Читать книгу Toorbos - Dalene Matthee - Страница 6

3

Оглавление

Bosmense trou met bosmense. Net af en toe gebeur dit anders. Soos met haar en Johannes.

As sy stip terugdink, kan sy helder onthou toe sy hom die eerste keer gesien het. Sy en haar ma het die dag die tien myl dorp toe gestap van Langvleibos af om vir haar, Karoliena, rokslap en skoene te gaan koop. Halfpad het die perdekar hulle van agter af ingery en stilgehou om te vra of hy hulle geleentheid kon gee. Haar ma sê ja dankie, mister Stander, ons moet vir ’n vername saak dorp toe. Haar ma was nie so erg sku soos die meeste bosvrouens nie. Hulle klim. Sy agter, haar ma voor langs hom. Hy is ’n lang man, sy kop raak amper die kar se kap. Die perde draf lekker, dit was afdraand. Haar ma sê ewe spoggerig vir die man hulle gaan dorp toe om te gaan klere koop vir die kind wat moet hoërskool toe op Wittedrift.

O, sê die man. Kyk ewe verbaas om na haar; seker nie daaraan gewoond om te hoor dat boskinders, veral bosmeisiekinders, hoërskool toe gestuur word nie. Daar was wel ’n paar seuns uit die bos in die ambagskool op Knysna, maar die probleem was dat hulle standerd ses moes hê om ingeneem te word en dié had weinig, want lank voor standerd ses het hulle al in die kapspanne gewerk. Twee meisiekinders van Veldmanspad was in die huishoudkundeskool op die dorp; eintlik ’n skool vir armblanke kinders.

“Hoe oud is die dogter, mevrou?” vra die lang man.

“Veertien, sy’s laat skool toe. Baie slim in die kop, dominee het so kom soebat …”

Haar ma sê nie die volle waarheid van die dag toe die dominee op Langvleibos by hulle huis opgedaag het nie. Dit was ’n Saterdag. Hy sê vir haar ma hy is op besoek weens ’n ernstige versoek van die skoolhoof, meneer Heunis, by Veldmanspad. Gelukkig was die huis skoon en aan die kant. Dit was dominee Odendaal, hulle sê hy’t sommer begin goed uitsmyt as dinge nie na sy sin was in ’n bosmens se huis nie. Luister, dominee, sê haar ma, as jy gestuur is om te kom vra waarom die kind so baie uit die skool is, kan jy self luister hoe fluit haar bors van ongesteldheid van die koue en klamte waaronder ons moet leef omdat daar nie genade kom vir ons bosmense nie. Was dit nie vir die plankvloer wat Cornelius met sy eie hande ingeslaan het nie, had Karoliena lankal die tering, want net my gebede maak dat sy nog leef en sy’s my enigste, die weerlig het mos haar pa geslaan en my alleen in ellende agtergelaat om klaar te kom, ek stuur haar elke dag skool toe, maar dan hyg sy so van die fleim dat sy langs die pad moet gaan sit …

Dit was nie waar nie. Skool was ’n simpel plek. Sy, Karoliena, is maar net party dae nie terug klas toe ná loopspeeltyd nie, sy’t die skoolwerk in elk geval uit haar kop geken. Sy’t sommer langs die treinspoortjie gaan speel en vir die mense in die coach gewaai, of vir mister Kennet en die stoker en vir mister Botha op een van die trokke. Of gekyk waar die olifante die vorige nag oor die spoor is. Slimvoet, nooit óp die spoor getrap nie. Seker geweet hulle sou geskiet word as hulle dáárdie spoor stukkend trap. Dit was die houtkopers se spoor; mister Thesen en mister Parkes was hoogrykes – hulle het niks en niemand op hulle goed laat trap nie!

Eendag het sy ’n entjie verder langs die spoor af gespeel as gewoonlik. Dorpkant van die skool. Eers kom sy op die vars bol mis langs die spoor af, die wasem trek nog soos rook daaruit. Sy spring vinnig op die spoor, en dink ’n olifant sal haar nie dáár kom trap nie. Sy staan doodstil, sy luister. Sy bewe van bang, hulle sê olifant kan ’n mens doodklap met sy slurp. Sy wag, sy luister. Die bos aan weerskante van die spoor is stil. Net hier en daar ’n voël en die wind in die toppe van die bome wat klink soos see. Dikbos, waar die vreemdes gewoonlik uit die coach hang om hulle nog beter te vergaap aan die bos en bly hoop om iewers in die ruigtes ’n olifant of een van die wilde bosmense te gewaar. Die volgende oomblik hoor sy ’n ent vorentoe hout kraak. So ’n stadige, lang kraak. Asof ’n boom iewers omgeval het. Maar ’n boom val nie sommer om nie en die wind was te swak om een om te waai. Sy wag, sy luister. Niks. Spoorlangs kon sy nie ver sien nie, want voor was ’n taamlike skerp draai. Sy wag, sy luister. Nie ’n geluid uit sy plek nie. Versigtig begin sy aanloop na die draai se kant toe, bly langtree tussen die spore al op die dwarslêers langs. Sien ’n witels waar sy sou kon klim as daar dalk ’n olifant was wat haar wou skraap …

Toe sy op die draai kom, sien sy dit. Die vlier wat vollyf oor die spoor omgestoot lê vir ’n hindernis wat mister Kennet nooit betyds sal sien as hy met die treintjie van Diepwalle af kom nie. Nie met die twee trokke wat hy heelpad vooruit stoot nie! Ergste was dat sy die treintjie oomblikke tevore bo by Veldmanspad hoor fluit het, dat daar nie meer baie tyd was voordat hy in die boom sou kom vasry nie! Sy spring om en begin terughardloop. Sy hoor die treintjie kom, sy gaan staan langs die spoor en waai met haar arms, sy skree, sy waai, maar die stoker is aan háár kant van die spoor, die simpel man waai net terug. Die coach is nie aangehaak nie, dis houttreindag. Mister Botha staan op een van die agterste trokke half tussen die hout. Sy waai, sy skree, sy spring op en af. Hy skree iets terug van die skool wat na haar soek …

Toe hardloop sy maar al agter die treintjie aan.

Die vlier stamp die voorste stoot-trok dat hy skeef van die spoor af hang. Gelukkig nie om nie. Maar toe moes mister Kennet en mister Botha en die stoker eers saag en wegsleep, saag en wegsleep, om die pad oop te kry vir die trein. Hulle haal twee sware jacks weerskante van die enjin af en begin die trok met ’n lang ysterspar opjack; wikkel, wikkel tot die wiele terug is op die spoor. Harde werk. Amper tot donker. Mister Botha is kwaad, hy sê dis ’n ou ding van die vervloekste olifante, breek hom altyd op net die regte plek oor die spoor waar die drywer hom nie betyds kan sien en briek nie. En altyd is dit ’n vlier. Kon jy ons nie op ’n manier gewaarsku het nie, Karoliena?

Haar ma lieg die dag lekker vir die predikant. Hy sê: Ek is nie hier oor u dogter se afwesigheid nie, mevrou Kapp. Meneer Heunis het gevra dat ek met u oor haar moet kom praat. Ek verstaan dat sy ’n baie skrander leerling is, wat volgende jaar hoërskool toe behoort te gaan.

“Dan moet die skool haar maar stuur, ek het nie geld nie.” Haar ma was dadelik opgeruk.

“Meneer Heunis verseker my dat sy skolasties baie sterk is.”

“Wat weet hy?” Later het haar ma haar gevra wat die fênsie woord beteken wat die predikant gebruik het. Dit beteken ek is slim, Ma. O.

“Ons kom dus met ’n voorstel dat sy na die hoërskool op …”

“Ek stuur nie die stomme kind in tussen daardie klomp Engelse kinders op Knysna nie, ons ken in elk geval nie Engels nie en buitendien, sy kry genoeg spot van hulle in die straat as ons op die dorp kom.”

“Jy’s nou oorhaastig, mevrou Kapp!”

“Nee, dominee, en ek laat haar ook nie na die housecraft school op die dorp gaan waar hulle maar eintlik net leer om wit meide vir die rykes te word nie.”

“Ons wil hê sy moet na Wittedrift se skool, duskant Plettenbergbaai, gaan.”

Eers het haar ma se mond oopgeval. Toe kom die skok: “Wittedrift se skool? Met geld wat ek waar moet kry? Dit beteken sy moet in die koshuis bly en klere en allerhande goed kry waarvan ’n arme boswerker nie eers die helfte kan bekostig nie!”

“Sy sal ’n losiesbeurs gegee word om in die kerkkoshuis te kan bly en die Kerk is selfs bereid om haar met klere te help.”

Toe spog haar ma lekker by die man van die perdekar met haar dogter wat hoërskool toe gaan.

Sy, Karoliena, het nie veel notisie geneem nie. Leef was toe nog baie soos slaap. Behalwe dat jy kon droom soos jy wou. Droom dat jy mooi en deftig was soos die meeste dorpsmeisiekinders, of soos die vreemdes wat saam met die houttreintjie na die bos kom kyk het. Droom, as jy voetpadlangs deur die bos loop, dat jy hakskoene aanhet, jy hou net jou kop en jou skouers regop soos ’n regte mens. Nie soos ’n armblanke nie.

Die man met die perdekar het hulle voor Smith se winkel in Main Street afgelaai en sy hoed deftig gelig toe hy hulle groet. Toe hy wegry, sê haar ma: “Hou hom verniet so vernaam. Sy pa het ook maar op die bosrand grootgeword, nes ek.”

Wittedrift was soos rusteloos insluimer. Jy weet jy moenie te wakker word nie, want dan gaan jy wegloop. Jy slaap in die kerkkoshuis op ’n vreemde ysterkateltjie tussen ander armblanke kinders en loop nag vir nag die twintig myl huis toe om vir jou ma te gaan sê jy wil nie in die hoërskool wees nie. Dat die bos beter is as die kloof agter die berg waarin die rooidakskool half weggesteek staan soos iets wat skaam is; oral net plate gras waarop die skool se beeste wei en kromstert plat groen blopse mis. Niks hoë bome nie. Niks bos nie. Niks olifante nie. Geen houttreintjie wat bedags by die skool verbykom sodat jy vir die mense in die coach kan waai nie, of vir mister Kennet of mister Botha nie. Of by Diepwalle se stasie bietjie kon gaan ronddrentel vir ingeval die vreemdes in die bos wil in nie.

Die enigste goed aan die skool was die boekerytjie in die skemer kamertjie waar jy in die boeke mag gelees het. Moeilike woorde, nie soos skoolwerk nie. Meneer Johnstone wat Engels gegee het, het haar altyd Vrydae ’n boek koshuis toe laat neem vir die naweek. Net leen. Dan draai sy die boek in ’n doek soos die geheim wat sy vir haarself aan’t bêre was: Dat sy eendag ’n rykmens-mens sou wees.

Sy moes net eers wegkom uit die skool uit.

Boeke het gehelp om die tyd te laat verbygaan, die nimmereindigende kwartale.

Wanneer dit tyd geword het vir skoolvakansie, het die onderwysers gewoonlik begin verneem na ’n geleentheid wat haar kon huis toe neem – al was dit net tot op Knysna. Daarvandaan loop sy Langvleibos toe na haar ma. Die ander twee meisiekinders in die skool wat ook uit die bos gekom het, het sommer self huis toe gestap. Daglank. Agter die berg langs tot by die Uniondalepad wat oor Prins Alfredspas van die Langekloof af kom, dan oor die berg en van die agterkant af die bos in. Haar ma wou nooit hê sy moes saam met hulle stap nie, hulle was hierjy mense se kinders. Die onderwysers wou ook nie eintlik dat sy huis toe stap nie. As die vakansie amper verby was, het oom Cornelius begin verneem na ’n geleentheid terug Wittedrift toe vir haar.

Eenkeer laat roep die skoolhoof haar en sê sy moet haar goed vinnig bymekaarmaak, daar’s ’n man wat haar geleentheid kan gee tot in die bos. Sy was baie bly. Sy hardloop koshuis toe, gooi haar klere in die soetkys wat die Kerk haar gegee het, vee haar gesig af, trek haar skoene aan, kam haar hare.

By die kantoor sê die hoof die man sal nou weer terug wees, hy het net gou met een van die ander onderwysers gaan praat oor ’n sekere wilde blommetjie wat glo in die koppe bokant die skool groei.

“Die man is ’n plantkundige – wat noem ons nou weer ’n plantkundige, Karoliena?” Soos skoolhou.

“Botanis, meneer.”

“Korrek. Die skool sluit nou wel eers oormôre, maar aangesien hy bereid is om jou tot by Diepwalle te neem, het ek besluit om jou vandag reeds verlof te gee om huis toe te gaan.”

“Dankie, meneer.”

Meneer Kritsinger, hy was nie onaardig nie. Sy wou net nie in sy simpel ou skool wees nie. Die Kerk het gesê sy moet geleerd kom, die grootste probleem met die armblankes in die bos is hulle ongeletterdheid. Oom Cornelius sê dis ’n lieg. Diaken van Zyl sê die houtkappers se grootste probleem is die feit dat hulle so ’n ongodsdienstige spul is. Sal dorp toe stap vir koffie en suiker, maar nie om in ’n kerk te kom nie! Toe sê een van die houtkappers vir hom, trek bietjie uit jou manel, dan sê jy dit weer. Ons gaan iedere Sondag kerk by Veldmanspad se skool, en Woensdagmiddae biduur wat die boswagter vir ons hou – as ons nie te ver van die huis af kap nie. So hou jou bek.

Skielik vra meneer Kritsinger dié dag: “Karoliena, is jy gelukkig hier in die skool?”

Nee, sê sy in haar hart. “Ja, meneer,” sê sy met haar mond.

“Jy moet my belowe dat jy nie die skool sal verlaat nie.”

Ek sal. “Nee, meneer.” Waar’s die man wat my geleentheid gaan gee?

Toe kom die man. Mens kon aan meneer Kritsinger se manier sien dat hy ’n vername man was; hulle het net Engels gepraat en meneer Kritsinger het saam buitetoe geloop en die man innig bedank vir sy ontferming oor die poor girl; sy het dit nie maklik nie, haar vader is ’n houtkapper.

In haar hart sê sy: Dis nie waar nie, my pa is lankal dood.

Wonderlikste was dat die man ’n motorkar had! ’n Motorkar met ’n afslaankap, baie soos ’n perdekar, maar met wiele in plaas van perde en die motor se letters was CCO 10. Sy het al ’n hele paar keer vantevore in ’n motor gery, dit was lekker gou. Oom Wiljam Stander bokant Veldmanspad het vier melkkoeie en ’n motorkar gehad wat £40 gekos het, maar die mense moes betaal as hulle wou saamry. Dan lag oom Wiljam en sê hy maak party maande meer uit mense oplaai as uit melk verkoop.

Toe loop meneer Kritsinger om die motor, maak die agterste deur oop en sê vir haar sy moet agter inklim. Die Engelsman sê: Nee, laat haar voor sit.

Toe sit sy voor.

Toe ry hulle. Tog te lekker! Ná ’n ruk begin sy wens die pad agter die berg langs moet nooit ophou nie, dat die vriendelike ou oom haar nooit weer moet aflaai nie. Hy praat Engels, sy praat Afrikaans, hulle verstaan mekaar goed. Sy bril se raam lyk van dieselfde stoffasie gemaak as haar kam. Die pak klere wat hy aanhad, was blougrys soos ’n bloubokkie se jas; om die waarheid te sê: hy’t van die kant af kompleet soos ’n ou bloubok met ’n bril op gelyk! En hy praat met haar asof sy ’n gewone mens is wat hy opgelaai het, nie ’n armblanke nie. Sy vra: Hoeveel kinders het oom? Nee, hy het nie kinders nie. Sy vra: Waar is oom se vrou? Nee, hy het ook nie ’n vrou nie. Sy sê vir hom, dis geen wonder oom het nie kinders nie. Hy lag, en vra hoe lank sy al op Wittedrift skoolgaan. Amper twee jaar, sy’s in standerd agt. Hy vra of sy skool geniet. Nee. Hy vra uit watter deel van die bos sy kom. Langvleibos. Is sy lief vir die bos? Sy vra: Hoe’s mens lief vir ’n bos? Dis net ’n bos. Sy vra: Waar woon oom? Witelsbos, dis ’n hele ent anderkant Wittedrift. Hy vra of sy Diepwallebos ken. Sy sê meeste van die voetpaaie, ja. Hy vra of sy al ’n olifant gesien het. Sy sê baie spore, baie mis, maar nog nie eintlik baie olifante nie. Hulle is baie gevaarlik; beste is om maar altyd ’n stinkhout of ’n witels in die oog te hou om in op te klim vir ingeval hulle jou jaag – die ander bome in die bos is te regop om te klim. Het oom al ’n olifant gesien? Ja. Hy’t lank in die bos gewerk. Was oom ’n houtkapper? Nee, hy is die landmeter wat lank gelede die bos in seksies opgemeet het. Weet jy wat ’n seksie is? Ja, oom, dis ’n wêrrie. Die houtkappers moet lootjies trek om ’n wêrrie te bekom om in te kap, hulle is baie ontevrede omdat hulle nie meer mag kap soos hulle wil nie. Hy sê hy weet. Die mense in die bos word al meer armer, oom. Hy sê hy weet. Hy vra: Woon meneer Barnard nog by Jim Reid-se-draai? Ek weet nie, oom, daar woon baie Barnards in die bos; daar bo by Jim Reid-se-draai woon net so ’n snaakse wilde oom in ’n houthuisie. Dis hy, sê die man en glimlag sy gesig vol plooie.

“As jy hom weer sien, sê vir hom mister Fourcade stuur groete. Hy ken my.”

Toe hulle by Buffelsnek om die varingdraai kom, hou hy stil en klim uit om ewe aandagtig na ’n boom langs die pad te gaan staan en kyk. Op en af. Op en af.

“Dis ’n rooihout, oom,” sê sy toe hy omdraai en terugkom by die motor. Skielik kyk hy haar aan asof hy haar die eerste keer raaksien. “Ons noem hom sommer papierboom omdat sy bas so nes velle papier afskilfer, maar ou Abel Slinger, dis ’n baie ou man in die bos, noem hom kouhout omdat daardie boom selfs op die warmste bergwinddag ysig koud voel onder jou hand of agter jou rug as jy bietjie lafing soek.” Sy wou nog bygevoeg het dat Abel se ou vrou altyd ’n stukkie rooihout aan ’n riempie om haar nek dra omdat dit glo alle booshede weghou. Of dat jy van die bas moet snuif as jou kop seer is.

“Ken jy al die bome in die bos, Karoliena?”

“Die meeste, nie almal nie.”

“En die plante in die onderbos?”

“Nie almal nie. Maar meeste, dink ek.”

“Waar woon Abel Slinger deesdae?”

“’n Ent met Ysterhoutrugpad in, amper by Dirk-se-eiland – as oom weet waar dit is …”

“Ek weet, ek het daar opmetings gedoen. Abel was vir my cooking boy.”

“O. Wat is die snaaksste iets wat oom in die bos gesien het?” Dalk …

“’n Seldsame orgidee.”

“Ek ken hulle nie. Net die wasblommetjies wat partykeer uit die geelhoute se bas groei.”

“Dis orgideë.”

Toorbos

Подняться наверх