Читать книгу Christine le Roux Omnibus 4 - Christine le Roux - Страница 6

Оглавление

Hoofstuk drie

Drie weke later sit Elize in ’n seilstoel, die draaiboek op haar skoot, en kyk hoe mense om haar werskaf. Mans op hoë lere verstel aan ligte, orals is drade en kameras en besige, bewegende mense. Sy sit in die sitkamer van ’n kleinerige woonstel in die ou huis wat Henri vir die duur van die verfilming gehuur het. Die idee is dat Anne ’n woonstel in hierdie ou huis het en dat Roy ’n nuwe intrekker is wat op die verdieping onder haar intrek. Die hele ou huis is dus in rep en roer.

Die hele span bly reeds die afgelope paar dae in die plaaslike hotel. Daagliks repeteer hulle en alhoewel ’n mens van al die aktiwiteit sou kon aflei dat hy reg is om te begin skiet, is dit glad nie die geval nie. Hulle gaan nog baie repeteer. Die een ding wat sy geleer het, is om geduldig te wees. Daar is ure van niksdoen vir elke paar minute van aksie.

Met Robert het sy nog nie veel gepraat nie. Hy daag presies betyds op vir elke repetisie en hy ken al sy woorde. Maar die oomblik dat hulle klaar is, maak hy verskoning, sit sy bril op en sit iewers in ’n hoek en lees totdat hy weer benodig word.

Henri maak hom los van ’n groep mense en kom na haar aangestap. “Nou toe,” vra hy, “is jy reg?”

“Ja,” sê sy en glimlag vir hom.

“Ek is bly,” sê hy en sit sy hand op haar skouer.

Sy kyk skielik bekommerd na hom. “Henri, weet jy regtig wat jy doen? Is jy nog nie spyt dat jy my hierin gedwing het nie?”

“Nee,” sê hy en skud sy kop. “Ek weet altyd wat ek doen.”

Oomblikke later is almal blykbaar tevrede met die beligting en Henri wys vir Elize dat hy wil begin. Sy staan op en die grimeerder kom vryf gou haar hare deurmekaar.

Elize haal diep asem en probeer haarself verander in Anne, die ongelukkige vrou wat doelloos deur haar sitkamertjie dwaal, ’n plaat opsit en haar naels staan en bestudeer terwyl sy somber deur die vuil venster staar. Daar is ’n klop aan die deur en Roy loer om die kosyn om kennis te maak.

Anne snou hom toe. Wat kom soek hy daar? Sy stel nie belang in die ander inwoners van die huis nie. Sy wil alleen gelaat word.

Hulle speel die hele toneeltjie deur totdat Henri sy hand ophou en almal afwagtend na hom kyk.

“Nee,” sê hy. “jy klink bloot verveeld, Elize. Jy is nie verveeld nie, onthou. Jy is kwaad. Jou privaatheid is iets wat jy soos ’n kokon om jou gespin het en jy is woedend as iemand daarop inbreuk maak. Jy moet hatig klink. Die laaste ding wat jy nou in jou lewe wil hê, is ’n vriendelike buurman wat wil kom kennis maak.”

Elize knik en hulle herhaal die hele toneel. Sy probeer bitsiger klink, maar sy kan self hoor dat dit maar flou is.

“Liz,” sê Robert Ryan koel toe Henri weer sy hand ophou, “jy is tog kwalik een van die nagvlinders van Hollywood. Jy is –”

“Moet my asseblief nie Liz noem nie,” sê sy koud. “Dit is nie my naam nie en dit is ’n verkorting wat ek haat!”

“Goed,” sê hy geamuseerd. “Maar wat ek wou sê, is dit: jy is tog ’n alleenloper. Hoe sal jý voel as iemand sommer een aand by jou instap om kennis te maak?”

“Dit hang af wie dit is,” sê sy kwaad. “As dit jý is, sal ek vanselfsprekend woedend wees.”

“Presies,” sê Henri en sy verbeel haar sy oë blink.

Hulle speel die toneel weer deur en hierdie keer swaai sy om met woede in haar oë toe Roy aan die deur klop en die deur sommer oopstoot. Haar onvriendelike woorde sny deur die klein vertrek en aan die einde glimlag Henri goedkeurend en knipoog vir haar. Teen die einde van die dag is hy doodtevrede en is die eerste paar minute op film vasgelê.

Elize is gedaan. Sy het altyd gedink sy werk hard wanneer sy elke dag in haar ateljee gesit en tik het, maar sy was nog nooit so emosioneel gestroop soos nou nie. Wanneer sy dink aan die liefdestoneel aan die einde, word sy koud. Maar sy is nou te moeg om verder daaroor te tob. Sy wil net in haar hotelkamer kom sodat sy kan bad en ontspan.

“Mooi,” sê Henri vir haar toe hulle loop. “Sien jy nou, jy kan dit doen!”

Terwyl sy in die bad lê, maal haar gedagtes oor hierdie vreemde nuwe aktiwiteit. Sy speel nie haarself nie. Sy is Anne, ’n karakter met ’n ander agtergrond, met ander emosies, ander probleme, en tog moet sy haar eie emosies en gevoelens uitstort voor ’n genadelose en afsydige kameraoog. Waaroor sy wel baie dankbaar is, is dat Henri ’n ongewone regisseur is. Hy skiet ’n rolprent in chronologiese volgorde, van die begin tot einde.

Sy was die eerste keer toe sy ’n voltooide draaiboek oorhandig het, verstom om te sien hoe dit opgesny word in losstaande dele wat heeltemal deurmekaar geskiet word. Sy het altyd gewonder hoe die spelers hulle gevoelens so kan rondskommel – vandag ’n toneel aan die einde en môre een van die begintonele. Vir haar wat so onervare is, sou dit ’n nagmerrie gewees het. Soos Henri dit doen, kan sy haar ten minste van begin tot einde in die karakter inleef sodat haar interpretasie saam met die karakter ontwikkel en opbou tot die klimaks.

Wel, dink sy moeg, sy hoop dit is soos dit sal gebeur. As die heel eerste toneel ’n hele dag geduur het, lê daar nog baie harde en uitmergelende werk voor.

Toe sy klaar gebad het en haar hare staan en borsel, word sy vir die eerste keer daarvan bewus dat sy baie honger is. Sy was te senuweeagtig om veel vir middagete te eet, maar nou kan sy ’n os opeet. Sy sluit dus haar deur toe en ry met die hysbak af ondertoe. Sy wou sommer reguit na die restaurant stap, maar sy hoor hoe iemand na haar roep en sien vir Henri wat saam met Lucy, Robert en die hoofkameraman by ’n tafeltjie sit.

“Kom sit hier by ons,” nooi hy en trek vir haar ’n stoel uit.

“Dankie,” sê sy en gaan sit. “Nee, ek wil niks drink nie, dankie.”

Lucy glimlag simpatiek vir haar. “Jy lyk gedaan. Het Henri jou gewoel vandag?”

Elize glimlag ook. “Nee. Dis net ek wat nie gewoond is aan die . . . die . . .”

“Die harde werk,” merk Robert op.

Sy ignoreer sy opmerking en vra Lucy uit na die kinders. Lucy en Henri het ’n unieke verhouding, en sy is altyd aan sy sy. Sy dring haar nooit op nie, sy meng nie in nie, maar as haar man aan die einde van ’n kwaai dag wil ontspan, is sy by hom. Die kinders, vertel sy nou, is doodgelukkig alleen by die huis saam met die huishoudster en sal die naweek by hulle aansluit.

“Dit sal lekker wees,” merk Elize op.

“Ja. Ek moet altyd keer dat Henri nie totaal versink in sy towerwêreld nie. Ek en die kinders sorg dat hy bewus bly van die werklikheid.”

“Ek is honger,” sê Henri en almal drink hulle drankies klaar. Maar net toe hulle wil opstaan om na die restaurant te gaan, kom twee van die tegnici na Henri en begin ’n lang en ingewikkelde gesprek. Lucy gaan lojaal weer sit, maar Robert kyk na Elize en lig een wenkbrou.

“Sal ons twee dan maar gaan?”

“Goeie plan,” sê Lucy hartlik. “Elize lyk vir my flou van die honger. Gaan julle solank. Ons kom so gou ons kan.”

Elize het nie eintlik ’n keuse nie en stap voor hom uit na die restaurant. ’n Paar mense draai om en staar hulle aan. Sy voel ongemaklik, veral omdat sy weet dat hulle nie na haar kyk nie, maar na Robert.

Hulle wonder seker wie die nuwe poppie by hom is! dink sy katterig.

Nadat hulle aandete bestel het, kyk hulle na mekaar en sy weet regtig nie wat om te sê nie.

“Bly jou meisie nie ook in die hotel nie?” vra sy.

“Watter meisie?” vra hy, terwyl hy ’n broodrolletjie oopsny en botter daarop smeer.

“Ek weet nie. Jy het mos altyd ’n meisie aan jou sy.”

“Regtig?” vra hy geïnteresseerd. “Ek het nie besef jy hou my so fyn dop nie.”

“Ek hou jou nie dop nie!” sê sy vererg.

“Waar kom jy dan aan die storie van die meisie?”

“Vergeet dit,” sê sy vies. “’n Mens sien altyd foto’s van jou en meisietjies wat aan jou hang.”

“Inderdaad!” sê hy kalm en sit terug sodat die kelner sy kos voor hom kan neersit. “As jy weer so ’n foto sien, moet jy vir my ook wys.”

Sy antwoord nie en konsentreer op haar bord kos. Dit lyk heerlik en sy is te honger om nou verder te baklei.

“Wie is jou agent?” vra hy skielik.

“Ek het nie een nie.”

“Waarom nie?”

“Waarom moet ek een hê? Ek kan my eie sake behartig.”

“Alle aktrises het agente,” merk hy droogweg op.

“Ek is nie ’n aktrise nie.”

“O, ek sien. Wat is jy dan?”

Sy lig haar wynglas op en neem ’n sluk. Sy wens Henri-hulle wil nou by hulle aansluit.

“Ek is ’n skryfster.”

“Natuurlik,” sê hy. “Ek het vergeet.”

Sy antwoord nie hierop nie. Sy hoop nie dit gebeur dikwels dat sy saam met hom moet eet nie. Dan bly sy liewer in haar kamer.

“Ek terg net,” sê hy skielik. “Ek het jou boek gelees. Dit is baie goed, té goed om te verfilm.”

“Jy is baie taktvol,” sê sy agterdogtig.

“Nee, ek bedoel dit. Soveel goeie boeke is al bederf deurdat swak rolprente daarvan gemaak is. Onthou, miljoene mense sien die rolprent en onthou dus net die swak weergawe. Jou boek word gelees en beoordeel deur mense wat dit kan waardeer, en hulle sal die goeie boek onthou sonder dat ’n rolprentweergawe dit bederf.”

“Ek het nog nooit so daaraan gedink nie,” sê sy en kyk verras op na hom.

“Is dit die enigste boek wat in Engels vertaal is?” vra hy weer.

“Ja.”

“Hoeveel het jy al geskryf?”

“Ses.”

“Waarom vertaal jy nie die ander ook nie?”

Sy haal haar skouers op. “Ek weet nie. Miskien doen ek dit eendag.”

“Jy klink so Amerikaans,” sê hy. “Maar Henri het my vertel dat jy eintlik Afrikaans is.”

“Dis reg,” antwoord sy.

“Is dit ’n moeilike taal om te leer?”

“Nee, ek dink nie so nie. Miskien is daar klanke waarmee jy sal sukkel.”

’n Rukkie lank eet hulle in stilte.

“Waarom bly jy in Amerika?” vra hy toe.

“Ek weet nie,” sê sy eerlik. “Ek sou aanvanklik net ’n paar maande lank hier gebly het, maar die een ding het na die ander gelei en . . . Ek was juis nou op pad terug toe Henri met sy verspotte voorstel gekom het.”

“Verspotte voorstel?” vra hy en glimlag.

Sy wens hy wil nie glimlag nie. Dis dan moeilik om nie van hom te hou nie. “Ja,” sê sy en knik. “Dit was ’n verspotte voorstel. Ek is nie ’n aktrise nie, en ek sal nooit een wees nie. Ek het net ingewillig omdat Henri dit so wou hê.”

“O, jy sal sien wat gebeur. Dis soos iets waaraan jy verslaaf raak. Hierna sal jy net wil toneelspeel.”

“Nee,” sê sy styf. “Dit sal nooit gebeur nie. Wanneer die rolprent klaar is, gaan ek huis toe. Jy is miskien verslaaf daaraan, ek nie.”

“Ek is nie verslaaf aan toneelspel nie,” sê hy skielik weer koel.

“Waarom doen jy dit dan? Ek dog jy is eintlik ’n boer van Colorado.”

“Ek is, ja. En ek het na die vorige rolprent besluit dis nou klaar, ek tree nou af.”

“En toe kom jy tog weer terug.”

“Om dieselfde rede wat jy aangevoer het, ja. Omdat Henri my gevra het. Ek weier nie graag wanneer Henri my vra nie.”

Sy haal haar skouers op en bestudeer die spyskaart asof haar lewe daarvan afhang.

“Vertel my van Suid-Afrika,” vra hy meteens.

Sy kyk agterdogtig na hom, maar hy lyk so opreg dat sy begin vertel van Nanette en die plaas aan die voet van die berge, van haar kinderdae en haar ouers se dood. Sy kan haarself nie keer nie en sy wonder waarom sy dit doen. Sy hou nie eers van die man nie!

“Ek sou dit graag wou sien,” merk hy op.

“Wat?”

“Jou suster se plaas.” Spottend voeg hy by: “Ek is mos ook ’n boer, of het jy weer vergeet?”

“Nee,” sê sy verward.

Wat wil hy van haar hê? Moet sy hom uitnooi om by Nanette-hulle te gaan kuier? Gelukkig kom Henri en Lucy die restaurant ingestap en die geselskap word algemeen. Sy en Robert drink koffie terwyl die ander twee eet en toe hulle klaar is, vra Henri of hulle wil saamgaan om na die eerste dag se werk te kyk.

“Nee dankie,” sê Elize dadelik. “Dit sal onhoudbaar wees.”

“Asseblief?” vra Henri pleitend. “Ek wil hê jy moet dit sien.”

“Maar ek is moeg.”

“Dit sal net ’n paar minute duur.”

Sy sug. “Waarom wil jy hê ek moet dit sien?”

“Sodat jy ’n idee kan kry hoe jy op die silwerdoek lyk; sodat jy meer selfvertroue kry.”

“Goed,” stem sy dan halfhartig in.

Lucy haak by haar in toe hulle loop. “Jy moenie dat Henri jou boelie nie,” troos sy. “Jy weet hy weet net hoe om sy sin te kry.”

Elize glimlag, maar toe hulle later in die klein, donker ateljee sit, vleg sy haar vingers inmekaar en voel hoe haar maag op ’n knop trek. Toe die rolprent begin draai, snak sy na haar asem.

Dis asof sy na ’n vreemde mens kyk. Wie is die meisie met die dooie oë wat so doelloos voor die venster staan en pluk aan haar hare; die meisie met die geboë skouers en die lewensmoeë uitdrukking op haar gesig; die meisie wat die man so bitsig verjaag en daarna net weer voor die venster staan en uitstaar? Sy herken haarself glad nie. Sy lyk langer as wat sy is, en sy bloos oor die halfoopgeknoopte bloes wat so slordig oor die slenterbroek hang. Henri het daarop aangedring.

“Ons gaan jou nie kaal uittrek nie, meisiekind,” het hy gesê. “Onthou, Anne is ’n vrou wat nie meer omgee hoe sy lyk nie. Sy sal nie eers omgee as sy poedelnakend daar staan terwyl ’n vreemde man na haar kyk nie. Sy gee eenvoudig nie meer om nie. Sy wil nie mooi lyk nie en nog minder begeerlik. Sy staan maar daar soos sy is.”

Voordat die ligte weer aangeskakel word, sê Henri: “Wonderlik! Ek het mos geweet jy is die regte meisie vir die rol.”

Elize staan op toe die ligte aangaan. Sy is bang iemand sien haar rooi wange en maak ’n opmerking daaroor. “Ek gaan nou terug hotel toe,” sê sy vinnig.

“Ek stap saam,” sê Lucy. “Ek weet die mans gaan nog ure lank herkou aan die ding.”

Sy haak weer by Elize in en saam stap hulle die entjie na die hotel.

Elize is dankbaar vir die donkerte en die koel aandlug, en sy praat nie veel nie.

“Nou toe,” merk Lucy vraend op, “is jy nie ook tevrede nie?”

“Ek weet nie,” erken sy eerlik. “Ek weet regtig nie wat om te dink nie. Dis alles vir my so vreemd.”

“Toe maar, dis net aan die begin. Henri is in die wolke en jy vertrou tog sy oordeelsvermoë?”

“Ja,” antwoord Elize sugtend. “En glo my, dis al wat my aan die gang hou.”

Lucy lag. “En onthou, dit sal algaande beter gaan. Jy voel nog ontuis in die rol van Anne.”

“Ek voel ontuis in die rol van aktrise,” sê Elize bitter.

Lucy druk haar arm gerusstellend. “Dit sal beter gaan.”

Elize gaan staan en kyk na haar vriendin. “Hoe kan dit? Ek het nou al nagmerries oor die einde!”

“Wat bedoel jy?”

“Jy het tog die draaiboek gelees?”

“Ja,” sê Lucy, “ek het.”

“Nou ja? Daardie laaste toneel . . .” Sy wring haar hande saam. “Ek en Robert kan nie eers in vrede gesels nie! Hoe op aarde gaan ek in ’n . . . ’n liefdestoneel teenoor hom speel?”

“Henri sal jou wys,” sê Lucy gerusstellend.

“Hy kan wys totdat hy blou is in die gesig,” sê Elize heftig. “Dis ék wat die toneel moet speel! Ek en Robert!”

“Jy is baie moeg,” sê Lucy en dwing haar om aan te stap. “Moenie jou nou al daaroor kwel nie. Henri het nog nooit iets gemaak wat afstootlik was nie en hy gaan nie nou begin nie. Hy sal daardie toneel orkestreer –” Sy lag. “Ja, ’n mens kan dit orkestreer noem – hy sal dit so doen dat dit pragtig sal wees. Die toneel waarna jy verwys, is in elk geval onontbeerlik. Dis noodsaaklik. Dis die ontknoping van die hele prent!”

“Ek weet, ek weet,” sê Elize ongelukkig. “Dis wanneer Anne finaal besef dat sy nie alleen kan voort nie, dat sy ’n ander mens die hand moet reik, dat sy hom geestelik en liggaamlik nodig het. Ek wens net dit was nie ek wat dit moes doen nie!”

“Jy is ’n ou pessimis,” terg Lucy. “Dit lyk my ons sal jou aanmekaar moet vertel hoe goed jy is, of anders raak jy sommer mismoedig.”

“Nee,” sê Elize verleë, “dis nie wat ek wil hê nie. Julle is darem nie hier net om my ego blink te vryf nie. Ag, vergeet dit. Hier is ons nou by die hotel; kom ons gaan slaap.”

Maar toe sy later in die bed lê, is sy nog wawyd wakker. Die dag was te vreemd, daar is te veel ongewone eise aan haar gestel.

Net toe sy wil insluimer, hoor sy ’n geneurie en sy sit dadelik weer regop. Dit klink asof daar iemand in haar badkamer is. Sy staan op en loop op haar tone deur die kamer tot by die deur van die badkamer.

Daar is niemand in die badkamer nie. Die geneurie kom van die kamer langsaan af. En dit klink na Robert. Dit maak haar op die plek weer woedend kwaad. Hoekom sit hulle hom in die kamer langs hare? Hoekom sing hy so laat in die aand nog? Waaroor sing hy? Sy is sommer lus en klop teen die muur en sê vir hom hy moet stilbly, hy hinder haar. Maar sy weet sy is verspot. Die man kan in sy badkamer doen net wat hy wil. Dis die bouers se skuld dat die mure so dun is. ’n Mens moes seker aangedring het op ’n klankdigte kamer.

Sy raak tog uiteindelik aan die slaap en die eerste helfte van die nag droom sy eienaardige, deurmekaar drome. Sy droom dat sy en Robert saam moet sing en dat sy vals sing. Hy raas met haar. Hy vertel haar dat sy soos ’n siek kanarie klink en sy word woedend. Boonop dring almal aan dat sy haar bloese heeltemal moet uittrek en dit ontstel haar nog meer. Uiteindelik raak sy die kluts kwyt en slaan die kameras stukkend, gooi lere onderstebo en word deur die polisie weggelei.

Sy word papnat gesweet wakker en loop badkamer toe om water te drink. Sy spoel haar gesig af en borsel haar hare in ’n poging om te kalmeer. Sy kyk na haar gesig in die spieël en tik met haar voorvinger teen haar beeld se voorkop.

Kyk, sê sy vir haar beeld. Ons moet ’n slag gesels. Jy is Anne, en ek is Elize. Ek spéél maar net jou rol. En Robert is Roy. Ons speel almal rolle. Dis alles net ’n speletjie. Ek hoef dus nie ontsteld te word nie. Ek speel my rol klaar, al hou ek niks van Robert nie, en wanneer alles verby is, gaan ek huis toe, na Nanette-hulle toe. Ek gaan weg van die hele ou spul en ek sal weer na berge en régte mense kan kyk.

En as hulle wil hê ek moet my bloese oopknoop of liefdestonele speel teenoor ’n man wat ek nie voor my oë kan verdra nie, doen ek dit.

Ek is nou Anne en as Anne kan ek enigiets doen.

Elize glimlag vir haarself en draai weg van die spieël. Sy kyk vir ’n oomblik by die venster uit en klim toe doelgerig terug in die bed. Môre is nog ’n veeleisende dag en sy het haar slaap nodig. Sy wat Elize is, mag nie Anne se uitbeelding bederf net omdat sy moeg is nie. Dis ’n werk wat sy moet doen en sy moet dit goed doen, soos sy geleer is as kind. Enigiets wat die moeite werd is om te doen, is die moeite werd om goed te doen . . .

Sy raak tevrede aan die slaap – ’n rustige, droomlose slaap.

Christine le Roux Omnibus 4

Подняться наверх