë was hard, swart kolle soos dié van die hongerlymense.

Een keer in die week kom daar ’n man met ’n perd wat Fanny leer letters maak, wat haar die taal van die land leer lees. Mevrouw wil niks daarvan weet nie, maar Mijnheer hou vol.

Fanny leer vinnig, sy begin al gou die woorde en die doen wat daarby pas bymekaarsit. Die man met die perd, Meester, is in sy skik met haar. Behalwe die Bybel, bring hy ook ander boekies wat sy kan leer lees. Sy behoort skool toe te gaan, sê hy op ’n middag vir Mijnheer toe Mevrouw haar kom roep en uitstuur om te gaan tuin skoonmaak. Mijnheer skud sy kop – dit sal Susanna nooit toelaat nie.

Die dogtertjie se wange word rooi van die melk en die groente, sy word ’n gesonde kind. Die werk op die land maak haar vel bruin; die sproete op haar arms word donkerder. Mevrouw se buurvrou wat Son­dae op besoek kom, sê sy kan bly wees; haar dogter word ’n pragtige meisie. “Gmff! Dogter!” Mevrouw maak ’n snorkgeluid.

Noudat sy dertien is, verstaan sy die taal van die land heeltemal. Mevrouw kan nie meer teenoor Jaas dinge sê sonder dat sy weet wat dit is nie.

“Ons moet haar wegstuur,” sê sy op ’n winteraand terwyl die wind om die hoeke van die huis gier en sy en haar man op die langstoep voor die huis staan. “Sy word te groot; dis moeilikheid soek. Die jong­ens wat op die boerdery werk, kyk met ander oë na haar.”

Fanny hou haar asem op. Sy staan aan die binnekant van die voordeur; luister. Mijnheer is die enigste mens wat haar nie soos ’n wees­kind en ’n slaaf behandel nie. Ook die jong seuns wat al byna manne is, kyk spottend na haar. Waarheen moet sy gaan as sy hiervandaan gestuur word?

Daar is ’n lang stilte voor Mijnheer sy vrou antwoord. Fanny hoor die krieke en die paddas in die dammetjie anderkant die wattelbome.

“Oor my dooie liggaam, Susanna.” Mijnheer se stem is sag; hy praat nie soos een wat kwaad is nie, maar daar is iets in die klank wat Fanny laat weet: hierdie keer sal Mevrouw nie haar sin kry nie.

Op ’n oggend sien sy, verskrik, die bloed. Mevrouw skel op haar asof sy iets vreeslik verkeerds gedoen het.

“Die Here weet, as jy met ’n baba sit, stuur ek jou weg, terug Kaap toe. Jy kan loop tot daar, en niemand sal jou help nie.”

Fanny kap hout vir die vuur vir die middagkos wat sy moet opsit. Haar bene en haar maag kramp. Toe sy die bloed sien, het sy gedink sy gaan dood. Sy weet nie hoekom Mevrouw vir haar kwaad is oor die bloed nie; sy het gehoop sy sal haar help as sy haar vertel. Wat dit beteken, weet sy ook nie. Net dat dit elke maand sal kom, so het Mevrouw gesê. “En jy sorg dat jy uit die jongens se hande uit bly!”

Die bondel lappe tussen haar bene skuur haar rou. Mevrouw het vir haar ou gordynlappe gegee om op te knip en die bloed mee op te vang. Maar gisteroggend toe Mevrouw haar uitgewaste lappe op die bosse tussen die ander wasgoed sien lê, het sy haar aan die arm gepluk en die dood voor oë gesweer as sy weer haar maandgoed tussen die klere uitsprei waar almal dit kan sien. Mijnheer het uit­gekom by die agterdeur en dit laat klap. “Hoe moet die kind tog nou weet, Susanna?”

Mevrouw het ’n harde stamp met haar voet op die grond gegee, toe draai sy om en loop terstond die huis in. Fanny se gesig word warm, sy voel hoe die bloed in haar lyf nog verder uitgaan en ’n straaltjie langs die binnekant van haar bobeen afkruip. Agter in die waai van haar knieë is ’n lam, swaar gevoel. Sy draai om, gaan voort om die bontgoed oor die bos oop te gooi.

Mijnheer loop nie dadelik weg nie; ’n hele ruk lank staan en kyk hy na haar terwyl sy die wasgoed oopsprei. Sy oë is op haar lyf, sy voel dit. Oor haar rug en oor haar skouers, haar bene. En toe sy weer omdraai, haar borsies, styfgedruk teen die rok wat Missus-Mevrouw gekry het by haar suster se kind wat dit uitgegroei het.

* * *

’n Deur klap Kate se sluimerdroom toe. Daar is ’n harde manstem wat deur haar kop bars. ’n Oomblik weet sy nie waar sy is nie; sy sit regop in die bed. Dan weet sy weer. Sy is in Beaufort-Wes, op pad om haar verlede agter te laat; om ’n skoon toekoms tegemoet te gaan. Haar kop val weer op die kussing, sy draai op haar sy. Die ry het haar moeg gemaak, sy sukkel nie om weer aan die slaap te raak nie.

Haar grootouma Fanny het grootgeword intussen. Sy is mooi, ’n mei­sie van om en by twintig.

Wanneer Mevrouw elke tweede week met die perdekar en ’n staljongen na Malmesbury ry om die meel en suiker en droëbone aan te vul, kom haal Mijnheer vir Fanny in die groentetuin waar sy skoffel en groente in ’n mandjie sit vir die aandkos. Hy neem haar aan die arm, praat saggies met haar. “Kom saam met my. Mevrouw is weg, nou kan sy jou niks doen nie; kom maar, ek sal vir jou sorg.” In die sinkbad voor die agterdeur laat hy haar haar voete was. Dan du hy haar vooruit na die bed wat hy en Susanna deel.

Sy probeer haar teësit. Die geur van daardie heel eerste aand toe hy met haar huis toe gery het, is teen haar, in haar, tabak en sweet. Sy weet nie hoe sy dit weet nie, maar sy weet wat hy doen is verkeerd. Mijnheer is groot en sterk en hy druk haar vas op die bed, vas teen homself. Hy sit sy hand oor haar mond as sy wil skree. “Jy is myne,” sê hy, “jy is net myne.”

Die eerste keer kan sy die volgende dag byna nie loop nie; dit voel of haar binnegoed wil uitval. “Vir wat is jy so lam en tam!” Mevrouw gee haar ’n hou teen die wang met die nat kombuislap. “Jy moet opskud, daar is makatane wat jy vanmiddag moet prik!”

Teen die vyfde en sesde keer kerm sy nie meer nie. Sy laat hom oor haar gaan, sy laat hom doen wat hy wil. Gouer is dit dan verby. As hy sy broek met die kruisbande weer aantrek, wag sy dat hy uit die kamer is, dan glip sy na die klein wasvertrekkie met die groot kom. Sy was haarself met die boerseep. Haar gesig, haar hande, haar voete, die plek waar Mijnheer hom meester van haar gemaak het. As Mevrouw terug­kom met die perdekar is die aandkos klaar, die aartappels is gaar, die groente is gekook. Die stuk vleis wat Mijnheer uitgehaal het vir die dag, is gebraai en geurig, die tafel is gedek. Sy het haar plig gedoen. In die vyftien jaar dat sy by Mijnheer en Mevrouw woon, het sy kosgemaak, lakens gewas, groente geplant en geoes. Mevrouw se houding teenoor haar is soms milder. As sy haar werk doen, skel sy nie meer so veel nie, en partymaal gee sy haar ’n ekstra stukkie vleis van die pot.

Fanny hoor hoe Mijnheer en Mevrouw praat van vryers van plase langsaan wat wil kom kuier, maar sy sien nooit een van die jong mans nie. Sy weet, Mijnheer sal haar nooit ’n kans gee om met een van hulle te gesels nie, wat nog te sê op te sit. Van Miena wat Mevrouw partykeer kom help met die slag en vleis bewerk, het sy baie geleer. Meer as wat Mevrouw haar ooit vertel het.

Dan merk sy dit. Op ’n oggend staan sy voor die gebarste spieël in die wasvertrekkie. Sy vryf met die ingeseepte waslap oor haar borste en onder haar arms. Haar borste is voller, hulle voel teer. Aan die onderkant van haar naeltjie begin ’n ronding vorm. Mijnheer het opgehou om versigtig te wees op die dae dat sy vrou na die mark en die dorp ry. Wat Miena haar voorspel het, staar uit die spieël na haar terug.

* * *

Op ’n vreemde perdekar sit die meisie met die helderblink rooi hare twee weke later, haar hande oor haar buik saamgevou in die koue vroeë oggend. ’n Neef van Redelinghuys, ’n Van der Vyver van die om­gewing by Barrydale, kom haar haal nadat Mevrouw haar met ’n kar­wats tien dae tevore oor die rug en bene geslaan het dat die hale haar vel oopgekloof het.

Van der Vyver se vrou het ’n diensmeisie nodig. Redelinghuys stop hom iets in die hand. “Kyk na haar, asseblief? En na my kind, Neef?”

Dis oggend toe hulle wegry uit die omgewing, die renosterbosse staan donker in die Swartland. Net voor die skemer plek maak vir die nag, ure se ry verder, waar die nou paadjie tussen die rotse deur slinger, gee die rooikopmeisie ’n skree; die perde steier vervaard in die skemer­lig, kap met hulle voorpote in die lug. Fanny haal hard asem, van haar voorkop af druppel die sweet tot op die lyfie van haar rok. Die man wat haar met ’n kombers toegemaak het, trek die perde in, bring hulle tot stilstand. Hy buig oor na haar, kyk in haar gesig.

Haar vel is glaserig soos die gaterige pensvet van ’n pas geslagte skaap. Sy gryp na haar maag, vou vooroor. In die skadu van die kapkar is die meisie bloedloos, lyk dit of sy wag op die koel lakens wat oor ’n dode getrek word.

* * *

Dié keer word Kate wakker van ’n hoenderhaan se kraai. Sy probeer haar gedagtes teruggryp, probeer Fanny weer voor haar oë sien, maar sy glip uit haar bewussyn soos ’n stuk seep wat onderwater in ’n bad uit jou hand weggly.

By die badkamerdeur luister sy, klop twee keer. ’n Stem grom. “Nou klaar!”

Haar hare gekam en tande geborsel, loop sy ’n rukkie later in die gang af. Vanoggend sit daar ’n meisie, sy skat haar sestien of sewentien. Haar oë is donker omraam met ’n oogpotlood. Die wimpers lyk of hulle driedubbeld verleng is, gitswart en omgekrul.

“Kan ek ontbyt eet hier?”

“Sorry, ons doen nie brekfis nie. Vra by Kootjie se Kafee. Hy doen brekfis. Of takeaways, as jy wil.” Die meisiekind kyk af, gaan voort om haar naels te vyl.

By Kootjie staan en wag sy by die rak met koerante. Nog ’n terreur­aanval, nog ’n plaasmoord. ’n Bus het omgeval op die N2 naby Caledon, sewe kinders dood. In die omgewing van Calitzdorp het die hael, ná ’n vernietigende droogte, die vrugtebome verwoes; tagtig per­sent skade sê die landbouverslaggewer. Die oes is daarmee heen.

“Dankie.” Sy vat die toebroodjie en die polistireenglasie met koffie wat die man na haar uithou. Kootjie, as dit hy is, het ’n moulose frok­kie aan en op sy arm kyk ’n swart-en-groen arend minagtend na wie ook al staar. Om sy nek hang ’n goue ketting wat laer af in die rooi vag van borshare wegraak.

Die oggend is oop en helder oor die Groot-Karoo, die vlaktes lê ver en uitgestrek. ’n Kraai vlieg op van die teerpad waar dit ’n stuk karkas sit en kaal pik.

Sy ry stadig, niks meer as 100 km per uur nie, die wete in haar ang­s­tig, maar hoopvol, dat wanneer sy terugkom sy ’n ander mens sal wees as die een wat gister uit die Oos-Kaap vertrek het. Iemand wat ’n stuk van haar voorgeskiedenis kan agterlaat.

Die man wat haar oupa was, was sigbaar, maar soos ’n meubelstuk in die huis, sonder enige bydrae tot ’n gesprek. Wanneer hulle aan tafel gesit het, het hy sy rys, vleis en aartappels en soms ’n bietjie pampoen of groenboontjiebredie sit en eet terwyl die horlosie teen die muur tik. Hap na hap. Geen woord aan haar ouma of ma of die kos lekker is nie, geen vraag na hoe dit met haar ma of met sy kleindogter gaan nie.

“Verdriet,” het ma Grace gesê, “is ’n band sterker as die sewe toue wat Simson gebreek het,” en die wit-en-blou bakkies die middag ná haar ouma se begrafnis uit die sideboard gehaal om in Kate se hande te sit. “Dit was ouma Sarah se wens dat jy dit moet hê – miskien kan jy die holtes eendag met iets soets volmaak.”

Ouma Sarah het, wanneer sy en Kate alleen by mekaar was, stuk­kies vertel van die vroeër tyd, maar die vroeër van lánk gelede, nie daardie vreeslike dinge wat later gebeur het nie.

“ ’n Mens moet ’n wond wat sweer, oopmaak,” het dokter Pearson in Kate se eerste jaar as jong verpleegassistent vir die rye skoongesig-­meisietjies gesê. “Jy moet diep sny, tot waar die infeksie is, sodat jy die siek stukke kan weghaal, sodat die ledemaat skoon kan kom en heel word, anders vreet dit die hele liggaam op.”

Dalk is dit wat haar, soos ma Grace, onbewustelik die beroep van verpleegster laat kies het, hierdie begeerte om gesond te maak van heel onder af, daar waar dit verkeerd begin loop het.

Eers lank na haar oupa se dood, toe ouma Sarah byna nie meer kon loop of sien nie en sy self al verpleeg het, het Kate probeer om brok­kie vir brokkie die gebeure van daardie jare op die stuk grond in die Klein-Karoo uit haar ouma se geheue los te wikkel.

Die ou vrou was teësinnig. En soms was Kate jammer dat sy haar ouma dit wou aandoen, dat sy haar probeer terugvat het na die eenvoudige huisie met die misvloere en die twee slaapkamers wat sy moes agterlaat. Die kombuis. Die afdak. Die werf en die herinneringe.

Wat sou in haar oupa se kop aangegaan het destyds? Hoe bring ’n mens jouself sover om so iets te doen? Dit nadat hy in die eerste plek ook nog skuldig was aan ’n medemens se ondergang – die éérste sonde waarvan haar ouma gepraat het. Miskien is dit waaraan hy uiteindelik dood is, die skuld. Of verwyt.

Nou nog sien sy hoe ma Grace na hom kyk as sy ’n koppie koffie voor hom neersit, met soveel minagting, nee, meer as dit, met weer­sin. So moet dit wees, dit waarvan die Bybel praat, ’n hel wat nooit uitbrand nie.

Haar oupa het sy nooit met ’n hand op ’n Bybel gesien nie, maar haar ouma het tot op die einde met bewende vingers in die Douay-Rheims geblaai. En haar ma, Grace, het ’n vreemde soort godsdiens gehad wat Kate laat dink het sy speel speletjies met God. Ek doen iets vir jou en dan doen Jy weer iets vir my. Omgekeerd van die gewone prosedure. En tog. Haar ma het haar grootgemaak dat sy ook gelowig was. Maar dis veral die predikante se preke oor sonde en verdelging waar­van sy onder die indruk was. En toe het sy nog nie eens geweet van die volle lading van die erfenis wat haar later sou toeval nie.

Die oggend is ligblou met ’n enkele vliegtuig se wit streep deur die hoë lug toe Kate oor die brug ry met die pad wat Oudtshoorn toe loop. Spoorlyne en paaie strek soos ’n spinnekop se pote oor hierdie deel van Beaufort-Wes. Teen die bult dra bruin kinders groot hampers op die rug huis toe vir die week wat kom se kos. Mielierys. Bone. Blikkies tamatievis. Stapelvoedsel. Vuurhoutjies en kerse. Tabak.

’n Vragmotor met ’n klompie skape kom van voor af. In die spieël­tjie sien sy die wollerige lywe teen mekaar beur. Dis nog 173 km na Oudtshoorn. Daar sal sy langer stop en iets eet voordat sy deurhou na Doringboom. Haar binneste voel asof dit in ’n klemskroef inmekaar­gepers word. Sy weet nie of die Doornboom van oupa Jakob en die Doringboomplek wat Alex opgespoor het, dieselfde plek is nie. Enige mens by sy regte verstand sou sê dis net te vergesog. Maar die geskie­denis van haar oupa en ouma is nog meer so, ondenkbaar so.

Mense hou nie van snuffelaars nie; sý ook nie. En dis nie dat sy van die begin af beplan het om by die Le Grange-vrou se gastehuis oor te bly nie. Dit was nie haar idee om verder te grawe nie. Al wat sy wou, was om vir Abel Marais ekskuus te gaan sê; die feite bekend te maak aan ’n nasaat van iemand wat gruwelik ondergrawe is. Soos wat sy die nasaat is van iemand wat weet wat gebeur het. Ook daarná.

Hierdie ding wat nou so onverwags saamval met haar oorspronklike motief is iets wat sy nie voorsien het nie, maar haar vrees om te bly saamleef met alles wat sy weet sonder om iets daaraan te probeer doen is groter as die weghardloop-instink.

Links deur die draad langs die pad het boerbokke gekruip; in spier­wit onskuld staan hulle langs die pad en wei, reg om voor ’n kar in te spring of om deur ’n veedief ingepalm te word. Hulle skrik toe ’n klomp motorfietse van voor af kom, die ene leerpakke en helms. Vóór lê ’n padstal, die muur adverteer karoolam, koeldrank, biltong, droëwors. Maar Skeurfontein se genades is weggesluit. Teen die yster­hek sit ’n dof glimmende koperslot.

’n Entjie verder is De Rust. Dit is haar allerwens. Rus. Om in die aand in die bed te klim en nie meer hoef te dink nie. Maar ’n mens eindig nie voor jy by die eindpunt kom nie.

Sy wonder hoe dit by die gastehuis van die Le Grange-vrou sal wees. Bowenal wil sy privaat wees, hoewel sy weet dat sý juis die teen­oor­gestel­de wil doen; sy, wat haar nog altyd eenkant gehou het, gaan in die lewe van hierdie Abel indring.

By die plaas Amandelhoogte staan ’n wit, kliniese huis. In hierdie afgeleë wêreld het ’n man vir sy vrou ’n huis gebou na haar hart – of soos hy gedink het sy dit wou hê.

Die son in Meiringspoort kaats goud en amber van die rotse. Wadrif. Ou Tol. Gerolms. Die bordjies met name van die driwwe wat om elke draaitjie wag, verklap een na die ander geheime oor die streek se kleur­ryke pionierstyd. Deur ouma Sarah se oë ervaar sy die wêreld waarvan sy gepraat het. Die nag van die vlug is hulle rigting Winkelplaas en Plathuis langs. Daarvandaan met die trein van Laingsburg af na Nou­poort en toe na oupa Jakob se neef Lange in Graaff-Reinet. Op De Aar moes hulle oorstaan vir ’n donkerswart nag. Om nooit daarna weer terug te keer na die vlammende son van die Klein-Karoo nie.

Weerskante van die pad voor Oudtshoorn loop ’n klompie volstruise. ’n Paar jaar terug het sy oor die nuus gehoor hoe diewe in die nag die voëls byna kaal pluk om die vere op die swartmark te verkoop.

Op die teer, so ver as wat sy kan sien, is oral swart en grys pleisters soos die pad se wonde gelap is. Fifty Shades of Grey – the South African version, het Mathilde se Alex gelag toe hy haar die video op sy slimfoon wys. ’n Hier en daar geplak van dikker en dunner plaksels om die ergste skade toe te smeer.

Haar ma was ’n pleisterkind, een wie se dienende lewe die wreedheid wat agter lê, moes toeplak. Maar dié kind het grootgeword in ’n huis sonder liefde en innigheid.

Die veld is droog hier. Ook in die Oos-Kaap kla die boere dat die regering niks doen om hulle te help nie. Aanvraag om subsidie is ’n nodelose saak. Die plaasnaam Dankbaar op die bordjie langs die pad is ’n ironie, of ’n desperate gebed. Dwaalfontein verder aan is dalk ’n beter uiting van die ware omstandighede.

Vir die eerste keer sedert sy kan onthou, voel sy ’n stekie jammerte vir oupa Jakob. “Moenie omkyk nie,” praat hy met homself terwyl hy die trek­perde aanhits,“wat agter lê sal jy nooit weer goedmaak nie.”

Drieklawerblaar

Подняться наверх