Читать книгу Kringe in 'n bos: Skooluitgawe - Dalene Matthee - Страница 11

5

Оглавление

In die weke daarna het Saul geleer wat is kraansaag trek tot dit voel jou arms skeur van jou skouerblaaie los. Eers het hulle die kalander in sewevoetmote opgesaag waar hy lê. Net die dikste deel van die stam. Daarna is die mote een vir een op die putkuil gerol om in sewevoet-dwarslêerdiktes gesaag te word. Soos die dae verbygegaan het, het hulle stiller geword en saans soos lammes langs die vuur neergeslaan. Vir rus was daar min tyd; die hout moes klaar want die uitsleep het voorgelê.

Die derde Woensdag het oom Anneries gestaak. “Joram, as ek nie nou eers ’n slag dorp toe nie, maak ek dit nie.”

“Hoeveel speke kort jy?”

“Een en ’n half. Ek is gedaan, Joram, maar as ek nou uitval, maak ek hulle klaar en val ek môre voordag in die pad.”

“Saul sal saam met jou moet gaan,” het sy pa onverwags gesê. “Ons twak gaan nie hou nie, die koffie en die suiker ook nie.”

Saul se mond het oopgeval om te sê hy gaan nooit weer dorp toe nie. Maar hy sien die waarskuwing in sy pa se oë kom en hy byt die woorde terug.

“Waarmee gaan ek dit koop?” vra hy verslae.

“Jy loop sê vir mister MacDonald ek het jou gestuur. Sê vir hom ons bring ’n vol vrag dwarslêers uit en hy moet vir ons die goed op ’n goodfor gee.”

“Sal dit nie beter wees as Pa liewers self gaan nie? Ek en Jozef kan hier aangaan … Wie sê hy gee dit vir my?”

“Maar ek sê mos jy moet sê jy is Joram Barnard se seun!” het sy pa hom kortgevat. “Hy kan mos in sy boeke opkyk hoeveel jare lat ek al hout bring!”

Voordag, die Donderdag, was oom Anneries se speke in die sak. Gouna deur was dit meer as ’n dag se stap dorp toe.

“Vra by Gouna se mense plek vir die nag,” het sy pa oom Anneries vermaan. “Moenie in die donker in die Bos staan infoeter nie, die grootvoete gaan julle trap!”

Maar toe dit donker word die aand en oom Anneries die hoeveelste diepkloof met hulle deur, vra Saul later hoe ver hulle dan nog van Gouna af is? Hy kon nie meer nie. Die hele dag het die ou met so ’n haas in hom geloop dat jy teen die afdraande net moes vastrap om nie te rol nie. Elke blaaskans het hy omgekriewel en aangejaag. En hy het klowe en dikbos gekies wat Saul nie geweet het bestaan nie; voetpaaie, sleeppaaie, ure napad, totdat hy begin twyfel het of hulle ooit weer in ’n pad sal uitkom.

“Ek vra hoe ver ons van Gouna af is, oom? Dit word donker.”

“Ek ken geniemand by Gouna nie. Lê nie by vreemdes nie.”

“Oom wil tog nie … Ek loop nie in die donker nie, oom! Ek sê oom dit nou!”

“Dis volmaan. Ons loop.”

“Ek is moeg, oom!”

“Ek wil nie môreaand op die dorp staan aankom nie, dan kon ek maar gebly het waar ek was.”

“My voete kan nie meer nie, oom!” Hy was die duiwel in vir die ou man. Sy pa het uitdruklik gesê hulle moet by Gouna slaap. “Ek sê, my voete kan nie meer nie!”

“Myne ook nie.”

“Die grootvoete gaan ons trap, oom!”

“Daarvoor het ons oë en ore. Kom! Ek los jou as jy agter raak. Ons kan slaap as die dorp na genoeg na my sin is.”

Dit was ’n nagmerrie. Elke tree agter oom Anneries aan was dit lyf reghou vir hol of klim, want al wat jy kon sien, was ’n skynsel van die maan deur die pikswart ruigtes en die ou se swart gestalte nes ’n regop bobbejaan voor jou uit. En hy moes naby hom bly, agter aan sy baadjie pluk as ’n tak kraak, want hy was bang die ou hoor dit nie.

“Hoor oom dit?”

“Ja. Bosbok.”

“As die grootvoete ons vannag jaag, hoop ek hulle trap oom goed fyn! Oom wil nie luister nie!”

“Die grootvoete is hoër op.”

“Hoe weet oom dit?”

“Marais skiet nog heelweek daaikant toe.”

“Oom sê self hier’s honderde van die goed in die Bos.”

“Kom!”

Daar was een geringe troos: van donker af het die ou in die voetpaaie en sleeppaaie langs gebly.

Dit moet naby middernag gewees het toe die tak kort agter hulle klap en selfs oom Anneries in sy spore vassteek.

“Oom?”

“Sjuut!”

“Wat hoor oom?” Die ou had hom aan die mou beet sodat hy nie kon hol nie.

“Sjuut!”

Die paddas het opgehou met klik, en as die paddas stil word, kan jy jou maar klaarmaak …

“Sien oom iets?”

“Ek dink ons is in die donker by hulle verby. Kom!”

Soos ’n nagdier op die vlug het oom Anneries die rigting gekies: eers oos, toe suid, weer ’n ent oos en toe in ’n diepkloof af.

“Ons gaan ons nekke breek! Ek kan nie sien nie!” het Saul geskree, maar die ou het net takke gebreek.

“Kom! Nog ’n klein entjie, grootvoete sal nie hier af nie!”

’n Paar honderd tree verder teen die skuinste af het die ou eindelik tot stilstand gekom.

“Kry vir jou rug ’n boom. As jy hier afrol, rol jy tot onder en dis ver.”

“Waar is ons, oom?”

“Twee uur van die dorp af. Gee daar vir ons ’n patat, ek is klaar.”

“Wanneer is ons dan by Gouna verby?”

“Vergange. Môreoggend gaat ons nou net hier af tot onder, dan anderkant uit, en as die son opkom, is ons bo by Garna-se-Nek.”

Hy het sy lyf agter ’n boom ingewoel, die sak met die patats onder sy kop gesit en aan die slaap geraak. Eers toe oom Anneries hom die volgende môre wakker skud, het hy gesien wáár die ou hulle in had. Onder hulle het ’n kloof afgehel wat jou kop laat duisel. Geen grootvoet sou dit tot daar gewaag het nie, en as sy lyf nie agter ’n boom geanker was nie …

“Ons kon hier afgerol het, oom!”

“Ons het nie. Kom!”

Hulle is vasklou-vasklou daar af en oorkant hande-viervoet soos bobbejane uit.

“Jy gaat netnou ’n ding sien,” het oom Anneries geheimsinnig belowe toe hulle amper bo was.

“Watse ding?” Hy was nie lus vir die ou se praatjies nie; hy’t simpel geslaap en die dorp het al nader gekom.

“’n Ding, sê ek jou … Wat blaas jy nes ’n kruppel os?”

“Jirre, oom, oom maak ’n man klaar!”

“Ek gaat vir jou pa sê jy vloek.”

“Pa sou ook gevloek het.”

“Wag maar, jy gaat ’n ding sien.”

Ná nog ’n kwartier se klim was hulle bo in ’n sleeppad.

“Ek sien niks.”

“Wag tot ons bo-op die Nek is, dan gaat jy die ding sien.”

“Ons moet rus, oom!”

“Jy kan daar bo rus.”

“Is dit nou die bottel Cape Smoke wat oom so aanjaag?”

“Los grootmenssake uit, hoor jy?” het die ou verontwaardig gebrom.

Die sleeppad maak ’n wye draai deur die ruigtes om die kop: aan die een kant is die helling, aan die ander kant die helse afgrond, en met net ’n wa se breedte klou die oopgekapte pad al teen die skuinstes langs.

“Gaan ons die hout hiérlangs uitbring?” het hy onrustig gevra.

“Dis nog niks, ons het Witkop-se-Hoogte met die napad uitgesny. Jou pa sal osse moet byleen. Gaan nie daai hout met daai twaalf osse uitkry nie.”

Toe die sleeppad om die kop begin swaai, het dit geleidelik begin ligter word … Hoe verder die pad omkom, hoe yler word die Bos aan die onderkant …

’n Paar treë verder het hy vasgesteek.

“Gesê jy gaat ’n ding sien,” het oom Anneries agter hom gelag.

Deur die yl bos, sonopkant en in die verte onder hulle, het die blink water van die Knysna uitgestrek gelê tussen die rante … Tot waar die gat tussen die koppe ingebyl is en anderkant alles, so ver as wat ’n mens kan sien en tot agter waar die hemel afbuig aarde toe, lê die plat, bloue water van die see.

“Dis die see,” het hy half verskrik uitgekry. Al die voetseer, al die lyfseer, alles het skielik tot stilstand in hom gekom; net sy oë het na die wonder wat hy deur die yl Bos uitgestrek sien lê het, bly gryp.

“Gesê jy gaat ’n ding sien. Jy wou mos altyd die see sien. Daar is hy nou.”

Duskant die gat in die koppe en Boskant van die Knysna het die huise van die dorpie soos klein wit blokkies gestaan, en oor alles het die son rooi deur ’n blou bank wolke in die ooste gebreek en sy warm gloed oor die see gegooi.

Só sal die hemel lyk, het hy gedink.

“Maak toe jou mond, Saul!”

Só moet ’n voël voel as hy hoog oor die Bos sweef; só sien die son die aarde en só sien God dit ook …

“Kyk nou klaar en kom, Saul!”

Eendag, eendag sal hy op ’n skip klim en daar waar die Knysna deur die gat skuim, sal hy deurvaar die oop see in en vry wees soos ’n voël!

“Wat is anderkant die see, oom?”

“Seker Engeland?”

“En anderkant Engeland?”

“Hoe moet ek weet? Kom nou!”

“Waar lê die Kaap dan?”

“Sononder se kant toe. Hulle sê die see loop met ’n draai tot daar. Kom nou, mens!”

“Ek het nie geweet die see is só groot nie.”

“Moenie dink hy lê aldag só hondmak nie! Wag maar lat die oostewind opstaan en hom kom deurmekaar krap, dan sal jy ’n ander ding sien … Gaat jy nou kom of gaat jy nou nie kom nie?!”

“Nee.”

“Wat?”

Eendag sal hy nie meer woon waar dit altyd skemer is nie, hy sal soos ander mense in die son woon …

“Ek sê, jy moet nou kom!” het oom Anneries begin kwaad word. “Ek sê dit nie weer nie!”

“Ek bly hier, oom kan alleen dorp toe gaan.”

“Wat?”

“Oom kan die goodfor vir MacDonald loop vra en die goed kry. Ek bly net hier.”

“Jy sal laat ék jou vandag bykom! Waar kan jy soos ’n Veltmaspad-muil staan vassteek en sê jy gaat nie verder nie? Het jy nou bejosie geraak?”

“Ek bly net hier.”

“Dit lyk my jou pa het jou nie goed genoeg bygekom nie! As ek vandag vir jou gat ’n spar vat, sal jy spyt wees! Jy’t gekom tot hier en jy sal gaat tot daar al moet ek jou hier afsléép!”

Saul het geweet hy het die meeste uitstel uit die ou man getart en sonder ’n verdere woord begin aanstap. Dit het gevoel of sy lyf in rieme vasgewoel was en alles in hom wou uitbreek. Dieselfde magtelose koppigheid as die dag toe hy die byl teen die kalander moes lig, het in hom opgestaan en aan die rieme geruk.

Toe hulle kort voor kwartdag in die stil stofstraat afstap, het hy probeer om so te loop dat sy tone nie voor by sy skoene uitpeul nie.

“Het jy nou mank geword?” het oom Anneries, nog steeds vies, gevra.

“Nee.”

En toe sy toon nie wou binne bly nie, het hy gemaak soos Jozef maak en nie opgekyk uit die stof nie.

Op MacDonald se werf het die dwarslêers hooggestapel gelê en twee waens was besig om nog af te laai. Hy het saam met oom Anneries by die hek gestaan sodat hy kon moed kry om oor die oopte na die skuur te loop.

“Hy kan jou tog nie opvreet nie!” het die ou hom later ’n stamp gegee. “En moenie vergeet lat hy twak ook moet opskryf nie.”

“Kom saam, oom, asseblief.”

“Is jy simpel? Netnou praat die man Engels met my. Toe loop nou!”

Dit het soos myle tot by die skuur gevoel; hoe nader die skuur kom, hoe harder het sy hart geklop. Agter ’n leë wa langs die skuur het hy eers ’n oomblik gaan skuil om sy woorde bymekaar te maak.

“En toe, wat soek jy?” het ’n man skielik agter hom gevra en hom verskrik laat omspring. Dit was MacDonald.

“Ek is Joram Barnard se seun, oom. Ons kos is amper op, oom. My pa sê …”

“Mister MacDonald! Jy’s nie nou in die Bos nie en jy praat ook nie met ’n boswerker nie. Wat is jou pa se naam?” Nie botaf nie. Ongeskik.

“Joram Barnard, mister. Ons het laas waenhout gebring. Dis ons wat nog op die kis geskuld het,” het hy verskrik afgerammel en die eintlike woorde wat hy uitgedink het, vergeet. “Toe sê mister ons moet gaan dwarslêers werk en ons werk dwarslêers en Pa het gesê ek moet vir mister sê ons bring ’n vol vrag uit. Voor die end van die maand.”

“Joram Barnard, sê jy?”

“Ja, mister. As mister ons net met ’n goodfor kan help tot dan toe. Pa het gesê …” Maar sy asem wou nie verder nie; agter MacDonald, met ’n voetpad wat deur die lang gras oopgetrap was bo van die groot huis af, het twee meisiekinders aangestap gekom en die voorste een was die een wat soos ’n engel lyk en wat by die wa gestaan het … As hy net ’n hoed had om voor sy gesig te druk …

“Hallo, Daddy!” roep die meisiekind toe hulle deur die hekkie kom, en waai vir MacDonald.

“Go home, Kate! Take Mary home and stay there!” het MacDonald met hulle geraas en by die skuur ingeloop. Hy het nie gesien dat die meisiekinders nie vir hom luister nie en reguit na hóm toe aankom nie!

“Hallo!” kom sê sy sonder skroom en reg voor hom. “Was dit dan nie jy wat die ander dag op die wa gesit het nie?”

As hy net ’n hoed had!

“Ek het gewonder wanneer julle weer kom hout aflaai. Het jy al ’n olifant gesien?”

Sy keel was aan die toewurg en hy het dit oorweeg om onder die wa in te spring, tussen die agterwiele deur te kruip en te hol. Maar hy moes die goodfor hê! Waarom kom MacDonald nie uit en verwilder hulle nie? Vir wat het sy hom so gestaan en aanstaar?

“Ons het verlede Sondag in die Bos gaan piekniek hou, maar my pa wou nie dat ons ’n bietjie dieper in loop nie en toe het ons nie olifante gesien nie.”

Sy het so anders gepraat. So mooi. Of haar woorde spierwit skoenlappertjies is wat uit haar mond kom en oral gaan sit. Hy het sy oë voor hom op die grond gehou en gebid dat MacDonald moes gou maak!

“Ek wil só graag ’n olifant sien,” het sy aangehou. “Sien jy dikwels olifante?”

Hy het sy kop geknik en gehoop sy sou tevrede wees en haar loop kry. Maar nee!

“Grotes?”

“Ja,” het hy onderlangs gesê; dalk loop sy dan as sy weet wat sy wil weet.

“Hóé groot?”

“Baie groot.” Hy het nie opgekyk nie.

“My pa het baie olifanttande. Hulle laai die tande op die skepe, maar hy sê hulle maak nie die olifante dood om die tande te kry nie, hulle vang hulle net, en trek hul tande uit.”

“Dis ’n lieg!” Hy het ’n oomblik van sy penarie vergeet en dit reguit in haar gesig gesê. “Waar sal ’n olifant hom vir ’n tandetrekkery laat staan vang? Klink vir my na ’n regte bloubokkie-se-gal-storie.”

“Ekskuus?”

“Niks.”

“Hoe oud is jy?”

“Veertien.” Vir wat wou sy dit weet?

“Ek is tien. My naam is Kate en dis my sussie, Mary. Wat is jou naam?”

“Saul.”

“Ons het eers in die Kaap gewoon en daar skoolgegaan. Ons gaan nou hier skool. Waar gaan jy skool?”

Hy het haar nie geantwoord nie. MacDonald het genadiglik uit die skuur gekom en gesien hulle staan nog altyd daar.

“Kate!” het hy geraas. “I told you not to speak to these people! They’re wild!”

“But he’s nice, Daddy.”

“Go home immediately!”

Saul het geweet MacDonald raas met haar oor hom. Hy’t gehoor MacDonald sê hy is wild; hy weet wat wild beteken …

Toe hulle wegstap, het MacDonald omgedraai en die groot boek oopgemaak. “Ek sien hier staan nog taamlik skuld op julle boek en julle wil al weer kom koop?”

“Ons werk sware hout.” Hy het grond toe gekyk.

“Wat wou jou pa gehad het?”

“Koffie en suiker en meel … en ’n bietjie twak ook, asseblief.”

MacDonald het die goodfor uitgeskryf en daarmee in sy hand bly staan. “Hoe oud is jy?”

“Veertien gewees, mister.” Wat wil almal skielik weet hoe oud hy is?

“Mm … jy is groot vir veertien. Is jy seker jy is nie dalk sestien nie? Ek is nie so seker dat julle altyd weet hoe oud julle is nie.”

“Ek is veertien.”

“Ek soek ’n sterk jong seun om hier by die skuur met die hout te help. Slaapplek en kos en twee sjielings ’n week.”

“Bedoel mister nou dat ek vir mister moet kom werk?” Hy was nie seker of hy reg gehoor het nie.

“Ja. Maar ek wil jou nie hê as jy onnosel is nie.”

“Ek sal vir my pa sê.”

’n Week later het hulle begin uitsleep. Sy pa het vier osse by Diepwalle gaan byleen en hulle het die slee met sestien voor uitgesleep tot by die wa anderkant Kwê-se-Draai. Dit was nie speel nie! Die meeste van die tyd moes hulle rolhoute onder die slee insit om die vrag deur die klowe te kry, en vir meer as die helfte van die afstand moes hulle sleeppad uitkap.

“As dit net wou reën,” het hulle elke dag gehoop; sware hout sleep makliker uit in natweer. Maar dit wou nie reën nie, net ’n boomtopreëntjie een nag, en die hele tyd het Saul met die pad wat nog vir die wa voorgelê het, in sy kop geloop.

Oor die werk by MacDonald het hy niks vir sy pa gesê nie. As die groot moeg in ’n man sit, moet jy nie met ander dinge by hom kom peuter nie. Die groot moeg was in hulle almal, die kalander had hulle klaar.

Die uitsleep tot by die wa het ’n volle week geduur. Die Sondag het hulle soos dooigoed gelê en gerus en die Maandag, voordag, het hulle met die oorlaai van die sestig kalander-dwarslêers van die slee na die wa begin.

Driekwartdag, Dinsdag, toe hulle die osse bokant die eerste nekbreekafdraand, Witkop-se-Hoogte, laat rus, het Saul gesorg dat hy agter by die briek en oom Anneries kom. Daar sou nie plek wees om verby te kom as die wa eers begin afgaan nie, en as jy lastig is, kom Joram Barnard jou sommer met die voorslag agter die blaaie by.

Daar was ’n hol kol op sy maag toe sy pa die sweep oor die osse klap en oom Anneries die briek laat skiet.

“Hiep! Vat hom, my mooies!” skree sy pa en sy stem slaan onder teen die bloukranse vas. Die wa het kreunend begin beweeg. “Dam die osse op as ons die afgaan vat, Jozef!”

Sestien osse, drywer, briekdraaier, touleier, tesame had hulle net die één ding om te doen: om die swaargelaaide wa daar af te kry. Sy pa het die osse soos mense aangepraat; oom Anneries het die briekslinger nie ’n oomblik gelos nie: skietgee, aandraai, skietgee, aandraai. Aandraai tot die agterwiele deur die stof sleep soos bene wat vasgeskop het en dit lyk asof die vrag uit die woelrieme wil breek.

“Ek het vir jou pa gesê ons moet met die slee uitsleep tot oorkant, nie met die wa nie!” het oom Anneries gebrom terwyl hy sy waak oor die briek en die vrag hou, “maar ’n Barnard het mos ’n annerster soort eiewysheid in hom!”

“Pa sê ons sal deurkom, oom.”

“Ja, Koos Piets het ook so gereken. Sy osse se geraamtes en sy wa se stukke lê nog iewers daar onder in Keurkloof se ruigtes. Dis sleeppad dié, nie wapad nie!”

Die uitry van daardie dwarslêers was hel. Moeë osse, moeë mense, moeë wa, die hotagterwiel keer op keer ’n handbreedte van afstort oor die afgrond en net die agterosse wat elke keer die wa moet teëhou sodat die voorosse eers weer kan wegkom voor.

“Kortkwas! Meelkop! Diklies, Varkoor!” Asof hy ’n uitgerekte rympie opsê, het sy pa die osse van voor tot agter aangespreek terwyl die sweepslae soos geweerskote oor hul koppe klap. Nooit het Saul ’n man teengekom wat met ’n span kon werk soos Joram Barnard nie. Onder sý jukke het ’n span nooit gaan lê nie. “Bring hom, Bontlap! Help hom, Witman!” Met die agterosse het hy anders gepraat as met die voorstes, soos wanneer ’n mens met grootmanne praat. “Vat hom nog ’n klein bietjie! Kus lê voor, my mooies!” Nooit is ’n os se stert in sý span gedraai nie, of ’n lies of ’n boud stukkend geslaan nie. Hy het hulle die klowe deur gepráát.

Laatmiddag, die Woensdag, was die dwarslêers op MacDonald se werf afgelaai. Toe dit klaar was, het hulle sommer teen die wal bokant die wa gaan lê en gewag dat MacDonald met die boeke kom.

“Pa … laas, toe ek die goodfor kom vra het, het mister MacDonald gevra of ek nie vir hom wil kom werk nie.” Sy pa het nie geantwoord nie, net dieper aan sy leë pyp gesuig. Die kos en die twak was op. “Hy praat van slaapplek en kos en twee sjielings ’n week, Pa.”

“Ons werk vir onsselwers.”

“Ek het gedink, miskien …”

“Ons belang aan onsselwers en ons werk vir onsselwers!” het sy pa met trots gekeer en iets in Saul laat goed voel. “Ons werk nie vir MacDonald nie!”

“Ja, Pa.”

Eenkant teen die wal het oom Anneries regop gekom en ’n laaste speek reggekap. Dit was al sterk skemer toe MacDonald oor die werf kom.

“Naam?”

“Joram Barnard.”

Die blaaie van die groot boek het deur sy vingers gegly. “Mm … taamlik skuld. Wat het julle gebring?”

“Dwarslêers.”

“Dwarslêers? Die hele wêreld lê vol dwarslêers. Kyk hoe lyk dit hier op my werf van al die goed!”

“Mister MacDonald,” Joram Barnard se stem was stroef, “jy’t ons gesê om dwarslêers te gaan werk, ons is anderkant gedaan verby en …”

“Dis nes julle is!” het MacDonald hom doodgepraat. “Julle het geen verstand nie. Sê ’n mens ‘dwarslêers’ is dit al wat in julle koppe vassteek en julle sal dwarslêers uitsleep tot oordeelsdag toe! Watter hoop is julle s’n?”

“Langs die wa,” het sy pa stilweg gesê en hulle is saam tot by die hout.

“Ek het nie gesê julle moet ’n berg dwarslêers aanry nie! En kyk hoe treurig is die hout! Is dit vuurmaakhout?”

“Nee, mister MacDonald, dis eersteklas kalander.”

MacDonald se lag het soos ’n hond se blaf geklink. “Jy moet kom dat ek eendag vir jou wys hoe eersteklas kalander lyk! En wat dink jy moet ek met die klomp goed maak?”

“As mister MacDonald onseker is van die klas, sal ons wag tot ligdag toe sodat mister MacDonald beter kan sien. Dis mooie hout en mooi gewerk.”

MacDonald was kwaad. “Moenie met my kom staan en stories hou nie, Barnard! Ek het nie tyd vir bospraatjies nie. Die Goewerment soek stinkhout, die skeepsbase soek stinkhout, die hele wêreld soek stinkhout en my werf lê oorstok van dwarslêers en ek moet net goodfors uitdeel!”

Jozef het eenkant gehurk en met ’n stok in die grond gekarring. Oom Anneries het sy speke in ’n riem begin vaswoel … In Saul het ’n woede opgestaan wat sy hande langs sy sye laat vuis het en hom bloed uit sy binnewang laat byt het. MacDonald had hulle vas. Die boek in sy hand wat die skuld op die blaaie dra, is die sweep wat hulle op hul knieë het en wat MacDonald kon laat lieg soos hy wou!

“Ek moet my eie keel vir julle afsny met goodfors!” het MacDonald voortgeskel. Bo, in die groot wit huis teen die skuinste uit, het die eerste lampe vir die aand geel skynsels deur die vensters gegooi. “Ek behoort julle aan te sê om die hout terug te vat Bos toe en te loop verbrand, maar nou moet ek iets van die skuld op my boek probeer terugkry. Ek sal vir jou tien sjielings op die skuld aftrek en ’n goodfor vir koffie en suiker en meel gee. Dis al.”

“Ons moet twak ook hê, mister MacDonald,” het Joram Barnard openlik gepleit. Van die skoene wat hy gesê het hy vir Jozef sou koop, het hy stilgebly.

“Julle kan twak kry, maar dié kom op die boek! Julle sal julle lewe lank in die skuld bly, Barnard!”

Hulle is donker uit die dorp uit. Diepwalle se kant toe. By Bokbaard-se-Draai het hulle uitgespan; oom Anneries het gesê hy sal hulle daar inhaal.

“Hoe sweer ’n mens, Jozef?” het Saul hom eenkant gevra.

“Op die Bybel.”

“Op enige plek?”

“Seker. Wie wil nou sweer?”

“Ek.”

“Wat wil jy sweer?”

“Sommer ’n ding.”

“Pa sê dis groot sonde om te sweer, die engels vat jou sommer reguit hel toe as hulle jou die dag kom vat.”

Saul was nie oor die engele bekommerd nie, hy was net haastig om by die huis en die Bybel te kom.

Kringe in 'n bos: Skooluitgawe

Подняться наверх