Читать книгу Christine le Roux Omnibus 4 - Christine le Roux - Страница 10
ОглавлениеHoofstuk sewe
Twee weke later is die rolprent voltooi, afgesien van die gevreesde laaste toneel. Die spelers van kleiner rolle maak gereed om te vertrek en Elize beny hulle met haar hele hart. Nog net ’n week, nog net ’n paar dae, dan kan sy ook huis toe gaan! Sy sal eers terug Los Angeles toe moet gaan om haar huur op te sê en al haar goed gepak te kry; dan gaan sy terug Suid-Afrika toe. Sy het Nanette al gebel en hulle het opgewonde gepraat van biltong en droëwors en lang aande van gesels. Elize wens net sy kan nou reeds daarna uitsien sonder dat haar gedagtes altyd struikel oor die laaste toneel.
Sy het dit vir haarself probeer ontleed. Waarom is sy so teësinnig? Sy wil nie in ’n liefdestoneel speel nie en sy wil dit veral nie teenoor Robert speel nie. Sy twyfel nie meer daaraan dat sy hom liefhet soos sy geen mens nog ooit liefgehad het nie. Sy wil by hom wees, sy wil deel van hom wees, maar sy wil nie kammatonele voor ’n ongenaakbare kameraoog speel nie. As sy kon weet of Robert vir haar ook iets voel, sou dit makliker gewees het, reken sy, maar sy is al so deurmekaar dat sy nie meer weet wat om te sê of te doen nie!
Die middag voordat hulle die laaste toneel repeteer, is sy en Robert albei vry. Henri skiet ’n paar laaste buitetonele en gebied hulle om te ontspan of te gaan swem. Robert sit en gesels met een van die ander akteurs met wie hy bevriend geraak het en Helen sluit by hulle aan. Elize sit na hulle en kyk en voel lus om haar naels te byt, maar die twee buitestanders is albei in ’n baie goeie luim omdat hulle huis toe kan gaan.
“Kom ons doen iets opwindends vanmiddag,” sê Louis, die ander man.
“Soos wat?” vra Helen, altyd gereed vir ’n bietjie pret.
“Ek wou gaan swem het,” sê Robert.
Elize sug bedruk. “As ek vanmiddag gaan swem, sal ek verdrink.”
“Hoekom?” vra Helen nuuskierig.
“Onthou, daar lê vir ons nog ’n moeilike stuk werk voor,” sê sy.
“Ag bog,” meen Louis. “Dis nie so erg nie. Alle spelers moet deesdae sulke tonele speel. Dis nie meer vreemd nie.”
“Ek voel ons moet die einde van die prent vier,” meen Helen. “Môreoggend ry ek huis toe; kan ons nie vanmiddag iets lekkers doen nie?”
“Soos wat?” vra Robert geamuseerd.
“Kom ons vat ’n bottel sjampanje en gaan rivier toe.”
Elize moet lag. “Dis miskien nie so ’n slegte plan nie. Henri het nogal gesê hy gaan my vol sjampanje voer voordat ek die laaste toneel begin repeteer.”
“Nou toe,” stem Louis entoesiasties saam. “Kry vir ons sjampanje, dan gaan ons swem.”
Elize is seker dat dit haar senuagtigheid is wat haar so verspot maak, maar hulle is almal skielik vol lag en Robert gaan kry vir hulle twee bottels sjampanje voordat hulle met sy motor rivier toe ry.
“Ons moet dit in die water hou dat dit kan koud bly,” giggel Helen.
Hulle duik almal in die water en plas rond soos kinders, en teen wil en dank ontspan Elize en begin die middag geniet. Daar is iets ontspanne en verspot in die atmosfeer, en hulle maak grappe en lag hulle dood oor niks. Selfs Robert is anders as gewoonlik.
“Kom ons drink nou die sjampanje,” sê Helen toe hulle moeg geswem is. “Het julle glase gebring?”
“Ja,” sê Robert en gaan haal dit uit die motor.
Hulle sit in ’n kring op die gras en klink hulle glase.
“Op die prent,” stel Louis ’n heildronk in. “Mag dit ’n sukses wees.”
“Op my,” sê Helen ernstig. “Mag dit tot groter rolle en beroemdheid lei.”
Dit laat almal lag en hulle heildronke word verspotter. Robert stel een in op sy beeste en Louis een op sy motorfiets wat soveel moeite veroorsaak. Elize voel hoe die borrels van die sjampanje soos klein speldprikkies in haar kop kielie en sy verloor haar erns en raak net so laf soos die ander.
’n Mens moet soms kan ontspan, verontskuldig sy haarself, en ons het ’n bietjie lawwigheid nodig na al hierdie weke van volgehoue erns en spanning . . .
“Ek weet,” sê Helen gemaak ernstig en kyk na Robert en Elize. “Ek het die oplossing vir julle probleem.”
“Ja?” vra Robert guitig. “Sê dan vir ons!”
“Hoekom trou julle nie?”
Elize wil lag, maar sy kyk vinnig na Robert en sien dat hy baie ernstig lyk. “Trou?” sê hy. “Dis nogal nie ’n slegte plan nie. Wat dink jy daarvan, Elize?”
“Julle is laf,” sê sy en kyk weg. “Jy weet hoe voel ek oor die huwelik.”
“En jy weet dat ek dieselfde voel,” sê hy bedaard.
“Ek dink dis ’n baie goeie plan,” sê Helen weer. “Ons het tog nou die sjampanje om dit te vier.”
“Ek vereis meer as sjampanje as rede vir ’n troue,” sê Elize koud.
Louis gryp Helen aan die hand. “Kom ons gaan swem. Hierdie twee raak al weer glad te ernstig.”
Hulle hardloop na die water en Elize kyk hulle ongemaklik agterna.
“Ek het dit bedoel,” sê Robert stil.
“Wat?”
“Sal jy met my trou?”
Sy kyk na hom en haar hart bons onkeerbaar. Sy donker oë is op haar gerig en dit lyk asof hy dit regtig bedoel. Sy wil opspring en haar arms om sy nek gooi, maar sy bedwing haar.
“Waarom?” vra sy.
“Ek wil jou graag as my vrou hê.”
Maar hoe voel jy oor my? wil sy vir hom vra. Waarom sê jy nie vir my hoe jy oor my voel nie?
“En jy?” vra hy byna onhoorbaar.
“Ja,” fluister sy. “Ek wil dit ook hê.”
Hy steek sy hand na haar uit en raak aan haar wang. Sy lyk soos ’n verskrikte diertjie, maar sy oë stel haar gerus. Sy wil hom so graag glo. Sy is so lief vir hom en dit lyk asof hy bedoel wat hy sê.
Louis en Helen kom teruggehardloop en kom sit uitasem langs hulle op die gras.
“Nou toe,” sê Helen. “Wat het julle besluit?”
“Elize het ja gesê. Sy sal met my trou,” sê Robert stil.
“Nou toe, waarvoor wag ons?” roep Louis uitbundig.
“Wag ’n bietjie,” keer Elize. “Dis darem nie so maklik nie. ’n Mens kan nie sommer opstaan en gaan trou nie.”
“Dit is maklik,” verseker Louis haar. “Ons gaan na die landdros en kry die lisensie; dan moet julle net vir ’n bloedtoets gaan en daar het jy dit! Ek is seker ons kan dit vanmiddag gedoen kry. Dan kom ons terug en vier dit met die tweede bottel sjampanje.”
Elize kyk verward van die een na die ander. Dis nie soos sy haar dit voorgestel het nie. Sy het gedink dat dit iets persoonliks sal wees tussen haar en Robert.
Maar hy staan op en hou sy hand na haar uit. “Kom,” sê hy. “Hoekom sal ons langer wag?”
Sy laat toe dat hy haar optrek en net ’n oomblik lank druk hy haar teen hom vas en soen haar sag op haar kroontjie. Dit stel haar gerus. Hy kan uit die aard van die saak nie hier voor almal vir haar vertel hoe hy oor haar voel nie, maar hy behoort in haar oë te kan lees wat háár gevoelens is.
Alles gebeur so vinnig en toe sy weer sien, is hulle almal in die motor en ry hulle na die landdros. Robert kry die spesiale lisensie, hulle laat bloedtoetse doen, en voordat hulle weet waar hulle is, staan hulle weer voor die landdros en lees hy met ’n verveelde stem die formulier.
Eers toe die landdros sê: “Gee mekaar die regterhand,” skrik sy uit haar beswyming. Robert soek vervaard in sy sakke en lag toe.
“Ons het nie ringe nie,” sê hy.
“Hier, vat myne,” sê Helen. “Jy kan netnou een gaan koop.”
Toe Robert die ring aan haar vinger steek, kyk hy af na haar en buk toe om haar op die lippe te soen. Dis toe eers dat die hele ding vir haar werklikheid word en sy voel ’n gloed van liefde en geluk in haar opstoot, sodat sy byna haar arms om sy nek gooi en haar gesig in sy nek druk.
“Geluk, mevrou Ryan,” sê hy. “Ek hoop nie jy sal ooit rede hê om hierdie stap te berou nie.”
Daar is ’n druising in haar ore en sy antwoord nie. Helen en Louis wens hulle ook geluk en daarna ry hulle na ’n juwelier in die hoofstraat waar hulle almal weer uitklim. Sy kies ’n breë, eenvoudige troupand en hy gee Helen se ring vir haar terug en gly die nuwe een oor haar vinger.
“Gaan jy nie vir my ook een koop nie?” vra hy stil.
Sy bloos. “Wil jy een hê?”
“Ja,” antwoord hy ernstig. “Dit sal tog finaal al die bewonderaars van my weghou.”
Sy woorde skok haar. Is dit miskien die rede waarom hy wou trou? Maar sy staan by terwyl hy ringe aanpas en koop toe die smal ring waarop hy besluit het.
“Nou wil ek weer gaan swem,” sê Helen beslis. “Ek hoop net ons tweede bottel sjampanje het nie al met die stroom af gedryf nie.”
Hulle ry terug na die rivier waar die sjampanje inderdaad nog in die water lê. Louis trek die prop met ’n luide skietgeluid uit en skink vir almal nog. Elize sit net op die gras en staar na die blink goue band om haar vinger. Sy vee oor haar hare en besef meteens hoe sy moet gelyk het. ’n Bruid met haar nat hare in ’n poniestert gebind, met ’n oopknoopromp en sandale aan . . . ’n bruid!
“Wat makeer?” vra Robert en tel haar hand op. “Is jy al klaar spyt?”
Sy skud net haar kop. “Dis nie soos ek dit vir my voorgestel het nie. Maar dit is waar, is dit nie? Dis nie ’n droom nie?”
Hy vou haar hand in syne toe. “Dis nie ’n droom nie. Dis alles waar. Sal ons nou teruggaan hotel toe?”
“Ja,” sê sy en staan op om haar goed bymekaar te maak. Hy roep na die ander twee en hulle waai laggend terug toe Robert en Elize vertrek.
Maar by die hotel kom die produksiebestuurder na Robert aangestap net toe hulle uit die motor klim en dit blyk dat daar een of ander belangrike ding is wat dadelik uitgestryk moet word.
Robert lyk ergerlik en draai na Elize. “Wil jy solank boontoe gaan? Ek kom so gou moontlik.”
Sy glimlag vir hom en stap die hotel binne. Sy het ’n paar minute nodig om te bedaar en sy wil haar graag eers ’n bietjie mooi maak.
Maar toe sy in die gang af stap na haar kamer, sien sy vir Elaine voor Robert se deur staan. Die meisie lyk uiters ongeduldig en kwaad en sy swaai om toe sy vir Elize sien.
“Waar is Robert?” vra sy ongeskik, sonder om te groet.
“Hy is onder besig,” sê sy stil. “Hy sal nou-nou boontoe kom.”
“Ek dink dis ’n skande!” bars die rooikop los. “Hy het ’n afspraak met my gemaak en ek wag al ’n halfuur onder in die sitkamer. Ek het nou kom kyk of hy in sy kamer is. Dis darem nie ’n manier om jou verloofde te behandel nie.”
Elize wou net haar sleutel in die slot steek, maar dit val uit haar willose vingers sodat sy moet buk om dit op te tel.
“Wat het jy gesê?” vra sy flou van skok.
“Wat bedoel jy?” vra die meisie ergerlik. “Ek is sy verloofde. Het jy dit nie geweet nie? Ons het al maande lank ’n verstandhouding en sodra hierdie verspotte rolprent klaar is, sal ons trou.”
Elize staar net na haar en dit voel asof sy skaars kan asemhaal. Sy sluk ’n slag.
“Ek het dit nie geweet nie,” sê sy skor.
Die meisie lag. “O ja. En ek ken vir Robert. Hy wil nie glo dat ek hom aan sy woord gaan hou nie. Hy probeer my nou al weke lank op die agtergrond hou en g’n mens weet watse ander planne hy sal uitdink om my uit sy lewe te kry nie. Dit sal nie werk nie. Ons is verloof en ek is van plan om met hom te trou. Hy gaan nie daarvan wegkom nie.”
Haar gesig is hard en onplesierig en Elize krimp teen die deur vas asof die vrou haar geslaan het.
“Verskoon my,” sê sy toe stamelend. “Ek moet gaan aantrek. Jy sal vir Robert in die portaal kry.”
Sy druk die deur agter haar toe en sak op die naaste stoel neer. Dan wás dit ’n klug! Dan het hy net met haar gespeel! Hy het met haar getrou om uit Elaine se kloue te kom. Hy het dit nie bedoel nie!
Hy het haar laat deelneem aan ’n klugspul terwyl hy geweet het dit sal indruis teen alles waaraan sy glo. Sy voel siek en naar en strompel na die badkamer. Sy wil haar skoonwas van alles. Sy wil doodgaan van ellende. Sy wil haar tasse pak en wegkom so vinnig as wat sy kan, maar sy weet dat sy dit nie kan doen nie. Sy moet die rolprent voltooi.
Toe sy uit die badkamer kom, is daar ’n klop aan haar deur en sy hoor Robert se sagte stem. Dis asof ’n rooi wolk voor haar oë afsak en sy ruk die deur oop.
“Loop!” gil sy histeries. “Ek moes dit geweet het! Tog het ek jou geglo. Een oomblik lank het ek regtig gedink jy bedoel wat jy sê. Hoe kon jy dit gedoen het? Hoe kon jy!”
Sy probeer die ring van haar vinger losruk, maar na die warm bad sit dit vas en trane van woede loop oor haar wange.
“Elize,” probeer hy keer, “kan ek nie asseblief inkom sodat ons daaroor gesels nie? Asseblief, ek kan . . .”
“Loop!” sê sy en druk die deur in sy gesig toe.
Die telefoon lui. Sy ruk die gehoorstuk van die mikkie af en vra: “Ja?”
Dis die publisiteitsman wat wil weet of sy onthou dat sy binne vyf minute ’n onderhoud het.
Sy trek gejaag aan, borsel haar hare droog en bêre die nuwe trouring in haar juweledosie.
Die onderhoud help om haar te laat bedaar. Sy hou nie daarvan nie, maar sy moes al meermale onderhoude toestaan. Sy het aan die begin geweier, maar Henri het haar sagkens daaraan herinner dat dit nodig is vir die publisiteit van die rolprent.
“En ek hoor die rolprent is byna voltooi,” sê die man met sy verkreukelde bruin baadjie en strikdassie.
“Ja.”
“Wat is u planne nou verder?”
“Ek vertrek so gou moontlik terug Suid-Afrika toe.”
“Wat is u planne ten opsigte van verdere rolprente?”
“Ek het geen planne nie. Ek sal nie weer in ’n rolprent optree nie.”
Die man glimlag asof dit ’n antwoord is wat hy al baie gehoor het. “Waarom nie?”
“Ek het geen begeerte om weer in ’n rolprent op te tree nie.”
Hy knik en kou aan die punt van sy pen. “Soos u weet, is Robert Ryan bekend as ’n moeilike mens. Stem u saam?”
Sy haal diep asem. “Nee.”
“U vind hom nie ’n moeilike medespeler nie?”
“Nee.”
“U is daarvan bewus dat hy al geloop het omdat hy gevoel het die rolprent is nie goed genoeg of sy medespelers nie bekwaam genoeg nie?”
“Ja, ek weet daarvan.”
“Het dit al hier gebeur?”
“Nee.”
“Waaraan skryf u dit toe?”
Sy wens die man wil loop. “Ek weet nie. Henri Dryson is so ’n bekwame regisseur dat Robert vertroue in hom het.” Sy haal haar skouers op asof sy nie regtig omgee wat Robert dink of voel nie.
“Was dit vir u aangenaam om saam met hom te werk?”
“Saam met wie?” vra sy ongeduldig.
“Robert Ryan.”
“Ja,” sê sy.
“Ja, wat?”
“U het my gevra of dit aangenaam was om saam met hom te werk.”
“O. O, ek sien. Ja. U het hom dus nie temperamenteel gevind nie?”
“Nee.”
Die mannetjie skuif rond en kruis sy bene. “Gee u om as ek u ’n paar persoonlike vrae vra?”
Sy frons. “Ja, ek gee om.”
Hy glimlag vaderlik en gerusstellend. “Nee, dis nie so erg as wat dit klink nie – net ’n bietjie familieagtergrond. U weet, ons lesers stel altyd daarin belang: hoe het jy grootgeword, hoe het jy in die rolprentwese beland, daardie soort van ding.”
“O.”
“U is in Suid-Afrika gebore?”
“Ja. Ek is daar gebore en het daar grootgeword en keer so gou moontlik daarheen terug.”
“En tog klink u nes ’n Amerikaner?”
“Ek woon al drie jaar hier.”
“Leef u ouers nog?”
Sy sug en gee hom ’n vinnige opsomming van haar lewe, haar skool- en universiteitsloopbaan, die boeke wat sy geskryf het en hoe dit gebeur het dat sy Amerika toe gekom het.
“En u is nie getroud nie?”
Sy vraag laat haar so skrik dat sy na haar asem snak. “Nee.”
“U was nog nooit getroud nie?”
“Nee.”
“Is daar ’n besondere vriend wat vir u wag?”
“Nee,” sê sy miserabel. Die besondere vriend is nou haar man en hy wag hoegenaamd nie vir haar nie. Hy weet nie eers dat sy hom beskou as haar besondere vriend nie!
Sy kyk na die man en staan op. “Is dit al? As u nie omgee nie, sal ek nou wil rus.”
“Seker, seker,” sê hy en begin vroetel met sy kamera. “Gee u om as ek gou ’n paar foto’s neem?”
Sy poseer geduldig alhoewel sy die hele proses haat. Maar uiteindelik is die man klaar en neem hy vriendelik afskeid.
“Ek het nou ’n onderhoud met Robert Ryan,” sê hy vir haar net voordat hy loop.
Elize kry ’n hol kol op haar maag. Sê nou Robert vertel hierdie skepseltjie van hulle skielike troue? Nee, hy sal nie! Hy dúrf nie!
Sy was van plan om die aand in haar kamer te bly, maar Henri lui van onder af en vra haar om asseblief af te kom.
“Is dit ’n bevel?” vra sy ongelukkig.
Hy lag. “Nee. Sal jy kom?”
“Ja,” sê sy en begin gereed maak om af te gaan.
Sy kyk na haarself in die spieël. Die netjiese rok wat sy aangetrek het vir die onderhoud, grief haar nou. En tussen al die verwarde gedagtes en ongelukkigheid is daar ’n vreemde gevoel in haar. As sy nie beter geweet het nie, sou sy gesê het dit is hoop. Waarvandaan dit kom, weet sy nie, maar sy weet wel dat sy ’n onverklaarbare begeerte het om vanaand mooi te lyk.
Sy trek ’n wit rok aan wat sy nog nooit gedra het nie. Dis van dun, sagte materiaal gemaak en het lang moue en ’n hoë, ronde nek. Dit is die vroulikste rok wat sy besit en terwyl haar hande oor die fyn opnaaiseltjies op die bostuk streel, weet sy dat sy mooi lyk; baie mooi.
En vir wie maak jy jou so mooi? wonder sy bitter. Toe sy die sitkamer binnestap, sit Robert by Henri soos sy heimlik gehoop het. Sy oë rek toe hy haar sien, maar hy sê niks, terwyl Henri haar komplimenteer oor haar voorkoms.
“Dankie,” sê sy net.
“Is dit vandag ’n spesiale geleentheid?” vra Henri toe hy weer gaan sit. “Jou verjaardag of iets?”
“Nee,” sê sy senuagtig, “dis geen spesiale geleentheid nie.”
Sy sien ’n flikkering in Robert se donker oë, maar hy buk af om ’n sigaret aan te steek en vermy haar oë.
“Waar is daardie man met sy kamera nou?” sê-vra Henri spytig. “Hy sal mos pragtige foto’s van julle kan neem.”
“Nee,” sê sy vinnig. “Hy het klaar ’n hele spul foto’s geneem.”
Maar asof die mannetjie hulle gehoor het, verskyn hy van agter ’n potplant en staan nader. Robert lyk moedeloos en sy wonder bitter of sy onderhoud ook so vervelig was. Maar Henri, die regisseur, wil nou mooi foto’s van sy spelers hê en beduie hoe hulle moet staan. Robert moet agter haar staan, of op die leuning van haar stoel sit. Terwyl hy beduie, flits die man se kamera sodat haar kop daarvan draai.
“Ons troufoto’s!” murmel Robert sag teen haar oor en sy kyk bitter na hom.
“Jy het nie vir iemand gesê nie?” vra sy.
“Nee,” fluister hy terug. “Maar glo my, die landdros weet wie ons is en jy het hóm nie tot stilswye gemaan nie.”
“Hou op met die gefluister,” sê Henri. “Kyk op en lyk gelukkig.”
Gelukkig is die man gou klaar en draf deur die groot glasdeure van die hotel asof hy nie vinnig genoeg by sy base en die ontwikkelingslaboratorium kan kom nie.
“Jy het hom gelukkig gemaak,” sê Robert sinies. “Uit my het hy nie veel gekry nie en ek was ook nie lus vir foto’s nie.”
“Jy kon nog nooit met die pers klaarkom nie,” betig Henri hom. “Dis ’n wonder dat jy altyd sulke goeie resensies kry. Die pers kan nogal gemeen wees wanneer hulle voel jy speel nie saam nie.”
“Ek sien nie wat my privaat lewe met ander mense te doen het nie,” sê hy onverstoord. “Net omdat ek in rolprente speel, beteken dit nie dat almal nou mag weet watter naskeermiddel ek gebruik en of ek van pap of ontbytvlokkies hou nie. Hulle kan na die rolprent kyk en my spel beoordeel. Dis al.”
Elize stem heelhartig met hom saam, maar sy sê dit nie. Sy kyk net vraend na Henri. Waarom wou hy haar hier hê?
“Ja,” sê hy dan asof hy haar gedagtes kon raai, “daar is ’n paar goed om te bespreek. Ons begin môre repeteer aan die laaste toneel. En êrens moet ons ’n fotosessie inpas van jou, Elize.”
“Watse fotosessie?”
“Ek wil hê jy moet net in die woonstel ronddwaal, jou hare borsel, koffie maak – daardie soort van ding – en ons sal jou afneem.”
“Hoekom?”
“Dis deel van die karakterskepping van Anne. Maar oor ’n week behoort julle klaar te wees. Dan lê my werk voor; die redigering en aanmekaarsit van die rolprent.”
“Henri,” sê sy en sit vorentoe. “Jy het vir my gesê dat die laaste toneel sonder klank opgeneem word, maar dat die temamusiek daarin sal uitbou tot die uiteindelike klimaks.”
“Dis reg?” sê hy vraend.
“Het jy die musiek?”
“Ja, ek het dit al gehoor en ek het sommer ’n klein kasset met die musiek daarop saamgebring. Hoekom?”
“Ek het net gewonder . . . Jy sien, ek vind musiek baie inspirerend, meeslepend, en ek het gedink as jy die musiek speel terwyl ons die toneel doen, dit dalk makliker sal wees.” Sy kyk na hom met ’n fronsende uitdrukking op haar gesig. “Verstaan jy wat ek bedoel? Wanneer ek skryf, speel ek byvoorbeeld dikwels musiek en dis asof alles makliker loskom.”
“Natuurlik,” sê hy bly. “Ons kan dit doen.”
“Moet dit die temamusiek wees?” vra Robert. “Henri het al grepe daarvan vir my gespeel en dis onbekend. Dit roer my nie eintlik nie, omdat ek dit nie ken nie. Ons kan mos enige musiek speel?”
“Ja,” sê sy en kyk weg. “Dis selfs ’n beter plan.”
“Besluit julle watse musiek julle wil hê en ons sal dit speel,” sê Henri gemoedelik en staan op toe Lucy by hulle aansluit.
“Maar jy lyk pragtig!” sê Lucy vir Elize. “Ons is al so gewoond om jou in slenterbroek en bloese te sien. Jy lyk soos ’n bruid, dink jy nie ook so nie, Robert?”
Elize krimp inmekaar, maar Robert knik net. ’n Ruk daarna staan hulle op om te gaan eet. Vir die eerste keer in ’n lang tyd het Elize geen aptyt nie en sit en peusel aan haar kos. Sy wens Noag was nog hier sodat sy en hy ’n lang ent kon gaan stap, maar dit was te moeilik in die hotel met die hond en sy het hom saam met Lucy teruggestuur sodat die kinders hom kan oppas.
“Jy eet dan nie,” sê Henri.
“Ek is nie honger nie.”
“Wil jy ’n bietjie wyn hê?”
“Nee dankie,” sê sy beslis.
“Sjampanje?” vra Robert met ’n vreemde lig in sy oë.
Sy gluur hom aan. “Nee dankie. Ek háát sjampanje!”
“O my tyd,” lag Henri. “Ek het skoon vergeet dat ons jou moes vol gooi met sjampanje voor die laaste toneel.”
“Dit was net ’n grap,” sê sy haastig. “Ek het dit nie bedoel nie.”
“Ek sou dit ook nie aanraai nie,” verseker Robert hulle. “Ek het
al gesien wat gebeur wanneer sy sjampanje drink. Dis beter om haar weg te hou van die goed.”
Sy staar na hom. Wat probeer hy nou sê? Dat dit alles háár skuld is net omdat sy twee glase sjampanje gedrink het? Sy wens die ete is verby sodat sy kan gaan slaap. Die dubbelspel is besig om haar te verlam.
Toe sy die volgende oggend wakker word, lê sy ’n oomblik stil en wonder waarom sy so anders voel. Dan onthou sy van die troue en sy sit vervaard regop. Het dit regtig gebeur? Is sy en Robert regtig gistermiddag getroud? En Elaine? Wat het van haar geword?
Sy druk haar kop in haar hande en toe sy later opstaan, het sy ook geen aptyt nie. ’n Oomblik lank oorweeg sy dit om ’n kalmeerpil te drink, maar sy besluit daarteen. Dit sal haar net vreemd laat optree.
In die woonstel, wat sy teen die tyd so goed ken asof sy regtig daar woon, is daar net ’n paar mense. Robert sit eenkant en lees en Henri en die beligtingsman staan en beraadslaag.
“Môre,” groet Robert. “Het jy lekker geslaap?”
“Ja dankie,” sê sy formeel. “En jy?”
“Nee,” sê hy kortaf. “Ek kon nie eintlik slaap nie.”
Sy gaan staan by die venster en dis nie lank voordat Henri hulle roep dat hulle moet begin nie. Die eerste paar uur oefen hulle net, maar selfs dit is vir haar moeilik. Helen was verkeerd, dink sy bitter. As gistermiddag se gebeure nooit plaasgevind het nie, was dit nou makliker. Nou is sy daarvan bewus dat sy wettiglik Robert se vrou is en dit ontstel haar so dat sy fisieke kontak moeilik vind. Die klugspel, die dubbelspel – dit het nou ’n web van onmoontlikhede geword. Sy voel soos Elize, maar sy moet reageer soos Anne en die man teenoor wie sy moet speel, is nie ’n onbekende Roy nie, maar Robert wat om een of ander onverklaarbare rede toegesien het dat hulle trou. Maar dan erken sy aan haarself die bitter waarheid: om weg te kom van Elaine.
En tog is die repetisies nie so erg soos sy gevrees het nie. Henri het al die bewegings tot in die fynste besonderheid uitgewerk en met die mooi musiek wat op die agtergrond speel, raak sy meegevoer en kom sy reg. Soos Henri dit beplan het, is die hele liefdestoneel gestileer en eintlik op ’n ander dimensie as die bloot fisieke.
Tussen die repetisies is lang onderbrekings en word ligte reggestel of na ander tegniese punte omgesien. Dan sit Robert en lees en sit sy net voor haar en uitstaar.
Teen die middag is Henri tevrede en sê dat hulle die volgende dag kan begin skiet. Elize haas haar terug na die hotel en besluit om vir Nanette te bel. Gelukkig antwoord Nanette die telefoon en die verbinding is so duidelik dat dit vir haar voel asof haar suster in die kamer langsaan sit. En sy is so oorstelp toe sy Nanette se stem hoor dat sy sommer begin huil.
“Hallo, hallo?” roep Nanette.
“Sus, dis ek,” snik Elize en probeer die trane bedwing.
“Wat makeer? Waarom huil jy? Wat het gebeur?”
“Niks nie. Ek is net so bly om jou stem te hoor.”
“Wanneer kom jy huis toe?”
“So gou ek kan. As alles goed gaan, maak ons die rolprent binne die volgende twee dae klaar; ’n week op die langste. Dan moet ek net oppak en kom.”
“Hoe gaan dit met die rolprent?” vra Nanette belangstellend.
Dis steeds vir haar so ’n nuutjie dat haar suster in ’n Amerikaanse rolprent speel.
“Dit gaan seker goed,” sê Elize miserabel.
“En kom jy en Robert nou al beter klaar?” vra haar suster nuuskierig. Sy dink hy is wonderlik en sy kan nie wag om alles te hoor nie. Dat haar suster nou saam met so ’n beroemde man speel!
“Nee,” sê Elize en begin weer huil. “Ek sal jou alles kom vertel.”
Sy dwing haarself tot bedaring en vra kalmer uit na die kinders, na Gerrit en na die boerdery.
Nadat sy afgelui het, sit sy net op die bed en staar na haar hande. Toe staan sy op, haal die blink trouring uit en skuif dit oor haar vinger. Sy kyk lank daarna en begin oplaas weer huil totdat sy so moeg is dat sy net so op die bed aan die slaap raak.
Die volgende oggend is sy vroeg wakker en verbasend honger. Sy laat ontbyt na haar kamer kom en eet stadig sodat die tyd kan verbygaan. Tog voel dit vir haar soos ’n ewigheid voordat sy na die woonstel toe kan gaan.
Robert wag reeds daar en nadat die beligting vir die honderdste keer getoets is, bly net die kameraman, Henri en sy twee spelers in die vertrek agter. Elize word in ’n ander kamer gegrimeer en teen die tyd dat sy haar plek moet inneem, kan sy skaars asemhaal. Sy druk haar oë toe en haal diep asem. Jy is Anne, sê sy vir haarself, en hy is Roy. Vergeet van die res . . .
Robert lyk ook gespanne, maar toe Henri die teken gee, begin hulle die deeglik geoefende toneel.
Sy draai van die venster af weg en kyk lank na hom, toe gee sy ’n effense sug en struikel vorentoe, na hom toe.
“Roy,” sê sy sag, “ek kan nie langer nie . . . ek kan nie sonder jou leef nie. Jy moet my help.”
Hy sit sy hande op haar skouers en kyk diep in haar oë. Dan sug hy ook en druk haar kop teen sy bors was. Elize kan hoor hoe sy hart klop, maar sy hamer die refrein deur haar kop: Hy is nie Robert nie, hy is nie Robert nie; dis Roy met wie jy nou praat.
Hy lig haar kop op met sy hand onder haar ken en soen haar. Dis nie die ligte soen van die aand in Henri-hulle se berghut nie, maar ’n harde en hartstogtelike soen. Gelukkig is sy so bewus van die kamera wat om hulle beweeg dat sy nie kop verloor nie, en selfs toe hy sy hand teen haar nek beweeg, snak sy net sag na haar asem en gaan voort met die toneel. Maar haar vingers bewe toe sy haar hand teen sy bors lê, en toe sy sy hart teen haar vingers voel klop, is dit asof sy duisel.
“Wag ’n bietjie,” stop Henri hulle en hulle kyk albei onthuts na hom. “Iets is hier verkeerd. Kan julle ’n bietjie na links beweeg? Dis beter so ja! Goed, kan ons weer van voor af begin?”
Soos die dag vorder en hulle die toneel oor en oor moet doen, begin sy ontspan. Aan die begin het sy elke keer na haar boek gegryp en haarself so gou moontlik uit die voete gemaak terwyl Henri praat of verstel aan iets, maar teen die einde is sy dit amper gewoond en word die toneel inderdaad niks meer as ’n stukkie kamerawerk nie.
Maar sy kan nie na Robert kyk nie. Sy is te bang om in sy oë te kyk. Sy is bang vir wat sy daar sal sien en sy is bang vir wat hy in haar oë mag lees. Hy mag nie weet hoe graag sy sou wou hê dat dit nie net ’n stuk kamerawerk was nie. Hy mag nooit weet hoe sy wens dat dit die werklikheid kon wees nie. Hy is ’n gesoute en professionele akteur, en hy sal seker afgeskrik word as hy moet weet hoe subjektief sy alles ervaar en hoe sy wens dat Henri en sy kameraman nie daar was nie.
Teen laatmiddag speel hulle die toneel vir die laaste keer en is daar geen onderbrekings nie. Hulle speel dit deur elke gestileerde beweging tot waar Robert haar kop met ’n sug teen sy bors vasdruk. Heeltemal onwillekeurig lig sy haar kop op en vou haar arms om sy nek, terwyl sy haar hande deur sy deurmekaar hare steek. Sy bly net so staan met haar oë toe en dis ’n lang ruk doodstil totdat Henri sag sê: “Sny. Dit was wonderlik!”
Hy stap na Elize en vou haar baadjie om haar skouers terwyl sy bewend op die kant van die bank gaan sit. Robert gaan staan by die venster en sy sien hoe sy hande bewe toe hy ’n sigaret aansteek.
“Kan ek ook een kry?” vra sy hees.
Hy steek een vir haar aan en bring dit vir haar. Sy haal die rook met diep, hongerige teue in haar longe in en bly net so stil sit. Henri buk by haar en soen haar op haar voorkop.
“Jy was meesterlik,” sê hy sag. “Jy was absoluut wonderlik. Daardie laaste gebaar was so . . . so natuurlik, so spontaan, so rég. Dankie, meisie. Jy het bewys dat ons nie verkeerd was om soveel vertroue in jou te hê nie.”
Sy glimlag stram. “Ek het net my werk gedoen,” probeer sy ligweg sê.
Henri loop na Robert en skud sy hand en hulle praat so sag dat sy nie kan hoor wat hulle sê nie. Sy bly net sit en staar na die brandende sigaret.
“Dan is ons nou klaar,” hoor sy vir Robert sê.
“Ja, maar ek wil nog hê julle moet ’n dag of so bly voordat ons teruggaan Los Angeles toe. Daar is nog ’n paar foto’s wat ek wil neem.”
Robert kom na haar en gaan sit op die ander punt van die bank. “Dis verby,” sê hy half aan homself. Dan kyk hy op na haar. “Is jy nou bly?”
Sy kyk net na hom. “Ek weet nie. Ek weet op hierdie oomblik niks nie.” Sy wil haar hand uitsteek en aan hom raak. Sy wil vir hom sê hoe lief sy vir hom is en dat daardie laaste gebaar die enigste werklikheid is in hierdie kammawêreld van ligte en lense en tegnici. Maar sy bly net so sit en kyk na hom, haar een hand teen die kraag van haar bloese. Wat van Elaine?
“Dan gaan jy terug Los Angeles toe?” vra hy weer.
“Ja. Ek veronderstel ek sal saam met Henri teruggaan.”
“Jy kan saam met my terugry,” stel hy voor.
“Ons kan maar sien hoe alles uitwerk,” sê sy moeg. “Maar gaan jy wel Los Angeles toe? Gaan jy nie plaas toe nie?”
“Ek het ’n paar sake om eers af te handel,” sê hy en staan op, maar net toe kom ’n meisie binne met bekers koffie vir hulle.
“Ek sal hierdie woonstelletjie mis,” sê sy mymerend en wys vir hom dat sy nog ’n sigaret wil hê. “Dit voel vir my asof ek hier woon.”
“Ek sal dit ook mis,” sê hy rustig.
“Dit voel vir my asof so ’n groot deel van my kammawêreld hier is,” sê sy. Waarom praat hy nie oor Elaine nie?
“Ja, ’n mens voel gewoonlik nostalgies aan die einde van ’n prent.”
“Maar dankbaar.” En verbitter, ontgogel, dink sy stilweg.
“Ja,” stem hy saam, “ek is ook dankbaar dat dit verby is en vir die laaste keer.”
“Was dit regtig jou laaste keer?” vra sy verwonderd teen haar sin.
“Ja.” Sy stem klink veraf maar beslis. “Een of ander tyd moet ’n mens met die werklikheid vrede maak en daarmee begin saamleef.”
Sy draai haar kop en kyk na hom. Hy sit vooroor geboë met sy koppie koffie in een hand. Sy hare is nog steeds deurmekaar en hy lyk vir haar so pragtig dat sy sluk.
“Het jy dan nog altyd van die werklikheid weggevlug?” vra sy sag.
Henri en die ander mense praat en werskaf op die agtergrond, maar dit is asof sy en Robert ’n kosbare en vreedsame oomblik lank in ’n kokon vasgevang is.
“Ja,” sê hy moeg. “Wanneer ’n mens so jonk uitgelewer word aan die harde werklikheid, probeer jy nogal hard om dit te ontsnap.”
“Jy was nog klein toe jou ouers geskei is,” sê sy in ’n fluisterstem. “Was dit baie moeilik vir jou?”
“Ek het geglo die wêreld soos ek dit geken het, sal vir altyd bly bestaan,” erken hy. “En dit het nie. Dis in twee geruk en ek het alleen bly staan. Dis waarom ek wou boer. Ek het gevoel dat diere my nie so in die steek sal laat nie.” Hy kyk verwonderd op na haar. “En jy is reg. Ek het dit nooit vantevore besef nie, maar dit is seker ook die rede waarom ek in rolprente opgetree het: om te ontsnap.”
“Maar nou is dit verby,” sê sy weer.
Hy wil opstaan, maar hulle word skielik weer bewus van Henri wat gebiedend roep dat hulle net so moet bly sit. Elize hoor die geluid van ’n kamera en ’n bitterheid stoot in haar keel op. Daar is in hierdie wêreld niks wat privaat is nie. As die regisseur dink hierdie moeë toneel is die moeite werd om af te neem, sal hy dit doen en hulle moet saamspeel.
“Ons is nog poppe,” sê sy sag. “Ons toutjies word nog getrek.” Hy kyk net na haar en steek weer ’n sigaret op.
Later toe sy weer ’n slenterbroek en bloese aangetrek het, roep Henri haar weer terug en sy moet hy die venster staan, kruisbeen op die vloer sit, afgetrokke staan en wag vir haar ketel om te kook – en die hele tyd draai die kamera. Sy is so totaal uitgeput dat sy nie eers teëstribbel nie en sy beweeg soos ’n robot op sy bevele.
“Jammer,” sê hy aan die einde vir haar, “ek weet jy is so moeg dat jy seker kan doodgaan, maar ek wou juis die uitgeputheid vaslê. As ons gewag het tot môre, was jy weer vars en fris en sou ek moes sukkel om die regte stemming te kry.”
“Maar nou is ons heeltemal klaar met Anne?”
“Heeltemal klaar,” knik hy.
Sy tel haar handsak op en loop na die deur. Robert is lankal weg en haar bestuurder wag buite. Sy is vanaand te moeg om te loop en klim gewillig agterin. Sy wens sy kan hom aansê om na die lughawe te ry. Sy wens sy kan sommer reguit terugvlieg na haar eie land en bekende mense; na’n regte wêreld waar ’n mens lag of huil omdat jy so voel, en nie omdat iemand jou gebied om so te maak nie; ’n wêreld waar mense se motiewe eerlik is; waar sy kan vergeet van Elaine.
Maar by die hotel aangekom, gaan sy tog nie op na haar kamer nie. Sy los haar handsak by die toonbank en loop af na die rivier. Sy is bewus van ’n tamheid in haar wat sy nog nooit voorheen gevoel het nie. Dis meer as moegheid en erger as verlatenheid. Die ergernis of spanning van die afgelope vier maande is nou verby en dis asof sy nie presies weet wat om nou verder te doen nie. Waar begin ’n mens weer? Wat moet sy volgende doen? Wat het sy in werklikheid bereik?
Sy gaan sit op ’n bankie onder een van die bome en sit om haar en rondkyk. Iets kielie haar hand en sy kyk af. Dis ’n bloedrooi blaar wat afgeval het. Sy kyk verras op na die lower en merk dat die bome aan die verkleur is. Die lang somer is aan die verbygaan. Die herfs het ongemerk aangekom sonder dat sy daarvan bewus was. Sy kyk af na die gras en sien dat daar heelwat blare rondlê – geles en oranjes en rooies; ’n bont tapyt.
Dis stil waar sy sit, maar na ’n ruk kom ’n ander paartjie aangewandel en gaan sit naby haar. Sy kan nie hoor wat hulle sê nie, maar sy kan hoor dat hulle gelukkig is. Die meisie lag en dit laat haar opnuut hartseer voel. Dit moet wonderlik wees om so saam met jou geliefde te sit in die vaste wete dat alle onsekerhede uit die weg geruim is. Sy kan onthou dat sy en Charles so was. Nie so verlief soos hierdie twee nie, maar so gemaklik in mekaar se teenwoordigheid. En tog was dit anders, onvolwasse. Sy wonder nou of hulle verhouding op ’n huwelik sou uitgeloop het as Charles nie gesterf het nie. Hy was so goed, maar sou sy nie na ’n ruk na meer begin soek het nie? Dit voel vir haar asof sy nou eers weet wat liefde is. Die gevoel vir Charles was iets anders.
Sy staan weer op en stap aan en toe sy ’n ent verby die jong paartjie is, roep hulle na haar. Sy draai om en kyk verras na hulle en die meisie begin verleë praat.
“Is u nie Elize Böhmer nie?” vra sy.
Elize knik.
“U speel mos in die rolprent wat hier gemaak word,” sê die meisie.
“Dis reg. Hoe het u geweet?”
Die meisie giggel. “Ons lees mos die koerante en tydskrifte. En is dit waar dat u en Robert Ryan getroud is?”
Elize staar hulle stom aan. “Waar hoor julle dit?” vra sy uiteindelik.
“Ons het dit in die koerant gelees.”
Die meisie kom nader met ’n boekie. “Sal u u handtekening vir ons gee?”
Sy gehoorsaam en oorhandig weer die boekie aan die meisie. Toe knik sy en begin vinnig terugstap na die hotel. Sy moet hier wegkom, so vinnig moontlik, nou dadelik. Sy moet terugkom by haar huis in Los Angeles sodat sy kan inpak en weggaan. Sy is nie van plan om hier rond te sit terwyl die pers hierdie sappige nuusbrokkie begin benut nie.
Toe sy naby die hotel kom, sien sy die koerantmense wat in die portaal rondmaal en sy swenk vinnig om die hotel en haas haar na die agterdeur. Die kombuispersoneel is verbaas om haar te sien en sy verduidelik vinnig dat sy die pers wil ontduik. Een van die kamerbediendes lei haar by ’n agteringang in en van daar met trappe op na die verdieping waar haar kamer is. Die meisie loer eers met die gang af en kom sê toe dat daar niemand is nie. Die pers is dus bewus van die feit dat sy uit is en by die voordeur moet inkom, dink sy benoud.
Sy stop ’n noot in die meisie se hand.
“Kan jy my handsak by die toonbank kry sonder dat iemand iets agterkom? En kan jy vir my ’n motor huur? Vra dat iemand jou help en kom sê my as jy regkom.” Dan sien sy die telefoon en gee ’n flou laggie. “Nee, ek is nou deurmekaar. Ek sal self bel. As jy net my handsak kan kry en my weer sal help om by die agterdeur te kom.”
Die meisie stem in en lyk opgewonde om mee te doen aan al die geheimsinnigheid. Sy sien al hoe sy later haar storie vir die koerante vertel.
Nadat Elize die motorfirma gebel het, gooi sy die kasdeure oop en begin al haar klere op ’n hoop gooi. Sy druk alles in tasse en draf deur die badkamer soos ’n warrelwind terwyl sy goed van rakkies afhaal en in die tas gooi. Sy is ook net klaar toe die kamermeisie behoedsaam aan die deur klop met haar handsak.
“Het niemand jou gesien nie?” vra Elize.
“Nee mevrou. Ek ken mos vir Fred wat agter die toonbank werk. Hy hou mos glad nie van so ’n gedoente nie en hy is aan mevrou se kant. Hy sê die spul jagters krap net sy hotel om.”
“Baie dankie,” sê sy en dink daaraan dat dit die eerste keer is dat iemand haar mevrou noem.
“Die motor wag vir mevrou.”
Elize sluip agter die meisie die gang af en sy is dankbaar toe hulle weer die kombuis bereik.
“Hulle het nog nie lont geruik nie,” verseker een van die kokke haar.
Sy glimlag dankbaar en waai vir hulle voordat sy by die sydeur uitglip en na die wagtende motor stap. Dit duur ’n paar minute om die vorms te teken, maar uiteindelik skuif sy agter die stuurwiel in en lig haar hand vir die man wat die motor gebring het. Toe trek sy met ’n geskuur van bande weg, swenk regs en begin soek na die pad uit die dorp.
Sy hou die ligte in haar truspieëltjie dop en moet na ’n ruk vir haarself lag. Dis darem nie die polisie wat haar soek nie, moet sy erken.
Sy weet dis omtrent driehonderd kilometer na Los Angeles en sy weet ook sy is te moeg om die hele nag deur te ry. Boonop is sy honger omdat sy met ontbyt laas geëet het. Maar sy kan nie nou aan kos dink nie. Sy moet eers so ver moontlik van die dorp en sy nuusmanne wegkom. Sy weet dis net tydelik. As hulle haar nie daar kan opspoor nie, sal hulle na haar huis toe gaan, maar sy voel dat sy hulle dalk oor ’n paar dae beter sal kan hanteer as juis nou.
Tot siens, Robert, sê sy in ’n fluisterstem toe sy in die spieëltjie sien hoe die dorp se ligte deur die donkerte ingesluk word. Ek is jammer dat ek jou nie weer sal sien nie en ek is jammer as ek jou alleen oorlaat aan die nuuswolwe, maar ek kan nie anders nie. Jy moet maar ons huwelik nietig laat verklaar; daar is nie meer tyd om daaroor te praat nie.
Die trane loop ongehinderd oor haar wange en soos in ’n rolprent speel die dag se gebeure voor haar oë verby, om elke keer te eindig met daardie laaste oomblik toe sy sy deurmekaar kop teen haar vasgedruk het.