Читать книгу Drieklawerblaar - Christine Barkhuizen-le Roux - Страница 9

Hoofstuk 5

Оглавление

Uit haar kombuis, anderkant die skeiding wat haar eie woning van die gastehuis afskort, hoor Tinneke die klank van lepels en messe in die eetkamer; tussenin is daar soms ’n sagte woord – ’n beleefdheidsklank soos “Kan ek die botter kry, asseblief?” of “Sout en peper vir u?” Die twee gaste wat elk reeds drie dae hier is, het albei ’n manier van binne­toe praat eerder as om te gesels. En Kate Jooste, as daar nie iemand is wat met haar aan tafel wil praat nie, sal sy ook maar tot stilte gedoem wees. Maar dit het sy haar voorgeneem, haar gaste moet hulle eie lewens lei, sy is net die een wat die huisvesting en kos verskaf.

Daar is iets aan die vrou, iets wat haar ongemaklik laat voel, versigtig, asof sy haar woorde moet tel. Dis nie wat Kate gesê het nie, eerder iets wat sy in daardie eerste oogopslag in haar gas se oë gelees het – asof sy by haar aankoms verby haar gasvrou gekyk het, dinge wou sien wat ander mense nie eens ’n tweede blik werd sal ag nie. Byna asof haar lyf een groot sintuig is wat kleure en klanke en geure inteug soos asem. Jonk is sy beslis nie, maar sy lyk op en wakker vir haar ouderdom ten spyte van die baie grys tussen die rooi hare en die plooitjies om die oë. Meer as op en wakker. Bedug.

As sy haar maar net op haar plek hou; kwasigeskiedskrywers kom soms ook oor Doringboom se drumpel. Sý het nie tyd om met hulle te praat nie; die gastehuis verg werk en die tyd wanneer sy nie daar­mee besig is nie, is haar eie. Haar boeke s’n, en die kwiltwerk wat sy ’n paar maande gelede weer begin het.

Sy betig haarself waar sy in die halfdonker by die kombuistafel sit. Die alleenbly begin op haar te werk, sy begin haar allerhande dinge inprent. Daar steek waarheid in wat Abel van langsaan op ’n kru, reg­uit manier gesê het die eerste keer toe sy hom ontmoet: “Jy is nogal ’n suspisieuse mens – dit lyk of jy die wêreld rondom jou gedurig wan­trouend bekyk …” Wat hom betref, was sy dit ook, is sy steeds. Hy, ’n stadsjapie van seker net so in die sestig, wat skielik ’n rykmens-­vakansiewildreservaat hier wil kom maak, op dit wat haar grond was. Nou wel, Jannes s’n dan. En sy weet sy kan hom nie kwalik neem dat hy die grond gekoop het nie; of dit nou hý was of iemand anders, feit is die plek moes verkoop word. Dis net met Petrus se hulp en die kundigheid van die prokureur wat Jannes se boedel help beredder het dat sy daarin kon slaag om die stukkie grond met ’n taamlike stroom water uit die berg af te sny en te behou. Hier waar sy haar hande deur­werk met ’n soort bedryf wat sy nooit voorheen sou kies nie, hier wil Abel die brood onder haar neus kom wegsteel.

Maar sy het gesien, gou genoeg, die besigheid wat Abel aanpak, is iets heel anders as hierdie eenmansaak van haar. Hy sou nie afhanklik wees van ’n paar deurryers nou en dan wat ewe gou daarna weer die vlak van die Karoo invaar nie. Sy besigheid is buitelanders. ’n Vliegveld kom glo ook, so praat die bure, waarop Amerikaners en Europeërs en toenemend seker al hoe meer Oosterlinge vanuit Kaapstad sal kom land om vir duisende rande per nag te kom oorbly. Sodat hulle met Land Rovers op Doringboomlaagte kan rondry en bokke en renosters en wildebeeste kan sien. Selfs kameelperde. En saans met ’n whiskey in die hand hulle kan verbeel hulle sit diép in die krop van donker Afrika. As Jannes geleef het, sou hy sy mond uitgespoel het oor sulke bedrywighede op ’n stuk grond waar daar voorheen gewérk is.

Abel is ’n man wat reeds geld hét, hy het nie nodig om dit hier op Doringboomlaagte te kom maak nie. Hierdie is vir hom ’n stokperdjie. Toenemend kom mense wat hul geld in die stad verdien na die platteland en koop stukke grond wat hulle van belastingplig onthef. So jaag hulle die prys van grond die hoogte in sodat geen normale boer kan meeding om ’n stuk land by te koop nie.

Jannes se rasende betoë hieroor het haar beklem en benou, sodat sy dikwels met skemer wanneer hy by die huis gekom het na ’n lang dag se werk, die tuin ingevlug het, of ’n ent tot by die Spitskop gaan loop het terwyl hy met sy glas in die hand voor die televisie die jongste galgenuus sit en bekyk het. Wanneer sy terugkom, moes sy hoor hoe die weerman wéér eens reën voorspel – maar net vir die Boland en die kus. Nie vir sý plaas, wat hier op ’n vetkol sit nie.

Weerskante van haar stukkie grond is nou al wildheinings; dis nie net Abel wat op hierdie perd geklim het nie. Daar is al hoe meer sake­manne wat ou plase opkoop en hulle vriende bring om te kom skiet op hulle eie stukkie wildernis. Cowboys en crooks speel hulle met die diere, en die stomme diere moet instaan as die crooks, ingehok, ge­blik, reg vir ’n koeël tussen die oë. Nee, die kop moet bewaar word, en ’n taksidermis soek nie ’n gat in die kop nie. Liewer ’n skoot van die sykant, ’n nekskoot of tussen die ribbes. Dan kan jy die velle ook nog gebruik, nie dat die cowboys erg het aan die velle nie; dié gooi hulle meesal eenkant toe. Dis die manne wat afslag wat die velle vat en brei, hulle vroue wat dit aanmekaarwerk vir matte.

Aan die linkerkant van haar paar hektaar, groot-grondpad se kant toe, is die hoë heinings wat die otter nog opgesit het. “Die wát?” het sy destyds gevra toe Jannes haar van dié nuwe buurman vertel. “Die author, man,” het hy geantwoord, “dis soos Klaas-hulle die skrywer wat hier gekoop het, noem. Hy skryf mos daai boeke wat in Afrika afspeel.” Jannes het gelag; vir een keer het hy haar met ’n slim sêding kom verras waaroor sy dae lank nog by die kospotte soms kliphard by haarself gelag het.

Toe Abel haar die dag nadat sy trek aangeland het, kom groet, was sy reg om met hom te redeneer, te sê hy gaan gebiedsvreemde diere in ’n habitat inbring wat nie vir hulle geskik is nie. Selfs die otter het destyds gehou by meer konvensionele diere, nie die vreemde goed waar­van die ander boere agter die hand langs praat nie. Maar Abel het haar met pamflette en syfers probeer oortuig dat die diere waarskynlik in die verre verlede tog wild hier geleef het.

’n Bobbejaan is die man beslis nie, eerder ’n geslepe ou jakkals wat weet van meer dinge as waarvan die mense hier rond snuf het. Van die begin af het sy gevoel daar is ’n versteekte agenda; dit wat waarskynlik veroorsaak dat hy sy frustrasie op die mense rondom hom uithaal.

Vriende wil sy beslis nie met hom word nie. Haar eie werkers op Doringboom het al kom vertel hoe driftig dié master Abel is. OuBen van Bettie het ’n keer by die huis aangekom, het haar werknemer ver­tel, sy gesig bleekwit soos die Spitskop se kleipoeier wat die oumense desjare glo uitgehaal het om aan die babatjies se boudjies te smeer.

“OuBen en Jan Eenoog het vir master Abel gevra of hulle hierdie Vrydagmiddag drieuur kan loop, want die pastoor kom al die pad uit Worcester uit om kerk te hou die naweek en hy wil by die mense se huise ook omkom om te bid en lees en te collect,” het Bettie die Maandagoggend oor die groenteskillery in die kombuis gesê. “Maar, mevrou Tienke, daai man het hom nie geantwoord nie – hy het vir hulle en die ander manne net na sy kantoor toe geroep toe dit invaltyd is na die middag.

“Toe hulle daar staan, nog in die skaduwee van die peperboom voordat hulle watergate toe is om te kyk of die diere almal water het, sê master Abel net dit: ‘Nou gaan dan as julle dan moet, maar sê sommer vir die kerk ook om Maandag vir julle werk te gee.’ En, mevrou Tienke! toe klap hy daai dik houtdeur van sy office wat op die stoep uitkom agter die mansmense toe dat daar net sulke stukke-stukke pleis­ter van die stoepmuur afval. OuBen het gesê ons moet die pastoor se huis-­boeklees en -bid maar opsê. Ons het die geldjie maar net te nodig. Maar ek vra Mevrou: is dit dan rég dat ’n christenmens so maak? Of is hy okkie ’n christenmens nie?”

Op die dorp het Tinneke een oggend self een van Abel se woe­de­buie meegemaak. Die nuwe koöperasiebestuurder, ’n kind uit die kontrei en nog effens klam agter die ore, het op die Dinsdagoggend Abel se voorraad sement nie laat aflewer nie. Sy’t verbysterd staan en kyk hoe Abel die man sy fortuin vertel en nie in die mooiste taal nie. Die outjie het sommer by die deur uitgeloop met sy gesig in sy hande.

Die huishorlosie, Jannes se erfenis, slaan twaalf slae. Sy loop na haar boekekamer. Hoe vinnig tik die tyd nie verby nie. Dis meer as ’n jaar laas dat Jakkie by die huis was. Af en toe stuur sy ’n e-pos met foto’s van die piramides of toeriste wat soos eertydse prinse of prinsesse op die kamele ry. Die eerste poskaart wat Tinneke gekry het nadat sy Egipte toe is, was van ’n Bedoeïen op ’n kameel wat mense teen beta­ling op die boggelrûe rondlei. Kyk ’n bietjie hoe snaaks, Ma – hy lyk soos ’n man van die woestyn, maar in sy hand is ’n selfoon! het Jakkie agterop geskryf. Dit gaan goed met my, ek was laas naweek Luxor toe met ’n klomp toeriste uit Suid-Afrika.

En dit was dít. Boonop het die poskaart omtrent tien weke nadat dit weggestuur is, aangekom. Sy het geen manier om werklik te weet of die kind gesond en wel is nie, haar e-posberiggies is bolangs. Van haarself laat sy min weet. Die afgelope drie, vier maande al is daar g’n taal of tyding nie. Sy bekommer haar oor die kind.

“Ma, los haar net,” het Petrus net die vorige week oor die telefoon gesê toe sy haar kommer teenoor hom uitgespreek het. “Sy is oukei, ek weet dit. No news … Ma weet mos. Moet nou nie Ma se kop staan en breek oor goed nie!”

Toe sy klaar gepraat het, het sy ’n warmte in haar nek voel opkom. Petrus behandel haar partykeer of sy ’n kind is, of sy nie vir haarself kan dink en besluit nie.

Sy het nou wel die gastehuis en sy kan dit bestuur soos sy wil, maar dis haar enigste domein. Ja, sy ly nie gebrek nie, en sy is ook nie meer die mens wat proteas sou kon uitvoer nie. Maar dit ís wel so dat sy opnuut ’n eie wêreldjie vir haarself gemaak het, ’n klein stukkie aardse skuiling. En dié ding dat Petrus soms beheer oor haar lewe, selfs oor haar vrese en gevoelens, wil oorneem, dit krap aan haar. Hy dink hy weet, hy glo hy verstaan haar, maar dis ver van die waarheid. Daar is ’n deel van ’n mens wat jou kinders nie kan ken nie; daardie deel wat oorgebly het van toe jy nog jý was.

Steeds dink sy snags aan die groot stukke proteaveld wat sy aangeplant het, die bosse oortrek met die sagte kleure van die fynbosblomme. Sy sien weer hoe sy destyds met Jannes se hulp die grond reggemaak het; hoe sy haar spaargeld uit die hoenderboerdery by die bank gaan trek het om te betaal vir die rip en die breek en eg van die harde lei­klipgrond. Die plantjies wat sy van die Weskus af bestel het; die eerste ruk se met die hand natlei. Later se installering van ’n waterstelsel wat baie geld gekos het, maar wat sy, toe die proteas regtig begin het om voluit te blom, met die opgespaarde verdienste net-net kon betaal.

Sy vat die fynbosboek saam slaapkamer toe. Voor sy die lig afsit vir die nag, blaai sy met ’n verlange deur die bladsye met die foto’s; sê die wetenskaplike name en volksname vir die plante soos ’n mantra op. Met haar gesig nog tussen die groot bladsye met die fyn illustrasies van Fay Anderson raak sy aan die slaap.

* * *

Die vlamme lek aan die bokse met papiere in die studeerkamer, kruip op na die boeke wat sy soos ’n goeie bibliotekaresse met dik plastiek oorgetrek het om dit te beskerm. Die buitekante smelt voordat dit by die blaaie kom; dan, bladsy vir bladsy asof ’n vinger dit omblaai, krul hulle in die hitte. Oplaas bly net die dun lagies as oor wat sy tussen twee vingers wegvryf.

Die vuur sprei na die gordyne, ’n stuk ruk af in die wind wat deur die venster kom en val op die werf. Oor die grond hardloop die oranje punte verder tot by die proteas, dit slurp die goue blare van die leucadendrons op, vreet dan hoër op deur die rooibos-leucadendrons tot by die repense. In die bek van die vuur verdwyn die sagte roomwit Ruiterbos-neriifolias wat sy met baie geduld en moeite gekweek het; die repense word ’n glimmering van kleur voor die wind die vlamme boontoe dra.

Sy hardloop langs die brandende veld, skree dat die trekkerdrywer nog water moet bring, sy huil, sy kerm dit uit. God, my blomme, my lewe verbrand tot as!

Wanneer die lande smeulend en swart lê, staan sy aan die rand. Haar gesig vol roet, haar voete geskroei. Die lig in haar binneste geblus.

* * *

Met die wakker skrik, is haar mond droog en haar keel seer asof sy werklik by die brand gestaan het, gesien het hoe alles wat sy tot stand gebring het, vernietig word. Maar nie tóé eers nie, reeds voor Jannes weg is, het ’n vinger daardie boodskap teen die muur geskryf. Daardie vinger wat die moeilikheidmakers se onkunde en dooie voete opgeskryf het; hulle indringing en die vernietiging van haar proteas en haar wêreld voorspel het.

Natgesweet staan sy op, druk ’n slaappilletjie uit ’n blink omhulsel op die bedkassie en breek dit in twee voordat sy na die vertrek langs­aan loop. Haar blomboeke wat in die droom uitgebrand het, staan ongeskonde in die rak. Sy raak hulle een vir een aan, streel oor die rugkante asof sy weer die rou grond onder haar vingers kan voel. Sy moet hierdie dinge agterlaat, maar hoe kan ’n mens die verlies van so iets net van jou afgooi? Dis nie asof die proteas vir haar net ’n besigheid was nie – dit ook, ja, dit het haar gehelp om vir haarself te sorg. Want sy moes leer dat alles wat op Doringboom inkom, weer net so uitgaan vir die plaas, en danksy die blomme hoef sy nie vir elke potjie gesigroom of ’n paar skoene bakhand te gaan staan het nie.

Maar meer as dit, die blomme het haar lewe geword, dit het haar bly gemaak om tussen die bosse te loop en met die vroue tussen die struike te gesels, te hoor hoe hulle met mekaar omgaan, saam te lag oor die stukke wat hulle mekaar vertel. Die kleintjies se nuwe haasbekwoorde te hoor, saam met Meisie te lag oor haar nuwe kêrel in die Bellville in wat mouterkarre was en baaaie meer daarmee maak as sy boetie wat in die Spar-winkel werk op Swellendam, mevrou Tienke, sommer much better meer!

Saam met hulle het sy geleer hoe om die plukwerk te doen, die beste en mooistes uit te soek en bymekaar te sit en vir BlomZAR te lewer. Die ander, wat minder geskik was vir die groot markte, die met effense skewe of té kort stele, het sy plaaslik op die omliggende dorpe verkoop. So ver as George en Worcester. Ook vir Gabriël in Oudts­hoorn het sy blomme gelewer, veral vir troues en groot geleenthede.

Van ’n mens wat nie ’n sê gehad het op die plaas nie, het sy in ’n sake­vrou verander, ’n vrou wat haar eie dinge kon reël, onafhanklik van Jannes. Sy het ’n reis beplan na die Chelsea-blommeskou in Londen. Eendag … Sy het iémand geword.

Nou, wanneer die vreeslikheid van alles haar in die nag kom vat, kom die wrewel wat sy bedags onderdruk na bo. Jannes wóú nie dat sy so onafhanklik wees nie; dis daarom dat hy die mense van buite as sogenaamde vennote gekry het om by die besigheid in te kom. Onder die voorwendsel dat hy en sy saam iets groters sou vermag as hulle saamspan.

Die slaappille help nie, niks help regtig om die onbehaaglike gevoel te laat weggaan nie. Na Jannes se dood en die begrafnis het mense gekom, gegaan, gesimpatiseer, hulle goed- of afkeuring uitgespreek oor haar besluit om op Doringboom te bly.

Simpatie en meelewing is van korte duur, dit het sy ondervind, elk­een moet aangaan met dit wat in sy eie lewe belangrik is. Vir haar was die ergste dat sy oorgebly het met die herinneringe aan hoe sy as jong vrou haar die lewe met Jannes voorgestel het voor hulle gaan trou het – en hoe anders dit uitgewerk het. ’n Verlies wat groter was as die dood.

Sy hoor Laser en Robbie opgewonde blaf by die hek. Voorheen, toe die grond nog alles in een stuk was, was daar nooit ’n hek wat dele van die plaas afgesluit het nie, maar toe sy die stukkie grond kon uit­hou soos Petrus voorgestel het, het hy ook gesorg dat daar hoë draad­omheinings kom met skerp staalvingers bo-op en ’n hek wat sy saans met ’n afstandbeheerder kon sluit.

Sy het kapsie gemaak, sy wou nie in ’n hokkie gehou word nie. Maar hy was beslis. “Ma, in hierdie nuwe Suid-Afrika moet ’n mens jouself beveilig. Ek laat dit opsit of Ma nou daarvan hou of nie. En langsaan, tussen Ma se stukkie grond en die ander stuk van Doringboom wat Abel nou Doringboomlaagte noem, gaan ek ’n laning noem-­noems ook plant. Dis ’n goeie afskrikmiddel vir enigiemand wat wederregtelik en dalk onder die invloed hier wil oorklim. Iemand wat in daai dorings beland, sal baie gou weer wegfoeter.”

Die honde blaf nou harder; sy hoor die hek oopgaan, kyk deur die venster. Die weer voorspel niks goeds nie. Sy kyk met geskreefde oë – dis Bettie wat by die agterhekkie inkom. Vyfuur in die oggend! Die vrou kom kruppel-kruppel na die agterdeur toe aangeloop; Robbie en Laser draai ál om haar. Tinneke trek haar kamerjas wat agter die deur hang aan, loop in die gang af na die kombuisdeur en draai die sleutel. Bettie se kop het ’n lap om: donker, droë bloed sit dik daarteen gekoek. Teen haar wang sypel ’n straaltjie deursigtige vog.

“Johnny, mevrou Tienke, dis Johnny …” Bettie se gesig is geswel, die woorde kom moeilik uit haar mond. “Hy’t by die Rastas met daai bosse hare van die game-plaas van master Abel langsaan die goed ge­kry – Mevrou weet, daai daggagoed, en vannag was hy so die nenta in dat hy syse pa wou slaan. Toe ek keer, toe vat hy my; ek het laas nag nie ’n oog toegemaak nie, my kop klop en klop, ek pyn in my hele lyf van die houe. En ek is bang Johnny kom vir OuBen weer by.”

Uit haar oë val die trane op haar dun blou blokkies-overall. “Jirretjie Jesus, mevrou Tienke, ’n mens maak jou kinders dan groot so goed as jy kan, en dan loop hulle so padaf van die regte weë in die verderflikheid in. Wat sal die mense van die kerk sê?” Die vrou se skraal lyf ruk.

Tinneke trek haar nader, sit haar arm om haar skouer. “Kom, Bettie, sit jy nou maar hier by die tafel, ek maak vir jou tee met baie suiker, en dan kry ek vir jou pille vir die pyn. En louwarm water en Dettol om die plek ordentlik mee te ontsmet.”

Donnerwetter dónnerwetter, krys die papegaai toe Tinneke in die ver­byloop die reisdeken van sy hok aflig, donnerwetter dónnerwetter! Blíksém!

Toe sy die skoon verband om Bettie se kop gedraai het en die soet tee op is, loop sy saam met haar na die spaarkamer waar die vroue smiddae hul kos eet en ’n uurtjie langbeen kan sit voor hulle weer inval. Vandag moet sy eenvoudig sonder haar grootste hulp klaarkom. Sy sal laat vra of Levine deur die dag in Bettie se plek kan werk, dan sal sy self vanaand vir Maatjie in die kombuis en by die aandete help.

Die grimmigheid vreet ’n warm, suur kol in haar maag. Vir wat kan Abel Marais sy werkers nie beheer nie? Dis presies soos wanneer daar ’n jakkalsplaag in ’n wildkamp is en die wildboere van buite wat net met afnaweke self na hulle plase kom, doen daar niks aan nie – kort voor lank is die buurplase vervuil van die roofdiere. Net vanmiddag vat sy die bakkie en gaan sê vir Abel hy moet kyk na sy mense; dis sý werkers, dis die Rastas wat sorg dat daar moeilikheid op haar plek ook is. Hy gee nie ’n snars om of die mense wat hy uit die Kaap uit aangebring het die hele omgewing beduiwel met dagga en dwelms nie. Johnny kom uit ’n goeie geslag, en as hy nou ook al met dié goed deurmekaar is, is dit groot moeilikheid vir die plaasmense hier rond.

Sy hoor ’n deur aan die gastekant van die huis klap. Dis Kate wat gister aangekom het, wat op die stoep staan en uitkyk, Badsberge se kant toe. Haar grysrooi hare waai in die benoude oggendluggie; die kakiegroen truitjie span styf om haar skouers. Sy’s baie skraal, soos iemand wat ’n lewe lank honger gehad het. Die figuur draai skuins, tuur ’n rukkie na die strepe wat die son in die vroegoggend se skaars-blou lug maak.

God se vingers wat speel met die verf, dink Tinneke. Maar waar­voor die rosige simbole staan, is duister. Soms, wanneer die vliegtuie se rook wit hale in die uitspansel trek, dink sy terug – aan die dae dat sy gehoop het sy en Jannes na ander wêrelddele sou gaan. Plekke waar­van sy in haar dae as bibliotekaresse veral gelees en gedroom het. Portugal, Spanje. Die helder son in ’n ander land. ’n Land van passie en kuns en letterkunde. Don Quichot.

Die ridder wat sý eindelik gekry het, het van die hand in die tand geleef. Sonder verbeelding, en sonder begeerte om meer te doen as die stuk grond wat hy geërf het, te boer. En uiteindelik te verloor. Die plaas, en vir haar nog vroeër.

Soos altyd probeer sy die skuldgevoel van haar af wegdruk. As Jannes nie teen sy beterwete die veld ingevaar het om te help om die brand te probeer blus nie, was hy dalk nog hier. En hoekom hét hy? Wat Ester die dag van die begrafnis teenoor haar gesê het, het haar so ontwrig dat sy dae lank elke oggend haar eie gesig in die spieël staan en bekyk het. Was sý nie dalk juis die verkeerde een nie? Het Jannes hierdie een keer tog haar belange voorop gestel? En daardeur sy eie dood gaan haal?

Dis elfuur die oggend voor sy weer tyd het om by Bettie te gaan inloer in die agterstoepkamer. Sy kyk na die vrou met die geelbont kopdoek. Baie van die vroue op die plase het al weggedoen met kopdoek-dra, maar Bettie verseg. “Dis soos my mama my grootgemaak het, mevrou Tienke, en dis hoe ek reg voel in my klere en my kop.”

Bettie lê op haar sy, haar gesig na die venster se kant toe. Haar oogbank is nog dikker geswel as wat dit vroeg die oggend was. In die fil­ter­lig wat deur die gordyn val, is haar wang swartblou, haar bors dein op en neer soos wat sy asemhaal. Vir hierdie een dag het sy vrede, dink Tinneke, vir een dag is Bettie in ’n kamer wat net haar eie is. Geen man of kind of wie ook al om haar lastig te val nie. Maar môre is ’n nuwe dag. En ’n ou dag, ’n dag soos elkeen vantevore.

Sy draai om, maak die deur agter haar toe, sy moet Levine gaan help om middagete op die tafel te kry. Maar vanmiddag nog gaan Abel Marais hoor wat sy te sê het.

In die kombuis begin sy die stukkies steak met die sykant van ’n piering platter kap, rol die stukkies dan styf op rondom ’n stuk fetakaas en draai die spek daaroor, sprinkel ’n paar druppels suurlemoensap bo-oor. Die reuk van beesvleis syg deur die kombuis toe die blindevinke in die pan begin sis. Sy haal ’n houertjie vars room uit die yskas, gooi ’n paar peperkorrels daarby in ’n bakkie voor sy dit oor die vleis in die pan giet.

Meteens geniet sy dit om self weer iets te berei, die geure wat meng, die prut-prut van die sous op die plaat. Sy sit die deksel op, kyk deur die venster; teen die berg by die fontein se kant is dit grou. Dis nie so droog hier as verder die Karoo in nie, maar die buitjie vroeër was ook maar ’n druppel in ’n emmer. Hierdie lyk vir haar na meer as net ’n buurmansreën, ’n reën waarop die vrugteboere lank gewag het. Maar die wolke na die Badsberge en die Swartberge se kant is bollings wit op wit. Dis ’n weer wat vrees eerder as ’n blydskap in die hart bring.

Drieklawerblaar

Подняться наверх