Читать книгу Christine le Roux Omnibus 4 - Christine le Roux - Страница 7

Оглавление

Hoofstuk vier

Twee weke later gaan dit al heelwat beter. Elize raak die pas gewoond en alhoewel sy nog elke aand tot die dood toe moeg is, is die rolprentmakery nie meer vir haar so vreemd nie. Sy het nog een aand na die dag se proewe gaan kyk, maar toe nie weer nie. Dit laat haar net ongemaklik voel om haarself so groot op ’n doek te sien. Tussen haar en Robert heers ’n wapenstilstand. Sy het gesorg dat sy nie weer alleen saam met hom aan tafel beland nie en terwyl hulle repeteer of skiet, is hulle koel en hoflik teenoor mekaar. Hulle houding teenoor mekaar is iets waaroor sy nie heeltemal duidelikheid kan kry nie. Waarom is hulle so op hulle hoede vir mekaar? Waarom staan sy skepties teenoor sy mees onskuldige opmerking? En tog werk hulle goed saam – verbasend goed. Dis asof hulle kan aanvoel wat die ander een wil bereik of uitbeeld en dan is daar hoegenaamd geen wrywing of jaloesie nie . . .

Toe die gedagte deur Elize se kop flits, moet sy lag. Waaroor kan sy jaloers wees? Die feit dat hy ’n baie goeie akteur is? Sy wil glad nie ’n aktrise wees nie en jaloesie is dus onnodig.

Maar dis ’n warm somer en daar is dae dat sy wil doodgaan van benoudheid onder die warm ligte. Dan is sy bly wanneer daar ’n blaaskansie is en sy ver deur die dorp kan gaan stap. Daar is ’n rivier wat deur die dorp vloei en al met die walle langs is ’n groen, boomryke park. Dis haar geliefkoosde wandelplek en hier stap sy en Noag elke oomblik wanneer hulle kans kry. Soms kyk mense haar nuuskierig aan en sy weet dit is bloot omdat sy met die rolprentspan gemoeid is, en nie omdat hulle regtig weet wie sy is nie. Sy wil nie deur mense herken word nie. Sy wil nie ’n gesig word wat deur fotograwe gejaag word nie.

Een middag terwyl ’n toneel tussen die hospita van die ou huis en een van die ander spelers geskiet word, vat Elize haar swemklere en haas haar na die rivier. Op haar wandeltogte het sy ’n lieflike poel onder oorhangende bome ontdek en alhoewel daar soms kinders swem, is dit ’n stil, afgesonderde plekkie. Daar is verkleehokkies op die wal en hier trek sy gou uit en duik in die koel water in. Sy draai op haar rug en dryf terwyl sy na die patrone wat die oorhangende takke teen die blou lug vorm, kyk. Stemme van kinders wat laer af in die vlak water speel, is die enigste geluid wat die stilte versteur.

Dis heerlik, dink sy verwonderd. Sy kan haar amper verbeel dat sy in Nanette-hulle se plaasdam swem. Sy draai om en begin met lang hale na die oorkantste oewer swem, maar dis verder as wat sy gedink het en sy word moeg. Gelukkig is sy ’n sterk swemmer en draai net weer op haar rug om te dryf totdat sy uitgerus het. Skielik hoor sy ’n geskop van water en meteens duik Robert se kop langs haar uit die water op.

“Is jy in die moeilikheid?” vra hy.

Sy is so kwaad dat sy sommer ’n mond vol water stuk.

“Natuurlik nie!”

“Waarheen is jy dan op pad?” terg hy.

“Na die oorkantste oewer,” probeer sy waardig sê, draai om en begin met mening swem.

Hy bly by haar en saam swem hulle totdat hulle teen die groen oewer uitkruip. Teësinnig moet sy erken dat sy nogal uitasem is en sy gaan lê op haar maag met haar kop op haar arms, sodat die son haar warm kan bak.

“Dis verder as wat dit lyk,” merk hy op, maar hy is glad nie kortasem nie.

Sy antwoord nie.

“Kom swem jy dikwels hier?” vra hy lui. Hy lê op sy rug en kyk na die blou lug en die paar yl vlieswolkies.

“Nee. Dis die eerste keer.”

“Ek swem elke aand hier,” sê hy.

Sy antwoord nie. Moet sy hom bewonder of wat?

“Jy is ’n goeie swemmer,” sê hy weer. “’n Mens sou dit nie dink nie.”

“Wat bedoel jy?” Sy lig haar kop op en kyk koel na hom.

“Niks nie. Net wat ek gesê het.”

Sy wens sy het haar handdoek by haar gehad. Sy voel ontbloot voor hom en hy moet dit agtergekom het, want hy lag geamuseerd.

“Kry jy koud?” vra hy.

“Nee. Maar ek dink ek moet nou terugswem en gaan aantrek.”

“Hoekom? Dis mos lekker hier op die gras.”

“Ek wil my gesig afdroog,” sê sy dom.

Voordat sy hom kan keer, lig hy sy hand op en vee oor haar gesig. “So ja! Jou gesig is glad nie so nat nie. Ontspan nou. Dis die hele doel van so ’n vry middag. Jy moet rus en ontspan.”

“Ek is glad nie gespanne nie, dankie,” sê sy koud.

“Hoe oud is jy?” vra hy skielik en lig hom op sy elmboog om na haar te kyk.

“Agt-en-twintig.” Sy wonder waarom op aarde hy dit wil weet.

“Geskei?” vra hy.

“Nee!”

“Nog nooit getroud nie,” mymer hy half tot homself. “Mag ek vra waarom nie?”

“Dis my eie saak en het niks met jou te doen nie.”

“Dis waar,” gee hy toe. “Ek het net gewonder.”

“Ek ly nie aan die troumanie wat almal blykbaar onder lede het nie,” sê sy toe. “Ek sal trou wanneer ek die dag voel ek kan nie langer alleen bly nie, en wanneer ek die regte man ontmoet het. Op die oomblik het ek geen behoefte daaraan nie. Ek hou van my eie geselskap.”

“Dis duidelik, ja.”

Hulle lê weer ’n ruk lank in stilte. Sy voel hoe sy vaak word van die son se hitte en die lekker gevoel van moegheid na die swem.

“En jy?” vra sy. “Waarom is jy nog nie getroud nie?”

“Basies seker om dieselfde rede. Ek hou van my eie geselskap.”

“En al die mooi meisies wat aan jou vasklou? Was daar nog nie een met wie jy wou trou nie?”

Hy lag effens. “Nee.”

Sy ontspan al hoe meer. Hy is nie vanmiddag so beterweterig soos gewoonlik nie. Hy is amper iemand met wie sy sou kon gesels.

“Jy sien,” vertel sy hom en sit regop met haar arms om haar opgetrekte bene gevou, “ek het anders grootgeword. Baie konserwatief, sou jy seker sê. Ek glo nie aan ’n trouery en skeiery nie. Ek glo dat ’n mens wag totdat jy die regte mens ontmoet het en dan bly julle getroud. Dis vir my ’n onding dat mense deesdae so maklik tou opgooi. Wanneer ’n mens iemand van die begin af liefgehad het, moet iets daarvan tog oorbly? Dan moet jy tog deur die moeilike tye ook saamspan. Ek weet dis ’n outydse siening, maar dit is hoe ek voel. Ons het ’n gesegde in ons taal wat lui dat trou nie perdekoop is nie. Ek het nog nooit ’n perd gekoop nie en sou nie kon sê hoe moeilik dit is nie, maar ek glo wel dat trou iets is waaroor ’n mens goed moet nadink.”

Hy kyk na haar met sy oë vernou teen die son. “Ja,” stem hy toe ernstig saam. “Ek is geneig om met jou saam te stem. En jy is nie eers in dieselfde situasie as ek nie.”

“Watse situasie?” vra sy belangstellend.

Hy lyk ongemaklik en probeer glimlag. “Ek is ’n rolprentster,” sê hy spottend. “Meisies hou van my omdat ek ’n rolprentster is. Hulle weet nie watter soort mens ek is nie, hulle sien net die gesig en voel die aura van beroemdheid aan en . . . ag, jy weet wat ek bedoel.”

Sy knik stadig. “Ja. Ek het dit nooit vantevore besef nie, maar dit moet natuurlik so wees. Ek dink nie veel van rolprentsterre nie, maar daar is seker duisende meisies wat enigiets sal gee om saam met jou gesien te word.” Sy besef dat haar laaste sin darem baie beledigend kan klink en bloos effens. “Ek bedoel dit nie persoonlik nie,” maak sy verskoning.

Hy buig sy kop om te wys dat hy verstaan en staan toe op. Sy moet teen wil en dank na hom kyk en sy kan nie help om op te merk hoe mooi hy gebou is nie: lank en skraal en bruin gebrand. Hy hou sy hand na haar uit en trek haar van die gras af op.

“Kom,” sê hy, “ons moet nog terugswem. Sien jy kans daarvoor of sal ons afstap en daar onder oor die brug loop?”

“Nee, natuurlik sal ek swem.”

“Ek sal by jou bly,” sê hy kalm. “Steek net jou hand in die lug as jy moeg word.”

Sy lag, hardloop na die water en duik in. Die water is verstommend koud na die warm son en sy begin swem met lang, egalige hale. Sy is bewus van Robert langs haar en op ’n vreemde manier stel dit haar gerus. Hy is die soort mens wat langs jou sal swem, besef sy teësinnig; die soort mens wat sý pas by jóú pas sal aanpas; iemand op wie jy kan staatmaak.

Noag sit seergemaak vir haar en wag toe sy doodmoeg teen die gras uitklim en haar met die handdoek begin afdroog.

“Foei tog, ounooi se honne! Het ek jou afgeskeep?” Sy vryf oor sy kop en hy vergeef haar dadelik en lek haar nat arm nog natter.

“Gaan jy nou terug hotel toe?” vra Robert.

“Ja. Ek is al weer dood van die honger!”

“Ek het my motor hier. Wil jy saamry?”

“Is daar plek vir Noag ook?”

Hy glimlag. “Vanselfsprekend. Ek moes al kalfies op die agterste sitplek laat lê.”

“Ek gaan net gou aantrek,” sê sy en verdwyn in die rigting van die verkleehokkies. Toe sy uitkom en haar hare uitborsel, staan hy reeds vir haar en wag, geklee in ’n verbleikte blou broek en wit hemp. Noag spring sommer ongenooi agterin die motor en hulle ry die paar blokke na die hotel. Elize kyk op haar horlosie en sug.

“En die sug?” vra Robert.

“Ek is so honger en dis nog ure voor aandete.”

Hy gooi sy kop agteroor en lag ’n heerlike, ontspanne lag. “Jy is heeltemal anders,” sê hy kopskuddend. “Al die meisies wat ek ken, weeg elke slaaiblaar wat hulle eet, en sal eerder sterf as om te erken dat hulle honger is!”

“Ek is nie soos ander meisies nie,” sê sy en haar stem word merkbaar koeler.

“Ek weet,” sê hy ernstig. “Ek het dit al agtergekom. Maar daar is niemand wat ons sal keer as ons nou ’n klein ietsie gaan eet nie. Kom jy saam?”

“Wat van my hare?” vra sy.

“Los jou hare. Jy lyk mooi genoeg.”

Terwyl hy saam met haar na die koffiekroeg stap waar hulle wil gaan sit, dink hy daaraan dat sy nie net goed lyk nie, maar pragtig. Sy het ’n sterk, reëlmatige gesig. Haar neus is fyn en reguit, haar oë is groot en grys, haar mond sag – al glimlag sy nie dikwels genoeg na sy sin nie. Maar wat hom betref, is haar beste bate haar nek. Dis ’n lang, slanke nek, ’n trotse nek wat altyd haar kop regop hou sodat daardie wye, grys oë die wêreld vierkant in die oë kan kyk. Hy onderdruk die begeerte om sy hand uit te steek en aan haar nek te raak, en kyk liewer rond totdat hy die kelner se aandag trek en kan bestel.

Sy eet die vleisbroodjie asof sy ’n jaar laas kos gehad het en hy hou haar geamuseerd dop.

“Voel jy nou beter?” vra hy.

“Ja dankie. Baie beter.”

Sy gooi suiker in haar koffie.

“En sy drink sowaar nog suiker ook,” dink hy hardop.

“Wat?”

“Nee, niks nie. Ek is net verbaas dat jy nog suiker in jou koffie gooi . . .”

“Want geeneen van die meisies wat jy ken, doen dit nie,” voltooi sy die sin vir hom.

“Reg.”

Toe hulle klaar geëet het, vee sy oor haar hare en staan op. “Nou moet ek regtig iets met my hare gaan doen. Sal jy my verskoon?”

“Natuurlik,” sê hy en staan ook op.

Hy stap saam met haar na die hysbak en voor haar kamerdeur gaan hy staan.

“Sal jy vanaand saam met my eet?”

Sy slaan haar oë neer en lyk dadelik weer ongemaklik. “Ons eet mos maar almal in die hotel.”

“Ek weet. Maar ek wil graag hê jy moet by my aan tafel sit.”

“Hoekom?” vra sy en kyk hom in die oë.

Haar reguit blik ontsenu hom en hy neem sy toevlug tot spot. “Aag, ek weet nie. My kos verteer beter wanneer ek saam met jou eet.”

“Ek sien,” terg sy saam. “En Henri sal nie daarvan hou as ek die oorsaak van jou slegte spysvertering is nie.”

“Net so. Sien ek jou dan later?”

Sy knik, sluit haar deur oop en gaan binne. Terwyl sy bad en haar hare was en droogblaas, dink sy aan die middag. Haar gevoel teenoor Robert het meteens verander. Nou weet sy skielik nie meer waarom hy haar altyd kwaad gemaak het nie.

Hy is tog ’n gawe mens, sê sy vir haarself. Wanneer ek by hom is, voel ek weer soos ’n meisie wat vir die eerste keer verlief raak.

Nee, betig sy haarself heftig. Jy is verspot. Jy raak nie verlief nie, en veral nie op die man teenoor wie jy nog menige moeilike toneel moet speel nie.

En tog kan sy dié nuwe gevoel nie onderdruk nie. Sy doen spesiaal moeite met haar hare en trek vir die eerste keer ’n mooi rok aan. Vanaand wil sy nie net ’n moeë en onwillige aktrise wees nie; vanaand is sy sommer net ’n meisie wat ’n aangename middag deurgebring het en nou weer die aand saam met dieselfde man gaan geniet.

Toe sy heelwat later onder in die sitkamer kom, sit Robert en Henri en gesels, en albei staan op toe sy by hulle aansluit.

“Jy lyk pragtig,” sê Henri goedkeurend. “Wat het jy vanmiddag gedoen?”

“Geswem,” sê sy verleë en gaan sit.

Robert sê niks nie, maar sy verbeel haar sy lees goedkeuring in sy oë en dit stem haar tot ongekende blydskap.

“Dan moet jy dit meer dikwels doen,” sê Henri.

“Waar is Lucy?” verander sy die gesprek.

“Huis toe. Die waterpyp in die kelder het gebars en sy moet gaan red wat daar te redde is. Die kinders dink dis pret en wil opsluit in die kelder swem.”

Sy lag. “Jy is ’n gelukkige man om ’n vrou soos Lucy te hê.”

“Ek weet,” sê hy ernstig. “Glo my, dis iets waarvoor ek elke dag dankbaar is. En dis iets wat ek al my vriende toewens. Met die regte mens aan jou sy, is die wêreld jou koninkryk.”

Elize knik net en neem haar drankie by die kelner.

“Nie almal kan so gelukkig wees nie,” merk sy op.

“Ja, dit is so. As Charles geleef het . . .”

Elize maak ’n afwerende gebaar met haar hand en kyk weg.

“Wie is Charles?” wil Robert belangstellend weet.

Elize lyk asof sy wil antwoord, maar bly toe stil.

“Hy was ’n vriend van haar,” verduidelik Henri kortliks. “Hy is twee jaar gelede in ’n motorongeluk dood.”

“Ek is jammer,” sê hy opreg.

Sy knik net en dan begin Henri gelukkig oor die volgende skedule praat. Later stap hulle drie saam na die restaurant en Elize vrolik weer op.

Sy wens Henri het nie van Charles gepraat nie. Dis nie dat sy meer hartseer is nie, maar die herinnering maak tog seer. Sy glo wel dat daar ’n rede was waarom sy Charles moes ken en verloor, en alhoewel dit vir haar nou nog onduidelik is, sal sy eendag weet waarom dit gebeur het. Al wat oorbly, is om te berus. En dit probeer sy doen.

Daar is iets feesteliks in die lug en die ete word ’n vrolike samesyn tussen die drie mense. Henri bestel wyn en vertel hulle hoe tevrede hy is met die vordering van die rolprent en hulle lag oor sekere insidente en botsings wat daar al plaasgevind het.

“Ek drink vanaand op my twee onwillige akteurs,” sê Henri en lig sy glas.

“En ons drink op ons regisseur wat ons daartoe gedwing het,” speel Robert saam.

“Dis nie meer so erg nie, is dit?” vra Henri vir Elize.

“Nee,” moet sy instem. “Dis nie meer so erg nie. Ek raak dit nou gewoond.”

Hy lag en klop haar op die skouer. “Dis goeie nuus. Dan kan ek jou later weer gebruik?”

“Nee,” sê sy beslis. “Dit het ek nie gesê nie. Ek sal dit hierdie een keer doen, maar nooit weer nie.”

“Maar as jy dit een keer gedoen het en gesien het dis nie so erg nie, sal dit die volgende keer makliker wees,” sê Henri.

Sy skud net haar kop. “Dit mag wees, maar dis die eerste en enigste keer wat ek dit sal doen. Wanneer die rolprent klaar is, gaan ek huis toe – plaas toe.”

“Vir altyd?” vra Robert en daar is iets onleesbaars in sy oë.

“Vir altyd,” sê sy beslis. “Ek sal weer moet gaan leer hoe om ’n skryfster te wees. Ek het lank genoeg hier rondgespeel.”

Henri maak sy mond oop om iets te sê, maar voordat hy dit kan doen, word hulle in die rede geval deur ’n pragtige rooikopmeisie wat die restaurant binnegekom het en haar arms om Robert se nek gooi.

“Robbie!” gil sy en soen hom vol op die mond. “Waar kruip jy weg? Ek het my doodgesukkel om jou in die hande te kry. Ek het die plaas gebel en jou suur ou huishoudster wou my nie sê waar jy is nie. Toe het ek jou agent gebel en al wat hy wou sê, is dat jy weer besig is met ’n rolprent. Waarom het jy my nie gesê waar jy sal wees nie?”

Sy gaan sit sommer op die vierde stoel, terwyl sy nog aan sy hand vashou.

“Wag ’n bietjie,” probeer Robert keer en hy lyk baie ongemaklik. “Elaine, laat ek jou voorstel. Dis Henri Dryson, ons regisseur, en dis Elize Böhmer.”

Die rooikop steek ’n slap handjie uit en skud halfhartig albei se hande. “Aangename kennis,” sê sy en fladder haar ooglede in Henri se rigting. “Van jou het ek al baie gehoor. Dis mos elke aktrise se droom om onder jou te werk.”

“Dankie,” sê Henri droogweg.

Elaine kyk Elize berekenend op en af. “En jy is?”

“Sy vertolk die vroulike hoofrol,” antwoord Henri namens haar.

“O?” Elaine neem sommer ’n sluk van Robert se wyn. “Ek het die naam nog nooit vantevore gehoor nie. Kan jy my ’n paar van jou vorige rolprente opnoem?”

“Nee,” sê Elize koel. “Hierdie rolprent is my eerste.”

“O,” sê Elaine liefies. “’n Beginner.” Dan besluit sy blykbaar

dat Elize nie die moeite werd is om verder mee te praat nie en sy wend haar weer na Robert. Met ’n pruilmond tik sy hom speels op die neus: “Jy was baie stout, weet jy? Om sommerso te verdwyn. Ek het nie geweet wat om met ons woonstel te doen nie.”

Elize neem deeglik kennis van die “ons woonstel” en hou haar oë op haar bord. Die feestelikheid van die aand is daarmee heen. Die nuwe en brose kameraderie tussen haar en Robert is met een slag aan skerwe. Sy wens sy kon opstaan en loop, maar dit sal ongeskik wees en buitendien kook haar boerebloed oor die meisie se ongenooide inmenging.

“Waarom het jy my nie gesê waar jy is nie?” teem Elaine nog voort terwyl sy omtrent halflyf oor die tafel hang.

“Ek is besig om aan ’n rolprent te werk,” antwoord Robert stroef. “Jy weet hoe ek daaroor voel. Ek wil nie gesteur wees nie.”

Elaine lag en druk sy hand teen haar wang.

“My ou kwaaikop! Natuurlik weet ek hoe jy voel, maar dit sluit tog nie jou eie Elaine in nie?”

Elize kyk gefassineerd hoe Robert se sterk hand hulpeloos tussen Elaine se rooi geverfde kloue vasgevat word. Sy haal diep asem, want sy het ’n ongegronde en onredelike begeerte om die meisie te klap.

“Wil iemand nagereg hê?” probeer Henri die situasie red en trek die spyskaart nader.

“Nee dankie,” sê Elize sag.

“Ek dink ons sal nou gaan,” sê Robert. Hy probeer Elaine aan die hand optrek, maar sy bly koppig sit.

“Ek het nog nie geëet nie,” pruil sy. “Ek wil eers iets eet.”

“Ons kan na ’n ander plek in die dorp gaan,” sê hy vasbeslote. “Dan kan ons gesels.”

“Nee,” sê sy hardkoppig. “Ek het vir my ’n kamer in dié hotel gekry en ek wil hier eet. Ons kan mos hier ook gesels.”

“Ek is nou klaar,” sê Elize vinnig en kyk na Henri. “Ek wil net koffie hê en dit kan ons in die sitkamer gaan drink.”

“Dis reg,” snel Henri haar te hulp. “Sal julle ons verskoon? Ek het buitendien nog sake om met Elize te bespreek. Môre is daar ’n moeilike toneel wat geskiet moet word.”

“Seker,” sê Elaine en glimlag eers weer teatraal en oordrewe vir Henri. “En as . . . aag, ek het al weer haar naam vergeet!”

“Elize,” sê Henri koud.

“Dis reg. As Elize ’n groentjie is, het sy seker baie te leer.”

“Nee,” sê Henri hard. “Vreemd genoeg is jy heeltemal verkeerd. Elize is ’n gebore toneelspeelster. Dis ’n rare en wonderlike verskynsel om so iemand te vind. Daar is soveel duisende ou meisietjies wat klasse en kursusse loop en dan nog nêrens kom nie. Goeienag,” sê hy ferm en stoot Elize voor hom die restaurant uit.

“Sjoe!” sê hy toe hulle in die sitkamer gaan sit. “Waar sou Robert aan die klein flerrie kom?”

Elize begin hulpeloos lag. Sy vind die situasie nie regtig snaaks nie en sy wil nie eers aan haarself erken hoe seergemaak en verpletter sy is nie, maar dit lyk asof lag die beste oplossing is.

“Nou ja,” sê sy kopskuddend toe sy tot bedaring gekom het. “Robert is ’n baie gewilde rolprentster. Dis seker te verstane dat die meisies gek sal wees oor hom.”

Henri klik net sy tong, maar sy kan sien hy is meer ontsteld oor die voorval as wat hy te kenne wil gee. Sy wonder waarom? Hy is tog seker sulke meisies gewoond!

“Vergeet van haar,” sê hy kortaf en haal ’n paar los bladsye uit die tassie wat hy altyd by hom dra. “Gee jy om as ons ’n bietjie werk? Daar is ’n paar dinge waarop ek jou wil wys.”

“Natuurlik,” sê sy en dwing haar aandag weg van die meisie en Robert. Sy het tog geen rede om hartseer te voel nie. Robert is ’n medespeler, niks meer en niks minder nie. Sy sal moet oppas dat sy dit nie vergeet nie.

Christine le Roux Omnibus 4

Подняться наверх