Читать книгу Drieklawerblaar - Christine Barkhuizen-le Roux - Страница 7

Hoofstuk 3

Оглавление

Abel Marais staan op uit die rottangstoel op die stoep; hy strek sy arm, vryf oor die dowwe, dooie kol agter op sy rug. Die bouery aan die derde deel van die lodge op Doringboomlaagte maak hom soms verskriklik opgewonde en soms beangs. Nie dat hy dit vir ’n siel sal laat blyk nie. Maar sy droom is sy kruis, sy verlossing, maar ook sy vagevuur.

I must do as dreamers do. Toe hy Walt Disney se biografie gelees het daardie klompie dae in Frankryk toe hy sy voorvaders se spore gaan naloop het, het hy geweet dit is ook hý. Hier, op dié grond wíl hy wees, maar vanmiddag voel dit meteens weer of die jare wat agter lê, ’n gebou is wat ineengestort het weens ’n swak fondament of derderangse boustene. Sy mislukte huwelik, sy onmag om sy droom en sy huwelik te verenig.

Oorkant die hoofgrondpad wei ses gemsbokke en so pas het hy koe­does deur die verkyker gewaar. Die aangeplante gras wat hy gesaai het, het goed gevat, die diere is blinkvet. Van die oorsese besoekers sal wil skiet wanneer hulle die diere so sien, maar hulle sal skiet met die kamera, dis al. Die wild is om na te kyk, nie vir die pot nie, of nog erger, om as ’n trofee terug te neem huis toe nie. En as die bokke te veel raak, dan sal hy self ’n plan maak.

Wanneer alles klaar is, die lodge in geheel, die drade en kampe, die waterpunte vir die diere, wil hy net op hierdie klipstoep met die breë veranda sit en kyk na God se bokke en berge en bome. Malie is weg van hom. Toe hy die plan vir die wildplaas hier anderkant Barrydale met haar begin bespreek het, het sy haar gat op ’n stok gesteek en gesê sy het lank genoeg met die spoke uit sy verlede saamgeleef. As hy dít nou ook nog kom doen, terugkom na die onheilsplek, dan los sy hom. En sy het.

Hy trek die geur uit sy pyp diep in. Die tabak wat Monkey, sy dog­ter, van oor die water vir hom gestuur het, het ’n sterk karamel-en-­koffiegeur. Hy kan Malie nie kwalik neem nie; hoe sou sy ook kon begryp hoe dié ding, die skelmstreek wat sy oupa van sy plaas verdryf het, in ’n seun of ’n kleinseun kon gaan sit? Grond is iets waarvan die leem en die klei en die sand oplos in jou bloed – en as jy nie gehoorsaam is aan die roepstem nie, heg die goggas in die stof vas aan die binnekant van jou are, begin dit soos ’n kanker aan jou vreet. Soos die melanoom wat onverwags drie jaar terug op sy rug uitgeslaan het.

Aan kanker het hy nooit bewustelik gedink nie; sy ma het teen haar einde kolonkanker ontwikkel, maar sy was al so oud dat dit nooit ’n bedreigende faktor in sy eie gedagtes was nie. In sy kop is sy ma dood van ouderdom. Dit was toe hy besig was met die transaksie om die grootste gedeelte van Doringboom van die Le Granges te koop dat die huisdokter so tussendeur die griepinspuiting wat hy gaan kry het, opsluit ’n roetineondersoek wou doen. En die plat donker vrat op sy rug ontdek het. Verspreide melanoom.

Dis besweer, het die kankerdokter uiteindelik gesê na maande se herhaaldelike behandeling: die uitsny en die bestraling van die uit­saai­ings het alles weggeneem, Abel is gesond. Maar die ander kanker, daar­die vretende geheimenis, die ontneming van dit wat wettiglik sy familie s’n was, sýne was, het diep gekerf, verder as vel en dieper as vleis. Snags wanneer hy onder die muskietnet aan die slaap probeer raak na drie glase Joseph Barry-brandewyn, bly hy wakker in sy geheue en in sy wete. Sy drome dring hom tot die waarheid.

Nadat die dokter hom die middag uiteindelik die groen lig gegee het, het hy geweet wat hy moet doen. As hy die min of meer onmiddellike verlede nie ongedaan kon maak nie, sou hy sy Hugenotevoorvaders en -moeders se plek van die verre verlede gaan opspoor. Êrens moes hy ’n anker kry om homself aan vas te maak.

Hy kon dit bekostig. Sy konstruksiemaatskappy in die Paarl het uit­gebrei oor die hele Boland en in al die jare het hy net een keer ’n terug­slag gehad. Maar dit was op die rekening van die betonmaatskappy by wie hulle die swak materiaal te goeder trou aangekoop het; sy eie onder­neming het seëvierend deur die hele hofgeding gekom. ’n Sakeman, dit was hy by uitstek, maar ’n skelm, nee. Die plaas het hulle verloor deur die onderduimsheid van ’n man wat sy woord nie gehou het nie, maar eerlikheid is iets wat sy pa en sy oupa in hom ingedril het. Dít is die manier waarop jy sake doen. En om te staan vir dit waarin jy glo.

Uiteindelik is dit ook die ding wat hom gedwing het na die grond grensend aan Longvilliers, die Franse dorpie, waarvandaan sy Huge­notevoorouers padgegee het na die Kaap. Sy mense wat nie langer kon ja en amen op die Katolieke priesters se geheimsinnige manier van om­gaan met die Woord en met God nie. Mense wat wou uitkom vir hulle geloof – wat sou vlug, maar ook sou sterf vir dit waarin hulle glo.

Hy was lank nie ’n groentjie in die buiteland nie, maar om by ’n klein gehuggie aan te kom sonder dat daar definitiewe treinverbindings of busse was tussen die groot stad en die stukkie platteland waar hy sy voorvaderspore wou gaan naloop, was nie die maklikste ding nie, moes hy uitvind. Die derde dag nadat hy in Parys aangekom en goed uitgerus het, het hy die metro gevat na Gare Saint-Lazare en van daar is hy na die volgende stasie by Montparnasse waar hy ’n trein gekry het na Rambouillet.

Op die stasie het hy homself probeer duidelik maak by die kaartjie­kiosk, maar die middeljarige vrou het haar kop geskud. Geen Engels nie. Je ne comprends pas. Ek verstaan nie! En by die aanhoor van ’n naam soos Longvilliers het sy haar hare geskud dat dit in ’n aswolk om haar kop gestaan het. Oor Bouc Étourdi, die plaas waar hy uiteindelik moes wees, die grond waar sy voorouers regtig vandaan kom, het hy liewer nie eens begin nie.

Oplaas het ’n vrou met ’n dik swart bril van agter die kiosk uitgekom en hom ’n papiertjie in die hand gestop met drie telefoonnommers. Taxi, het sy met haar hand na buite die stasiegebou beduie.

Hy het die eerste nommer op die flentertjie papier geskakel. Daar was nie antwoord nie. By die tweede nommer het ’n stem antwoord gegee, maar hoe hy ook al probeer het om te verduidelik wat hy verlang, die man het aanhou Frans praat en toe die foon neergeplak.

Aan die oorkant van die pad was ’n gebou wat gelyk het na ’n eiendomsagentskap. Hy het die deur oopgedruk en met die papiertjie met nommers vir die man agter die tafel probeer duidelik maak wat hy wil hê. Ook hý kon nie Engels verstaan nie, maar ’n jong outjie van die lessenaar langsaan het opgespring en vir Abel gewink om saam te kom. “Mon amie … anglais …” het hy oor sy skouer gesê.

By die parkeerplek het hy na ’n swart motor gestap, ’n blonde vrou het die deur oopgemaak. Hulle het oor en weer ’n klomp woorde gewissel waarin Abel die sagte bry van ’n Françoise Hardy-plaat uit sy jeugjare herken het. Toe het sy met ’n groot glimlag na Abel gedraai. “I can speak English, I can help you.”

Sy het haar hand uitgesteek na die papier met die telefoonnommers, snel ’n string woorde met haar mond teen die plat selfoon afgevuur, en hom toe in Engels ingelig: hy moet net daar bly staan, die taxibestuurder sal hom oor tien minute daar oplaai. Sy het nog ’n rukkie met hom gepraat, vertel dat sy Engels studeer en gevra waar hy van­daan kom, baie in haar skik om haar Engels op iemand te kon oefen.

Die geskiedenis wat hy as kleuter van sy oupa en sy pa ingekry het, het gedreig om uit sy binneste oor te borrel. Hy moes hom bedwing om nie sy hele verhaal aan haar uit te blaker nie. Dat hy op pad was na die grond waar sy oupa se oupa se voormense verdryf is. Soos wat sy oupa in Suid-Afrika van sy plaas, Bokkloutjie, ook moes padgee – nadat die grond ’n paar geslagte reeds in die Marais’s se besit was. Deur die goewerment aan hulle uitgegee oorspronklik, met geen vorige eie­naars nie. Sy oergrootvader Charles, die eerste Marais wat in die land aangekom het, het hom in die Paarl gevestig, op grond wat aan die klom­­pie Franse Hugenote gegee is om op te woeker en te werk. Amnes­tie in die land van Goeie Hoop en son.

Abel se oupa het uitgewyk na die Klein-Karoo om sy kennis van perskeboerdery te waag op ’n stuk grond, so het hulle in die Boland gehoor, waar die son die soetste van alle vrugte kon laat ryp. Oor die Plattekloofpas, ’n wapad wat uit die 1700’s dateer, het die boere aan die reënskadu-kant van die Langeberge hulle twak en perskes aangery na Port Beaufort. Daar het Joseph Barry en sy neefs hulle vragte oos­waarts gevat, of Kaap toe, westekant toe.

“Maar nadat die Tradouwpas gebou is, en die Garciapas, kon ons die volstruisvere en witblits alle kante toe aanry; Barry se handel was later tot niet, maar die waens se wiele het oral heen gerol,” het oupa Abraham gemymer.

“Duur gekoopte grond, nie net met geld nie, my kind, maar met sweet en eelte …” Abraham Bier se stem het tussen die woorde deur ’n paar knikke gekry.

En dat sy oupa dit alles so moes verloor. Uit goedheid. Uit vertroue en medemenslikheid. Maar sy oupa het nie gekla nie, hy het dit die “beloop van die lewe” genoem en dat die Vader sy kind gered het die nag tydens hulle trek Boland toe; dat dít vir hom belangriker was as enige stuk grond.

Abel se pa, Gert, het dit nie so maklik aanvaar nie. Hy het sy wrok­kigheid gereeld teenoor sy pa sowel as sy seun laat blyk. Hy wou ook boer wees, ook hy het die Marais-grond verloor. Daar was ’n vuur in hom wat sy vrou gemaak het tot ’n onderdanige ja-en-amenmens wat haar man in alles gelyk gegee het.

’n Keertjie of twee terwyl hulle twee saam langs die viswaters by Rooi-Els gesit het, het pa Gert die sagte kant van die verlang teenoor sy seun laat blyk. “Ek was ’n klein seuntjie, maar ek onthou hoe ek saam met Klasie, die bokoppasser, vure van ghwarriehout gestook het. Die roosterbrooddeeg het antie Katryn vroegoggend klaargemaak en dan het ons dit op ’n selfgemaakte stuk rooster gesit en braai. Ai, ek ruik daardie vars gebraaide brood nog, en die vet wat antie Katryn saamgegee het om op die brood te smeer.”

Abel het die trek in sy oë gesien wanneer hy op Sondae in die Paarl na die Du Toitskloofberge staar. So asof hy met sy geweer deur daardie berge wou skiet, om ’n pad oop te maak terug.

Sy oupa het gesê Gert moet vergeet. “By alle ongeregtigheid kom daar uiteindelik ook weer die reg.” Maar hy, Abel, het ’n gelofte gemaak, al het hy nie met sy pa daaroor gepraat nie – hý sou teruggaan, hy sou die grond van die Klein-Karoo weer onder die voete van ’n Marais kry.

En hy het dit waar gemaak, hy hét teruggekom. Uiteindelik het hy wel nie Bokkloutjie kon terugkoop nie, maar hy het die ou bliksem vir wie sy oupa gehelp het, en wat nooit die borggeld terugbetaal het nie, se grond in die hande gekry. As dit nou nie was wat Malie met haar hoge Engels poetic justice sou noem nie!

Hy wou die hele stuk grond syne maak toe dit in die mark kom, maar die Le Granges wou nie byt nie. In ’n oomblik se wik en wankel het Tinneke oorweeg om ook die aparte klein stukkie met ’n eie kaart en transport aan hom te verkoop, maar Petrus, haar seun, het ’n stok­kie daarvoor gesteek. Hy het by Abel se kantoor in die Paarl ingebars sonder om hom aan die sekretaresse te steur.

“Meneer Marais, ek is by verre jou junior, maar wat jy doen, hoe jy probeer om my ma se arm te draai om ook die stukkie grond wat sy kon oorhou, te kry – dis soos die ryk man in die Bybel wat die broodarm Natan se ooi gevat het om te slag. Jy behoort jou kop in skaamte te laat sak. My ma het alles, byna alles, verloor en nog wil jy die klein deeltjie wat sy kon behou, ook inpalm!”

Donner. Hy moes hom inhou om die mannetjie nie aan die kraag by die deur uit te gooi nie; wat sou die snuiter hom verbeel! Wat weet hy van daardie skaliegrond van Bokkloutjie; van ’n man wat met sy vrou en kind op ’n laatsomerdag nog voor die oes heeltemal af was, met die kakebeenwa van sy grond moes padgee, van ’n bankbestuurder wat sy kop laat sak het toe hy dit vir hom moes sê, maar dit steeds bly skud het: Néé. Die skuld was te groot. G’n bank sou die risiko waag nie.

Wanneer oupa Abraham Bier gepraat het, kon sy kleinseun die wa sien. Die kap styf getrek, die wiele met beesvet gesmeer. Net die basiese meubels is op die wa. ’n Katel. ’n Tafel. Drie stoele. ’n Paar potte en panne. Ouma Drienie se erf-breekgoed. Die broodkom en drie trom­mels met klere en lakens.

* * *

Die osse beur, hulle dreun onder die klap van die sweep. Op die grond wat die bank opgeveil het, staan die nuwe eienaar en die naaste bure en toekyk. Kom groet, kom dag sê, tot siens sê. Kom kyk hoe ’n man wat die grond onder sy hande mak gemaak het, wegry van sy sweet wat tussen die kluite lê.

Die man vir wie hy borg geteken het, ’n tweede verband, so het hy eers lank na die tyd agtergekom, was nie by die veiling nie, natuurlik nie, en die vorige maande toe Abraham hom gaan soek het op sy grond om iets te beding, was hy altyd maar weg. Hy wou die geld uit die man uit wurg, hom dwing om terug te betaal. Maar as daar nie geld is nie, kan jy dit nie uit ’n klip tap nie. En nêrens was ’n klousule wat hom die reg kon gee om die grond van die man vir homself toe te eien nie.

Drienie se woorde was min. “Dis nie verniet dat die Skrif sê jy moet nie vir jou naaste borg staan nie, Abraham.” Daarmee het sy klaar gepraat, haar versoen daarmee dat vreemde voete nou oor die breë geel­houtplanke in die voorhuis sal loop en ’n ander vrou ’n volgende, beter, seisoen se goue perskes in flesse op haar rakke sal staanmaak.

In die aanloop tot die veiling vul sy haar dae met alles wat haar hand kan vind om te doen. Wat sy kan, lê sy in. Tamaties uit die tuin wat die haelstorm vrygespring het, ’n klompie groenbone in kerrie in flesse. Van die perskes aan die bome was daar niks oor nie en die bome was tot in die murg verniel. Die muisvoëls het die vroeë vye byna alles opgevreet, maar die paar wat oorbly, kook sy in stroop.

Van die vorige somer is daar nog droëperskes wat sy in slopies sit om saam te neem. En biltong van die bokke wat Abraham voor die veiling geskiet het. Die bietjies-bietjies goed wat hulle mag hou, draai sy toe in lakens en dra dit aan na die kombuis waar sy dit teen die muur neersit. Saans by die olielamp maak sy ’n laaste hemp vir haar man; twee broekies vir Gertjie.

In die lig van die vlam flits die naald in en uit deur die materiaal. Op sy pa se groot stoel wat hy saamgebring het na sy tuiste in die Klein-Karoo, sit Abraham Bier aan sy pypsteel en kou. Die woorde wat hy sou kon sê, het hy weke terug reeds in homself weggesluit.

Dis ’n bewolkte dag wat breek. In stilte pak die man en vrou die kakebeenwa; Soufie en Klasie help oplaai. “Kyk goed agter jouself en miss Drienie, en onse Gertjie,” sê Klasie voor hulle op die wa klim. Vir die eerste keer in sy lewe skud Abraham die hand van ’n bruin man. ’n Geëelte hand wat hom gehelp het om Bokkloutjie se grond te ploeg en te eg, om bome te plant en nat te lei.

Dis ’n entjie anderkant die dorp die dag ná die veiling waar hulle die middag laat uitspan naby Soutkloof. Die seuntjie gryp met plomp vingers waarin die babavet nog tussen die litte uitswel na ’n spinnekop wat oor die vloer van die wa kruip; hy skree, maar sy pa tel hom op, hy drup pypolie oor die bytplek en draai die vingertjie toe met ’n stuk­kie sakdoek wat hy afskeur. Teen middernag begin die kind kerm, sy lyf brand, hy kreun van die koors, sy hele hand en arm is opgehewe en rooi. “Here, Here, God van onse Vaders, help ons!” In die tempel van die nag roep Abraham Bier na Bo, na die God ter wille van wie sy voorouers hulle eie land moes verlaat, “Here, ek sal my lot aanvaar – ek sal nie murmureer nie, spaar net my kind …”

Gertjie se kleertjies is deurweek. Abraham tel hom op, sit hom op ’n laken op die bokseil neer. Drienie help om die kap van die wa toe te maak. Soutkloof is nie ver nie. ’n Myl, dink hy. Nee, dalk meer. Dis donker toe hy en Drienie die grondpad vat wat regs uitloop. Die kind lê slap teen sy bors. Hoog bo skyn die sterre; dis donkermaan.

Die opstal is donker, Boer Soutkloof is lankal in die bed, môre kom rooidag weer vroeg. Abraham klop, loop langs die kant van die huis af, klop aan die vensters toe daar nie iemand dadelik deur toe kom nie. “Maak oop! Asseblief! My kind, Here, my kind gaan dood!”

Uit die skim van die huis se binnekant kom ’n vrou met ’n kers en blaker in die hand om die agterdeur oop te maak. Oor haar skouers lê vaalbruin hare wat uit ’n slaapmussie ontsnap het. “Bring hom in, laat ek kyk.”

Sy maak die ysterbedjie in die voorkamer reg, laat lê die kind met sy voet op ’n stapel komberse. “Bring van die koringstrooi,” roep sy na haar man. “En lampolie.”

Op die primus kook sy peper en asyn vir die koors. Dan kerf sy ’n handvol koringstrooi fyn, maak ’n vinnige skerp sny in die seuntjie se vinger waar die spinnekop gebyt het, en druk die strooi wat die man aangee daarin. Bo-oor smeer sy lampolie. “Wys die mense waar is die vrykamer,” sê sy vir haar man, “ek sal by hom waghou.” Sy wys hulle met ’n besliste hand weg uit die voorhuis.

Die klapperhaarmatras in die vrykamer is hard, die vrees is ’n koue draad wat om die twee mense se harte span. “Here,” bid hulle, “Here, ons grond is weg – U wil geskiede, maar moenie, O, God, asseblief …”

Teen doudag breek die koors. Vrou Soutkloof kom roep hulle. “Hy slaap nou, hy is swak, maar hy’s rustig. Nou kan julle ook ’n rukkie slaap. Ek maak julle wakker met brekfis.”

“Staan oor, swaer,” dring die boer aan toe hulle later aansit. “Gee die kind ’n kans om uit te rus. Jou goed is veilig langs die pad, ek gee vir jou voer en water vir die osse ook. My vrou sal nog goed saamgee vir die koors as dit later weer opvlam.”

Wanneer Abraham Bier die osse inspan die dag daarna, is die woede uit hom weg. Hy laai sy kind en sy vrou op die wa. Boland toe, dis waarnatoe hy gaan. By sy pa se broer in die Boland sal hy bywoner gaan word. God het sy kind gered. God, en Vrou Soutkloof. Nooit sal hy weer kwaad word nie. Maar die verlang – o, die verlang na die son in die perskebome soggens, die helderwit sterre snags, en die soet­heid van ’n oes wat jy self geplant het, dit sal bly in al sy môres se wakkerword, in al sy nagte se dink.

Drieklawerblaar

Подняться наверх