Читать книгу Toorbos - Dalene Matthee - Страница 4

1

Оглавление

In Oudebrandpad besef sy skielik daar is iewers ’n olifant in die ruigtes. Naby. Sy weet dit aan die loerie wat hoog in ’n boom begin sis en gorrel om die olifant te waarsku dat daar ’n mens met die sleeppad langs kom en hy homself roerloos moet versteek.

Miskien is daar meer as een. Maak nie saak nie, die wind is aan haar kant. Sy sal veilig verbykom.

’n Ent verder kom sy op die drie houtkappers af: die twee Van Huysteen-broers, Willem en Koos, en hulle ma se broer, Jan Zeelie. Die een so flenters en dik gelap van kleding soos die ander.

Hulle skrik en groet. “Karoliena!”

“Môre.”

“Die dikbene gaan jou nog trap, meisiekind!” waarsku ou Jan Zeelie.

“Ja, oom.” Sy hoor dit gereeld.

Tussen boomland en mensland is ’n brug waar jy soms sukkel om oor te kom – soos wakker word, maar jy wil nog nie jou oë oopmaak nie. Sy wou suutjies verby hulle geloop het voor sy in mensland kom, maar Koos spring voor haar in.

“Het die man jou gekry?” vra hy.

“Watse man?”

“Hy soek jou. Vername man in ’n strepiespak, sê hy soek graag dringend ontmoeting met Karoliena Kapp. Ry met ’n motorkar.”

Ou Jan Zeelie lag leegbek. “Ek gooi hom van jou spoor af, ek sê vir hom beste sal wees as hy onder in Langvleibos by jou ma, Meliena Kapp, gaan verneem. Dalk het dié jou gesien.”

“Watse man?”

“Hoe’t hy nou weer gesê?” vra Koos vir Willem en breek ’n stuk droë brood af. ’n Bottel met koue swart koffie staan tussen hulle op die grond. Bladsakke aan ’n boomtak. Drie oorkapbyle en twee sae staangemaak teen ’n boekenhout.

“Naudé, dink ek. Een of ander gesant van die goewerment.”

Naudé. Hy’t ’n paar dae gelede bo by ou Bothatjie by Jim Reid-se-draai ook na haar kom verneem. Sy’t hom goed deur die houtskreef in die voormuur van die plankhuisie betrag. Dikkerig, uitasem en besweet van die paar treë se klim onder van die hardepad af. Sy’t gebid dat die ouman dit nie in die kop moes kry om Naudé binne te nooi nie. Hy het die gewoonte gehad om skroomloos geleentheid te soek saam met al wat in ’n motorkar ry en soms ure geneem om weer te voet by die huis te kom. Kinderlik gelukkig oor motorkar ry.

“Die man sê hy’s vir groot sake in die bos, Karoliena.”

“As julle hom weer raakloop, sê ek soek nie ontmoeting met hom nie.” Sy wil wegkom, sy moet die houttreintjie haal om op die dorp te kom.

“Hy’t ons uitgevra na jou,” keer ou Jan Zeelie, vermakerig. “Gevra of ons jou ken.”

“Toe skinder julle seker lekker.”

“Hy’t ons elkeen ’n borriegeel appel gegee,” las Willem verskonend by. “Maar ons het nie gesê jy’t weggeloop van jou man af nie.” Met ’n rapsie spot. “Net gesê die weerlig het jou pa destyds in Gouna-se-bos doodgeslaan en dat ’n vonk jou ook moes getref het.”

“Daar’s ’n olifant agter julle in die ruigte, hy hou julle dop.” Die een gryp die brood, die ander een die koffie en die bladsakke.

“Jy lieg, jou klein wettertjie!” skree ou Jan en hink in die rigting van die naaste witels vir ingeval hulle moet klim.

Die houtkissie in haar hand is veilig teen haar lyf vasgedruk toe sy wegdraai en weer begin aanstap. Sy durf nie die treintjie mis nie, die motte moet op die dorp kom. Anna van Rooyen moet ’n kombers kry, die ouvrou rittel haar dood en dis nog nie eers winter nie. Die kerkverpleegster het wanneer al belowe om ’n plan te maak, maar kon nog nie. Daar is nie geld nie.

Vir watter belangrike sake was Naudé in die bos? Volgens mister Fourcade word daar glo rondgesnuffel agter die armblankes aan in die bos. ’n Kommissie van ondersoekers wat uit Amerika aangestel is om die houtkappers se verarming en ellende na te vors. Maria Rothmann van Swellendam is aangestel om met die vroue te kom praat. Wat te praat? Seker vrouesake.

Poor white. Sy haat die woord. Sy was nog op skool toe sy dit die eerste keer gehoor het. ’n Klap wat jou die modder instamp en jou skielik mindermens maak.

Omtrent ’n maand daarna het sy die spookding gesien. ’n Raaisel wat jou anders maak.

Dit was nie ’n verbeel nie.

Kort nadat die weerlig destyds haar pa doodgeslaan het, het haar ma haar dorp toe gestuur om by die kerkverpleegster se kamers te gaan skrikmedisyne vra. Haar ma kon nie weer op die voete kom ná die begrafnis nie. Groot begrafnis, baie mense agter die kis aan. Karel Kapp was ’n goeie man. Houtkapper soos sy pa en sy oupa gewees het. Haar ma sê: Vat sommer die houttreintjie tot op die dorp, vra slaapplek by nurse, en vat weer môreoggend die treintjie terug bos toe. Moenie te voet nie, dis Maart se maand en klam in die bos, die olifante is woelig; my lyf sal nie nog ’n dood oorleef nie. Jy, Karoliena is my enigste kind.

Lank voor daar spoor gebou is vir die groot trein van George tot op Knysna, is daar ’n smal spoor deur die dikbos gebou vir die houttreintjie van Knysna af tot bo in die bos by Diepwalle om die hout te kom laai sodat dit gouer by die saagmeul op die dorp kan kom. Ossewaens het te stadig geword. Tom Botha, die guard op die treintjie, laat nooit die houtkappers en hulle vrouens en kinders betaal solank hulle in die oop trokke op die vloer of op die hout sit nie. Maandae, Woensdae en Vrydae haak hulle so ’n bruinerige passasierswaentjie met ’n dakkie en venstergate en sitbankies aan die trein en moet jy 2/- betaal om in hom te ry. Daar’t dikwels vreemdes in mooie klere kom saamry om te gaan kyk hoe lyk ’n bos. Piekniekmandjies in die hand. Mense van die skepies af wat by die dorp geanker het om te kom hout laai, mense wat met die groot trein tot op die dorp gekom het. Die klein trein het die hout gaan haal wat op die groot trein oorgelaai is. Die groot trein kon nie die bos in nie. Of mense het met motorkarre gekom. Vername mense. Dan’t haar ma altyd gesê: Sit kleinlyf, kruip weg, moenie dat hulle ons so aankyk nie. Later het sy geleer om juis te sorg dat hulle haar aankyk …

Sy het skrikmedisyne gaan vra, slaapplek by juffrou Crouse gekry, en vroeg die volgende môre klein stasie toe geloop om die houttreintjie te haal. Daar was ’n fyn reëntjie aan die uitsak, die passasierswaentjie was reg agter die enjin aangehaak, ’n klompie leë trokke agter hom, twee leë trokke vóór die enjin – die stoot-trokke. Want met die terugkom was die leë trokke bo in die bos afgehaak en die vol trokke, swaar gelaai van die hout, aangehaak. Teen Kraak-se-hoogte, dorpkant van Veldmanspad, kry die enjin selde die helse vrag uitgetrek tot bo. Dan haak hy die agterste trokke af, stoot die twee voorstes tot bo, haak af, ry agterstevoor terug ondertoe, haak die agterstes aan en trek hulle tot bo, haak die voorste twee weer aan – en daar gaan hy! Hulle sê daar’s nie ’n man in die bos wat ’n span osse slimmer kan dryf as Tom Kennet sy houttreintjie nie.

Sy’t op een van die leë trokke agter die passasierswaentjie geklim en vas teen die houtreling gaan sit vir ’n bietjie skuilte. Maar toe kom Tom Botha, die guard, langs die spoor afgeloop en sien haar.

“Gaan sit in die coach, Karoliena, jy gaan papnat aankom op Diepwalle!”

“Dis niks, oom.”

“Luister as ek praat! Jy sien ons gaan met nommer 4 uit, ons gaan sukkel.”

“Ek het nie twee sjielings nie, oom.” Sy wou asseblief nie in die coach gaan sit nie, sy sou liewer natreën.

“Ek sal jou nie twee sjielings vra nie. Gaan klim in die coach!”

Tom Botha was ’n goeie man, maar hy was kwaai. Veral as hulle in natweer die dag met nommer 4 moes gaan hout haal in die bos. Daar was drie enjins wat die houttreintjie getrek het. Nommer 1 – hy was die Koffiepot en al ’n bietjie oud. Eintlik kon hy nog net trokke rondsleep op die stasiewerf, of goed oorvat na die ander kant van die dorp na die ander trein se stasie toe. ’n Groot trein, met groter wiele en ’n breër spoor. Vreemdes het soms van die houttreintjie se enjins kom kiekies neem, gesê hulle is mooi. Dan haal Tom Kennet sy skewe keppie af en staan met sy kaalkop ewe trots langs die enjin. Nommer 2-enjin kon eintlik ook nie meer uitgaan Diepwalle toe nie, ook te oud. Maar kon darem nog swaarder op gelykgrond sleep as nommer 1; meestal om te gaan hout wegbring na Parkes se saagmeul in die middel van die dorp; of oor die laagwaterbrug na Thesen se saagmeul op die eiland in die meer. Nommer 3 was baie sterk. Die probleem was nommer 4, die sterkste van almal, die een wat die bosmense sommer ou Olifant genoem het omdat hy in natweer altyd moeilikheid gemaak het. Glipvoete. As die spoor nat was, het sy wiele teen die hoogtes uit en om die draaie geglip soos ’n ding wat nie sy vastrap kon kry nie; dan moes die sandgooier op die eerste stoot-trok sy gooi ken om sand voor die enjin se wiele op die spoor te hou sodat ou Olifant weer kon vastrap. In natweer het hulle altyd ’n ekstra drommetjie sand opgelaai. Met die afkom, wanneer die trokke swaar gelaai was van die dooie boomlywe en boomarms, was daar gelukkig net twee hoogtes waar hy gewoonlik geglip het.

Soms het Tom Botha bygestaan vir die kiekies.

Sy wou nie in die coach gaan sit nie …

“Karoliena,” dit was Tom Kennet, die drywer, wat verbygekom het. “Het jy nie gehoor mister Botha praat met jou nie?”

“Ja, mister Kennet. ’Skuus, mister Kennet.”

Sy’t haar rokspante bymekaar gevat, haar been oor die reling gelig om een van die trok se ysterwiele voel-voel raak te trap. Mister Kennet het haar om die lyf geneem en afgetel. “Ek hoor jou pa het afgesterf, ek is jammer vir jou en jou ma.”

“Ja, mister Kennet.”

“Sy waenhout was altyd van die mooiste wat ons moes laai.”

“Ja, mister Kennet.” Sy wou nie in die coach ry nie. Sy wou nie oor haar pa praat nie. Sy was kwaad omdat hy dood is en ’n gat in haar agtergelaat het wat nie weer wou toegroei nie. Soos waar ’n groot boom afgekap is en die gat in die bosdak nie weer wil toegroei nie.

Haar pa was ’n grootboom. Eers nadat sy klaar oor hom gehuil het, het sy die aaklige gevoel gekry dat sy sonder skaduwee sou moes verder leef omdat sy nie meer ’n pa had nie. Dan huil sy in die nag. Wanneer haar ma vra waarom sy huil, sê sy haar maag is seer. Die diepseer oor haar pa wou nie woorde word nie.

Toe die seer nie wou weggaan nie, het sy vir haar ’n ander pa begin soek. Oom Gieljam van Gouna? Nee, sy voete was te skurf. Haar pa het altyd saans sy voete geskrop. Toe was oom Wiljam Stander van Veldmanspad vir ’n rukkie haar pa. Eendag staan sy en kyk hoe hy een van sy koeie melk, toe jaag hy haar weg, sê die koei wil nie sak nie, sy pla die koei. Haar pa sou haar nooit weggejaag het nie. Hy was kwaai, maar nooit ongeskik nie.

Drie rykmensvroue en twee rykmensmans met gesigte stralend van verwondering het reeds in die coach op van die bankies gesit. Piekniekmandjie ook. Een van die vername dorpsvroue was saam met hulle, maar sy was nie in verwondering nie.

Toe sy, Karoliena, op die verste bankie gaan sit, was die vreemdes se oë vraend op haar gerig; die een vrou het skuinskop en met haar hand oor haar mond iets vir die dorpsvrou gevra.

“One of the forest children,” het die dorpsvrou neus in die lug geantwoord en kliphard bygevoeg: “Poor whites. Enormous problem.”

“Shame,” het die vreemdes jammerstem gesê.

Armblanke.

Daardie jare het sy by Veldmanspad skoolgegaan en die volgende môre vir meneer Heunis gevra wat dit beteken. Wit mense wat baie arm is, het hy gesê. Armblankes. Soos die meeste houtkappers is. Nie dat sy nie Engelse woorde kon verstaan nie, sy wou net seker gemaak het. Al wat sy nie kon verstaan nie, was waarom sy so platgetrap gevoel het. Dalk was dit omdat hulle haar tot bo in die bos so ánders bly aankyk het. Asof sy ’n snaaksheid was. Toe nommer 4 buite die dorp teen Nekkies-se-hoogte uit die eerste glippe begin gee, het een van die mans opgespring, sy kop by ’n venstergat uitgesteek om te kyk wat aangaan. Toe hy sy kop intrek, was hy vol onrus en het vir die ander gesê dit lyk of die trein nie die opdraand kan uit nie! Vra ewe vir die dorpsvrou of sy reken hulle verkeer in gevaar? Nee, sê die vrou, sy dink nie so nie. Die houttreintjie was nog nooit in ernstige ongelukke betrokke nie – nie so ver sy weet nie.

Toe was al vyf die vreemdes met die koppe buite. Die mans druk hoede vas, die vroue hou kopsluiers wat om die hoede gebind is onder die kenne vas. Dan’s hulle weer binne. Lekker nat. Dink skynbaar sy verstaan nie ’n woord wat hulle sê nie. Die een man vra waarom die enjin dan in die middel van die trein gekoppel is, waarom nie heel voor soos by ander treine nie? Onnosel. He will have a word with the driver, sê hy en draai om na háár toe. “Young girl,” vra hy, “are you not scared?” Sy maak of sy hom nie verstaan nie, kyk net voor haar op die trokvloer vas. Die dorpsvrou sê: “They don’t understand English, very backward.”

Die motte moet op die dorp kom …

Toe sy by Ysterhoutrug uit die bos kom, staan die treintjie genadiglik nog by Diepwalle se stasie waar daar ’n gesukkel is om ’n helse kalanderblok op die agterste oop trok te kry. ’n Trok sonder kante. Die blok is massief en swaar, dit moes ’n reus van ’n boom gewees het toe hy nog geleef het; nie honderd van die sterkste houtkappers in die bos sou hom dáár opgerol kon kry nie. Hulle is besig om hom met twaalf osse teen oprolhoute te probeer uittrek. Osse is aan die een kant van die trok ingespan aan rieme wat oor die trok lê en om die blok aan die ander kant van die trok vasgewoel is. Freek Stander se span. Dis Freek wat self aan’t aanpor is. “Stadig, my manne, stadig!” Die osse se lywe bult van die beur. Freek piets die agterstes netjies raak met die sweep. “Bring hom! Hou hom!” Die blok begin klim … “Vastrap!”

Freek is lank nie meer ’n armblanke nie. Hy verdien goed met sy wa en osse en groentetuine by Ouplaas teen die dorp. Huurplotte. Goeie huis. Hy het twee van sy kinders laat leer vir onderwysers.

“Hou, manne, hou! Mooi, hy klim!”

Sy wil nie meer kyk nie. Sy loop agter die blok om en gaan klim op een van die waens waar sy sitplek bo-op die vrag boomlyke kry. Geelhout, ysterhout, kershout, stinkhout. Sy draai haar gesig na die bosrand toe. Dis Dinsdag, hulle haak nie Dinsdae die passasierswa aan nie. Dan’s dit net ’n houttrein.

’n Ou rooi-els staan vol in die blom op die bosrand met ritse lang wit blommetjies. Soos lag.

Bokant die dwarslêer-perron by die boswinkeltjie staan ’n vrou met ’n kind aan die hand en een op die arm teen die sinkmuur aangeleun. Sy lyk moeg. Houtkapper Jan Koen se vrou. Wag seker dat die trein moet vertrek voordat sy vir nog iets op die skuldboek by die winkel gaan vra. Winkel wat slaghuis en stasie en poskantoor alles onder een dak is. Houtkopers se winkel. Houtkopers se trein …

“Middag, Karoliena.”

“Middag, mister Fransen.” Diepwalle se stasiemeester, posmeester, winkelier, slagter – houtkoper se regterhand en spaai. Nie ’n splinter word uit daardie deel van Diepwalle se bos vervoer sonder sý wete nie. Brilletjie, boek in die hand.

“Daar was eergister ’n vreemde man by die winkel, hy soek na jou.”

“Watse man?”

“’n Naudé-man. Hy sê hy is op ’n belangrike sending deur die bos, hy spreek môremiddag die houtkappers op Kleineiland toe, dat hy by die kerkverpleegster van jou verneem het en jou graag daar wil hê.”

“Sê hy moet loop bars.”

Mensland is ’n deurmekaar plek. Sy woon lankal nie meer daar nie.

Ses maande na haar pa se dood is haar ma met Freek van Rooyen getroud. Vir ’n ruk het sy gedink sy het ’n nuwe pa gekry. Toe kom sy agter hy’s dom, hy kan nie eers lees nie. Haar pa was slim, hy kon lees. ’n Jaar nadat haar ma met Freek van Rooyen getroud is, het ’n olifant hom in Kom-se-bos doodgetrap. Ses maande later is haar ma weer met ’n Kapp getroud. Oom Cornelius. “As jou ma ’n ryk vrou was, was sy ’n mooi vrou, Karoliena. Mooie gesig, nes jy gelyk toe sy jonk was,” het die bosmense graag gesê. Toe het hulle Langvleibos toe getrek na die oom se drievertrek-plankhuis met ’n regte stoof in die kombuis. Maar haar ma het nie weer kinders gekry nie, altyd gesê God het die swaar vooruit gesien wat vir haar met één voorlê.

En oom Cornelius wou ook nie haar pa word nie. Hy was goed, maar nie soos ’n pa nie. Toe het sy besluit sy sal sonder ’n pa leef al het dit altyd ’n seerding gebly …

Sy sit die kissie met die motte op die stinkhoutstomp langs haar neer om haar hand te laat rus. Sy kyk nooit weer in die kissie nadat sy die motte gevang het nie, hoop maar net altyd hulle versmoor gou. Soms leef hulle egter nog as mister Ferndale hulle uithaal. Dan druk hy hulle vinnig met sy voorvinger en duim agter die kop dood en sê sy in haar hart ekskuus vir die motte. Alles in die bos en op die aarde het ’n prys. ’n Pond vir ’n mot. Drie motte, drie pond. Soms vang sy meer. Hang net af. En amper elke keer sê mister Ferndale weer dieselfde ou storie: Jy’t niemand van die motte gesê nie, het jy? Nee. Belowe jy sal nooit sê nie. Belowe.

Die motte is ’n geheim. Hy verkoop hulle oorsee en party stuur hy vir museums. Sê hy. Soms torring hy aan haar om meer te vang, dan sê sy nee, sy’t ’n ooreenkoms met die bome waar sy hulle vang: nie te veel op ’n slag nie. Dan lag hy en torring dat sy hom moet gaan wys waar sy hulle kry. Nee. Is sy séker hulle kom net tussen Februarie en April uit die bas? Ja.

Spookmot. Swift moth. Leto venus. Sy ken al die mot se name. Mister Fourcade het dit vir haar geleer. Slimste man van die bos, al woon hy nie meer in die bos nie maar iewers anderkant Plettenbergbaai. ’n Paar keer in die jaar kom hy plante versamel in Diepwallebos of agter by Gouna; sit hulle in sy plantkissies, skryf hulle name in sy boek. Dan spoeg van die houtkappers sywaarts en sê: Fourcade? Dis mos die blikskottel wat destyds vir die goewerment die bos in blokke kom uitmeet het! Plaas die olifante hom vrek getrap het!

Toorbos

Подняться наверх