Читать книгу My naam is Prins, ek slaap met die lig aan - Christine Barkhuizen-le Roux - Страница 9
Hoofstuk 5
ОглавлениеJulie 1972 – Skuilkranz
“Hoeeei! Komaan! Kom my perdjies, kom, kom, kom!” Hulle hoor sy stem, maar kan nie uitmaak wat hy sê nie. Dan roep Pa Pietie in die koshuisgang af: “Komaan, julle outjies, kom kyk!”
Die nege tuisblyertjies oor naweke en vakansies tros agter hom aan.
“Nou: maak toe julle oë, vat twee-twee hande. Prins en Deon, hier by my. Herkie, hou jy vas aan Prins; Kobus jy aan Deon. Mooi loop, versigtig, saggies – as ’n mens iets wil mak maak, moet jy mooi te werk gaan.”
Die twee agter Pa Pietie bots teen hom toe hy stop. “Wag eers, ouens. Oukei, goed, maak maar julle oë oop!” roep hy uitbundig.
Deon kan sy oë nie glo nie. Op die veld waar hulle altyd rugbyballe rondskop, staan sewe ponies, wit tot vaal tot bruin-en-rooi gevlek. Hulle sien die seuns, bolk en bonk, skop stof op in die lug.
“Toéé nou, hoo-nou, hoo-nou.” Pa Pietie paai, loop nader. Die ponies bly staan, voel sy troostende hand. Hy vryf hulle tussen die ore, oor die stekelrige nekke.
“Kom nader, kinders – stadig, hulle’s maar min mensgewoond. Nou kan julle naweke bietjie resies jaag. Dis reg so, maar dis van ons Heer se spesiaalste diere. Julle moet hulle mooi oppas. Ook nie saal opsit nie, hoor. Bloots ry – julle is mos taf, of wat sê ek?”
Deon sien sommer weer sy pa se eie twee ponies wat in ’n kampie daar bo by oom Gawie wei. Pa’t hom geleer om ’n ponie se dink te verstaan. Hy gee ’n paar treë vorentoe, vryf oor die dier se kakebeen. “Ou Mufbrood,” fluister hy saggies teen die warm, skimmelrige nek, kyk in die swart oë wat hom van onder lang ooghare beloer. Dit was sy ma se roepnaam vir die merrie op die plaas wanneer sy die afvalgroente vir haar gaan uitgooi het.
Pa Pietie is meteens by, sy hand op sy skouer. “Smaak my jy kén ’n ponie!” Hy vryf oor sy wit kuif. “Mooi, nè? Ek dink ons doop haar sommer nou net hier Mufbrood. ’n Beter naam kan jy nie kry nie.”
Hy loop na die tenk by die muur, draai die kraan oop en hou sy groot hand oop. Met die bakhand water kom hy terug. “Sit jou vingers in die water, Donnie, dan sê jy agter my aan: Ek doop jou in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees: Mufbrood.”
Sy hart smelt in hom, dit loop deur sy vingers wat hy in die water druk. Drie keer, en drie keer vryf hy die nattigheid tussen die ponie se ore, prewel agter sy nuwe pa aan: “… die Vader, die Seun en die Heilige Gees.”
Die klok lui. Dis etenstyd. Deon loop heel agter, weg van die ander, hy stoot sy boetie ook weg. Hy is terug op die plaas. Hy, sy pa, Kobus, die ponies … Ou Mufbrood. En Altegrys. Pa wys hulle hoe om te sit, met hulle bene baie styf om die ponie se pens, en dan ’n klap op die boud! Mufbrood en Altegrys spring met ’n vaart weg; Altegrys steek skielik viervoet vas. Sy pa paai, slaan sy boud, Kobus vryf sy ore, maar Altegrys bly koppig staan, sy ore na agter getrek. Mufbrood hardloop lós onder Kobus uit!
Uitasem kom hy in die warm kombuis. “Ek en Mufbrood het vir Kabous op Altegrys gewen, Ma! Al het Pa vir Altegrys aangejaag!”
Sy ma draai om, haal die brood uit die doek wat sy nou net daarom gedraai het en gaan kry die selfgekarringde botter uit die syfie onder die boom. “Dan’s dit jou beurt om vandag die korsie van die warm brood te kry!” Sy vryf oor sy hare. “Jy’s ’n regte boerklong, jy!”
* * *
Deon skrik op uit sy wakkerdroom toe Corinne by ’n stilhouplek indraai. Onder ’n groot kareeboom wat ’n entjie binnetoe staan, is daar twee sementtafeltjies met bankies. Sy laat die kar ’n rukkie luier en skakel dan die enjin af, gee vir Deon een van die botteltjies Coke wat hulle vroeër gekoop het en maak hare ook oop.
Liezl sit vas aan die slaap; Corinne en Deon kyk na mekaar, glimlag. Ongehinderd lê sy skuins teen die sitplek, haar mond effentjies oop, haar hare ’n waaier teen die rugleuning.
Hulle klim uit en los die deure oop. Deon gee die sementbankie waarop Corinne gaan sit een kyk en bly staan; die effense trekking om sy mond, en af en toe die senuagtige trekkies van sy wenkbrou, is weer daar. Corinne weet hy herleef die gebeure van destyds, daardie goed waarvan hy haar soos dit nou lyk, net deels vertel het.
“Hier trek darem ’n luggie,” sê sy. “En met die ruite en deure oop sal Liezl ook nie te warm kry nie.”
Hy antwoord nie; sy oë glip verby haar na ’n ander land, met ’n pad wat sy nog nooit self gestap het nie.
* * *
Julie 1972 – Skuilkranz
Lifebuoyseep en koue water. Deon was hom vinnig, droog af, hard en haastig, sy oë op die deur. Op die plaas was hy en Kobus altyd alleen in die klein kamertjie met die sinkkom; hier is die storte oop. Dis al meer as ’n jaar dat hy hier is, maar hy kan nie daaraan gewoond raak nie. Hy is ouer as Herkie en Kobus, maar hy laat hulle eerste stort. Hoe was jy jou tottermannetjie sommer so voor almal? En mens kan nooit mooi sien of daar iemand inkom nie. Pa Pietie kom kyk partymaal wat aangaan as hulle te erg raas.
Hier sluit niemand ’n deur nie, dit het Pa Pietie daardie heel eerste aand gesê, dis ’n koshuisreël. Sê nou iemand val en bly daar in die stort lê? Mens trek ook nie ’n onderbroek aan as jy gaan slaap nie, dis sleg vir jou manlike dele; hoe meer lug, hoe beter. En jy kan goeie oefeninge ook doen om dit te verbeter … Hy’t geglimlag, geknipoog.
* * *
Dun stroompies sweet sypel uit Deon se porieë terwyl hy gekrom oor die sementtafel na Corinne buk; oor sy tong kom daar brokkie vir brokkie inligting wat sy reeds weet, maar wat hy nou wéér herleef – óú herinneringe waarmee hy opnuut gekonfronteer word.
“Dok,” sê hy, “die aand nadat die ponies by die koshuis aangekom het, was daar ’n blygeit en ’n seergeit deurmekaar in my. Ek was so opgewonde oor die ponies, en Pa Pietie wat mý gevra het om die eerste een ’n naam te gee. Maar ek was ook weer terug op die plaas by my pa, by Kabous en ons ponies; by my ma wat nog leef.
“Dit was koud, die wind het gewaai. Ek kon nie aan die slaap raak nie; soos ek hier sit, hoor ek weer hoe kraak die skarniere van die kamerdeur, dit was ’n grillerige geluid, soos kryt wat op ’n swartbord skraap. Die ganglig het ’n driehoekige geel vlek op die houtvloer gegooi. Prins het gesteun en half regop gekom in sy slaap, en toe weer omgedraai.
“Hy het in die deur gestaan – Pa Pietie wat kom kyk of ons veilig is. Ek het gemaak of ek slaap, ek wou hê hy moes sien ek is gelukkig in die nuwe plek en ek lê nie wakker oor ek huis toe verlang nie. Hy het tot by my bed geloop en oor my wang gestreel. Toe loop hy weer terug en trek die deur agter hom toe.
“Die volgende aand het ek wakker gelê en wag, my oë op skrefies getrek. Die deur het geluidloos oopgegly, en die lig het weer oor die vloer geval. Sy swart buitelyn het daar gestaan. Ek het gehoop hy kom weer na my toe, maar hy het nie. Hy’t net bly staan en vir ’n lang ruk binnetoe gekyk, en toe die deur sonder ’n geluid agter hom toegetrek.
“Voor ek aan die slaap geraak het, het ek skielik onthou: ek het die middag vir Tito, die opsigter wat geverf het en alles wat stukkend was moes regmaak, met ’n oliekannetjie in die gang sien loop.”
Soos Deon praat, sien Corinne hom ook; die vertroude figuur. Sy hoor die sagte voetstappe, die droë kuggie, die vaderlike stem.
“Dêmmit!” sê sy hardop.
“Dok?” Deon kyk vraend na haar nadat hulle al weer ’n hele ent op pad is. Hy loer na die spoedmeter. Sy lig haar voet effens van die petrolpedaal; die woede het so in haar begin opbruis dat sy dit onwillekeurig al hoe dieper weggetrap het.
“Jy moet jou nie so vreeslik ontstel nie, dok, wees net bly dat jou kinders so iets gespaar is.” Sy woorde val soos klinkerstene in haar borskas. Hoeveel kinders het Pa Pietie nie snags gaan haal nie? Hoeveel nagte van vrees – hoeveel níks wat ’n kind kon doen om homself te red nie? En wat van Frank? Hoe kan sy wéét? Maar dit kan tog nie, dit kán tog nie …
Reeds met hul eerste ontmoeting het dit gevoel asof Deon ’n spesiale pasiënt is. Dit was asof iets van hom afgegee het aan haar, iets wat haar gegryp en beset het. Dit het haar sintuie wawyd oop gestel. Op ’n manier het sy van hom ’n uitsonderingsgeval gemaak – terwyl sy haar destydse professore se waarskuwende woorde kon hoor eggo: “Een pasiënt is nie belangriker as ’n ander nie! Moet nooit in daardie strik trap nie, dit bring vir jouself net moeilikheid.”
Deon kyk vinnig agtertoe. Liezl is wakker, maar sy sit weer met haar oorfone wat haar afsluit van die wêreld. Hy gee ’n diep sug. “Ai, dok, noudat my kind teruggekom het, is ek eers spyt dat dit nooit tussen my en Ella kon werk nie.”
Hy raak in sy gedagtes versonke, praat eers weer ná ’n hele klomp kilometers. “As ek myself dalk van die begin af oopgestel het vir haar liefde en sagtheid. Maar ek was so bang, en net die gedagte dat ek met my mond aan haar sagte lippe moet raak, was vir my te veel. Ek kon haar nie vertel nie. Nie voor ons getroud is nie, en vir baie lank daarna ook nie. Hoe praat ’n mens oor so iets? Wie sal jou glo? Wat sal jou kinders later van jou dink?” Sy blik gly weer vinnig na agter. “En kyk waar het dit my gebring toe ek uiteindelik wel my hart oopgemaak het … Van die begin af – ek het gedurig bly dink aan daardie skooldae. Ek was baie maal tot heeltemal niks in staat nie.” Hy gee ’n laggie. “Dit was voor die dae van Viagra.”
Corinne glimlag. “Ja, maar ook daardie aspek kan beter word,” verseker sy hom. “Ek dink as jy op Skuilkranz was, hierdie keer as volwasse man wat sonder enige druk van buite weer ’n keer deur alles werk wat jy nodig vind, en dit dan agterlaat vir wat dit wás, sal jy saam met die regte persoon, onder die regte omstandighede, die man kan wees wat jy altyd bedoel was om te wees.”
Hy kyk sydelings na haar en sy ontmoet vir ’n oomblik sy blik. Langs sy neus loop diep vertikale lyne tot by sy mondhoeke. Ouderdomslyne, sonder dat hy werklik oud is. Verdrietlyne. Sy oë kyk met ’n soort verering na haar, die persoon wat hom aandag gee. Sy voel byna skuldig – geen mens durf soveel op ’n ander vertrou nie.
Daniël het koning Nebukadnesar se droom vir hom uitgelê: die beeld met die kop van suiwer goud, die arms en bors van silwer, die maag en heupe van brons. Die bene was nog van yster, maar die voete deels yster, deels klei … Die klip wat afgebreek het, het die voete van klei verbrysel, en die beeld het homself te pletter geval.
“Onthou,” sê sy saggies, “ek gaan saam met jou omdat jy veiliger voel met my in die nabyheid. Maar Liezl is ook hier – en haar ondersteuning is van onskatbare waarde. Ek is eerder hier as ’n vriendin as ’n terapeut.”
Die afgelope twee jaar het sy haarself probeer dwing om nie meer aan haar pasiënte te dink nie, maar sy kon net nie die raakpunte tussen Deon en Frank se verlede uit haar kop kry nie. Mag die goeie Vader in die hemel gee dat wat ook al gebeur, dit vir hom, en vir Frank, en vir sovele ander mense, anders sal uitwerk as vir Linette – die vrou wat sy gefaal het.
’n Paar jaar gelede was sy België toe na ’n sielkunde-en-psigiatriekongres. Dit was in die tyd toe sy Deon gesien het, en sy’t gewens hy kon daar wees. Dat hy kon hoor wat die omvang van hierdie praktyke is, kon weet: hy staan nie alleen nie, en dit het ook nie net met ’n klomp seuns op ’n dorpie in Suid-Afrika gebeur nie.
Die hoofspreker by die kongres was die kinderpsigiater wat met die slagoffers gewerk het nadat die seksskandaal in 2010 in die Katolieke Kerk losgebars het.
* * *
November 2013 – Antwerpen
Corinne sit op die punt van haar stoel, vasgevang deur die woorde van die lang Vlaming op die podium. Hy tik op die lêer voor hom: “Hiér is die getuienis van meer as aghonderd mans …” ’n Sagte roesemoes van stemme vul die ouditorium. Die ontsetting wil haar onder ’n tafel laat inkruip. ’n Kleindogtertjiewegkruip, weg van dit wat sy liewer nie wóú hoor nie.
Hemelse Vader? Waar was Jy terwyl jou afgesante daardie kindertjies wat Jy na Jou toe roep, agter toe deure van kloosters en kerke bevoel het, verkrag het, gebruik het om hul eie dierlike drange te bevredig?
“Skandalos!” Die woord beier deur die ouditorium. “Skandaal! Dié woord met sy oorsprong uit die Grieks is ’n steen waaroor jy struikel. Dít is die ware skandaal! ’n Samelewing wat sy oë toeknyp. Die kerk beskerm sy binnekring, en gewone lidmate en die publiek word gebreinspoel. Ons swyg; ons is lafhartig.” Die Vlaming se laaste woorde is sag; ’n fluisterende aanklag.
Sy sit versteen. Die bloed klop in haar ore. Elkeen wat versuim, is net so aandadig.
Op pad stasie toe haal sy hom in. Op die verhoog was hy regop, fier; van agter af sien sy nou hoe vermoeid, hoe tam sy skouers hang. Iemand wat twyfel of sy woorde ’n impak het?
Sy haal hom in, roep uitasem: “Professor, kan ek saamstap?” Hy beduie met sy hand: Kom, ek wag vir jou! Die Antwerpse wind waai snerpend koud. Hy haal sy jas se kraag op, slaan sy serp digter om sy nek.
Sy vra hom uit, sien hoe die krag terugstroom wanneer hy praat. “Ja, doktor Prinsloo, ons is grootgemaak in tye waar ’n kind net ’n ding was; gehoorsaamheid was alles. Die priester, die skoolhoof, die dokter, die polisie – wat hulle gesê het, was wet; die res moes maar ja en amen sê. Die waarheid is weggeweer deur die einste instansies wat die mense en hulle kinders moes beskerm.”
Sy asem blaas wolke koue koolstofdioksied. “En die hoogste gesag – die Vatikaan – was sy hande in onskuld.”
Die koue kruip tot in haar murg. Suid-Afrika is nie anders nie. Junkies en skollies, ja, hulle word aangekeer, verhoor, geoordeel, maar die sogenaamde gesiene mense, die celebs, die sporthelde en politici – vir hulle word die onreg dikwels gerieflik onder ’n dik tapyt van aansien en roem ingevee. Dis die kind wat lieg.
Met sy voet op die treinwa se trappie tree die man ’n oomblik terug, lê sy hand op haar arm: “Dalk lê dit dan aan ons? ’n Paar wat dapper genoeg is om op te staan, te veg vir die waarheid – vir die kinders?”