Читать книгу Drieklawerblaar - Christine Barkhuizen-le Roux - Страница 8

Hoofstuk 4

Оглавление

Deur die skreef in die donkergroen gordyne met die roomwit rose val ’n vaal strokie lig. Kate druk die kussing onder haar kop reg. Verekus­sings. Sy sal haar antihistamienpille dadelik moet begin sluk. Kla wil sy nie; waarskynlik is dit gansdons, die beste waarmee ’n mens sekerlik ’n gastehuis kan toerus.

Dis ’n ver ent wat sy gery het, verder as in ’n baie lang tyd. Op die kaart en op die internet het sy die afstand bekyk en met haar verstand besef dis nie net om die draai nie, maar die onverwagse, impulsiewe rit, tesame met al die dinge wat deur haar kop speel, het haar nogtans meer uitgeput as wat sy verwag het.

Die goed wat sy saamgepiekel het, het sy voor sy gaan lê het op die rakkie teen die muur langs die bed uitgestal. Dit sal vreemd opval, sy weet, maar sy wíl dit kan sien. Dit moet haar help om hierdie ding waar­mee sy toenemend gekonfronteer is hoe ouer sy word af te handel.

Elke sel in ’n mens se liggaam het ’n geheue, het sy gelees in ’n boek wat ’n pasiënt op ’n keer in die bedkassie by die hospitaal laat agterbly het. ’n Boek deur ’n antropoloog wat sewe jaar tussen die Boesmans gaan bly en daar te doen gekry het met goed wat die moderne mens lank reeds vergeet het. ’n Mens kan dinge oproep, dinge sien of hoor wat jy nie met jou gewone sintuie kan doen nie, het hy beweer. Soos die bok wat ’n Boesman ’n paar kilometer verder gesien het, nee, gewéét het, sonder dat hy dit kon sien.

En dis hierdie geheue, geërf van haar voorouers, wat haar teister, dít en die gapings in haar kop waarvan sy haar eie waarheid maak.

Sy draai op haar sy. In die maande wat verby is, kon sy voel hoe haar liggaam al hoe langer neem om homself te vernuwe. Selfs ná ’n nag se goeie slaap is dit of haar selle soms nog ineengeskrompel teen mekaar lê. Die butternut-en-fetaquiche wat Tinneke so korrek-professioneel vir middagete kom aanbied het, het sy nie geëet nie, gesê sy wil liewer rus. Die Le Grange-vrou is ook nie die hartlikste mens wat sy al teë­gekom het nie.

In die skemerkamer wonder sy: sou Tinneke wéét? En lê die stuk geskiedenis waarvan sy self weet, aan hierdie kant van die draad, of oorkant? Ás dit wel so is dat die Nederlandse naam van die plaas later verafrikaans is.

Al wat sy het om op te gaan, is haar ouma se vertellings, haar ma se woorde teen die einde en die Bybeltjie, vergeelde stukkies papier met versugtinge en onderstreepte verse uit die Bybel. Hier en daar in die kantspasies is ouma Sarah se aantekeninge. By Eksodus 20 het haar notatjies die bladsye só van mekaar af weggedruk dat jy ’n duidelike gleuf in die Bybel sien as jy dit uithaal.

Hoe groot sou die stukkie wat Doringboom heet, wees? Wie se lusern is dit wat verder af so blougroen staan? Sy dink sy het ’n grensdraad gesien wat die weiding skei van die stuk grond waarop die gaste­huis staan.

Op die rak teen die muur is ’n klompie boeke; dit laat haar tuis voel. Ma Grace het haar laaste jare se dae deurgebring met lees; soggens wanneer Kate vir haar koffie kamer toe geneem het, het die lig langs die bed nog gebrand.

Sy het in haar ma se voetspore gevolg, in haar jeug ook boeke ver­slind, óók gaan verpleeg, maar die lang ure in die hospitaal het haar saans uitgeput in die bed laat val, met min energie oor vir lees. Ma Grace het net liefdesromans gelees, boeke wat goed eindig, wat haar kon laat vergeet van die man wat sy eers in haar dertigs leer ken het en wat vroeg dood is; van haar eie pa en ma, die twee somber, stil figure wat in kringe rondom mekaar beweeg het.

By Kate was daar van jongs af die begeerte om die geskiedenis uit te pluis. “Vertel my, Ouma,” het sy aangedring. “Vertel van die Iere en hulle stories en waar ouma Fanny vandaan gekom het, ek wil weet, ek wil nog eendag soontoe gaan!”

* * *

Ouma Sarah se gesig is droë stukke modder wat oplig en krummel ná ’n donderweerreën oor die Oos-Kaap. In haar wange is diep vore, om haar mondhoeke ’n trilling. Haar woorde waai met die wind by die agterdeur uit. Kate kan hulle skaars hoor; sy is jammer sy het gevra, maar sy kan die woorde nie bymekaarmaak en terugprop in haar mond nie. Die vraag wat in haar gegroei het deur die jare, was uit. Hoekom is haar ouma nie lief vir haar ma nie? Hoekom praat hulle nooit met mekaar nie?

Haar ouma het weggeskram, begin vertel van die sirkel van die druïdes en hoe sint Patrick vir Lochru van sy troon afgestoot en ’n kruis in die simbool van vroeër geplaas het. Sy het afwesigrig gepraat, en toe gespring na haar eie ma Fanny se vertrek na die Kaap. “Kaap van Goeie Hoop,” het sy gesê terwyl sy met haar rug na Kate by die venster uitgekyk het. Om dan haar kop heen en weer te skud om die betekenis van dié woorde te ondermyn.

Op Kate se eerste vraag: “Hoekom is Ouma en Mamma nie lief vir mekaar nie?” het haar ouma nie geantwoord nie. As toegif het sy later die aand aan tafel vir haar weer van die Ierse sprokies en die leprechauns vertel waarvan Kate nie genoeg kon kry nie.

* * *

Sy sal mooi moet dink voordat sy die eerste aanvoorwerk op hierdie stuk Klein-Karoo-grond begin doen; om sommer goedsmoeds na die geskiedenis van Doringboom en ook na Abel Marais te verneem, kan Tinneke die harnas in jaag. En dit mag wees dat sy verkeerd is, dat die dinge van die verlede nie hier nie maar op ’n heel ander plek afgespeel het. Miskien kan sy onderlangs by die arbeiders vra; in haar dae as ver­pleegsuster het sy agterkom, dikwels weet dié mense meer as die baas van die plaas self.

Dis kwart voor ses die middag toe sy wakker skrik. Die son se maag druk al amper teen die berge toe sy deur die venster kyk. Dis die Bads­berge, het Tinneke gesê toe sy ’n paar bakens uitgewys het ter wille van Kate se oriëntering in die omgewing.

Dis die eerste keer in haar lewe dat sy in hierdie wêreld kom, hierdie mooi stuk land met sy grysgroen bosse en berge en rante met haar eie oë kan sien. Die doringbome met hulle soet geel blommetjies en die ghwarries met hulle krulblaartjies wat die beste kole in Suid-Afrika gee – só staan dit op die sakkies met stompe geadverteer by Ronnie’s Sex Shop, waar sy gestop het om seker te maak van die afdraai. Toe sy vir ’n bottel ystee betaal, het die man met die lang wit vlegsel en ge­amuseerde oë die outydse kasregister met sy vingers geslaan asof hy ’n stuk marsmusiek daaruit wou haal.

Haar ouma het gesê grootouma Fanny het die milde herfs in die Klein-Karoo die Here se perskes-met-vla-tyd genoem. Daar waar die somer se son en soet en die louwarmte van die vla bymekaarkom en ’n mens dankbaar maak vir ’n klein genade. Maar haar ouma se eie lewe was arm aan die perskes-en-vla; ’n mildheid het sy nooit oor haar man of haar dogter uitgestort nie.

Ma Grace was ’n opslagkomkommer. Uit kwade wil gebore en gou verwelk, ’n verpleegster wat gevorder het tot stafverpleegster maar nooit werklik in staat was om die lewe aan te pak nie. ’n Vrou wat tuis net die nodigste gedoen het, en dan op die stoepie gaan sit het en oor die blaaie van ’n boek na die plat koppe met hulle opstaankuiwe gestaar het.

“ ’n Instaankind,” so het ma Grace haarself genoem in daardie tyd dat sy stadig met ’n ál witter wordende gesig in die bed in die huis in Rourkestraat gesterf het. Té lank het sy nooit geantwoord op Kate se vrae nie, maar voor haar dood het sy haar dogter op die kant van die bed laat sit. Bietjie vir bietjie het sy tussen die pyn deur die familie se doen en late begin uitlê. Sodat Kate met effens meer inligting ook die oopgelate stukke probeer invul het wat ouma Sarah nie kon uitkry nie.

Buite op die stoep waarop al die gastekamers van Doringboom oop­maak, sien Kate die blou- en rooskleure soos die dag sy blomblare toe­vou. So mooi, dat as iemand dit sou skilder, die kunskritici sal sê dis onnatuurlik. Té mooi.

Regs, anderkant ’n draad, daar waar sy dink die ander stuk grond begin, lê ’n dam waar die modder die water bruin en pienk kleur. Vroeg die oggend, voor sy aangekom het, moet dit gereën het aan dié kant van Warmwaterberg; die grondpad waarmee sy afgedraai het, was kol-­kol vol poeletjies waarin die wolke gespieël het. Die geur van bossies en grond het in haar neus opgeslaan toe sy die motor se vensters afdraai. Dis beslis minder droog hier as in Oudtshoorn en verder noord.

Sy loop nog ’n ent met die stoep af, haar oë vasgenael op die onnoembare kleur van die grond en klip.

“Mevrou Tienke vra of Mevrou iets sal drink voor die aandete?” Kate skrik vir die skielike skel stem naby haar. Dis die Bettie-vrou wat vroeër met haar aankoms die twee rifrûe onder ’n geblaf aan ’n paal gaan vasketting het toe sy en haar gasvrou die bagasie uitgelaai het.

“Jammer daaroor,” het Tinneke gesê, “maar ons moet nou maar een­maal oplet na wie en wat almal oor die plase gaan. En dis nie dat Robbie en Laser moeilik is nie, nie as hulle die mense ken nie; maar ek wil altyd dat hulle eers sien die gaste is welkom en nie kwaadwillig nie. Dis verbasend hoe gou hulle weet wie toelaatbaar is of nie.”

“Dankie,” antwoord Kate die vrou wat nog na haar staan en kyk. “Sê vir jou mevrou ek sal ’n glas water drink by ete.”

“Nee, mevrou Tienke bedoel eintlik ’n knertsie sjerrie of dalk ’n knapsie wyn, dis wat Mevrou vra. Ons het die rooiwyn én die witwyn.” Die vrou kyk haar aan met groot donkerbruin oë, teen haar linkerwang loop ’n letsel van die slaap af tot byna by die hoek van haar mond. Meswond, dink Kate, soos soveel wat sy by Ongevalle gesien het.

“Net die water, asseblief,” antwoord sy en dwing die beelde in haar kop weg. “Hoe laat eet julle eintlik?”

Dis of die vrou voor haar oorskakel na ’n hoër rat wat haar vinniger laat praat. “Kyk hier, Mevrou, nee so tussen halfsewe en aguur, Mevrou sien, maar die oumeneer van nommer 2, daai Langenhoven se kamer, hy kom eers net so by aguur, hy sê hy kan nie sy dagtyd so mors om so vroeg al te wil eet nie. En die antie in die Pollie Smith-kamer, sy eet van alles, maar nog meeste van die gebakte aartappeltjies en van die roosterbrood wat ek braai, en in die oggende bacon en eiers, en somtye vra sy ook nog of ek vir haar wors of ’n tjoppie in die pan kan braai. Is nou nie laat ek dink sy eet te veel nie, hoor, ’skies, Mevrou, maar sy maak dat ek baie keer nog meer groceries op die lysie moet opskryf.

“Haai! Mevrou Tienke sal nie wil hê ek moet skinder nie!” Sy klap haar hand vinnig en hard oor haar mond.

“Maar, Mevrou, ek dink as Mevrou so teen seweuur sal kom, dan is dit oukei. Dan is ek weg, want ek werk mos skof, maar dan is Maatjie hierso en sy maak die kos en haar meisiekind bring die kos op tafel. Mevrou kan kies vanaand – daar is hoenderpaai, en daar is bobotie en dan is daar die rys en groenslaai met tamaties in, dit wil sê Grieks, sien, Mevrou, en ingemaakte kwepers wat Mevrou by elkeen van die kosse sal kan sit as Mevrou so wil. En ek sal vir Maatjie sê om nog aartappeltjies te bak as Mevrou ook wil hê.

“Mevrou Tienke, sy eet altyd weer vroeg, en op haar selwers in haar eie kant van die huis, so Mevrou sal haar seker eers weer môre se kant sien. As daar nog iets is wat Mevrou sal wil benodig, dan kan Mevrou maar vir Maatjie vra, sy is baie slim met als, maar ek gaan nou huis toe, Mevrou, want ek moet die kos gaan opsit, en my Nippie-kind is nog te klein om als te doen en …”

“Dis goed so,” keer sy die stroom woorde, “als reg, ek sal die bobotie neem, jy kan vir Maatjie sê, en die aartappels is nie nodig nie, hoor.” Nou het sy nie krag om alles aan te hoor nie, maar hierdie voorslag wat duidelik Tinneke se regterhand is, is ’n bron van informasie om nie te onderskat nie.

Uit die kamer verder op kom ’n man met ’n kierie. Dit lyk nie of hy dit eintlik nodig het nie, dis meer soos ’n bykomstigheid wat ’n vrou sal dra, ’n handsak of ’n serp of krale. Iets om haar mee op te fleur.

Hy mik in die rigting van die groot trap, maar toe hy haar sien staan, lig hy net sy hand in ’n groet en keer toe regsom om by die klein trappie aan die ander kant van die stoep af te gaan. In die sonlig wat nog teen die hemel weerkaats, is sy wit hare violet. Haar pa het ook sulke deurskynende grys hare gehad, vroeg al, hy was nog in die veertigs, toe het hy al ’n spierwit kop, het haar ma vertel. Dié man van Pearston wat op Graaff-Reinet kom velle verkoop het by die vendusie en toe in die hospitaal beland het.

“Dit was vir jou oupa ’n verlossing toe ek die dag trou en onder sy oë uit is. Buitendien, ek was ook al in my jare.” Die klank in ma Grace se stem is ’n hyggeluid – die nood dringender as die smag na asem van die emfiseem wat haar dag vir dag verder wegneem.

Die blou van haar oë vaag weg wanneer sy vertel van die stuk papier wat sy in ouma Sarah se Bybel gekry het. ’n Aanklag, ’n bitter verwyt. Nooit gegee aan die een wat dit moes ontvang het nie, maar gebêre in haar hart. En Bybel.

Jy het my gedwing, Jakob, ja, jy het my oorweldig. Uit woede. Uit moedeloosheid. Uit skuld. Jy weet en ek weet, hierdie kind moes nooit gewees het nie. Ek was eintlik al verby my kinderkry-jare, maar jy het my opgesaal met nog iets wat ek kan verloor. En daar is niks wat dit wat jy gedoen het weer goed kan maak nie. Hierdie kind sal ek grootmaak, maar ek sal jou nie vergewe nie. Nie tot die dag van my dood nie.

Haar ma se woorde het in haar bly maal wanneer Kate die pasiënte by die hospitaal gemaklik gemaak het. Om te moet weet dat jy die produk was van die versinnebeelding van liefdeloosheid en bitterheid … In die nanagte wanneer veral die ou mense gekla en gepraat het oor hulle familie wat nie kom kuier nie, het sy haar verbeel dat sy die bossies se vrank reuk onder die velskoene van haar ouma en oupa kon ruik, dat sy die perde se onrustige gerunnik kon hoor die oggend toe die maan nog in die hemel sit en die skotskar gepak is.

“Die karperde het geweet,” het haar ma gesê, “jou ouma het gesê die perde het gesien en geruik, hulle het die kap teen die klipgrond in die nag gehoor. En hulle het die bukkende gestaltes en die gesigte waarvan die kleur weggetrek het, onthou soos dit was vóór daardie dag. Jou oupa se ryperd, die hings, was heeltemal verbouereerd. Wild. Verlig, uiteindelik, om weg te draf van die grond waar iemand sy gewete probeer toedek het.”

Ma Grace het oordag meer begin slaap, al hoe minder geëet, totdat die versorger wat Kate aangestel het een Saterdagaand in die somer toe Kate terugkom van die hospitaal, na die kombuistafel met die bord en die oorgegooide net gewys het: “Sy wou die hele dag niks eet nie, probeer jy maar om iets vir haar in te kry,” het sy gesê voor sy by die agterdeur uit is.

Dit het donker geword, maar ma Grace wou nie die eier en brood eet nie. Ook nie die tee drink wat haar dogter ’n paar keer tot teen haar mond gebring het nie. “Laat my gaan,” het sy gesê, “ek wat nooit moes gewees het nie …” Die woorde was skaars meer as ’n asem in die donker kamer.

Kate het in die gang gaan staan, die telefoon opgetel en Matrone by die hospitaal gebel. “Ek moet verlof neem, ek kan my ma nie so alleen laat nie. Ek weet nie hoe lank dit sal duur nie.”

Haar ma het nie weer gepraat nie. Wanneer sy wakker was, het Kate die knopperige hande tussen haar eie vasgehou. Haar probeer indink in watter toestand van vergryp haar oupa homself op haar ouma afgedwing het; hoe hy iets in die lewe geroep het wat vir almal ’n herinnering sou wees aan sy wreedheid, iets wat die verlies en die weg­sluip van die grond in die skemeroggend destyds lewend gehou het eerder as om dit te begrawe. ’n Kind is nie ’n medisyne vir iets wat vrotsiek is nie, het haar ouma geskryf op een van die stukkies papier wat in haar Bybel behoue gebly het. Hierdie kind sal vir jou ’n aanklag wees tot jy die dag sterf, Jakob – en daarna, die Here weet, mag die heilige moeder Anna, die grootmoeder van Jesus, jou nooit vergewe nie.

Sewe dae later het Kate die laken oor Grace se stil gesig getrek. Dié kind wat haar oupa verwek het, was weg. Nooit het sy ’n groter vrede op haar ma se gesig gesien as daardie oggend nie – die laaste suggie oor haar lippe ’n klein stoomwolkie in ’n koue Oos-Kaapse môre.

Drieklawerblaar

Подняться наверх