Читать книгу Christine le Roux Omnibus 4 - Christine le Roux - Страница 9

Оглавление

Hoofstuk ses

Die volgende maand is vir Elize baie vermoeiend. Die aand nadat Robert saam met haar hotel toe gestap het, het sy probeer dink waarom hulle nie kan klaarkom nie, maar sy kon nie ’n oplossing vind nie. Waarom kan hulle een oomblik so lekker gesels, so vreedsaam saam verkeer en die volgende oomblik wil hy haar kop afbyt? Sy het tog die reg gehad om na Elaine te verneem – die vrou het per slot van rekening baie beledigende opmerkings teenoor haar gemaak. Waarom het Robert van ’n byna liefdevolle gesel verander in die vreemdeling wat met ’n koue, afgetrokke gesig die laaste entjie na die hotel geloop het?

Die enigste oplossing waaraan sy wel kon dink, was om uit sy pad te bly. Dit is in elk geval beter so. Sy kry haar rol as Anne beter gespeel as sy nie van Robert bewus is nie, en sy het op die oomblik net een begeerte en dit is om klaar te maak met die rolprent en huis toe te gaan. Dit voel vir haar asof al haar sielerus in ’n oomblik daarmee heen is, en sy blameer die rolprent en Robert daarvoor. Maar sy is ook eerlik genoeg om te erken dat dit grotendeels haar eie skuld is. Niemand het gesê sy moet meer vir hom voel as wat noodsaaklik vir die rolprent is nie. Dis iets wat sommer gebeur het en sy kan hom nie daarvoor aandadig hou nie.

Sy onttrek haar van die gesellige aande in die restaurant en sê vir Henri dat sy weer aan ’n boek begin het en graag saans daaraan wil werk. Sy sal sommer in haar kamer eet. Henri lyk nie asof hy haar glo nie, maar hy kan haar ook nie dwing om saam met hom en Robert te eet nie.

“Dis glad nie ’n goeie ding nie,” maan Lucy op ’n dag toe sy weer terug is nadat sy haar waterpypprobleme opgelos het.

“Hoekom nie?” vra Elize. “Die feit dat ons ’n rolprent saam maak, beteken tog nie dat ons elke sekonde in mekaar se geselskap moet wees nie.”

“Nee, dis waar, maar ek hou nie van die idee dat jy alleen in jou kamer sit nie.”

“Ek is saans moeg, Lucy, en ek wil vroeg gaan slaap.”

“Ek dink jy moet ’n bietjie wegkom,” sê Lucy.

“Wegkom? Die prent is nog lank nie klaar nie.”

“Ek weet, maar dis nie nodig dat ons elke naweek ook hier sit nie. Waarom kom jy nie een naweek saam met my en Henri en die kinders na ons hut in die berge nie?”

Elize kyk verlangend na haar. “Dit sal heerlik wees,” sê sy dan huiwerig. “Maar Henri sal tog nie kan wegkom nie. Hy werk dan altyd die hele naweek deur.”

“En dit is tyd dat dit end kry,” sê Lucy beslis. “Hy het ook ’n wegkomkans nodig. Sal ons dit hierdie naweek maak? Ek sal met Henri praat. Dalk kan julle Vrydagmiddag vroeër klaarmaak sodat ons sommer dan kan ry. Dis tog nie so vreeslik ver nie.”

“Dit sal baie lekker wees,” sê Elize en haar oë blink vir die eerste keer in weke.

Dis net wat sy nodig het en sy is so dankbaar dat Lucy dit voorgestel het. Sy het ’n behoefte daaraan om in die buitelug rond te loop en die spinnerakke uit haar kop te kry. Die rolprent is byna drie maande reeds die enigste ding waaraan sy dink en waaroor sy haar kwel. Dis ’n ongesonde toedrag van sake; sy moet wegkom en aan iets anders dink.

Henri stem saam, vertel Lucy haar daardie aand en Elize se vreugde neem toe. Sy was al ’n hele paar keer saam met die Drysons na hulle vakansiehut in die berge en dit was altyd wonderlik. Sy verbeel haar sy ruik reeds die dennenaalde en die bekende houtreuk van die hut.

Vrydagmiddag kan nie vinnig genoeg verbygaan nie, en gelukkig is sy nie nodig op die stel nie, aangesien ander tonele geskiet word. Sy bad dus vroeg al en dink geamuseerd aan die kouewaterstort in die berge. Daarna trek sy aan en toe Lucy haar teen laatmiddag kom haal, is sy gereed.

Toe sy deur die hotel se voorportaal loop, sien sy Robert uit die hoek van haar oog en haar hart trek onwillekeurig saam toe sy sien dat Elaine weer langs hom staan. Sy draai dadelik haar kop weg en stap reguit deur toe, maar Lucy waai vir hom en roep vrolik: “Sien jou weer!”

Henri lyk moeg en Lucy bestuur terwyl die drie kinders uitbundig lawaai agterin die groot stasiewa.

“Jy lyk gedaan, Henri,” merk Elize na ’n ruk op. “Is dit ons wat jou so klaarmaak?”

Hy glimlag effens. “Nee. Ek bereik altyd hierdie punt so driekwart deur ’n prent. Dis asof die emosionele betrokkenheid by en opgewondenheid oor ’n nuwe rolprent na ’n ruk sy tol eis.”

“Maar is jy darem tot dusver tevrede met die vordering?” vra sy versigtig.

Hy vryf weer oor sy oë voor hy sy bril terugskuif op sy neus.

“O ja. Daar was genadiglik nog geen vertragings nie, behalwe die drie dae wat dit so gereën het. En selfs toe moes ek maar net die skedule verander. Ek dink ons kan binne die volgende maand klaarmaak.”

“Dis gaaf,” sê sy en dink daaraan dat sy vir Nanette moet skryf sodat sy kan weet.

“Maar hierdie naweek gaan ons vergeet van die rolprent,” sê Lucy vasbeslote en gluur na hulle twee. “Julle mag almal vreeslik tevrede wees met die vordering, maar julle lyk ook almal baie moeg. Die volgende twee dae wil ek nie ’n woord oor die prent hoor nie. Is dit ’n ooreenkoms?”

“Ai, dier,” sug Henri en sit sy hand op hare, “jy is ’n streng vrou, maar ek het dit geweet toe ek met jou getrou het, dus kan ek seker nie kla nie.”

“Dis reg,” sê sy. “En nie meer ’n woord oor die rolprent nie.”

“Nie meer ’n woord nie,” sug hy. “Kan ek dan maar ’n bietjie slaap? Ek weet ek sal weer moet hout kap en water aandra wanneer ons by die hut kom.”

Lucy lag goedig en vee liefdevol ’n paar hare van sy voorkop af weg sonder dat sy haar oë van die pad afneem. “Slaap gerus,” sê sy. “En ons sal almal help met die hout kap.”

Hulle jongste dogtertjie, Melanie, skuif nader aan Elize en kyk vertroulik na haar.

“Sal jy vir ons ’n storie vertel?” vra sy.

Die twee ouer kinders kreun. “Aag nee! Ons wil nie nou na Rooikappie of Die Drie Beertjies luister nie.”

“Elize ken ander stories,” sê die kleintjie gebelg.

Elize begin vertel. Sy dink die storie sommer uit, want sy weet waarvan die kleintjie hou. Sy is besonder geheg aan Melanie, omdat sy haar leer ken het toe sy maar ’n jaar oud was. Die laatlammetjie, noem Henri haar, en Elize weet hy is besonder geheg aan die kleintjie.

Die pad gaan vinnig verby en net toe dit goed donker is, begin die motor teen die kronkelpad uitklim. Die kinders draai die vensters oop en haal diep asem en die vars, koue lug waai by die venster in en maak almal opgewonde.

“Dis nogal koel hier bo,” sê Elize verbaas en trek die reuk van bome en groen blare diep in haar longe in.

“Ja,” sê Henri, wat nou weer wakker is, “dis waarom Lucy gesê het ons moet jou hierheen bring. Sy sê sy kon sien dat die hitte jou laat verlep.”

“Aag, dis ook nie so erg nie,” sê sy verleë.

Toe die motor stilhou, spring al die kinders jillend uit en hardloop om die huis om te sien of alles nog daar is.

“A nee a!” roep Lucy hulle terug. “Daar sal môre genoeg tyd wees om alles te ondersoek. Nou moet julle kom help dra.”

Die kinders kom terug en almal help om die dose kruideniersware en ander benodigdhede in die huis te dra. Henri stoot die luike oop en die benoude reuk van ’n toe huis verdwyn vinnig. Dis vir die kinders ’n groot aardigheid om die olie- en gaslampe aan te steek en voordat Lucy nog die laaste goed in die kombuis uitgepak het, sê die kinders al dat hulle honger is.

“Kos,” brom Lucy. “Dis ook al waaraan julle dink.”

Maar sy sê die kinders aan om die enorme ou houttafel af te vee en te dek en sy steek die gasstoof aan die brand en begin kos maak.

Elize help haar en dit voel reeds asof ’n groot gewig van haar hart gelig is. Sy voel weer vry en jonk en kommerloos, die kwellinge oor die rolprent en Robert byna vergete. En, neem sy haar voor, sy weier om die naweek daaraan te dink. Laat Robert maar met sy rooikopmeisie flankeer; dit het buitendien niks met haar te doen nie.

Toe hulle almal om die tafel sit en die kinders eet asof hulle ’n jaar laas kos gesien het, gloei Elize van plesier.

Lucy kyk haar ondersoekend aan en glimlag tevrede.

“Jy lyk sommer klaar beter. Ons moes lankal bietjie weggekom het uit daardie hotel en dorp.”

“Dis heerlik hier,” sê sy opreg. “Baie dankie dat julle my saamgebring het.” Teen haar sin gee sy ’n groot gaap en lag daaroor. “Dit moet die berglug wees.”

“Ja, en ons kan almal vroeg gaan slaap,” sê Lucy en begin die

kinders kommandeer om af te dek en op te was. Toe die kombuis aan die kant is, help Lucy Elize om haar bed op te maak, en kort daarna word dit stil in die huis, afgesien van die kinders se onderdrukte gesels en gelag.

Elize lê ’n hele ruk nog in die donker nadat sy haar lamp doodgeblaas het. Die reuk van olie draai nog in die kamer rond. Sy steek haar hand uit en vat aan die growwe houtmure, maar dan vou sy weer die donskombers om haar skouers en besef hoe salig dit is om koud te kry en nie hoef te luister na die gedreun van die lugreëling nie.

Toe sy die volgende oggend vroeg wakker word, skyn die son deur die ligte gordyntjies wat voor die venster hang. Sy hoor hoe die kinders rumoer in hulle kamer langsaan en sy trek haar aan en loop badkamer toe. Die water is yskoud en laat haar na haar asem snak, maar toe sy klaar gewas het, voel sy wakker en opgewek en lus vir die lewe.

In die kombuis staan Jack en Loni, die twee oudste kinders. Jack is besig om koffie te maak en Loni bak ’n enorme stapel eiers terwyl sy tussen die stoof en die tafel beweeg om alles reg te kry.

“Kan ek help?” vra Elize.

“Hallo,” sê die kinders. “Nee dankie. Ons maak altyd soggens vir Pa-hulle ontbyt. Waarom gaan stap jy nie om die huis nie? Ons sal jou roep wanneer ons klaar is.”

“Jy sien,” sê Loni vertroulik, “as ons soggens so fluks is en ontbyt maak, los Ma ons die res van die dag uit en hoef ons nie heeldag te help nie.”

Elize lag en stap deur die woonkamer met sy gemaklike ou stoele, sofas en houtkaste. Sy stoot die voordeur oop en stap uit. Voor haar oë lê ’n gesig wat haar asem wegslaan. Die dennebome toring oor die huis, maar die berg loop steil af en onder in die verte lê die meer en blink asof dit van ’n miljoen diamante gemaak is.

“Gaan ons na ontbyt afstap na die meer?” vra Jack agter haar en sy knik woordeloos.

Dis so pragtig dat sy net wil kyk en dit in haar geheue wil vaslê, sodat sy dit kan oproep wanneer sy weer onder warm ligte sit en sukkel met haar gevoelens en interpretasie van ’n ander mens se emosies.

’n Ruk later is almal in die eetkamer en sy vind dat sy byna net so honger is soos die kinders. Gewoonlik eet sy ’n dun sny roosterbrood vir ontbyt, maar vanoggend eet sy spek en eiers en worsies. Sy help opruim en die kinders is nou haastig. Hulle wil nou net af meer toe gaan.

“Gaan jy saam?” vra Melanie en steek haar handjie in Elize s’n.

“Ja,” antwoord sy.

“Liefie,” sê Lucy en kom hurk by haar kleinste, “jy gaan by Mamma bly, want dit is te ver na die meer. Ek en Pappa en jy gaan hier bly.”

“Nee, ek wil saamgaan,” sê die kind en kyk pleitend na Elize.

Lucy skud haar kop toe Elize aanbied om na Melanie te kyk. “Nee. Die afstap is in orde, maar sy kan nie teen die berghang terugloop nie en julle sal haar moet dra.”

Sy vertel die kleintjie dat sy moet help om die eekhorinkies se kosbakke skoon te maak sodat hulle kos vir die diertjies kan uitsit, en dit oorreed die kind.

“Ek sal vir Mamma help,” sê sy entoesiasties.

“Ek gaan net op ’n stoel sit en die natuurskoon geniet,” sê Henri welbehaaglik. “Gaan ooreis julle julle maar. Ek gaan op die stoep sit en niksdoen.”

“Het jy jou swemklere?” vra Jack vir Elize en hulle jaag haar aan om klaar te maak.

“Julle moet betyds terug wees vir middagete,” roep Lucy vanuit die huis.

“Het julle julle ma gehoor?” vra Henri lui.

“Ja, Pa. Kom, Elize.”

Die drie stap gly-gly oor die nat dennenaalde na onder. Kort-kort moet hulle gaan staan sodat hulle na ’n besondere voël kan kyk, maar binne ’n verbasende kort tydjie is hulle onder by die meer.

“Van daar bo af het dit so ver gelyk,” sê Elize verbaas. Sy het nog altyd bo teen die hange rondgeloop en dit was gewoonlik net die kinders wat na die meer gekom het. Nou is sy baie bly dat sy saamgekom het. Die son bak ook al en die lug is aansienlik warmer sodat die ander twee agter groot boomstamme inskarrel en begin swemklere aantrek.

“Laaste een in is ’n lafaard!” roep Jack en hardloop die koue water binne. Hy gil en spring op en af voordat hy begin swem. Loni en Elize loop die water versigtiger binne en Elize ril toe sy voel hoe koud dit is.

“Sjoe,” bibber sy. “Ek het gedink dit sal warmer wees.”

“Ek dink ons moet vinnig swem dat ons kan warm word,” stel Loni voor en die twee duik in die water en begin swem.

Dit voel vir Elize asof sy die water nie eers voel nie, so koud is dit. Tog raak sy dit mettertyd gewoond en sy en die ander twee swem reisies, druk mekaar se koppe onder die water en baljaar soos dolfyne. Toe hulle uiteindelik uitklim, gaan lê hulle op die sanderige strook langs die water en wag bibberend dat die son hulle warm bak.

Elize draai op haar rug en staar na die blou lug en die yl vlieswolkies wat lui verbybeweeg.

“Dis hemels,” sug sy. “Ek het nooit geweet dis so lekker om in yswater te swem nie.”

“Jy’s net ’n sissie,” terg Jack haar, maar sy merk dat sy tande nog op mekaar klapper.

“Ons moes handdoeke saamgebring het,” sê sy besorg.

“Wag totdat jy opgeklim het terug huis toe,” sê hy. “Dis baie maklik om so al glyend af te kom tot hier, maar terug is ’n ander storie. Dan wil jy nie ’n sakdoek dra wat onnodig is nie. Dis ’n steil klim boontoe.”

Elize probeer die huis tussen die dennebome onderskei, maar dis onmoontlik. Net ’n dralerige rokie uit die skoorsteen dui die ligging aan. Hulle lê lank en gesels op die warm sand en die kinders vertel haar baie beslis dat hulle niks met die rolprentwese te doen wil hê nie. Jack wil ’n argitek word en Loni ’n onderwyseres.

“Sien jy hoe bles is Pa?” vra Loni. “Dis van al die kommer oor akteurs en aktrises en tegnici en goed. Nee dankie, dis nie vir my nie.”

Elize wonder of hulle haar by hulle pa se probleme insluit, maar Jack moet haar gedagtes gelees het.

“Jy is nie een van hulle nie, hoor. Jy is mos nie eintlik ’n aktrise nie.”

“Nee,” sê sy dankbaar, “ek is nie.”

Hulle lê ’n ruk in stilte, elkeen met sy eie gedagtes besig en dan sê Elize vakerig: “Wat ritsel so? Ek hoop nie hier is nog bergleeus of sulke goed nie.”

“O aarde,” skrik Loni en sit regop, maar sê toe verlig: “Nee, dis net Robert. Hy is seker ook lus vir swem.”

Elize se maag draai. Of dit van skok of blydskap is, weet sy nie, maar sy lig haar kop op en kyk ongelowig na die man wat tussen die onderste bome deur na hulle aangestap kom.

“Waar kom hy vandaan?” vra sy onthuts.

“Ma het hom saamgenooi,” sê Loni ongeërg, “maar hy kon vanoggend eers kom.”

Ek weet, dink sy bitter. Hy moes eers gisternag saam met Elaine deurbring!

Jack staan op en stap Robert tegemoet. “Haai,” groet hy. “Gaan jy ook swem?”

“Nee,” sê Robert. “Ek het nie my swemklere saamgebring nie.”

Hy groet vir Loni en knik vir Elize voordat hy ook op die sand gaan sit.

Sy bly op haar maag lê en hou haar kop op haar gevoude arms.

Sy kan die gevoel van blydskap nie onderdruk nie. Nou is alles volmaak omdat hy ook hier is, maar aan die ander kant is die rustigheid nou bederf, want nou is daar weer spanning en struweling tussen hulle.

Nee, besluit sy, ek gaan nie toelaat dat hy my naweek bederf nie. Ek sal eenvoudig nie met hom praat nie. Ek sal hom ignoreer. Sy hoor hoe hy met die kinders gesels, maar sy hou haar daaruit en na ’n ruk staan sy op.

“Ek dink ek gaan nou terug,” sê sy.

“Dis nog te vroeg,” sê Loni en kyk na die son.

“Ja, ek weet, maar ek sal jou ma gaan help met middagete.”

“Sê vir haar ons kom netnou,” sê Jack.

Robert kyk haar swyend agterna en lewer nie kommentaar nie. Sy loop agter die groot boom in en verklee vinnig. Toe sy uitkom met haar swembroek in haar hand, wuif sy vir hulle en begin doelgerig teen die glibberige steilte uitklim.

Dis waar wat die kinders gesê het, dit is baie moeiliker om boontoe te klim. Haar voete gly op die dennenaalde en sy moet kort-kort aan ’n boom vashou om haarself op te trek. Dis nie lank voordat sy uit hulle gesigsveld verdwyn nie en daarvoor is sy dankbaar, want sy verbeel haar hulle kyk na haar en lag oor haar onhandige bewegings.

Toe sy omtrent halfpad teen die hang uit is, wil sy ’n bietjie rus en sy los die tak waaraan sy vasgehou het om te gaan sit. Maar sy trap skeef en haar voet verdwyn in ’n holte wat onder die blare en naalde versteek was. Sy gee ’n uitroep van pyn en gaan sit sommer dadelik terwyl sy haar voet in haar hand vashou. Dit klop pynlik en sy byt op haar tande toe sy sien dit begin swel.

Trane van woede brand in haar oë. Dis al wat sy nou nog nodig het! ’n Belaglike verstuite enkel! Sy bly ’n hele ruk sit en staan toe versigtig op, maar sy kan hoegenaamd nie op die voet trap nie en om met een been op die glyerige grondbedekking oor die weg te kom, is onmoontlik. Sy gaan sit maar weer en wonder wat sy kan doen. Sy twyfel of hulle haar sal hoor as sy roep en buitendien wil sy nie hulpeloos voorkom nie. Sy bly dus sit en kners op haar tande van woede.

Gelukkig is dit nie baie lank voordat sy stemme hoor en die ander drie hygend tussen die bome sien deurkom nie.

“Haai,” roep Loni uitasem. “Wag jy vir ons?”

“Ja,” sê sy kwaad.

Hulle loop tot by haar en staan na haar en kyk. “Hoekom lyk jy dan so ontstoke?” vra Jack.

“Ek het my enkel seergemaak.”

Robert lag en dit voel asof sy hom kan vermoor. “Ek het gedag jy sal nie sommer uit liefde vir ons sit en wag nie.”

Sy is so kwaad dat sy glad nie kan praat nie en hy kom nader en hurk by haar. “Laat ek sien,” sê hy.

“Nee. Daar is niks te sien nie. Ek het in ’n gat getrap en my enkel seergemaak.”

Hy sit terug en kyk na haar. “Wat wil jy hê moet ons doen? Moet ons jou net hier los?”

“Ja,” sê sy koppig. “Gaan roep vir Henri. Hy kan my kom help. Hy sal nie vir my lag nie.”

“Ek weet,” sê Robert onverstoord. “Hy sal deksels kwaad wees. As jy jou enkel nou gaan staan en verstuit het, kan dit die hele rolprentskedule omverwerp.”

“Na die duiwel met die rolprent!” sê sy ontsteld en vee oor haar wange om die trane te stop.

Die twee kinders staar hulle verbyster aan.

Hy luister nie verder na haar nie, maar tel haar voet op en hou dit in sy hand. Sy probeer die sagte, warm aanraking van sy hand om haar seer voet ignoreer, maar dit is nie maklik nie.

“Dit swel op,” sê hy, “maar dit lyk nie te ernstig nie. Loni, dra jy haar swemklere. Jack, klim jy vooruit en sê jou pa om te kom help. Elize, sit jou arm om my nek en kyk of jy kan staan.”

“Ek wil nie my arm om jou nek sit nie,” sê sy kwaad.

“Maar jy móét. Jy kan nie die hele dag hier bly sit nie.”

Sy sukkel regop en hy trek haar arm om sy nek. Dis nie baie gemaklik nie, maar hulle vorder tog, al is dit steunend en stotend.

“Ek het gewonder waarom Lucy my saamgenooi het,” sê hy saggies. “Nou weet ek.”

“Wat bedoel jy?”

“Hulle het seker geweet jy gaan een of ander onbesonne ding aanvang en ek sal moet help.”

“Loop na die –”

“Later. Eers moet ons by die huis kom.”

Gelukkig is daar ’n beduidenis van ’n paadjie die laaste ent na die huis en teen daardie tyd kom Henri hulle ook tegemoet.

“Elize het haar enkel seergemaak,” vertel Loni. “En nou baklei sy en Robert daaroor.”

Henri ondersteun haar aan die ander kant en sê troostend vir Loni: “Moenie jou daaraan steur nie, skat. Hulle doen dit buitendien, of haar enkel nou seer is of nie.”

Robert lag hieroor, maar Elize sê nie ’n woord nie en dit is met intense dankbaarheid dat sy die stoep bereik. Hulle laat haar in een van die groot stoele sit. Lucy kom dadelik uit en klik haar tong toe sy Elize se skoen uittrek.

“Foei, dis geswel.” Sy buig die voet heen en weer en alhoewel Elize ’n gesig trek, is dit nie meer so kloppend seer soos dit aanvanklik was nie.

“Ek dink nie dis so erg nie,” sê sy en kyk af na haar voet.

Lucy pak ys om die enkel en kyk op na Robert wat nog belangstellend na hulle staan en kyk. “Is dit nie ’n genade dat Robert hier was om jou te help nie?”

“Die kinders kon my ook gehelp het,” sê Elize teësinnig.

Robert grinnik en gaan sit op die rand van die stoep terwyl Loni vir hulle warm koffie bring. Henri staan rond en lyk so bekommerd dat Elize vir hom jammer moet voel.

“Toe maar,” sê sy, “dis regtig nie ernstig nie. Teen Maandag sal die voet reg wees.”

“Ek hoop so,” sê hy. “En jy bly ten minste die res van die naweek waar ek jou onder my oë kan hou.”

“Gaan maak die geute klaar,” verjaag Lucy hom laggend.

“Is mans nie wonderlik nie?” vra Elize sarkasties. “Robert het vir my gelag en Henri is kwaad!”

“Ja,” sê Lucy onverstoord, “dis maar soos hulle is. Hou jy nou jou voet tussen die ys. Robert, sorg jy dat sy hier bly. Ek moet na die kos gaan kyk.”

’n Lang ruk nadat sy weg is, bly hulle in stilte sit. Sy hou haar hande om die koffiebeker en drink die warm vloeistof slukkie vir slukkie. Hy het sy koffie al klaar gedrink en hou sy hand bak om die vuurhoutjie om sy sigaret aan te steek. Deur die rook kyk hy na haar en steek toe skielik sy hand uit.

“Kom ons wees vriende,” sê hy. “Ek belowe ek sal nie weer lag nie.”

Sy kyk skepties na sy aangebode hand en skud dit toe. “En wat moet ek belowe?”

“Dat jy sal ophou baklei.”

“Dis nie ék wat baklei nie.”

Hy glimlag en vee die hare van sy voorkop weg. “Ek het nog nie vandag met jou baklei nie. Jy kan dit nie sê nie.”

“Nie vandag nie, nee, maar dit sal tog nie meer lank wees voordat ons weer vassit nie.”

“Waarom sou dit tog wees?” mymer hy.

“Ek weet nie,” sê sy koppig. “Ek is glad nie ’n moeilike mens nie. Vra maar vir al my vriende. Ek het nog nooit met Henri of Lucy baklei in die drie jaar wat ek hulle ken nie.”

“Dis wonderlik,” sê hy.

Sy kyk na hom en haar oë glim gevaarlik. “Sien jy? Daar is jy al weer sarkasties.”

“Ek is nie sarkasties nie. Dit is wonderlik dat jy nooit met hulle baklei nie. Ek wonder net wat hulle het wat ek nie het nie.”

Sy kan aan ’n hele paar moontlikhede dink, maar sy swyg liewer.

“In elk geval,” gaan hy voort, “jy het nou belowe dat ons vriende kan wees. Is dit nie wonderlik hier bo met al die vars lug nie?”

“Ja. ’n Miljoen keer beter as in daardie hotel en tussen al die rolprentbedrywighede.”

“Jy hou regtig nie daarvan nie, nè?”

“Nee.”

Hy blaas die rook in sirkels in die lug en kyk hoe dit verdwyn. Voordat een van hulle weer iets kan sê, kom Melanie uit op die stoep. Sy staan fronsend na Elize se voet en kyk.

“Wie het jou seergemaak?” vra sy bekommerd. “Was dit Robert?”

Elize moet glimlag en sy kan dit nie verhelp om ’n stoute blik in sy rigting te gooi nie. “Sien jy, selfs die kind kan dit raaksien,” sê sy sag en vervolg dan harder: “Nee, poppie, ek het net skeef getrap.”

“Is jy nou verlam?”

“Nee! Ek sal nou-nou weer opstaan en loop.”

“Jy is baie optimisties,” sê Robert tersluiks.

“Is die ys nie baie koud nie?” vra Melanie bekommerd en vat versigtig aan Elize se voet. “Jou voet gaan mos koud kry.”

“Ja, hy kry koud.”

“Moet ek vir hom ’n kombersie bring?”

Elize raak aan die kleintjie se wang. “Nee dankie. Dis net om die swelsel te laat sak.”

Loni kom uit op die stoep en sê geamuseerd: “Robert, Mamma sê jy moet vir Elize inbring. Die kos is gereed.”

“Seker,” sê hy gemaklik, druk sy sigaret dood, buk oor haar en tel haar in een beweging in sy arms op.

“Los my!” sê sy gesmoord. “Ek kan loop.”

“Lucy se bevele word altyd gehoorsaam,” sê hy ernstig en dra haar na binne terwyl ’n laggende Loni en ’n gekwelde Melanie hulle volg. “Waar moet ek haar neersit?”

Gelukkig sak die kinders om die tafel neer en in die algemene geharwar en geselskap kry Elize kans om haar kalmte te herwin. Met Robert ook teenwoordig is dit asof die naweek ’n definitiewe feestelike kleur kry. Die kinders hou van hom en die sêgoed wat oor en weer geuiter word, raak al hoe meer gevat. Henri en Lucy lag saam en Elize kan nie help om meegevoer te word nie.

Na ete sleep die kinders die twee mans met hulle saam en spoedig verdwyn hulle onder die lae takke van die bome in. Lucy en Elize gaan sit op die stoep en kyk uit oor die meer. Nou en dan gesels hulle, maar dit is so vreedsaam dat Elize selfs lomerig word en sy skrik vervaard wakker toe almal teen vieruur terugkeer en begin soek na iets om te drink en eet.

“Dis ook maar ’n goeie ding dat ons nie dikwels hierheen kom nie,” kla Lucy. “Die kinders se aptyt is skrikwekkend hier in die berge.”

Maar die aand na ete is die kinders kapot en Lucy kry hulle met moeite sover om hulle gesigte en voete te was voordat hulle in die bed klim.

“Waar gaan Robert slaap?” vra Melanie net voordat sy vir almal nagsê.

“Ons gaan vir hom bed opmaak op die divan in die woonkamer,” verseker haar ma haar. “Gaan slaap jy nou maar.”

Sy slaan haar sagte armpies om Elize se nek en soen haar, en vir die eerste keer voel Elize ’n roering van verlange wat vir haar onbekend is. Skielik wonder sy hoe dit moet wees om jou eie klein dogtertjie te hê . . . Maar sy onderdruk die gevoel gou. Sy het na Charles se dood besluit dat sy tog eintlik nie troumateriaal is nie en haar liewer moet toelê op skryf.

Toe al die kinders in die bed is, stop Henri sy pyp en hulle sit en kyk na die stompe wat gloei in die kaggel.

“En om te dink ek wou doodgaan van die hitte,” sê Elize verwonderd toe sy terugdink aan die hotel.

“Hoe voel jou voet nou?” vra Henri besorg.

“Baie beter, dankie. Moet jou nie daaroor kwel nie. Ek dink nie dis eers ordentlik verstuit nie.”

“Ons kan altyd die skedule verander,” merk hy op. “As jy regtig nie behoorlik kan loop nie, sal ons maar die laaste toneel eerste skiet.” Hy kyk tergend na haar. “Jy loop tog nie daarin rond nie.”

Sy kry weer die bekende nare gevoel. “Nee, nee, ek sal reg wees.” Sy weet nie waarom dit is nie, maar sy bly hoop dat as sy die liefdestoneel lank genoeg kan ignoreer, dit sal verdwyn.

“Jy kan dit nie ignoreer nie,” herinner hy haar stilweg. “Jy sal dit móét speel.”

“Kan ons nie ’n dubbelganger kry nie?” vra sy hoopvol.

“Nee,” sê Robert onverwags beslis. “Ek speel nie daardie soort toneel sommer met enigeen nie.”

Dit maak haar stil. Sy weet nie presies wat hy impliseer nie.

“Waarom wil jy dit nie speel nie?” vra Henri met sy sagte, bemoedigende stem.

“Ek dag ons het ooreengekom om nie oor die rolprent te praat nie,” kom Lucy se bedaarde stem van waar sy sit en brei.

“Nee, wag,” keer Henri, “ek dink dis nou die regte tyd om rustig daaroor te gesels.”

“Ag Henri!” sê Elize heftig. “Jy weet tog hoe ek daaroor voel. Ek bedoel . . . om ’n liefdestoneel teenoor . . .” Sy skud haar kop. “Jy weet tog. En ek is nie ’n gesoute aktrise wat reken alles is aanvaarbaar ter wille van die kuns nie.”

“Om jóú as aktrise in te breek, is moeiliker as om ’n jong en baie wilde perd in te breek,” sug hy.

“Ek is jammer,” sê sy styf. “En dan is dit boonop nog alles verniet en ’n gejaag na wind.”

“Wat bedoel jy nou?” laat Robert van hom hoor.

“Ek gaan tog nie weer in ’n rolprent optree nie,” sê sy geïrriteerd.

“Dus is al Henri se harde werk tevergeefs.”

“Nie regtig nie,” sê Henri. “Ek gaan ten minste een uitstekende rolprent daaruit kry. Maar kyk, om terug te kom tot die laaste toneel. Jy het tog reeds ses weke lank gesien hoe die hele ou sakie inmekaar steek. Jy weet nou hoe ek rolprente maak. Dis ’n gemoedelike en intieme soort van ding. Jy is tussen bekendes en mense van wie jy hou. Jy hou van Bill, die hoofkameraman, nie waar nie?”

“Ja,” gee sy toe.

“En jy ken vir my en Robert.”

“Ja,” sê sy minder selfversekerd.

“Nou goed. Die stel sal gesluit wees vir al die ander tegnici. Jy staan voor die venster, só.” Henri staan op en gaan leun teen die vensterraam. “Dan draai jy om en kyk na Roy.” Hy draai om en kyk Lucy aandagtig aan. “Hy sal nou nie sit en brei nie, maar jy weet wat ek bedoel. Hy sal oorkant jou staan. Dan loop jy na hom en kyk hom diep in die oë, en dit is die oomblik van waarheid. Julle besef albei dat julle mekaar nodig het, dat julle nie meer sonder mekaar kan klaarkom nie. En van daar . . . nou ja, van daar sal dit natuurlik wees.”

Elize kyk net na hom. Dis maklik vir hom om so iets te sê. Hy is besig om die toneel teenoor sy vrou te speel en hy weet hoe hy oor haar voel en hoe sy oor hom voel. Hy speel dit nie teenoor ’n vreemde mens nie. Sy kyk vinnig na Robert en sien dat hy ook baie gespanne is. Hy leun effens vorentoe in sy stoel en sy lang, skraal vingers is inmekaar gestrengel sodat sy kneukels wit deurskyn. Hy voel haar oë op hom en hy kyk vinnig na haar en sy sien hoe hy doelbewus ontspan.

“Onthou een ding,” sê hy strammerig. “Dit sal nie die eerste keer wees dat ék in so ’n toneel speel nie. En dit bly steeds moeilik.”

“Jy spot seker,” sê sy ongelowig.

“Nee. Dis die waarheid,” ondersteun Henri hom. “Robert het al in vurige omhelsings beland, maar enigeen kon sien dat hy dit baie teësinnig doen. Langtand, sou ek sê. Het jy nog nie van sy vorige rolprente gesien nie?”

“Nee,” erken sy. “Net een.” Sy noem die naam van die rolprent. “Ek is nie ’n groot fliekganger nie.”

“Ek weet,” sê Henri. “Jy is ’n skryfster.” Hy gaan sit weer en steek sy pyp aan nadat hy die dooie as uitgekrap het. “Ek het julle twee saamgenooi vir hierdie naweek in die hoop dat julle gemoedeliker met mekaar sal raak. Ek wil nie twee vreemdelinge teenoor mekaar hê in daardie laaste toneel nie.”

“Dit gaan Roy en Anne wees wat daardie toneel speel,” herinner Elize hom vinnig. “Dis wat jy nog heeltyd vir my sê.”

“Julle argumenteer in sirkels,” maan Lucy. “Wanneer die tyd aanbreek vir daardie laaste toneel, sal daar nie probleme wees nie. Moenie probleme agter die bult gaan haal nie.”

“Ek weet nie,” sug Elize. “Ek sal my seker maar moet opdrink, soos my ma se bediende altyd gesê het voordat sy ’n moeilike taak moes aanpak.”

Dit laat almal lag en Elize verduidelik hoe dit al ’n familiegesegde geword het en dat dit nie noodwendig beteken dat iemand letterlik dronk word nie.

“Nee, maar dis goed dat jy my betyds gewaarsku het,” lag Henri. “Ek sal sorg dat daar baie sjampanje rondstaan. Sal sjampanje reg wees?”

Hulle skerts en gesels nog ’n ruk totdat Lucy opstaan om te gaan slaap. Sy bring ’n arm vol komberse en kussings en Robert help haar om die divan op te maak. Elize staan skewerig op en loop mank na die venster. Die maan het opgekom en skyn in ’n silwer streep oor die meer. Daar is geen wind buite nie en die punte van die dennebome is blink gesproei deur maanlig. Sy verwens haar seer voet en wens sy kon nou ’n entjie gaan stap het, of sommer net onder ’n boom gaan sit het en kyk na die sprokiestoneel daar buite.

“Elize,” hoor sy Robert se stem en sy draai weg van die venster en kyk na hom. Henri en Lucy is reeds kamer toe, besef sy en raak verleë, maar Robert se intense oë hou hare teen wil en dank gevange. “Kom hier.”

Soos ’n slaapwandelaar draai sy weg en stap na hom totdat sy voor hom bly staan. Hy lig sy hand op en raak saggies aan haar wang. Die lamp is laag gedraai en die kamer lê gebaai in die stil maanlig. Dis asof sy betower is, asof sy deur ’n mag vasgehou word waarteen sy geen verweer het nie. Sy lig haar hand ook op en hou dit teen sy wang. Hy trek haar saggies nader en soen haar – nie hartstogtelik nie; sy lippe raak net aan hare en toe beweeg sy hand af teen haar nek. Sy hou haar asem op, maar hy lig sy kop op en tree weg van haar.

“Sien jy,” sê hy baie sag, “dit is eintlik baie maklik.”

Haar oë sper wyd en sy snak na asem. “Is jy . . . is jy net besig om te oefen?” vra sy en haar stem is rou van die skok.

Hy draai van haar weg en buk om sy sigarette op te tel. Sy hare val oor sy voorkop sodat sy nie sy oë kan sien nie.

“Nee,” sê hy en skielik klink hy baie moeg. “Ek oefen nie. Dis laat. Ons moet seker nou gaan slaap.”

Sy draai weg en stap so vinnig na haar kamer as wat haar seer voet toelaat. Toe sy die deur agter haar toedruk, begin die trane loop. Sy gooi haar neer op die bont laslappiedeken en druk haar kop in die kussing. Hoe durf hy so met haar speel?

Wat wil hy dan hê, wonder sy vir die hoeveelste maal. Haat hy haar of hou hy van haar? Is sy maar net vanaand die enigste beskikbare meisie omdat die rooikop nie teenwoordig is nie? Die enigste ding waarvan sy seker is, is dat Robert Ryan die enigste man is oor wie sy nog ooit so gevoel het. Haar gevoel vir Charles was broederlik en onskuldig in vergelyking met hierdie hewige liefde.

Sy sit regop op die bed en druk haar hand oor haar mond. Liefde? Wie het gepraat van liefde? Hoe kan sy so iets erken? Sy verwens Henri en Lucy wat die naweek bederf het deur Robert ook te nooi, maar terselfdertyd weet sy dat sy ook half bly is dat hy wel gekom het. Sy is so totaal verward oor alles dat sy glad nie kan slaap nie en nadat sy opgehou huil het, staan sy versigtig op en loop kombuis toe.

Die hele huis is nou stil en donker; sy maak die agterdeur versigtig oop en loop hinkende om die huis na die groot boom waaronder ’n klein houttafeltjie en bankies gebou is. Daar gaan sy sit en staar oor die donker bome en die verligte meer.

Hoe lank sy daar gesit het, weet sy nie, maar mettertyd raak sy kalmer en laat haar hart leegloop van die baie botsende emosies.

“Kan jy ook nie slaap nie?” vra Robert skielik langs haar en sy sien die gloeiende kooltjie van sy sigaret in die donker.

Sy is nie verbaas om hom te sien nie – dis amper asof sy hom verwag het. “Ja,” sê sy kalm en beheers. “Ek wou ’n bietjie buite kom sit. Dis so mooi.”

Hy sit op die bankie oorkant haar. “Ja, is dit nie pragtig nie? So is die uitsig van die stoep van my huis af. Daar is darem nie soveel bome nie, maar die huis staan ook teen ’n steilte en onder is ’n groot dam. En rondom die hoë berge.”

“Dit moet mooi wees,” sê sy stil.

“Dit is. Miskien kan jy eendag kom kyk hoe dit lyk.”

Sy kyk verras na hom, maar sy gesig is in die skaduwee en sy kan nie die uitdrukking daarop lees nie. “Ek sou graag wou,” sê sy opreg, “maar ek gaan huis toe wanneer die rolprent klaar is. Miskien kom ek eendag weer kuier; ’n mens weet nooit.”

Hy antwoord nie en sy kan sien dat hy ook afstaar na die meer.

“Kan ek ’n sigaret kry?” vra sy skielik.

Hy staan op en hou die pakkie na haar uit. “Ek het nie geweet jy rook nie?”

“Net soms.”

Sy kan nie vir hom sê dat sy net rook wanneer sy so verward is dat sy nie weet wat anders om te doen nie.

Hy steek dit vir haar aan en gaan sit toe weer. “Is dit nie mooi hoe die maanlig die toppe van die bome versilwer nie?” vra hy.

Sy knik.

Hy draai na haar en gee ’n laggie. “Jou kop ook,” sê hy stil. “Dit lyk asof jy ’n silwer mussie ophet.” En net so vinnig verander sy stemming en vra hy tergend: “Het jy natuurlike blonde hare?”

“Ja,” sê sy verontwaardig. “Het jy natuurlike donker hare?”

“Goed,” lag hy. “Ek het daarvoor gesoek. Ja, my hare is maar hierdie kleur sedert my tienerjare. Toe ek klein was, was dit spierwit.”

Sy glimlag en probeer die klein witkopseuntjie vir haar voorstel.

“Jy kan my nie verkwalik nie,” gaan hy voort. “Daar is baie min meisies wat rondloop met hulle natuurlike haarkleur.”

“Ek weet, ja. Maar ek verseker jou, alles wat ek het, is myne en ek is daarmee gebore. Niks kom uit ’n bottel uit nie.”

Hulle gesels nog ’n rukkie, maar toe word sy vaak en hy stap saam met haar terug en sluit al die deure. Net voordat sy na haar kamer gaan, steek hy sy hand uit en keer haar.

“Ek is jammer oor vroeër,” sê hy sag. “Jy weet ek het dit nie so bedoel nie.”

Sy knik net. “Kom ons vergeet daarvan. Lekker slaap, hoor.”

Goed, dink sy, voordat sy aan die slaap raak, hy het dit nie bedoel nie. Wát het hy nie bedoel nie – om my te soen, om met my te spot, om te oefen, wát?

Die volgende oggend is haar voet baie beter en alhoewel sy nie saam met almal afloop na die meer om te gaan swem nie, geniet sy tog die dag. Sy loop onder die bome deur, help Lucy om slaai te maak vir middagete en asem net die vars lug in omdat sy weet dat hulle weer die middag moet teruggaan.

Toe almal uitasem van die klim weer bo is, maak die mans vuur en almal sit op die gras en dennenaalde rond terwyl die vleis braai. Robert bring vir Elize ’n koeldrank en kom sit langs haar.

“Was die water weer so koud?” vra sy.

“Ja, maar dis verfrissend. Wat het jy gedoen?”

“Ag, hier rondgeloop; vir Lucy gehelp; niks besonders nie.”

“Maar jy het baie kleur in jou wange,” terg Henri waar hy staan en vleis omdraai. “En dié keer is dit seker nie van ’n stekelrige baard nie.”

Sy bloos bloedrooi en die kinders wil almal weet waarna hulle pa verwys sodat Henri die hele storie moet vertel.

“Ja, Pa kan lekker lag,” kom Loni tot Elize se redding. “Ek onthou toe ek klein was en Pa se stoppels my altyd so gekrap het. Dis deksels seer.”

Elize kyk dankbaar na haar en Robert lyk vir ’n wonder ook verleë.

“Maar sien,” gaan Loni voort, “dis waarom ek sê ek wil niks met rolprente te doen hê nie. Net oor ’n mens ’n aktrise is, moet jy jou wange laat krap deur ’n vreemde man.” Sy kyk verskonend na Robert. “Nie dat jy ’n vreemde man is nie, hoor! Maar jy weet wat ek bedoel. Jy kan maar enige tyd my wange krap!”

Dit laat almal weer lag en dan kondig Henri aan dat die vleis gereed is en dat hulle maar kan inskep. Dis stil terwyl almal eet en Lucy lyk moederlik tevrede dat almal gesond en gelukkig en aan die eet is. Toe hulle later begin opruim en die kinders langtand gereed maak om in te pak en toe te sluit, help Elize vir Henri en hy kyk na haar met ’n ondeunde blik in sy oë.

“Ek is baie bly om te sien dat my onwillige spelers darem nou so goed klaarkom.”

“Onwillige spelers?” vra sy met geligte wenkbroue. “Ek dog ek is die enigste een.”

“O nee,” sê hy, “as jy dink ek moes hard aan jou arbei om jou te laat instem, is dit niks in vergelyking met hoe hard ek aan Robert moes werk nie!”

“Ek het dit nie geweet nie,” sê sy. “Ek bedoel, ek weet hy speel nie dikwels nie, maar ek het nie geweet jy moes so hard aan hom arbei nie. En mag ek vra hoe jy hom oorreed het?”

“Nee,” sê Henri, “dis my geheim.”

Hulle pak in en teen vieruur is alles in die motor gelaai en is hulle reg om te ry. Henri kyk na Robert se leë motor en toe na Elize, maar voordat hy enige voorstelle kan maak, vra Jack of hy saam met Robert kan ry.

“Die vroumense maak so ’n geraas in die motor,” voeg hy by.

Robert lag en wys dat hy moet inklim, maar Elize sien dat hy teleurgesteld lyk. Sy klim doelgerig agterin Henri se stasiewa en kyk nie weer na Robert totdat hulle gery het nie. As hy wou hê sy moes saam met hom ry, moes hy so gesê het, besluit sy beslis. Dis tyd dat hy begin duidelik maak hoe hy oor dinge voel; oor háár voel. Sy kan nie langer staatmaak op die teenstrydige dinge wat hy sê en doen nie. Een oomblik dink sy hy voel iets vir haar en die volgende oomblik is sy oortuig dat sy maar net een van sy duisende vriendinne is.

Dit is een van die dinge wat haar gedurig omkrap. As sy nie by hierdie gekkespul van rolprente betrokke was nie, sou sy nie so bewus gewees het van akteurs en hulle bewonderaars nie. En sy sterf voordat hy moet dink sy is verlief op hom!

En tog, een oomblik is sy sielsgelukkig omdat sy saam met hom is en die volgende oomblik betwyfel sy alles wat hy sê en doen. As hy van haar hou, waarom sê hy nie so nie? Waarom raak hy aan haar en trek dan weer weg? Waarom is hy nou liefdevol en teer en vyf minute later neutraal of selfs vyandig?

Sy weet nie. Sy kyk maar by die venster uit en sien hoe die landskap weer gelyk word en die berge deur die agterste ruit vervaag. Hef aan lê nog voor, dink sy skielik bedruk. Nou lê nog net die laaste en moeilikste skof voor en dan kan sy huis toe gaan, weg van al die kwellinge.

Christine le Roux Omnibus 4

Подняться наверх