Читать книгу Toorbos - Dalene Matthee - Страница 8
5
ОглавлениеDie Sondagmiddag het Johannes Stander weer voor oom Cornelius se huis in Langvleibos stilgehou.
Skemeraand het sy ’n vreemde gevoel gekry dat die lewe skielik opwaarts begin val het. Geweet hoe dit moet wees om van modder skoongewas te word; hoe dit is wanneer ’n strepie lig skielik in die donker begin glim …
As haar ma net nie so orig was nie! Strik in die hare en twee rooikol wange. Opgedollie in oom Cornelius se enigste wit hemp by die aaklige pers romp en die paar groen skoene wat Krismis in die kerkverpleegster se genade-pakkie was. Drie nommers te groot. Sy’t sonder ophou gespog dat die Kerk mos nou bly neul oor die kind – dis nou sy, Karoliena – wat moet Oudtshoorn toe gestuur word om vir teacher te gaan leer. Waar moes die geld vandaan kom? Andries Koen wat bokant Soutrivier kap, sê dit het hom £32 vir die eerste jaar gekos om sy meisiekind Oudtshoorn toe te stuur; £64 vir die tweede jaar. Ons is nie almal Andries Koens wat kan grond byhuur en vee aanhou nie, ek hoor hy’t al weer bygehuur. Terwyl hy kap, pas die stomme vrou vee op soos ’n meid. Die ander dogter is goed getroud in Johannesburg.
“Ma …”
“Gooi vir Johannes nog ’n bietjie koffie in, Karoliena, en trek reg jou rok – die ding hang met ’n punt.”
Die enigste uitweg was om Johannes te sê hulle moet ’n entjie gaan stap.
Die loeries was al besig om bome toe te kom vir gaan slaap, maar dit was nog lig genoeg. ’n Ent die bos in met die voetpad het Johannes skielik haar hand gevat, haar reguit in die oë gekyk en half ongeduldig uitgeroep: “Karoliena, jy moet uitkom uit die bos uit. Dringend!” Amper asof hy haar aan die hand wou vat en uit die bos trék.
“Ek weet nie hoe nie,” was al wat sy kon sê. Hy had die mooiste blou oë …
“Jy’s ’n pragtige meisiekind, jy hoort nie hier nie!” Droomwoorde. Afwassing. Sy wou nie hê hy moes ophou nie. Die mooiste gesig …
“Ek moet terug Wittedrift toe, hulle wil nie hê ek moet uit die skool uit nie.”
“Tot die einde van volgende jaar. Standerd tien is genoeg. Parkes stel al meer meisies in hulle kantore aan, ek het goeie kontak. Jy moet uit die bos kom.”
“Waar kry ek blyplek op die dorp?”
“Daar loseer gawe jongmense by miss Ann Macmaster se losieshuis. Jy sal gou leer om Engels te praat.”
“Ek kan Engels praat. Mister Fourcade praat net Engels met my.”
“Jy moet wegbly van daardie ou Kommunis af. Vir wat peuter die ouman met jou? Ek is seker dis vir jou wat ek eendag in sy motor gesien het.”
“Hy gee my soms geleentheid Wittedrift toe. Of huis toe.” Hy is eintlik my pa, maar niemand weet dit nie.
“Ek hou niks daarvan dat jy saam met hom ry nie.”
Die lewe het opwaarts begin val …
Terwyl jy eintlik steeds in jou slaap geloop het en die mooiste drome deur jou kop laat speel het.
Behalwe dat die duiwel eers ’n laaste pluk kom gee het! Want vieruur een oggend, toe oom Cornelius die voordeur oopmaak om te begin aanstap na waar die planters ligdag moet inval, sit Hestertjie Vermaak van bokant Diepwalle buite inmekaargekrimp in die lampskynsel. Sy huil bitterlik.
Oom Cornelius sê hy’t nie tyd vir meisiekindgeneuk nie, die voorman laat nie inval as jy nie betyds is nie. Haar ma kom met ’n kombers om die lyf en help Hestertjie die huis in, sy kan skaars op haar voete bly. Sy, Karoliena, kom staan in die middeldeur om te kyk wat aangaan.
“Ant Meliena,” huil Hestertjie, “ek’s in die andertyd.”
“Jissus!” skree haar ma en stamp Hestertjie dat sy op die voorhuiskatel val. “Kan julle nie julle gatte toespelle nie, is hier nie genoeg swaar in die bos nie? Karoliena, breek vir haar ’n patat!”
Sy staan. Die aakligste pikswart donkerte kom stoot die drome in haar kop weg, en los net vir Hestertjie in ’n bondel op die katel.
“Karoliena!”
“Ja, Ma.”
Sy en Hestertjie was saam in dieselfde klas. Hoewel Hestertjie twee jaar jonger is omdat sy op ouderdom skool toe is. Hulle was elf kinders en haar pa was ook ’n houtkapper. Dan sê meneer hy wens hy kon die twee van hulle deel: helfte van die een vir die ander een; helfte van Hestertjie se soet vir Karoliena, helfte van Karoliena se verstand vir Hestertjie. Af en toe loop sy ná skool saam met Hestertjie huis toe, sommer van nuuskierig om bietjie na Hestertjie se ma te gaan aap. Dik. Ou swart hoed op die kop, die kinders sê haar hare is gekoek, sy’t nie ’n kam nie. Ná ’n ruk – altyd sodat die antie sal hoor – vra sy vir Hestertjie wat so stink? Dan word die antie kwaad. Skree sy: Maaifoelie, jy moet in my huis kom staan en snuif! Vandat jou blerrie ma man gevat het met plankvloere en ’n stoof verbeel sy haar sy’s die blerrie queen! Plaas sy liewers haar maaksel maniere leer. Ek’s ’n geleerde vrou.
Hestertjie se ma had ’n boek. ’n Rooi boek. Flenterig. Maar dit moes altyd op die rak in die voorkamer lê want as die kerkverpleegster of predikant kom, het die antie die boek op haar skoot oopgeslaan en aandagtig daarin begin lees. Toe sê Hestertjie eendag haar ma kan nie eers lees nie. Toe sien sy, Karoliena, dis ’n skoolgeskiedenisboek. Immers kon háár ma darem lees.
Laat die middag, toe haar ma terugkom van Diepwalle af nadat sy saam met Hestertjie geloop het om te gaan sê, het sy met sulke snaakse stil-oë op die rusbank kom sit. Ná ’n ruk sê sy: “Jy moet klaarkry met skool, Karoliena. Jy moet Johannes Stander vat.”
“Ja, Ma.”
Sy sou dorp toe gehardloop het na Johannes toe as sy kon.
Sy moes uitkom uit die bos.
Maar toe sê Johannes sy moet eers standerd tien klaarmaak.
’n Lang jaar, ’n bitter jaar. Aan die een kant het haar ma bly pluk om haar uit die skool te kry; aan die ander kant het Johannes bly stoot om haar in die skool te hou.
“Geleerdheid, Karoliena, is besig om ’n vereiste vir vandag se meisies te word. Jy sal my nog dankbaar wees.”
Haar ma het tot by dominee loop moles maak oor die Kerk nie wou toelaat dat haar meisiekind om toekomsredes uit die skool gehaal word nie. As sy Johannes Stander as skoonseun kwyt is, vat sy die hele Kerk met preekstoel en al hof toe. Wag maar. Skoolvakansies, wanneer sy, Karoliena, soms saam met mister Fourcade bos toe is, het haar ma tekere gegaan soos ’n kloekhen wat in elke skaduwee ’n valk sien verbyvlieg het.
Die laaste dag van die laaste skooljaar van haar lewe het Johannes haar en haar soetkys self by Wittedrift se koshuis kom haal. Agter die berg, amper by Uniondale se kruis, het hy stilgehou en haar gesig tussen sy hande gevat. Godswonderlik. Sy oë het skroomloos gesê hy vat haar nou vir hom.
“Van hier af loop ons saam, Karoliena. Ek gaan na jou omsien, ek gaan jou uit die bos haal en onder my eie sorg plaas. Verstaan jy wat ek sê?”
“Ja.” Nie heeltemal nie. Maar sy’t geweet as die engele haar op daardie oomblik hemel toe wou kom haal, sou sy gesê het hulle kan maar verbyhou – sy’s klaar in die hemel.
“Ek het met jou ma gaan praat en konsent by haar gekry om van hier af na jou om te sien. Van volgende Maandag af sal jy by miss Ann loseer, sy sal jou onder hande neem, sy het ’n hart van goud vir armes en is ’n welopgevoede dame. Mevrou Cuthbert – haar huis is ook in Main Street – sal begin om vir jou paslike uitrustings te maak. Ek is besig om die woning langs my winkel te laat verbreek en mooi op te knap; hulle slaan môre die vloere.”
“Gaan ek nie huis toe nie? Langvleibos toe nie?”
“Ja, jy gaan vir ’n bietjie meer as ’n week na jou ma en oom Cornelius toe.”
“Ek dog jy’t gesê jy gaan vir my werk kry by die saagmeulfabriek.”
“Ek het daarteen besluit. My vrou hoef nie te werk nie – behalwe as ek jou in die winkel mag nodig kry.”
“Hoe oud is jy, Johannes?” Dit het gelyk of daar al grys hare tussen sy mooi swart hare was …
“Ek word vier-en-dertig. Jou ma sê jy word die 18de Januarie negentien, ek wil vir jou vra om op daardie dag my bruid te word.”
Die lewe het begin om opwaarts te bollemakiesie. Een oomblik was sy toegespyker in ’n kas waaroor ARMBLANKE in groot letters geverf was, die volgende oomblik het Johannes Stander haar met sy kaal hande begin uitbreek.
Toe sy by die huis kom, was ’n stippeltjie lig ook besig om oor die bos te breek.
Haar ma was anders. Oom Cornelius was anders.
“Die wiel draai, Karoliena. Die wiel draai.”
“Dis waar, Ma.”
“Gedra jou stigtelik, bly in die huis. Ek het Johannes belowe om agter jou te kyk.”
Daar was ’n vreemde vroomheid aan haar ma. ’n Soort saligheid. Aan oom Cornelius ook – miskien minder salig, meer soos ’n verblydheid. Haar ma het ’n skottel groenbone gesit en afhaar; oom Cornelius was besig om net buite die voordeur se drumpel ’n kapmes met ’n platvyl skerp te maak.
“Goeie tyding het die bos ingekom,” sê hy.
“Wat?”
“Bosbou gaan ons werk gee teen ’n vaste loon.”
“Hoe so?”
“Daar gaan plantasies aangeplant word so ver jy kan sien. Goewerment het opdrag gegee. Mister Keet sê dis werkskaffing aan die armes. Staatsplantasies. Ons moet pynbome aanplant.”
“Dennebome,” het haar ma met die regte woord gehelp.
“Wat dan van die aanplantings waarmee oom-hulle besig was? Die oop kolle in die bos?”
“Bosbokke het als opgevreet. Jan Westraad sê my daar’s nie ’n blaar oor van die lotte wat ons in Diepwalle se bos geplant het nie. Als verniet.”
“Hestertjie het toe ’n seunskind,” sê haar ma.
“Het sy al uitgebring wie s’n dit is?”
“Nee. Jy moet jou stigtelik gedra, Johannes moenie ’n klad op jou vind nie. Wat’s jy so rusteloos?”
“Ek gaan nou dorpenaar word, Ma.”
“Hy’t gesê, ja. En hy’t gesê ek kan vir my lap vir ’n nuwe rok in sy winkel gaan uitsoek, hy reken jy sal handig wees in die winkel. Ek sê hom hy vat vir hom ’n flukse vrou, sy help in die tuin en in die huis. Maar ek sê vandag vir jou, ek wil van daardie oranje sweets in die glaspotte op sy winkelrak hê. En van die blikkies sardiens. Oom Cornelius moet ’n nuwe broek ook kry.”
“Ma! Ek kan nie sommer Johannes se goed gaan staan vat nie!”
“En hoekom nie? Wat syne is, is joune. Dis wet. Die predikant was weer hier, Wittedrift het hom gestuur om te kom pleit dat jy vir teacher moet gaan leer. Ek sê vir hom: Dominee, jy kan kom praat tot jy pers is, Karoliena staan op trou met ’n ryke man. Ek en oom Cornelius is laas week met die houttreintjie in dorp toe om te gaan oog gooi waar Johannes huis regmaak. Hy bou kamer aan. Ek sê vir myself, ek sal meer as een lap moet kry, ek kan nie jou laat kop sak oorlat jou mense bosmense is nie. Die een ou vroumens wat in sy winkel agter die toonbank staan, vra ewe vir my of sy van assistance kan wees. Ek sê: No thank you, I just see around, mister Stander is as good as my cleanson.”
“Nie dat almal sal kan oorskuif plantasies toe nie,” praat oom Cornelius weer van die deur af, vermakerig. “Hans Stroebel sê my die manne op Veldmanspad wat in Parkes se bos kap, is vas. Meeste van die huise op Veldmanspad is destyds vir hulle deur Parkes gebou. Dis so goed soos kontrak.”
“O? Ek dink dis eerder Parkes wat bang is die houtkappers loop almal plantasies toe, goewermentswet sê net geregistreerde houtkappers mag kap – selfs in Parkes se bos. Goewerment registreer lank nie meer nuwe kappers nie.”
“Tom Botha, die guard, het gevra na jou, Karoliena. Tom Kennet, die drywer, ook. Hulle sê hulle mis jou op die treintjie, daar’s nie op die oomblik een wat die vreemdes kan bos toe neem en gaan bangmaak nie. Ek sê vir Tom Botha jy’s nou uitgegroei en geleerd, jy staan op troue met Johannes Stander, hy sê jy was altyd ’n mooie meisiekind. Nes ek gewees het.”
Oom Cornelius se kop was skynbaar klaar in die plantasie. “Hier kom baie paaie in die bos, die sleeppaaie gaan gegruis word, nuwes gaan gemaak word; Hans Stroebel sê daar’s in die twintig van die jong ongeregistreerdes en uitslepers uit Gouna-se-bos wat volgende week by die paaie inval. Vaste loon. Die vreemdes kla al meer oor die paaie in die bos, hulle karre breek. Een se wiel het in Kom-se-bos uitgeval. Die man kon doodverongeluk gewees het. Kom jaag hier deur die bos, te verskriklik. Diepwalle se wagter sê my vir heilige waarheid dat twee man laas maand in 3½-uur se tyd van George af tot op Knysna gejaag het. Ek sê vir hom, waar’s die dae wat dit ons 7 dae van George tot op Knysna geneem het met die wa …”
“My pa het altyd gesê dis veertien uur te perd as jy ’n goeie perd onder jou het,” las haar ma by. “Pa had ’n goeie perd, ons was nie altyd so arm nie. En daardie uitlanderman was laas week met sy kar hier voor die deur om te kom verneem of jy wel is, Karoliena,” voeg sy vieserig by. “Ek het hom nie ingenooi nie.”
“Mister Fourcade?”
“Ja. Ek het jou gesê jy moet wegbly van daardie ou hings af, jy moet ophou die bos infoeter agter hom aan.”
Mister Fourcade. “Wat sê hy, wanneer kom hy weer?” Die blyste bly.
“Om wat te kom maak?”
“Sies, Ma. Ek verlang na hom.”
“Jissus!”
Sy’t opgestaan en buitetoe geloop omdat sy benoud begin voel het in die huis. Bang vir iets; geskrik vir ’n vreemde gedagte wat by haar opgekom het, dat ’n mens eintlik twee harte het: ’n naghart en ’n daghart. In die nag loop jou hart na Johannes toe en in die dag na mister Fourcade toe vir skaduwee oor jou kop.
“Karoliena, waar gaan jy nou?” roep haar ma ontsteld agterna.
“Los my.”