Читать книгу Toorbos - Dalene Matthee - Страница 5

2

Оглавление

Mensland.

Waar sy met die motte by juffrou Claassens, die nuwe kerkverpleegster, se kamers herberg kry. Soos altyd. Juffrou Crouse, die vorige verpleegster, het op ’n dag nie verder kans gesien om onder die houtkapper-gesinne te werk nie. “Dit neem my ses maande en langer om by die ergste gevalle uit te kom, ek loop my voete op. En vir wat?” Toe pak sy haar goed en gaan klim op die groot trein. Weg.

Amelia Claassens is nog moedig.

“Dis goed om jou te sien, Karoliena. Jy weet nie hoeveel nagte ek my troos aan die gedagte dat jy ’n ogie hou oor die mense daar bo in julle deel van die bos nie.”

“Moenie te gerus raak nie, daar’s menige nag wat ek my voorneem om nooit weer ’n voet op ’n bos-eiland te sit nie. Daar’s nou nog tweehonderd ses-en-veertig houtkappers oor, ou Jan Tait is laas week dood. Kiertsregop langs ’n kershout gesit en sy asem uitgeblaas, hulle sê die byl was nog in sy hand. Hy en die twee oudste seuns het dwarslêers duskant Kalanderdraai gekap.”

“Hoe gaan dit op Swart-eiland by Marta Barnard se huis?”

“Ellendig. Sy het my weggejaag, ek het gedreig om daardie klomp maergat katte te vang en in ’n sak te stop en in die rivier te gaan gooi.”

“Mevrou Stopforth wat op Suurvlakte skoolhou, sê al meer kinders kom bedags sonder kos skool toe. Nie eers droë brood of patat nie. Sy gee waar sy kan, maar sy het nie altyd om te gee nie.”

“Ja, die winkel wil nie meer skuld gee nie. Moet vir party tot die houtliksense se geld ook voorskiet.”

“Daar’s kinders by mevrou Stopforth in die skool wat van so ver as Millwood af kom. Dis ses myl heen en weer se stap, en dis amper al weer winter. Hulle kleding is so karig. As dit koud en nat is, kom hulle verkluim by die skool aan.”

“Is daar nie iemand wat kan brei nie?”

“Waar moet hulle wol kry? Wat het van die Zeelie-dogter op Veldmanspad geword?”

“In huisdiens hier op die dorp. Die byverdienste help. Toon Barnard se oudste seun – die een wat uitsleper in Gouna-bos was – is weg Port Elizabeth toe. Hy werk in ’n fabriek wat motorbande maak.”

“Van die ongeregistreerdes kry darem werk. Twee meisies van Suurvlakte is ook Port Elizabeth toe, na ’n klerefabriek. Jy sal hulle ken: twee van die Tait-susters. Dominee het baie moeite gedoen om vir hulle die werk te kry.” Amelia laat sak haar kop tussen haar hande. “Ek weet nie wat gaan word nie, Karoliena. Armsorg het net nie die nodige fondse om oral te help nie. Daar kom nie lig nie.”

“Dalk is lig op pad, ek hoor daar word rondgesnuffel in die bos agter die armblankes aan.”

“Ja, dominee is ’n hele span verteenwoordigers te wagte. Hy sal van hulle na die blyplekke in die bos moet vergesel. Hy sê dit gaan nie maklik wees nie, hulle tyd in die bos gaan taamlik beperk wees.”

“Mensliewers kom jaag al jare deur die bos, Amelia. Kom met ruim harte, hol haasvoet weg van skrik en loop sê dis die olifante wat hulle gejaag het.”

“Haai, sies, Karoliena, jy spot – maar dit is tog goed om iemand ’n slag te hoor lag.”

“Ek lag lankal.” Sy sien die skok oor die goeie vrou se gesig kom en gaan luiters voort. “Ampie Stroebel en sy neef, Jakobus, is week voor laas saam met die groot trein weg na goewermentsgrond iewers bo in die land, Magaliesberg. Word glo van ’n kamer en ’n plotjie grond voorsien waarop hulle moet grondbone plant en oes.”

“Die goewerment doen wat hy kan, Karoliena!”

“Ja, met die een hand broei die goewerment al die onheil uit, met die ander hand paai hy waar hy nie anders kan nie.”

“Hoe kan jy so iets sê?” vra Amelia geskok.

“Mister Fourcade sê so. Die land moet hout hê, baie hout. Hout groei in die bos, iemand moet dit kap en uitsleep. Harde werk. Vir wie? Die houtkappers. Nie die houtkopers nie, hulle is te ryk en vernaam. En hoe bly die houtkappers aan die kap? Die kopers hou hulle arm. Goewerment traak nie regtig nie, hy wil net die hout hê. Paai so dan en wan die houtkapper met ’n ekstra boom om te kap, maar in werklikheid is die goewerment lankal moeg van hulle gekla. Dis net dat die goewerment nog nie ’n plan kon bedink om die klompie wat oor is uit die bos te kry nie. Of ’n manier bedink kry om self die hout te laat kap nie. Staan jare lank al nie meer kapliksens toe aan nuwe kappers nie. Maar die oues wil nie vinnig genoeg dood nie, hulle is te taai.”

“Karoliena! Jy sê gevaarlike dinge. Dominee sê die kommuniste is die adder wat besig is om onder ons in te seil.”

“Dominee weet nie waarvan hy praat nie.”

“Dis g’n wonder mense kla jy maak moeilikheid in die bos nie.”

“Dis nie waar nie, dis my mond wat nie wil toe bly vandat my oë oopgegaan het nie.”

“Ek het Johannes gister by die winkel gekry.”

Sy’t geweet Amelia Claassens wag kans af om by Johannes Stander uit te kom. ’n Klip te gooi. “Hoe gaan dit met hom?”

“Hoe dink jy gaan dit met ’n man wie se vrou bly wegloop? Hy’s ’n goeie man, Karoliena. Ek dink nie jou oë het oopgegaan nie, hulle is eerder met blindheid geslaan!”

“Dis tyd dat jy weer by ou Elmina Vlok op Barnardseiland ’n draai maak en gaan kyk hoe eenvoudig ’n wonderwerk soms is. Sy hou nou selfs die huis beter aan die kant.”

“Moenie die onderwerp verander nie.”

“Daar is nie ’n onderwerp nie. Kom ons gaan slaap, ek moet vroeg op.”

“Hoe oorleef jy in die bos, Karoliena? Mense praat.”

Toe die houttreintjie die volgende môre uit die stasie trek, is daar sewe vreemdes in die coach. En sy. Ook Anna van Rooyen se kombers, ’n pak wol en breipenne, ’n sakkie tabak vir ou Bothatjie en £1.8s.6d in haar sak.

Die vreemdes in die coach is woelig soos losgelate kinders: een oomblik hang hulle deur die venstergate aan die meerkant, dan weer aan die boskant. Vra die gewone vrae wat vreemdes deur die jare vra: Wanneer kom ons by die koningskind, George Rex, se graf? Hulle sê dis net buite die dorp.

Nog ’n entjie.

Wanneer kom ons in die bos?

Die trein moet eers bo by Bracken Hill goed aflaai.

Is dit waar dat die trein soms ’n olifant doodtrap?

Nee.

Sal ons ’n olifant sien?

Nee.

Hoekom nie?

Olifante kruip weg as hulle die trein hoor kom.

Sal ons van die bosmense sien?

Miskien.

Is dit waar dat hulle wilde mense is?

Nee.

Soms gesels sy met die vreemdes, soms gee sy net die antwoorde.

Die meeste pret was om in die vakansies, toe sy nog skoolgegaan het, aspris die treintjie by Diepwalle se stasie te gaan inwag. Met haar oudste rok aan, hare ongevleg sodat sy wilder kon lyk, kaalvoet. Trek haar gesig op die vriendelikste. Help met die piekniekmandjies, verseker hulle dat die trein ten minste twee uur gaan vertoef om die houttrokke aangehaak te kry. Engels en Afrikaans deurmekaar. Ja, daar is plek in die bos waar hulle sal kan piekniek maak. Is dit gevaarlik? Baie gevaarlik. Soms het van die vreemdes dan verskrik teruggespring in die trein en die hele twee uur daar bly sit. Die beste kere was as hulle haar gevra het of sy saam met hulle die bos sal in en wys waar hulle in veiligheid kan gaan piekniek maak.

Dan het sy haar lyf krom gemaak en sulke lang stadige treë gegee om hulle met die voetpad langs die helse ruigte in te neem. Sy het gedurig bly rondkyk soos een wat gevaar te wagte was, en omgekyk om vas te stel hoe bang die gesigte agter haar al is. Sy het elke oomblik van die speletjie geniet. Lekkerste was die dae as ’n loerie naby hulle met sy harde roep begin kok-kok-kok en hulle ’n groot skrik ingejaag het.

“Wat maak so?”

“Toemaar, dis net ’n loerie, hy sal niks maak nie.” Geluk was as ’n groenlyfloerie rooivlerk van boom tot boom gesweef het sodat hulle hom boonop kon sien ook, en oopmond van verwondering vasgesteek het.

Dan loop sy met hulle dieper die bos in tot by die ou groot stinkhoutboom waar die twee stompe lê waarop hulle kon sit en die piekniekgoed uitpak. Die lekkerste snytjies brood met botter en konfyt op. Gekookte eiers. Frikkadelle, stukkies tamatie. Partykeer sulke lekker dik skywe vleis of ’n gebraaide hoender. Koekbroodjies. En van alles gee hulle haar ook te ete. ’n Fees. Vra haar uit na die bos, die olifante, die bosmense. Na haarself. How old are you, dear girl? Twelve, antie. Luister geskok hoe sy hulle belieg en sê sy is een van twaalf kinders, die enetjie gebreklik. Nie dat dit regtig lieg was nie, sy’t sommer van die bosmense geleen wat oral in die ooptes in die bos gebly het om voor te stoot.

“Waarvan leef julle arme mense?”

“Meesal van brood en patats.” Dan gee hulle haar al die orige kos. En dikwels nog ’n sjieling of twee ook.

Sy sê nie dat elke houtkapper se geluk vir ’n vleiskossie ’n bosbok in gister se strik is nie. Of ’n bloubokkie, of ’n wildevark en van die groentetuine vir huiskos nie.

Maar daar was ook dae wat sy banger was as die vreemdes. Soos die dag toe die twee Engeland-vroue en hulle mans – ewe ’n bediende ook by om die witgestyfde tafeldoek oop te gooi en te dek – “aansit” om te eet. Vra nie háár, Karoliena, om saam te eet nie. Pik met silwer vurkies en opkrul-pinkies aan die heerlikhede asof dit niks is nie. Sit in bevreemding oor die bos; verkyk hulle aan die oranje swamme wat uit die dooihoute groei, ’n halfmaan rooiswam uit ’n boomstam, bruin en room streepswamme so groot soos borde aan die koeltekant van die bome; paddastoele op dun beentjies wat opstaan uit die blarevloer, die varings – sê dis magic, ’n fairyland …

Spatseltjies son val oral deur die blaredak oor hulle lywe, oor die kos, oor die vroue se blink boste hare in bondels op hulle koppe vasgetoor en laat haar wonder hoe dit moontlik is dat ’n mens só mooi kan wees? Die fynste kantjieskraag-bloesies, pêrels om die halse …

Toe sien sy die groot swart kol agter hulle in die skemer ruigtes en haar hart begin te doef-doef. Olifant. Roerloos. Nee, twee olifante, want daar was nog ’n donkerder kol na die suidekant toe. Net die week tevore het ouvrou Perkes by die stasiewinkeltjie haar gewaarsku: “Karoliena, jy moenie die vreemdes so diep die bos in vat nie, dis gevaarlik! Die dikbene gaan hulle trap, hulle gaan verdwaal.” Sy trek skewebek agter die ouvrou se rug en sê: “Aag, antie is net jaloers omdat antie te bang is om hulle bos-in te vat en nie van die lekkergeite kry nie.”

“Ek het vir jou ma gesê jy’s ’n onmanierlike maaksel!”

Daardie tyd was haar ma al met oom Cornelius Kapp getroud en woon hulle in Langvleibos, aan die oostekant van Diepwalle. Haar ma is te bly oor die vreemdes se kos waarmee sy soms by die huis kom. Vir die sjielings ook. Deel uit aan die ander houtkappers se huismense.

Sy sê vir die Engelanders hulle moet klaar eet, die trein gaan nie vir hulle wag nie. Die een man haal ’n horlosie aan ’n lang goue ketting uit sy sak, hy sê volgens sy berekening is dit nog ’n uur voordat die trein weer vertrek. Toe sis ’n loerie benoud bo hulle in die bome en begin gorrel. Sy skree vir die loerie om die olifante te gaan sê om asseblief nie moeilikheid te maak nie. Die vreemdes lag, hulle vra of sy miskien met die bome gepraat het? Ja, sê sy, die bome sê hulle moet uit die bos, daar’s mis op pad.

Loerie sis, loerie gorrel.

Die Engelanders vra: Wat het daardie vreemde suisgeluid gemaak? Sy sê dis die voël daar bo in die boom, hy sê ook hulle moet padgee. Kan sy voëltaal praat? Ja. Kan al die wilde mense van die bos voëltaal praat? Ja. Veral dáárdie voël se taal.

Die bediende in sy stywe wit pak begin “afdek” – alles terug in die groot rottangmandjie; gee haar nie ’n krummel nie. Net voor hulle op die trein klim, gee die een man haar darem ’n sikspens.

Toe sy by die huis kom, sit oorlede oom Freek van Rooyen se suster by haar ma in die voorvertrek en vee nuwe trane af oor haar broer wat die jaar tevore so doodvermorsel is deur ’n beneukte olifant in Gouna-se-bos.

Sy klim by die tweede laaste stasie van die trein af; ry nie tot bo by Diepwalle nie. Tom Botha is ook op die grond.

“Hoe gaan dit, Karoliena?”

“Goed, mister Botha.”

“Vir wie’s die kombers?”

“Anna van Rooyen.”

“Ek hoor sy staan nie meer uit die bed uit op nie.”

“Nee, haar bene het nou heeltemal ingegee.”

“Ek sê vir mister Kennet ek weet nie wat in hierdie bos gaan word van die mense nie, lyk my dit gaan net al meer agtertoe. Gaan jy saam tot by Diepwalle? Ons moet nog drie trokke haak.”

“Nee, ek moet eers dinge hier op Veldmanspad doen. Anna se kombers gaan oorgooi.”

“As daar net meer goeddoeners soos jy was, Karoliena.”

“Ek is niemand se goeddoener nie, mister Botha. Net my eie.”

Woorde, woorde. Om nie te sê dat sy eintlik wou kortpad vat Kleineiland toe om te gaan hoor wat daar gepraat word nie. Sy moet net eers by Anna van Rooyen aangaan.

Boshuisie van plank en sink op die rand van die bos – soos baie ander boshuisies. Moeg van staan, moeg van leef; met ’n eensaamheid wat soos mos aan hom kleef. Drie hoenders, ’n vark voor die deur, drie snotneuskindertjies, hulle ma wat lusteloos in die voorste vertrek in ’n ou stoel skeefgekantel sit. Anna se skoondogter, Fransina. Skaars dertig. Die man, Martiens, Anna se seun, is iewers in die bos.

“Klop jy nie?” vra die skoondogter nukkerig toe sy die voordeur oopmaak nadat sy die vark uit die pad geskop het.

“Nee. Ek het die kombers gebring.” Grondvloer. Klam. Rofgemaakte katel in die hoek, bondels beddegoed, kleiner bondels in die venstergate gedruk om die lig en die lug buite te hou; ’n tafel, twee stoele, rommelgoed, kitaar aan ’n tou teen die muur. Armoede hang soos ’n slegte reuk in die lug. Sy kyk, maar sy sién nie.

“Ma slaap.”

“Wanneer is hier laas aan die kant gemaak? Wanneer was daardie kooi laas opgemaak?”

“Luister hierso, Karoliena Kapp, moenie in my huis kom bek gooi nie!” Fransina spring uit die stoel uit op, vererg. “As jy iets te sê het, loop sê dit in die spieël vir jouself en loop soek liewerster jou man waar jy hom weggegooi het. Of is ou simpel Bothatjie beter as die ordentlike Johannes Stander?”

“Is dit jy, Liena?” roep die ouvrou uit die tweede vertrek.

“Ja, antie, ek kom.” Die tweede vertrek is nie beter as die eerste een nie, net donkerder. Twee katels, Anna van Rooyen op die een, bondels op die ander een. “Ek het die kombers gebring.”

“Die Here seën jou, kind. Dankie. Met my hele hart. Waar’s Fransina?”

“Binne. Ek moet loop.”

“Moenie. Sê Fransina moet jou ’n patat breek.”

“Ek is haastig.” Sy wil wegkom van mensland se agterstoep af.

Fransina wag haar uitdagend in die voorvertrek in. “Moenie dink jy kan hier …”

“Kan jy brei, Fransina?”

“Wat brei?”

“Ek vra of jy kan brei.”

“Met wol wat ek waar moet kry?”

“Met wol wat ek jou gaan gee. Jy moet netjies brei!”

“Met penne wat ek waar moet kry?”

“Wat ek jou gaan gee. Twee sjielings ’n truitjie.”

Sy sien die ongeloof in die vrou se oë kom. Die hoop …

Buite in die pad asem sy die klam boslug diep in haar lyf in.

Net waar sy moet wegdraai Kleineiland toe, staan nog ’n huisie teen die rand van die bos. Houtkapper Salie van Huysteen en sy vrou Martjie se drievertrekhuisie gemaak van bossies oor ’n paleraamwerk, oorgepleister met getrapte klei. Sinkstoepie aangelap. ’n Vriendelike huisie met ’n geil groentetuin aan die een kant, blommetuintjie voor die deur. En Martjie by die houthekkie, bly om haar te sien.

“Karoliena! Mens, jy’s skaars! Hoe gaan dit?”

“Goed, ant Martjie. Waar’s oom Salie?”

“Kleineiland toe, die bosmanne is opgeroep vir vergaar. Here sal weet wat dit nou weer is. Het jy gehoor van die melk?”

“Nee – wat van die melk?”

“Tyding het gekom dat die melk wat die goewerment die kinders by die skool vir versterking gee niks beteken nie. Knysnamelk het glo nie krag nie.”

“Dit kan nie wees nie.” Die bekertjie melk elke dag is immers vir baie kinders iets ekstra in die maag.

“Ek praat nie leuens nie. Moet glo nou liewerster kaas gegee word.”

Beter as niks.

“Dan loop ek maar, ant Martjie.”

“Oppas vir die dikbene, die goed is befoeterd. Weer al wat mylpaaltjie is langs die spoor uitgetrek, glo tot ’n telegraafpaal ook omgestoot, na Diepwalle se kant toe.”

“Ek sal dophou. Antie se tuinery lyk goed.”

“Sê ek ook.”

Daar’s twee soorte arm: goed-arm en sleg-arm. Genadiglik is daar meer goed in die bos, en as daar dalk vandag op Kleineiland aangekondig word dat daar uitkoms vir die houtkappers op pad is, sal dit nuwe moed vir almal beteken.

Toe sy duskant die Eiland in die sleeppad uitkom, lê motorkarspore diep ingetrap in die blarepad. Al meer sleeppaaie is aan’t motorpaaie word. Al meer vreemdes in die bos. Veral Sondae.

En die vreemde man op die Eiland staan op ’n ysterhoutstomp met ’n swart pak aan soos ’n prediker. Dieselfde man wat sy deur die skreef gesien het. Omgekrulde hempskraagpunte, vaalswart das. Om hom sit ’n stuk of twintig vertoiingde houtkappers, stroefgesig in afwagting; ’n paar op opvoustoeltjies, party op ander stompe, meeste op die grond. Jan Koen, Martiens van Rooyen, Salie van Huysteen. Koos en Willem van Huysteen. Salman Fransen van die stasiewinkel tussen hulle – moet altyd oral ’n oor gooi! Jan Zeelie. Heelparty ander.

“Middag, vriende,” hef die vreemdeling vernaam aan. “Namens die Carnegie-kommissie van Ondersoek, heet ek u in besonder welkom.”

“Wie?” vra Jan Zeelie, kortaf.

“Carnegie-kommissie. Kortom: u besorgde vriende in Amerika.”

“Ken hulle nie.” Die ander skud hulle koppe in beaming.

“Dis juis waarom ek hier is, oom. Om julle vroegtydig in te lig en voor te berei. Ek is meneer Naudé, assistent van een van die hoofondersoekers en afgevaardigdes van die Kerk – dominee Albertyn van Kimberley – wat spesiaal aangestel is om u belange aan die hart te druk.”

“Dan staan hier vandag uiteindelik ’n wonderwerk voor ons, meneer!” Weer Jan Zeelie, hierdie keer met openlike spot in sy stem.

“Ek kan u die versekering gee dat die Kerk met groot erns na u probleme kyk.”

“Die Kerk steur hom nie aan ons nie,” snork Jan Koen. “Stuur so dan en wan een van die gesaligdes deur die bos om te kom kyk of hier dalk ’n siel te red is. Die kinders gaan kruip weg. Ons ook maar.”

“Tyd vir wegkruip is verby, oom. As gevolg van druk deur die Kerk se armsorgraad, bring ek u juis die heuglike tyding dat die goewerment besig is om ernstig te kyk na die totstandkoming van ’n Departement van Welsyn.”

“Gaan ons nou meer betaal word vir die hout?” kom dit hoopvol uit ’n paar monde gelyk.

“Dít is ek nie by magte om te sê nie.”

“Ons is op van sloof, meneer.” Toon Barnard. “Die hoop in ons harte is flenterdun soos die klere aan ons en ons kinders se lywe!”

“Daar sal nie ’n oplossing vir die armblanke se probleme kom as daar nie deeglike ondersoek plaasvind na die óórsake van die probleem nie,” sê die man.

Dit laat Martiens van Rooyen op sy voete spring. “Ditsem, nou praat meneer ’n reguit waarheid! Want van óórsake sal meneer ons niks kan leer nie, ons sal hulle sommer in stringe vir meneer uitlê. Ons staan verarm omdat die houtkopers deur die jare kyk hóé min hulle ons kan betaal vir die hout! Hulle betaal ons sewe pennies ’n speek en gaan verkoop dit aan die wamakers vir amper drie sjielings! Hulle betaal ons ’n pennie vir ’n bylsteel en …”

“Net ’n oomblik …”

“Martiens praat waar, meneer.” Weer ou Jan Zeelie. “Hierdie bos was al die jare Common Woods. Dit was so in ons pa’s en oupas se tyd. G’n niemand het eers liksens hoef te betaal het om in hom te kap nie. ’n Man was houtkapper as jy ’n byl kon swaai, ’n saag kon trek en langdag kap en saag en sleep om die houtkopers se saagmeule op die dorp van hout voorsien te hou. Min is ons betaal, maar voorjare kon ons darem ’n bestaan maak. Nie soos dit nou gaan nie.”

“As u my die geleentheid gun …” Naudé probeer hulle armswaaiend stilmaak. In haar hart kan sy, Karoliena, nie help om hom jammer te kry nie – die houtkappers sal dit nie vir hom maklik maak nie. Hulle is te bly oor die kans om ’n bietjie oor te kook.

“Op ’n dag is daar net aan ons laat weet dat dit nou goewermentsbos is,” gooi Martiens van Rooyen verwytend vorentoe. “Bos wat die goewerment wáár gekoop het? By die Here? Alle hout hoort nou skielik aan die goewerment!”

“Goewerment met twee monde,” help Jan Koen. “Met die een sê hulle julle kan nie meer kap soos julle wil nie, die bos moet bewaar word. Met die ander mond sê hulle julle sal baie meer moet kap, die land het hout nodig vir dwarslêers vir die treinspore en ossewaens wat moet Vrystaat toe agter die diamante aan wat ontdek is. Nie lank nie, toe kry hulle goud ook daar bo. Nog meer treinspore. Meneer kan my glo, in hierdie bos is honderde, duisende dwarslêers gekap en uitgesleep. Jy kan maar sê elke treinspoor in hierdie land lê oor hierdie bos se geelhout en stinkhout en boekenhout en essenhout en onse houtkappers se sweet en bloed! Betaal jou sikspens ’n dwarslêer, want hulle stry jou ewig op dis second quality wat jy gebring het – al weet jy voor jou siel dis lieg. Tussendeur stel die goewerment boswagters en bewaarders aan om te kyk dat ons nie kap soos ons al die jare gekap het nie, kom hang ons al meer restriksies om die nek. Verkondig op ’n dag dat ons nou as houtkappers geregistreer moet word, anders mag ons nie langer kap nie. Om geregistreer te kom, moet ons eers bewys lewer dat ons boonvoet kappers is.”

“Ekskuus?”

Sy tree vorentoe uit die bosrand. “Bona fide houtkappers,” sê sy en geniet heimlik die skok op Naudé se gesig toe hy haar sien.

“Ons name word in ’n dun boek geskryf,” gaan Jan voort, “ons word duidelik gesê dat geen nuwe name bygesit sal word voordat daar nie genoeg van ons afgesterwe het nie. Daar’s te veel van ons. Ons had nie praat nie, ons moes net saamdraf. En toe? Toe ons klaar in die boek is, sê hulle, nou moet julle liksens koop om te kan kap en meneer sê die kommissie-besigheid kom soek oorsake?”

“Die doel van die kommissie is juis om na al julle probleme te luister, vas te stel waarom julle so verarm het.”

“Wat het die goewerment vir meneer gesê om hierdie keer vir ons te kom sê?” vra een van die ander kappers, agterdogtig.

“Ek is deur die kommissie gestuur, nie deur die goewerment nie! Ons sal slegs die nodige verslae aan die goewerment voorlê sodat daar oplossings gevind kan word.”

“Sodat dit ’n goewermentsaak kan word?” vra een. Houtkappers is nie dom nie.

“Ja, uiteindelik sal die goewerment die nodige besluite neem.”

“’n Bosslak, meneer, is nie ’n vinnige ding nie. Maar teen goewermentsake is hy van groot spoed en meneer gaan nog so staan en rondtrap, dan duiwel meneer vandag van daardie stomp af.”

“Ek verseker u dat dit nie sal gebeur nie. Ek vra slegs van u ’n redelike kans om u in te lig oor die werksaamhede van die kommissie …”

“Ek dog meneer sê hulle kom hoor hoekom ons so verarm is,” gooi Willem van Huysteen hom voor die kop. “Ons gee meneer die redes, maar miskien kan meneer nie so lekker hoor nie?”

Dit bring Jan Zeelie styfbeen op sy voete. “Of miskien soek meneer nog meer van die oorsake. Soos die dag toe die goewerment besluit het om die hele helse bos in blokke te laat uitmeet; elke blok ewe genommer en weer in vier gedeel, op elke boom wat volgens hulle kapbaar is, word ’n blerts geverf. Nou moet ons elke jaar op ’n bepaalde dag by die naaste bosstasie gaan lootjies trek vir ’n flentertjie bos en die blertse vat wat die lootjie jou gooi. Jaar lank daarmee tevrede wees. Mag nie ’n byl aan ’n boom sit wat ryp vruggies of sade aanhet nie! Ons sê vir die bewaarders: dis nie ’n vrugteboord nie, dis ’n bos! Help niks. Goewermentswet. Maar die goewerment bly skree hout, hout, hout. Uit party blokke mag ons nou nie eers meer ’n splinter verwyder nie, want dis konsuis reserves wat die goewerment in bewaring vir die nageslagte hou en vir die mense wat van oral kom om te kom kyk hoe lyk die bos.”

Naudé se geduld is besig om op te raak, mens kan dit aan sy lyf sien. “As ek net tot u kan laat deurdring hoe belangrik die werksaamhede van die Carnegie-kommissie vir u gaan wees!”

“Ek dog meneer sê julle kom om na ons probleme te luister,” herinner Salie van Huysteen hom en draai na die ander om hom. “Onthou julle nog die jaar toe die hele land oor waenhout gekerm het en ons dringend moes assegaai kap vir speke, maar die goewermentsbewaarder weier amper drie maande lank permissie omdat die assegaaie konsuis besig was om te blom?”

Toe beur Naudé vir hom ’n praatbeurt oop. “Die kommissie is nou amper twee jaar besig om hierdie land in haglike omstandighede te deurreis om oral onderhoude met die armblankes te voer! Met die trekboere, die bywoners, diamantdelwers, gouddelwers, die biltongboere van die Bosveld …”

“Meneer …”

“Dis ’n feitesending van enorme omvang wat derduisende ponde kos en deur besorgdes in Amerika betaal word! Ons kom binnekort, ten laaste, by die verarmdes in hierdie bos om met hulle onderhoude te voer. Ons móét u samewerking kry!”

“Meneer! Iemand het jou die verkeerde adres gegee. Die gouddelwers wat voorjare in hierdie bos was, is lankal weg of dood. Al oorblyfsels is die uitgekapte dele agter by Millwood.”

Van die manne het begin opstaan om hulle bladsakke te vat terwyl Naudé hulle met waardige ergerlikheid probeer keer: “Die Carnegie-ondersoek is ’n kans tot redding wat u nie durf laat verbygaan nie!”

“Klink my na ’n dokter wat kom voel en vat om vas te stel wat jou makeer, maar sonder die medisyne wat jy nodig het.” Ou Salie.

“As u my nie so aanhoudend in die rede wou val nie!”

Toe val hy van die stomp af.

En sy draai om en loop terug die bos in.

Sy kan nie sien hoedat Naudé veel met hulle uitgerig sal kry nie. Houtkappers is houtkappers. Anderster mense. Ongeheiligde tweebeen-osse met ’n ander soort slim in die kop wanneer dit hulle pas. Geheimsinnig soos die diepste boskloof waar weinig waag om ’n voet te sit, wat met mekaar geheime taal praat sodat een kan spring om die bosbok, wat verwurg lê in ’n onwettige strik, onder die boswagter se neus te gaan wegsleep. Wat môre met die openhartigheid van kinders hulle diepste vrese uitpraat; ’n laaste stukkie brood of patat met mekaar deel; ’n swakke se byl by hom vat en sy houe vir hom kap. Die hoogste krans aan die bergvoet uitklim om ’n heuningnes by te kom vir ’n soetigheidjie – of om heuningbier te brou vir vrolikheid.

Twee van hulle het eendag gedreig om haar magistraat toe te sleep oor ’n byenes.

“Om my waarvoor te laat aankla?”

“Poging tot verminking!”

Sy was die middag aan’t wegkruip by ’n spruit in Gouna-se-bos om die skoenlappers af te loer wat middae kom sandmodder vreet langs die kant. Skielik hoor sy iewers byle inval en begin kap-kap-kap. Sy hoor dis twee man wat kap. Dit was ’n bietjie laat in die dag vir houtkappers om in te keep en te begin kap aan ’n boom. Sy steur haar eers nie. Hou haar oë op die strepie spoelsand aan die kant van die stroompie waar seker maklik honderd, tweehonderd, groot skoenlappers vlerk teen vlerk besig was om modder op te slurp. Almal eners. As een opvlieg, kom ’n volgende in sy plek sit. Mooi skoenlappers. Sagbruin vlerke waarop geel kolletjies en blokkies al op die rante langs geverf is. Eers lank daarna, toe sy eendag ’n dooie optel, sien sy die blou en oranje kolle wat soos oë op die vlerke geverf is. Maar dáárdie dag het sy haar net aan hulle verkyk. Aan die dosyne wat oraloor die oopte bo die bosstroom bly sweef het asof hulle in die lug aan’t speel was; aan die talle wat op ’n oorhangtak van ’n notsung gaan sit het om te rus en die tak vol spatsels kleur gemaak het.

Die byle kap-kap-kap. Sy hoor later nie net die gekap nie, sy hoor ook veraf stemme. Sy staan op, en sê vir die skoenlappers sy sal weer die volgende dag kom, hulle moet tog asseblief ook weer daar wees.

Sy’t nie ver geloop nie, toe kry sy hulle langs die voetpad wat van Diepdraai se kant af kom: twee manne besig om ’n jong witels te kap om die byenes bo in ’n mik te bekom. Sy word só kwaad, sy skree en vra vir hulle of hulle gek is! Hulle los die byle, die een – sy dink hy was ’n Tait – skree terug en sê: Nee, daar’s net een gek in die bos en dit is Karoliena Kapp wat rondsluip waar ’n meisiekind nie hoort nie! Sy sê sy hoop die bye storm en steek hulle vrek, want vir wat die arme boom staan en afkap, loop soek heuning in die berg! Die ander een erg hom opnuut, hy gooi sy byl neer en sê: Gaan in jou maai, geen wonder die vreemdes dink ons is wilde mense nie, kyk hoe verwilder sien jy daar uit! Jou pa draai in sy graf! Sy buk, sy gryp die byl en swaai ’n kap na sy bene. Hy spring ’n hoë spring, die ander een ruk die byl uit haar hande. Hy skree: Is jy mal, jy kon hom vermink het!

Nee, die kommissie van vreemdes sou nie die houtkappers verstaan nie.

Anderster mense. Wat ’n boom kan omkap en laat val waar húlle hom wil hê vir die opsaag en uitsleep. Wat ’n boom se binneste aan ’n knoppie op die bas kan uitken, weet dat daar êrens binne ’n probleem wag: wurms, rooi are, gom – dat die houtkoper hulle nie die hout sal laat aflaai op sy werf nie; hulle leeghand sal laat terugdraai bos toe.

Houtkappers is boomslim, houtslim. Wat met ’n linksbyl ’n moot só gelyk kan kap dat jy sal stry dis met ’n skaaf gedoen; of met ’n dissel duisende speke in ’n leeftyd uitkap vir honderde waens se wiele; honderde disselbome, honderde ander wa-parte; wat berge dwarslêers uit geelhout en stinkhout gekap en gemoot het vir die treinspore – al het min van hulle idee gehad hoe ’n regte trein lyk. Ken net die houttreintjie. Telegraafpale. Pikstele, balke, planke. Houtkappers wat soms die mooiste huisgoed vir hulle plank- of kleihuise uit ’n stuk edelhout kon toor en nie dink om daarmee te spog nie.

Houtkapper wat lewenslank in ’n strik van armoede vasgewoel is omdat hy nie weet hoe om homself los te woel nie. Nie die goed-armes nie, ook nie die sleg-armes nie. Wat die wêreld buite die bos vrees. En die olifante wat hom soms ure in ’n boom opgejaag hou; of in ’n sleeppad staan sodat die osse nie kan verbykom met die sleepsel mote nie omdat olifante goed weet die osse is ook vir hulle bang. Duiwelsgoed, sê die houtkappers, wat jou sal fyntrap as hulle kan. Soos die hele wêreld jou fyntrap – maar steeds die hout wil hê wat jy kap!

“En as die bos die dag uitgekap is, oom?” vra sy eendag vir een van die oues.

“Dan’s ek lankal dood.”

“Dan beter oom vinnig doodraak, die bietjie van die bos wat oor is, gaan nou opgepas word, sê mister Fourcade.”

“Sê vir hom ek sê sy gat. En joune ook. Kry jou loop, Karoliena!”

“Hulle sê die bos was voortyd maklik twintig keer so groot as wat hy nou is.”

“Toe sou ’n man darem nog lekker voor die voet kon gekap het …”

“Wat’s die snaaksste iets wat oom al in die bos gesien het?”

“Vir jou. Want vir wat sluip jy gedurig hier rond? Wat makeer jou om ’n goeie eerbare man net so te los en aan te loop?”

“Dis maande gelede, oom, maar julle wil dit nou eenmaal nie laat los nie!”

“Omdat ons nie kan verstaan hoe ’n mens kan uitkoms kry en dit dan sommer net so wegsmyt nie! Veral nie in hierdie bos nie.”

“Oom sal nie verstaan nie.” Sy’t self nie altyd heeltemal verstaan nie. Daar’s dinge wat raaisels bly. Al dink mens hoe hard.

Naudé sal ook nie verstaan nie.

Sy vat die sleeppad terug Diepwalle se kant toe. Terug boomland toe …

Tussen mensland en boomland is ’n brug waaroor jy maklik kom terwyl die vrede om jou opnuut in jou lyf intrek en jou optel tot in die hoogste boomtop waar piet-my-vrou sy wyfie roep en roep en roep. Waar die paddas op die bosvloer klik-praat met mekaar. En met jou. Jou vra waar jy was, jou sê dat tier laas nag sagvoet kom kos vang het. Willevark se kind opgevreet het. Kyk! Daar’s sy spoor, en sy mis.

Waar jy opkyk en kroonarend teen die bloue lug bo die bosdak sien sweef, soek-soek na ’n opening waardeur hy geruisloos kan val om ’n aap of ’n bokkie te gryp en jy mooi in jou hart vra: Asseblief, net nie vandag ’n bloubokkie nie, hulle laat nog lammertjies suip.

Dan begin jy in jou eie vlug weer stadig afwaarts daal tot onder in die skemer bos om die voetpad te soek. Boom toe. Háár boom. Met die baie name waarmee sy hom al gedoop het, maar nie een wat wil pas nie. Kalander, Koning, Oudste, Mooiste, Hoogste.

Amper by Diepwalle loop sy uit die hardepad en stoot met haar lyf ’n pad deur die onderbos en bobbejaantou-gordyn waar die bosdou nog in die skadu’s lê en aan haar lyf en hare afvee.

Dag, Boom, sê sy toe sy by hom kom en haar kop eerbiedig laat sak soos vir bid.

Vir niemand kan sy sê wat sy weet nie, want niemand sal haar glo nie. Miskien sal sy eendag vir mister Fourcade sê. Die enigste met wie sy eendag wel ’n stukkie daarvan vertrou het, was ou Abel Slinger …

Sy het die dag kortpad gekies met die voetpad langs van Barnardseiland af, Diepwallebos deur om by die huis te kom. So twee uur ver se stap. Sy en haar ma woon toe nog onderkant Diepwalle se bosboustasie. Haar ma het haar die oggend eiland toe gestuur om die rooi rok te gaan terugleen by haar suster Maria omdat haar ma daardie tyd begin tof en tooi het vir oom Cornelius Kapp van Langvleibos se kuiers. Saans sit hulle in die voorkamer en sy, Karoliena, lê in die agterkamer. Dan roep haar ma om te vra of sy al slaap, dan hou sy haar aan die slaap, dan blaas hulle die kers in die voorkamer dood, dan hoor sy hoe die kooi in die voorkamer al vinniger en vinniger kraak …

Dan wens sy sy kon diep die bos in loop en nooit weer terugkom nie. Dis net dat sy toe nog so bang was vir donkerbos.

Dit was warm dié dag – benoudwarm – die tweede bergwinddag na mekaar. Die sweet stroom haar later af; die bos was droog, die kleinste stokkie het onder haar voete geklap, selfs die bome het anders gekraak. Soos goed wat tande het. Die lug was anders, die lig was anders, alles was helderder, asof mens dieper as gewoonlik die bosruigtes in kon sien. En doodstil. Spokerig stil.

Toe die eerste blits die bos blink slaan, het sy so groot geskrik dat sy soos ’n verskrikte ding begin hardloop het. Toe die tweede bliksemstraal val, het sy hardop begin huil van bang dat die weer haar ook kom doodslaan het soos vir haar pa. Sy was amper by die ou groot kalanderboom ’n ent voor jy die hardepad by Diepwalle kry, toe dit haar byval dat jy nie in donderweer moet hardloop nie! Sy was in elk geval so moeg, sy’t sommer die sloop met die rok in in die sleeppad neergegooi en van vrees met haar rug teen ’n lêboom gaan staan om te bedaar. Toe spat die derde blits. Toe sy opkyk, sien sy die beweging van die vreemde spookgedaante wat stadig besig was om uit die kroon van die kalander op te rys asof dit ver oor die bos wou uitkyk. Lang vaalgroen kleed, nie van rokslap nie, fyner en slapper; bene en arms onder die kleed se voue; ’n lyf. ’n Kop met slierte lang vaalgroen hare. Helder. Nie soos in droom nie. Helder. En iewers bo in haar kop sê woorde vanself: Dít, Karoliena, is die boom se geheim.

Agterna het sy onthou dat die boomspook nie tot by die voete uit die boom gekom het nie. Dat sy nie kon sê of dit ’n wyfie- of ’n mannetjiespook was nie.

Die aand toe sy haar ma hoor roep om te vra of sy al slaap, was sy reeds buite in die donker en die reën. Sy’t vroegaand, toe die simpel oom kom, die houtluik in die agterkamer oopgemaak en suutjies deurgeklim om in die bosrand te gaan wegkruip.

Sy was nooit daarna weer bang vir donkerbos nie.

Lank, lank daarna het sy eendag vir ou Bothatjie gevra wat die snaaksste iets is wat hy al in die bos gesien het. Toe sê hy dokter Phillips se gesig toe hy hom die dag die drie stinkhoutjies wys.

Niemand ken die bos soos ou Bothatjie nie. Soms voel dit vir haar of hy nie soos ander mense gebore is nie, maar dat hy op ’n dag uit ’n boomsaad op die bosvloer begin groei het.

Rooi-els se klein bruin saad in die sagte doppie. Want selfs sy wilde bos witgrys hare is die kleur van ’n rooi-els se blom, en ’n lang, woeste baard. Soms vra vreemdes hom om teen die bosrand te staan sodat hulle van hom ’n kiekie kan neem.

Markus Josias Botha. Van Jim Reid-se-draai bokant Diepwalle. Ou Bothatjie, sê hulle vir hom. Oujongkêrel. Netjiese plankhuisie minder as ’n klipgooi van een van die olifante se hoofpaaie deur die bos. Nee, hy’s nie bang vir die dikbene nie. Sê hy’t afspraak met hulle: Hy hinder hulle nie, hulle hinder hom nie. Kom skuur partykeer lyf teen ’n hoek van die huisie dat sy paar stukkies bordegoed klingel, maar rig nie skade aan nie. Weet hy’t ’n hoë man se permissie om daar te woon.

Hy vertel jou graag van die hoë man. Kom mos een oggend by my aan op ’n spoggerige perd, kom stel homself bekend, sê hy’s dokter Phillips. Ek sê, aangenaam, ek het juis so pyn agter die blad. Nee, sê hy, nie daardie soort dokter nie, ’n plantdokter. Aangestel by Diepwalle deur die goewerment self om dringend bestudering van die bos te maak. Research. Dat ek nie langer hier by Jim Reid-se-draai kon huismaak nie, al die mense gaan uit die bos gehaal word. Ek skrik nie. Ek waarsku hom net dat ek met my eie oë gesien het dat ’n olifant ’n perd flou jaag in hierdie bos. Sodat misterdokter nie kan sê hy’t nie geweet nie. Olifant is ’n slim man, voorjare het ons nie eers sy naam in hierdie bos genoem nie van banggeit hy hoor en kom jaag jou. En ongelukkig sal misterdokter my nie die bos kan uitsit nie, want ek is die eintlike een wat jou van bestudering sal moet leer.

’n Paar maande later sit die man op daardie einste boomstomp voor my deur. Te voet gekom om met my akkoord te kom maak. Goewerment wil al die ooptes waar dit uitgekap is, oorgeplant hê. Ek sê: bos laat hom nie van mens plant nie. God het hom klaar geplant, vergange al. Slimgod, Gewag tot die bome halflyf hoog staan voor Hy bosbok kom injaag het, want anders was alles afgevreet. Waar dit uitgekap is, is dit uitgekap en neem die fyngoed oor. Soos die olifante wat hulle so aan’t uitskiet is, en nie sal terugkom nie. Dood is dood. Misterdokter sê hy aanvaar dit nie, ons moet ’n proef maak. Ek, Bothatjie, moet ’n proef maak teen ’n sjieling ’n dag hier op Jim Reid-se-draai op die oop stuk wat voorjare ’n depot was vir die hout wat uit Kom-se-bos gesleep is en waar ek die stuk skoongemaak het vir my tuindery. Altyd iets wat in die pot gegooi kan word … saam met ’n stukkie vleis. Hy sê goed, maar dan werk dit van hier af só: een ry groente, een ry boompies. Veral stinkhout. Ek sê, misterdokter, ek weet nie so mooi nie; stinkhout laat hom nie plant nie. Maar ek sal try.

Goeie ou Bothatjie. Vra nie vrae nie. Gee jou net blyplek wanneer jy nie weet watter kant toe nie. En altyd so bly oor die sakkie tabak.

Toe sy die eerste keer van Johannes af weggeloop het, was dit al skuilte wat sy kon vind.

Toorbos

Подняться наверх