Читать книгу Toorbos - Dalene Matthee - Страница 7
4
ОглавлениеDie tweede keer wat sy Johannes Stander gesien het, was hy ’n mooi lang man wat uit sy motorkar by Diepwalle se stasie geklim het.
Dit was skoolvakansie, mister Fransen het haar spesiaal die Woensdagoggend laat roep om saam met ’n man in die bos te kom loop – ’n man wat vir ’n koerant of ’n tydskrif oor die houttreintjie wou kom skryf. Meneer Speight. Wat kort ná twaalf die dag ligvoet van die trein spring by Diepwalle: sak oor die skouer, boek in die hand, kamera om die nek. Jonk. Kam se tandpaaie lê deur sy dikgeoliede hare. Toe mister Fransen hom aan haar bekendstel, druk hy haar vingers amper inmekaar en sê hy is van die South African Railways and Harbours se magazine, kan hulle asseblief onmiddellik begin stap? Sy tyd was ietwat beperk, die geleentheid wat hom terug dorp toe kom haal, sal teen eenuur se kant daar wees. Vir mister Fransen sê hy ewe ongeskik-reguit dat dit jammer is dat daar nie ’n gentleman was om hom te vergesel nie, hy’t ver gekom om die nodige inligting te kry.
Die stomme Salmal Fransen staan en rondtrap om die koerantman te verseker dat Karoliena Kapp ’n boskind is wat al vir baie mense die bos gaan wys het, dat hy geen twyfel oor haar bevoegdheid hoef te hê nie.
In haar hart het sy stilletjies gehoop dat die drie olifantkoeie wat die oggend vlak in die bos gewei het, nie haastig was nie …
Die koeie is weg. Ongelukkig. Die enigste teken dat hulle daar was, is die afgevrete boomvaringtoppe anderkant die eerste bosstroompie; nie ’n misbol waarmee sy die man kon beïndruk nie. Al wat hom bly verstom het, was die digtheid van die bos en dat daar vroeg-eeu gewaag kon gewees het om ’n spoorlyn deur só ’n woesteny te bou.
“Het jy enige idee hoe hulle dit vermag het, girly?”
Sy het nie gedink dis regtig ’n vraag nie, maar het hom nogtans geantwoord. “Hulle het ’n Sweedse ingenieur gekry om hulle te kom wys.”
“Weet jy miskien wat sy naam was?” vra hy en kyk haar verbaas aan.
“Nee.” Dit was iets soos Westfeldt, maar sy was nie seker nie. Buitendien, die koerantman het nie moeite gedoen om háár naam te onthou nie, sy was sommer net girly – iets waarvan die stert afgekap is, iets iewers benede hom.
“Dit moes ’n enorme taak gewees het!”
“Ja.” Die man het haar nukkerig gemaak.
“Asook uiters gevaarlik vir die konstruksiewerkers, neem ek aan. Wat van die olifante?”
“Meeste olifante het agter in Gouna-se-bos gaan wegkruip, eers agterna kom inspeksie doen.”
“Ek is nie hier om ’n storie te skryf nie, girly. Ek soek feite.”
Jy kan bly wees die koeie het anderpad gewei. “Die werkspanne moes dikwels in reënweer werk. Opvul, uitgraaf, dwarslêers op hulle plekke kry, die swaar ysterstawe daaraan vasspyker …” Van die ou houtkappers het as jongelinge by die spoor se maak gewerk en vertel dikwels hoe hulle met die spoortjie tot bo by Diepwalle gekom het. “Nie gewone spykers nie, haakspykers. Nie gewone hamers nie …”
“Los die konstruksie, girly, ek kan gaan oplees oor hoe ’n spoorlyn gelê word. Ek sou liewer meer wou weet van die gevolge van die spoorlyn. Byvoorbeeld, wat die skade is wat deur bosbrande aangerig word. Lokomotiewe gooi lewendige kole uit.”
“Nie hierdie nie. Elke enjin het ’n grootbek-vonkkeerder op die neus om die kole wat uitval te vang. Dis goewermentswet. Sodat daar nie ’n brand kan ontstaan nie. Dis goewermentsbos. Die land is baie verleë oor dié hout. Daarom het die wet ook bepaal dat daar aan weerskante van die spoor ’n tien voet breë strook kaal gestroop word van alle bome en onderbos. ’n Strook, 22 myl lank, van die dorp tot by Diepwalle. Een span het twee jaar lank net skoongekap. Wind het die res van die bome langs die kante omgewaai.”
“Wat bedoel jy?”
“Kom, laat ek die helfte van jou voete afkap, dan kyk ons hoe waai die wind jou om.”
“Daar’s nie tyd vir grappe nie, girly. Ek het gereël om by Diepwalle gehaal te word.”
Die volgende oomblik het hulle in ’n oop kol ingestap waar ’n stuk of twintig knielende boswerkers en houtkappers soos groot flentermolle aan’t rondkruip was. Troffels in die hand. “En dít?” het die Speight-man verbaas vasgesteek.
“Planters.”
“Watse planters?”
“Goewerment laat die oop kolle herplant waar dit uitgekap is.”
“Herplant met wat?”
“Pampoene.” Sy kon haarself nie keer nie.
“Wie’s die mense? Waarom lyk hulle so bedremmeld?”
“Dis maar hoe hulle lyk.”
“Dagsê, Karoliena!” het een ná die ander haar gewaar en gegroet. Uit die eerste omgevoude natsak het die toppies van klein stinkhoutboompies gesteek. Witpeerboompies uit die tweede sak, geelhoutjies uit die derde sak.
“Gaan hierdie goed groei, oom?” het sy vir die naaste man gevra. Sy’t hom aan sy gesig geken, houtkapper uit Gouna-se-bos. Oud. “Is hulle nie te klein nie?”
“Kan nie my traak nie, betaal my sjieling ’n dag om te plant.”
“Hoekom het julle nie grawe of pikke om deur al die boomwortels te kom nie? Vir wat die gesukkel met troffels?”
“Voorman sê dis goedkoopste manier.”
Die Speight-man was skielik haastig. “Kom, ek is nie hier om oor ’n plantery en poor whites te skryf nie.”
“Natuurlik nie.” Simpel ding.
Die houttreintjie was besig om uit Diepwalle se stasie te trek toe hulle uit die bosrand kom. Stadig, moeisaam – ’n donker monster sluipend die groen dieptes in met stapels dooie bome op sy rug.
“Ek verstaan die houtbedryf vorm die basis van die dorp se voorspoed,” sê die Speight-man. “Dat die saagmeule die grootste werkverskaffers hier rond is.”
“Ja. Maar jy kan spyt wees jy’t nie die treintjie terug dorp toe gehaal nie. Nommer 3 gaan nie vandag daardie vrag op een slag uitkry nie.”
“Kom, ek dink dis my geleentheid wat daar aankom. Ek sal die res van die inligting vir die artikel op die dorp kry.”
’n Motor het in die pad wat by die stasie verbykom, stilgehou en Johannes Stander het uitgeklim.
“Is jy nie …” sê hy vraend toe hy by haar kom en sy hand uitsteek om te groet.
“Ja, ek is.”
“ … Meliena Kapp se dogter nie?”
“Ja.”
“Ek het eenkeer jou en jou ma opgelaai.”
“Ja.”
“Jy’t groot geword, is jy toe hoërskool toe?”
“Ja. Jy onthou goed. Meneer Speight is haastig om op die dorp te kom, en ek moet huis toe.”
“Langvleibos?”
“Ja.”
“Ry saam, ek sal jou gaan aflaai.” Die manier waarop hy na haar gekyk het, die onverskuilde verbasing in sy oë, het haar die gevoel laat kry dat hy haar ’n bietjie langer by hom wou hou …
“Die pad is te sleg tot by die huis, maar ek sal bly wees vir ’n geleentheid tot by Petrus Brandpad.”
Toe hulle by die sleeppad se afdraai kom, wou hy haar nog steeds nie laat gaan nie en het haar voor die huis gaan aflaai – terwyl meneer Speight al harder agter in die motor gesteun het van die geskud en die oponthoud.
Toe hulle wegry, het haar ma met ’n ander soort blink in die oë bly staan en waai.
“Toe ek die kar sien kom, toe weet ek hier kom ’n ding. Maar ek het nooit kon dink dis dié ding nie …”
“Moenie spoke sien nie, Ma.”
“Ek sien die kar, ek spring, ek gaan maak myself presentabel – toe julle stilhou, toe’s ek reg. Johannes Stander sal nie kan sê hy’t jou voor hierjy se deur kom aflaai nie. Nou glad al ’n motorkar? Lyk my hy’s besig om ’n ryk man te word uit daardie ou winkeltjie van hom. Goed jy’t jouselwers vanoggend deeglik gewas en jou blou rok aangetrek, die man het jou behoorlik bly betrag. Nie die ander een nie, het jy gesien hoe trek hy neus op?”
“Moenie so oorborrel nie, Ma! Hy’t my bloot uit jammerte kom aflaai.”
“Jammerte lyk nie só nie, Karoliena. Hoor wat ek vandag vir jou sê. Vat daardie stukkie lap daar in die voorkamer se kas, loop na ant Martjie Salie toe by Veldmanspad en kyk laat sy vir jou iets nuuts aanmekaarnaai. Sê ek gee haar ’n goeie kooksel patats en die bosbok se boud. Johannes hou voor Sondag weer voor my deur stil, hoor wat ek jou sê.”
Hy het die Sondagmiddag gekom.
Maar Donderdag en Vrydag was eers twee bergwinddae wat soos ’n angstigheid in haar kom kriewel het. Toe die donderwolke die Saterdag oor die bos begin bol, kon niks haar keer nie. Sy’t in die pad geval Diepwalle toe – vir ingeval dit die dag was waarop die boomspook weer uit die kalander sou klim …
Drie keer tevore het sy gaan kyk op dae toe die weer gewees het soos daardie eerste keer. Bang dit sal weer gebeur. Bang dit sal nié weer gebeur nie. Dat dit destyds net verbeel was – al het sy geweet dit was nie.
Die vorige keer, toe die weer ook reg was, was dit gedurende die kort vakansie in April en amper tyd dat sy weer moes terug Wittedrift toe. Sy het die dag op haar hurke by die boom gaan sit terwyl die blitse die bos groenblink om haar bly slaan het. Toe die weer begin verbytrek, het sy kliphard en ergerlik in die kalander in geroep na bó: Word wakker! Ek weet jy’s daar binne! Word wakker!
Niks.
Behalwe die gevoel dat ’n boom besig was om van haar ’n swaap te maak – en die groot druppels om haar begin neerplof het. Die twee houtkappers wat onder van Gouna se kant af met die sleeppad langs gekom het, het met vraende oë by haar kom vassteek.
“Is daar fout, Karoliena?” het een gevra.
“Nee.” Oom Gieljam Botha en oom Daantjie Zeelie. In hulle beste klere soos vir kerk, nie in toiings soos vir gaan houtkap nie. Nie byle of sae by hulle nie. “Hoe’s oom-hulle dan so in die Sondag in plaas van in werksdag?”
“Moenie nog praat nie, Karoliena. Ons staan voor jou in moeilikheid waarvan ons nog nie eers die diepte weet nie.”
“Wat het oom-hulle gedoen?”
“Dis wat ons op pad is om te gaan hoor,” sê Gieljam Botha. “Die grootman oor die bos, mister Keet, het ons by name Diepwalle se bosboustasie toe laat roep om hom dringend te kom sien. Ek loop met ’n knoop in die maag wat nie wil skiet gee nie. Dis meer as ’n maand van ek die ou bloubokkkie onwettig in die strik gevang het. Vir wat nou eers?”
“Sê ek ook,” sit oom Daantjie by. “As dit nou een van die houtkopers was oor die vrag waenhout wat ek stilletjies van Gouna se kant af dorp toe gevat het om treingeld te spaar, kan ’n man verklaring kry.”
“Miskien is dit niks ernstigs nie, oom. ”
“Keet laat roep nie as dit nie vir groot sake is nie, Karoliena. Dalk het die Voorsienigheid jou vandag oor ons pad gestuur; ons hoor jy’s nou geleerd, jy skryf tot vir die manne magistraat toe as dit moet.”
“Ek kan ongelukkig nie namens oom-hulle vir meneer Keet skryf nie.”
“Maar jy kan saamstap bosstasie toe en gaan help uitluister …” Hulle was skaamteloos benoud.
“Meneer Keet sal vra wat ek daar kom soek, ek’s nie geroep nie.”
“Ek sal sê jou ma is my eie bloedniggie.”
Sy’t eintlik uit nuuskierigheid met hulle saamgestap.
Keet het die twee ou verskriktes buite voor die deur van die klipgebou ontvang. Hulle nie binnegenooi nie, hom weinig aan haar gesteur.
“Ek verstaan dat julle twee manne is wat hout kén,” sê Keet toe hy van die boonste trappie af met hulle kom staan en praat. Hy kon netsowel gevra het of hulle kan asemhaal. “Ek verstaan dat julle van die oudste houtkappers in die bos is.”
“Soos meneer sê.”
“Dan hoef ek julle nie vandag te vertel hoe belangrik die hout uit hierdie bos vir die staat is nie …”
“Nee, meneer.” Hulle was steeds onrustig oor iets; het gestaan en rondtrap soos kinders wat vir straf wag. Vir haar het dit meer geklink of meneer Keet draaie praat – dat hy maar nog net by die inleiding was.
“En watter hout, soos ons almal weet, is die koningshout in hierdie bos?”
“Stinkhout, meneer.”
“Presies. Stinkhout wat nie net ons sierlikste nasionale geboue verfraai nie, maar ook hoeveel vername geboue oorsee! Hoekom? Omdat dit van die uniekste houtsoorte op die hele aarde is en slegs in Suid-Afrika voorkom! Een van die allerduurstes.”
“Hoekom word ons wat hom kap en uitsleep dan so min vir hom betaal?” het oom Gieljam ’n bietjie durf herwin.
“Julle kry nog steeds ’n goeie prys vir eersteklas stinkhout.”
“Wat ’n man waar kry? Volgens die houtkopers kap ons net second quality – dis nou as die geluk ons die jaar help met ’n ou stinkhoutjie in ’n wêrrie.”
“Julle sal altyd iets kry om oor te kla, oom. Wat ek egter vandag aan julle wil openbaar, kan groot rampspoed vir ons houtbedryf wees, want dit het nou aan die lig gekom dat sogenaamde stinkhout by die tonne uit Brasilië ingevoer word vir meubels wat ten duurste op die mark gestoot word – wat direk met ons hout kompeteer.”
“Hoe nou?”
Toe draai meneer Keet om en gee een harde roep na binne: “Sampie, die hout!”
En Sampie die klerk kom met ’n moot hout onder die arm en lê dit op die onderste trappie neer. Mooi ligte-donkerige hout. Die twee ou houtkappers staan nader, bekyk die moot asof hulle eers wil seker maak dis nie ’n slang nie …
“Toe?” vra meneer Keet. “Watse hout sê julle is dit daardie?”
“Nou’t meneer ons vas. As daar ’n bassie aan was dat ’n man hom aan die lyf kon probeer uitken …”
“Is dit stinkhout?”
“Nee, nie stinkhout nie, daarvoor sal ons meneer ’n tjap gee.”
“Presies. Dít is van die sogenaamde stinkhout wat nou uit Brasilië ingevoer word.”
“Ag nee wat,” sê oom Daantjie met duidelike minagting, “dan’t hulle nog sleg gestain ook. Ons sou dit met muishondbostreksel baie beter gedoen het. As die houtkoper sê die stinkhout wat jy gebring het, is te lig van kleur, hy kan jou net ’n ligte prys daarvoor gee, kom lê ons hom net bietjie in die muishondbostreksel – ander week koop dieselle houtkoper dieselle hout vir donker stinkhout. En beter prys.”
Toe draai Keet na háár toe. “Juffrou, ek weet nie waaroor jy daar staan en lag nie, ek vind dit uiters steurend!”
“Ekskuus, meneer.”
Op pad terug huis toe sien sy mister Fourcade se motor van ver af aankom. Van die dorp se kant af. Sy waai sodat hy haar moet sien, want die blyste bly is altyd mister Fourcade.
En hy lag dat sy kop agteroor buig toe sy hom van die muishondbostreksel en die stinkhout vertel. Sien tot in sy keel, sy mooi geel tandjies; hy vee die lagtrane met ’n groot wit sakdoek uit sy oë wat nes ’n bloubok se ogies blink.
“Houtkappers? They’re brilliant people!”
Hy vra of sy haastig is om by die huis te kom? Nee. In haar hart sê sy: Moenie weggaan nie, bly eers ’n rukkie in die bos. Hy vra of haar ma nie onrustig sal word oor haar nie. Nee. Haar ma weet sy kom weer huis toe. Hy sê: You’re a very special child. Sy sê: En oom’s ’n baie special oom. Maar ek’s nie meer ’n child nie; as ek nou weer verjaar, is ek sewentien. Ek’s mos laat eers skool toe.
Altyd as hy kom takkies en blare en blommetjies en goed pluk om in sy plantkissie te bewaar, loop sy die dag saam met hom. Hy skryf hulle name in sy boek, maak soms ’n tekening, en sê hulle wérk. Hy leer haar. Sy’s slim. Anderdag raas hy weer met haar, sê sy let nie regtig op nie! Dan sê sy reguit sy traak nie regtig oor die bosgroeisels nie, sy traak net oor mister Fourcade. Dan gee hy haar hand ’n drukkie.
Hy ry die dag terug Diepwalle toe, verby Kalander, skud-skud in die sleeppad van Gouna se kant waarlangs oom Gieljam en oom Daantjie die oggend gekom het.
Sy vra vir hom wat van die houtkappers gaan word. Hy sê hy weet nie, maar hy is dikwels bekommerd oor hulle. Sy vra vir hom waarom hulle nie maar net meer betaal kan word vir die hout wat hulle kap nie. Hy sê: Karoliena, die lewe is oraloor die wêreld dieselfde. Omdat mense oraloor die wêreld dieselfde is. Glo my. As ek iets het wat jy graag wil hê, kyk jy vir hoe min geld jy dit by my kan kry, sodat jy die volgende man wat dit weer by jou wil koop, heelwat meer kan vra. So hou dit aan.
“Eintlik sê oom die houtkappers gaan nie meer geld gegee word nie.”
“Nee, daar sal ’n ander plan bedink moet word om hulle tegemoet te kom.”
“Wat sou oom met hulle gemaak het? Oom is slim, oom moet iets dínk!” Sy wou regtig weet.
“Moenie jou oor grootmensdinge kommer nie, Karoliena. Kommer oor jouself. Goewerment het groot sê, mense het klein sê. Die beste is om na jou eie hart se sê te luister.”
“Waar’s oom se sê?”
“Witelsbos.”
“Die houtkappers het nie sêplek nie.”
“Ek weet.”
“Jissus, oom!”
“Dis nie nodig om te vloek nie, Karoliena.”
“Oom Cornelius het ook by die planters gaan inval. ’n Sjieling ’n dag. As ek net die koshuisgeld wat die Kerk my gee vir my ma kan vat, sal dit beter gaan met hulle. Dan hoef ek nie weer Wittedrift toe te gaan nie.”
“Bly in die skool.”
“Een van Gouna se houtkappers het laas maand skelm ’n stinkhout in die goewerment se reserve by Lelievlei gekap, toe vat die boswagter die hout en sleep die oom na die magistraat. Toe kry hy tien pond boete, toe het hy dit nie, nou moet hy vir ’n maand padklippe kap. Ander gee sy huismense kos. Hoekom lag oom?”
“Sommer weer vir die muishondbostreksel. As die goewerment nie jare gelede die deure so dig gesluit het vir die houtkappers om te keer dat hulle sakemanne word nie – liewers die bos in klein stukkies aan hulle verkoop het sodat hulle self kon leer om nie die bos onder hulle eie voete uit te kap nie, en self die hout behoorlik te bemark – sou dinge anders verloop het. Selfs vir die bos. Die goewerment bekommer hulle nie werklik oor die bewaring van die bos nie, alleen oor hoeveel hulle daaruit vir die staatskas kan maak. Hulle sal vinnig hierdie ingevoerde kamma-stinkhout laat uitroei, en sorg dat die egte stinkhout van die bos koningshout bly.”
“En die houtkappers?”
“Ek dink nie die goewerment is heeltemal sonder plan nie, Karoliena. Daar word nou gedink om ’n ouderdomspensioen in te stel …”
“Aag! Baie van hulle is al so oud, hulle weet nie eers meer wanneer hulle gebore is nie. Die goewerment wil bewys hê. Oom Cornelius sê die goewerment bly maar hoop hulle slaan dood neer van moeg.”
“Genoeg, Karoliena!” Asof hy haar mond toedruk.
Toe stop hy die motor om die ander mister Fourcade te word: slu ou bosbok met ’n menskop.
“En wat soek ons vandag?” vra sy toe hulle uitklim. Soos om saam met hom te begin speel, deur ’n hek te glip waar geen houtkapper of goewerment of Wittedrift of armblanke kan agterna nie!
“Ons hoop om vandag iewers aan ’n geel- of ’n kershout ’n paar orgideë te vind, want hulle behoort te begin blom het. Boomorgideë. Hulle neem niks van die boom waarop hulle groei nie, net vashouplek.”
“Dan’s ek mister Fourcade se orgidee want ek vat niks van oom nie. Net soms vashouplek.”
“Almal het vashouplek nodig, Karoliena.” Het sy haar verbeel, of het die ouman hartseer geklink? Seker nie, want hy het weer die orgideë bygesleep. “Oral deur die bos leef hierdie blomtuine in die lug – klein en perfekte orgideetjies, meesal hoog in die bome waar ons hulle nie van naby kan sien nie. Soms tot twintig aan ’n stringetjie. Ons noem hulle epifiete.”
“Ek het nie vandag lus vir hoë woorde leer nie.” ’n Ander ding het skielik in haar kop begin inval …
“Moenie luikop wees nie, Karoliena.”
Sy het skielik geweet sy kom nie deur die hek nie, die houtkappers staan in die pad. “Oom, ek is deurmekaar!”
“Hoekom?”
Sy was te bang om dit te sê. Dat sy nie geweet het dat sy eintlik lankal ’n ander pa gekry het nie. Mister Fourcade was haar pa, sy het dit nog net nie besef nie! Toe sê sy sommer ’n ander ding: “Die houtkappers kap die bos dood, die bos maak die houtkappers dood. Nou begin hulle die ooptes in die bos herplant sodat hulle dit weer eendag kan doodkap.”
“Liewe kind, moenie jou vasdink in mure nie. Hou jou oë oop vir jou eie uitkoms in die lewe. Daar sal vir die houtkappers uitkoms wees. Vir die bos ook.”
“Hoe? Wat?”
“Wanneer dit amper te laat is, begin mense altyd wakker word. Ek verneem dat hier reeds voorlopers van die Carnegie-kommissie in die bos beweeg.”
Simpel antwoord. “Wat is die snaaksste iets wat oom al in die bos gesien het?” Sy had weer ’n pa, daar was weer skaduwee oor haar kop.
“Jy het my die vraag vantevore al gevra, Karoliena.”
“Ek weet. Iets snaakser as ’n orgidee.”
“Nee, nie iets snaaks nie. Net iets mooi en perfek soos Mystacidium capensa.”
“Ek het nie lus vir hoë name nie!”
“Jy is koppig vandag, Karoliena. Wat pla jou?”
“Ek wil nie terug skool toe gaan nie! Ek wil nie meer ’n armblanke wees nie!” Sy wóú dit vir hom sê. Sy moes die woorde uit haar lyf uit kry.
“As jy nie meer ’n armblanke wil wees nie, moet jy teruggaan skool toe.”
“Almal wil my met ’n ketting aan die skoolhek vasmaak!”
Hy’t hom nie regtig gesteur nie. Net sy hand uitgesteek na die kwar voor hom en liggies geraak aan die lang stringerige vetplant wat uit die bas rank. Mystacidium capensa, sê hy saggies – kompleet asof hy die simpel ding met sy vingerpunte doop.
Daar was nie eers ’n enkele blommetjie aan nie.
Net in haar hart het dit geblom. Mens moet ’n pa hê …