Читать книгу My naam is Prins, ek slaap met die lig aan - Christine Barkhuizen-le Roux - Страница 10
Hoofstuk 6
ОглавлениеSeptember 1971 – Skuilkranz/Morganbaai
“Dankie vir die kos, liewe Heer, wat U aan ons voorsien het. Dankie dat U spesiaal voorsien vir dié wat ver van die huis is; dat U my ’n pa vir hulle gemaak het, hulle aan my sorg toevertrou. En dankie, Heer, vir dié liewe man, hierdie boer se genadegawe, dat hy sy plaas beskikbaar stel vir ’n seevakansie vir die kinders sonder heenkome.”
Klaar gebid in die eetsaal van die koshuis, klap Pa Pietie sy hande: “Nou moet ons regmaak vir die rit na die plaas by die see!”
Daar is ’n helder lig wat in die eetkamer skyn. ’n Ware pa is hy, reguit uit die hemel uit na hulle gestuur.
In die sinkskuur op die plaas by Morganbaai is ’n matras, ’n kombers en kussing vir elkeen van hulle nege wat nie huis toe kan gaan vir die tiendae-Septembervakansie nie. Hulle spring en jil – jong, uitgelate rifrughondjies, wild en vol energie; spring en stoei en lag, jaag resies met mekaar. Skop die rugbybal kopkant-gatkant teen die skuinste af. Hol! – keer voor dit in die see daar onder beland! Die see wat onder klots en bruis.
Pa Pietie pak ’n vuur buite; die boer het wors gegee vir die eerste en tweede aand. Wie moet uie skil vir die braaibroodjies? Jan en Dawid, die oudste van die tuisblyers, pik op hom, kies hóm uit. Sy neus en oë traan. Hy vee dit met die agterkant van sy hand af, maar sy oë brand net erger en erger.
Meteens is Pa Pietie by. “Julle maak darem nie mooi met Deon nie. Hy’s nog vreemd hier; julle wat ouer is, moet van beter weet, maar julle gee die slegste werk vir hom! Wag, gee vir my, ek sal self die uie sny. Begin julle solank toutjies bind om die klaar toebroodjies – het julle al sout en peper op die tamaties gegooi?”
Hulle sing om die vuur. Pa Pietie leer vir hulle liedjies wat nie in die Hallelujaboek staan nie. Dis so mooi; Pa Pietie se stem is die mooiste singstem wat Deon al gehoor het.
Hulle was hulle blikborde, dan gaan baljaar hulle weer saam met Pa Pietie in die laaste daglig op die strand. Hy tel hulle op teen die branders, lig hulle uit die water en bring hulle weer af teen sy lyf.
Maar Deon staan ver weg. Daardie skuimwit blikslaan van die brander toe hulle net daar aangekom het, het sy asem uit sy longe gegryp.
Terug by die skuur roep Pa Pietie hom terwyl die ander gaan stort: “Deon! Help gou die kartondose uitpak! Kom sommer net so in jou swembroek, ek gee vir jou ’n droë handdoek.”
Bottels ingemaakte perskes, blikkies baked beans en sardyne in tamatiesous, raspberry-aanmaakkoeldrank, kaas en piesangs. Kort-kort moet hy die spoeg in sy mond wegsluk.
Hy voel meteens Pa Pietie wat agter hom kom staan, sy sterk armspiere om sy skouers. “Maggies, jy word groot en sterk, Deon! Jy is ’n baie spesiale seun, Donnie, onthou dit altyd. Kom, droog jou eers af, waar’s daai handdoek?” Die skaamgeit stoot oor sy nek en ore, hy voel hoe dit rooiwarm in hom gloei. Hy staan sonder swembroek voor Pa Pietie – Pa Pietie kyk nie weg nie. Dan vat hy met sy groot hand die handdoek en vryf daarmee teen sy rug; oor sy arms, sy bene, nog hoër op – sy ma het altyd gesê hy moet goed afdroog daar.
Pa Pietie sit sy arm om sy skouer – dis lekker, louwarm, so in die kring van sy arms. Só het sy ma hom laas vasgehou …
* * *
Deon het lankal opgehou praat; hy’t hom weggedraai van Corinne af, en hy sit al ’n hele tyd so.
Corinne kyk na Liezl in die truspieëltjie, lees vir die eerste keer bekommernis in haar oë. Onsekerheid, vrae. Deon het waarskynlik die aankoms by die see baie ligter geskets toe hy haar tevore daarvan vertel het.
Hierdie man se kinderlewe was een groot dissosiatiewe nagmerrie; dit gaan nog ’n lang en moeisame proses verg om die werklikheid en die tye wanneer hy uit sy kop weggevlug het, finaal te ontrafel. Selfs ná baie maande se terapie moet hierdie terugreis vir hom bitter moeilik wees.
Sy dink nie Deon het besef hoeveel dinge dit weer gaan oophaak nie – soos wanneer jy ’n vis met ’n skerp mes vlek en sy binnegoed uitskep.
Herinneringe is nie goed wat jy dag ná dag alles bymekaar met jou saamdra en sommer so na willekeur uit jou broeksak kan skud nie. Dis dinge wat deur ’n woord, ’n klank, ’n reuk, opgeroep word. Stukke onthou wat ’n mens na ’n plek kan verban tot hulle op ’n dag uitbreek en hulself met mag en mening op die voorgrond dwing. ’n Fraksie van ’n sin, die sweem van ’n geur wat die grysstof van die brein se gedwonge vergeet binnedring.
Sy het destyds ná ’n paar sessies die vrymoedigheid gehad om te vra: “Kan jy onthou wanneer jy hierdie angsaanvalle begin kry het? Wat tot die dwanggedagtes en gedrag gelei het?”
Hy kon nie onthou nie. Met die soveelste sessie nadat hy in die kliniek opgeneem is, het hy uitasem en natgesweet haar kantoor binnegekom. “Ek onthou nou, dok. Ek weet nou wanneer ek die hartkloppings en die swetery vir die eerste keer gevoel het.”
Sy het na hom sit en luister sonder om direk in sy oë te kyk.
Haar selfoon lui. Sy steek haar hand uit na waar dit langs haar in die holte tussen die sitplekke staan, druk met haar linkerduim op die groen foonteken en hou dit teen haar oor.
“Waar’s julle? Is julle al daar?”
Sy ry stadiger, trek van die pad af. “Hallo, Frank. Ons vorder heel goed.”
“Hoe ver dan nou nog? En waar bly –?”
Sy maak die deur oop, klim uit en loop om die motor.
“Wag nou, jy skreeu asof jy ’n charismatiese prediker is! Selfs die koppe rondom gee antwoord.”
“Ai, jammer, Corinne.” Sy stem is dadelik meer bedaard. “Maar dit gaan nie goed met die ouman nie, hy’t weer ’n terugslag gehad. En ek is maar net bekommerd, ek wil weet of jy oukei is? Ek hou nog steeds nie daarvan dat jy so ver ry saam met mense wat ek nie ken nie, en dit nog Skuilkranz toe!”
Sy hoor die gedwonge beheerstheid in sy stem, maar ook die onderliggende histerie, en sien in haar gedagtes hoe hy oor sy neus en bolip vryf. Wanneer hy opgewerk is, het hy ’n hele ritueel van goeters wat hy doen, net soos die tennisspeler Nadal wat eers deur ’n hele prosedure moet werk voor hy kan afslaan. Toe sy Frank op ’n keer speels daaroor geterg het, het hy nie gedink dis snaaks nie.
“Ons het goed gery – jy hoef jou regtig nie te bekommer nie, ek sal gereeld van my laat hoor. Wat hoor jy van die seuns? Het een van hulle al ’n draai kom maak by die huis? Of gebel?” Sy probeer die regte goed sê, dinge wat Frank sal kalmeer.
“Ek hoor niks. Net gemeentelede wat weer opnuut aandring op ’n oop gesprek oor gay-wees. Ek sê jou, die kerk gaan skeur, en dan, wat het ons bereik?”
Sy stem het ’n paar tone geklim; sy weet as hy eers op hierdie onderwerp is, kry sy hom nie stil nie. Op ’n keer het sy hom gevra: “En sal dit werklik so erg wees as die kerk skeur? Sal dit nie dan juis die skape van die bokke skei nie: die opregtes eenkant en die valses en vromes aan die ander kant? Wat van die Protestante wat destyds van die Katolieke geskei het? En dink maar aan daardie kapel van doodsbeendere wat ons in Kutná Hora in Tsjeggië gesien het – met watter vreeslike goed het die kerk as sodanig nie al te voorskyn gekom nie!”
Hy’t afgehaal geklink toe hy antwoord: “Ons is almal één gemeente van God, Corinne, al is daar ook vals note in die simfonie.”
Vir ’n weeskind wat op ’n afgeleë plek grootgeword het, het Frank se kennis van musiek haar aanvanklik verras. Totdat sy agtergekom het hy kry ook dié belangstelling van oom Petrus, wat later ’n sangloopbaan vir homself uitgekerf het met sy geestelike liedjies; ’n behoefte wat hy en sy sangmaat met DeoTwee by Afrikaanse gelowiges help skep het.
“Onthou net,” het hy bygevoeg, “jy werk met mense wat ‘sielsiek’ is – ek werk met mense wat God soek.”
Die drang om verder te redeneer, was groot. Sy wou vra: Maar werk jy nie ook met siele nie? En is van daardie siele nie ook siek nie? Dryf die kerk met sy rigiditeit nie soms mense weg wat tot in hulle siele siek is, met sulke verwerping nie?
Sy’t haar gedagtes destyds vir haarself gehou, soos nou ook. “Frank, bedaar, my lief, met tyd kom raad. Ek sal jou later weer bel. En moenie bekommerd wees oor my nie; Skuilkranz is darem nie landuit nie en ek is doodveilig saam met my passasiers. Probeer glo dat ek die beste doen wat ek kan, asseblief? Gaan maak vir jou koffie en eet iets, dan voel jy beter.”
“Nou ja, dis seker al wat ek kan doen. Maar wees versigtig. Asseblief? Ek is bekommerd oor jou. En ek mis jou.” Aan sy stem kan sy hoor hy’t afgekoel. Sy verlang na sy skraal hande wat oor haar hare streel, soos die eerste aand toe hy haar gesoen het. Maar sy weet as hy nou daardie selfoon neersit, gaan hy die onderste laai uittrek en die silwerflessie vat om die Boland-son se laaste strale flonkerend deur die goue vergeet in sy glas te sien skiet.
Stop! maan sy haarself. Dis anderdag, wanneer ek terug is, se probleem. Vandag en in die dae wat kom, mag sy Deon nie laat voel haar kop is op ’n ander plek nie. Die konfrontasie met die ruimte waarin hy sy verminkende kinderdae beleef het, is ’n blou berg, ’n Drakensberg, wat hy moet oor. Maar sy kan ook net help as hyself die skalpel indruk tot waar die vrees en vernedering nou weer opnuut voortwoeker. Bloedlaat, het die voorgeslagte geglo: om al die onsuiwerhede wat in die lyf en gees opgehoop is, te laat wegvloei, uit te was.
Toe sy terugklim in die bestuurdersitplek, sien Corinne Deon het sy sitplek agteroor gestel en lê met sy lang bene so ver as moontlik voor hom uitgestrek.
Sy dink Liezl het na haar sit en kyk tydens haar gesprek met Frank; die meisie lyk ontstig. Sou sy begin twyfel aan haar, die sielkundige wat haar pa moet bystaan, se toereikendheid?
Die heuwels rondom is liggroen, die kleur van eerste groei.
In die skemer lyk die rante aan die regterkant soos die rif op ’n verkleurmannetjie se rug. Die bruin van modderhuisies vermeng met die kleure van sink- en geverfde steengehuggies, met hier ’n aanlas vir nog ’n vertrek, daar ’n kookskermpie. ’n Bonte mengelmoes van materiale – enigiets wat ’n dak bo ’n kop kan sit.
Werk is skaars, soveel mense trek Kaap toe, agter die “geld” aan, maar ook daar is die werk nie op straat op te tel nie. Daar staan die mense by verkeersligte en bedel, kom vra by jou of jy nie geld het vir ’n brood nie, of ’n werkie – tuinwerk, bouwerk, verfwerk, enige werk.
En tog – die skoonheid van hierdie stuk van die land slaan haar asem weg. Dis die heel eerste keer dat sy so diep in die Oos-Kaap kom. Die titel van Alan Paton se boek kom uit haar binneste na bo sodat sy dit saggies aanhaal: “Ah, But Your Land Is Beautiful.”
Net voor Pantong sien sy die rigtingwyser na regs: Skuilkranz. Hemel, sy is so moeg, sy kan skaars haar oë oophou.
Deon sit skielik regop, maak sy oë oop en staar stip voor hom uit. Asof hy perde-oogklappe opsit sodat hy niks buiten die pad voor hom kan sien nie.
Die padoppervlak is geteer, maar anders as die N2 is dit hobbelrig en nie goed onderhou nie. Vanaf die grootpad is dit elf kilometer tot by die dorp.
Corinne voel hoe die spanning in haar opbou. Haar verbeelding en senuwees het haar heeltemal op hol.
Anderkant die treinspoor, met die dorpie skuins links voor hulle, trek sy van die pad af. Deon sit soos ’n kind met sy hande oor sy oë gedruk, elmboë na buite gevlerk. Ook toe sy wegtrek, bly hy so sit, arms op die knieë gestut.
Die gastehuis waar hulle moet wees, heet Skuilkranz House. Verengels, verbuig, soos soveel ander name in hierdie land met sy vele Europese invloede. Liezl is stil, reg om te hoor, te sien, te wéét.
Corinne ry drie strate verby voordat sy by Hope Street kom. Sy draai links in, ry stadig by vyf huise van wisselende grootte verby voordat sy die uithangbord sien met die naam daarop. ’n Groot gebou, baie groter as wat sy verwag het.
Sy ry stadiger, dan by die hoë, oop veiligheidshek in en hou op een van die parkeerplekke stil. “Ons is hier,” sê sy saggies en raak aan Deon se arm.
Dit neem ’n minuut of drie voordat hy regop kom. Toe hy sy hande weghaal voor sy oë, trek die bloed weg uit sy gesig. Sy het nog nooit ’n lyk gesien nie, maar die man in die skemer langs haar lyk eensklaps heeltemal bloedloos. Anders as ’n dooie mens, is hy egter nie verstyf nie – sy hele lyf rittel.
“Nee! Here, nee, dok! Dis dan … dis die seunskoshuis waar ek gebly het! Die klipmonumentjie – dis waar ons ons name uitgekerf het. Dis waar dit alles …!”