Читать книгу Kringe in 'n bos: Skooluitgawe - Dalene Matthee - Страница 8
2
ОглавлениеVandat hy kan onthou, is Oupoot die mees gevreesde olifant in die Bos. Geen houtkapper het sonder respek van hom gepraat of sy spoor gekry en nie onmiddellik gekyk watter kant die wind waai nie.
Hy was veertien toe hy Oupoot vir die eerste keer gesien het. Baie dinge het met hom gebeur toe hy veertien geword het …
Die godsiekte het twee maande voor sy verjaardag deur die Bos getrek: masels, kinkhoes en plek-plek waterpokke. Magdalena moes eerste gaan lê. Toe Sara inval, het hul ma ook siek geword. Masels. Hy en sy pa en Jozef en ou Anneries het ver van die huis af kalander vir dwarslêers gewerk en van niks geweet nie.
Tant Martjie van oom Martiens Botha, wat ook by Groot Eiland huisgemaak het, het ou Maska gestuur om hulle te soek. As jy die Bos ken en weet in watter rigting om te soek, kan jy soek, so nie moet jy wegbly uit hom. Mens hoor ’n byl se kap diep Bos in en ou Maska het hulle die derde dag gekry. Oom Gert Oog-hulle het ’n paar myl huiskant van hulle gekap en hom gesê waar hulle is.
Hulle het die vuur doodgegooi en dadelik huis toe begin stap. Ses ure se harde stap. Toe die sewester vir middernag sit, het hulle Groot Eiland se oopte binnegeloop.
Die huis het na bossiegoed geruik, tant Martjie se gesig was dik en vreemd in die kerslig en sy het hom en Jozef by die kamerdeur voorgekeer.
Houtkappers maak nie wonderlik huis nie; as die Bos om jou uitgekap raak, gaan maak jy huis in ’n ander oopte. Hulle huis had net twee vertrekke. Hy en Jozef het die katel in die voorvertrek gedeel. Sara en Magdalena en Izak het by sy ma-hulle in die kamer geslaap. Ou Anneries het vir hom ’n skerm buite teen die agterste muur gemaak.
Toe sy pa uit die kamer kom, was sy oë vreemd. Soos blind.
“Hoe’s dit dan met Ma?” wou Saul onrustig weet.
“Nie goed nie.”
“Waar’s Izak en Magdalena?”
“Oorkant by oom Wiljam-hulle se huis. Die siekte is nog nie daar nie. Magdalena is beter.”
Tant Martjie het waterpatats en mielies op die tafel gesit, maar net Jozef het geëet.
“Ek wil Ma sien,” het Saul vir tant Martjie gesê. Sy pa het met die kop beduie dat sy hom moes neem.
Sy ma het nie haar oë oopgemaak nie. Toe hy sy hand op haar voorkop sit, was dit koud en nat en agter haar het Sara geroggel. Die huil het soos spelde in sy keel gesteek.
“Hoekom lyk Ma só?” wou hy van tant Martjie weet.
“Binnetoe geslaan. Die masels.”
“En Sara?”
“Selle.”
“Sê sy moet hoes, tant Martjie! Hoor hoe roggel sy.”
“Sy sal nie hoor nie.” Die ou vrou het haar hand oor haar oë gesit en begin huil.
Hy het buite in die naglug verder gaan skrik … Sy ma sou tog nie doodraak nie? Sara ook nie? Sara was maar tien en so fluks; sy kon patats plant soos ’n seun, sy’t hul ma met alles gehelp. Magdalena was maar sewe en het die meeste van die tyd vir Ma met Izak gespeel. Sara was mooi en slim. Sy ma het haar ook leer lees en skryf en Sara kon die Bybelboeke se name aframmel sonder om te dink of weer van voor af te begin. Die twaalf apostels se name ook. En die Tien Gebooie. Kort tevore, toe die predikant deur die Bos gekom het, wou Sara nie saam met hom en sy pa en Jozef gaan wegkruip nie; sy het by Ma in die huis gebly en dit vir die predikant ook opgesê.
Ma en Sara sou tog nie nou staan doodraak nie?
Sy pa het agter hom by die huis uitgekom.
“Saul?”
“Hier is ek, Pa.”
“Ons moet vuurhout inbring. Tant Martjie wil ’n groot vuur hê, die huis word koud.”
Gelukkig was dit somer. Wintertyd en reëntyd het die koue en die klamte swaar uit die plankmure getrek.
Hulle is saam hout toe. Rondom Groot Eiland het die Bos soos ’n dik, swart boggelmuur gelê; oorkant die diepsloot en teen die skuinste was lig in oom Freek Terblans se huis. Die godsiekte het daar ook ingetrek. By oom Stoffel Weyers-hulle ook.
“Pa,” het hy beangs in die donker gesê, “Ma en Sara is baie siek.”
“Moenie so sê nie!” het sy pa geskrik. “Jy roep dinge aan! Jou ma en Sara is nie wel nie, jy sê só.”
“Ja, Pa. Hulle is nie wel nie.”
“Nee. Hulle is nie wel nie.”
“Oom Anneries het eendag van ’n dokter op die dorp gepraat. Ek en Jozef kan die osse gaan aanhaal en wa toe jaag, ons kan die wa tot by die boonste sleeppad bring en dan dra ons vir Ma en Sara tot by die wa. As ons voordag begin draf, kan ons hulle môre teen die aand op die wa hê.”
“Nee, Saul, die dokter kan niks meer doen as tant Martjie nie. Dis die godsiekte, hy loop sy loop en hy kies sy eie kant.”
Hulle het die vuur hoog aangepak. Na ’n ruk het hy by Jozef op die katel gaan lê en aan die slaap geraak. Die lig was grysvaal in die huis toe sy pa hulle kom wakker maak.
“Die engels het julle ma kom haal,” het hy gesê en buitetoe geloop.
Saul het nog vir Jozef gesê: “Dis nie waar nie, Ma slaap seker net, Pa het verkeerd gekyk!” Maar tant Martjie het in die middeldeur kom staan en gesê sy wil die katel vir Sara hê.
’n Uur later had die engels Sara ook weg.
Saul het so bang geword dat hulle hóm ook sou kom vat dat hy sommer die Bos in gehardloop en gaan wegkruip het. Maar sy pa het hom daar kom uitroep. Hy en Jozef moes Diepwalle toe om sy ma se mense te gaan sê, en Diepwalle toe is ’n hele dag se stap.
Sy ma se mense is nie van hierdie bos nie. Sy oupa, Benjamin Steyn, het van Grootvaders Bosch anderkant Heidelberg gekom en was daar ook ’n houtkapper. Hy was ’n man van amper agtien toe daar op ’n dag ’n baie ryk en vername man met vierhonderd skape van die Kaap af verbykom. Die man sê toe hy is besig om ’n seilskip te bou en soek houtkappers vir hierdie bos. Sy oupa het saamgekom. Hy sê hulle het meer as vyftig wavragte stinkhout vir daardie skip uitgesleep. Die man se naam was George Rex en toe die skip klaar was, drie jaar later, is sy oupa terug Grootvaders Bosch toe om die meisie te haal wat belowe het om vir hom te wag. Maar sy was klaar getroud. Toe bring hy haar suster saam en trou met haar: dis nou hulle ouma Johanna. En ouma Johanna kon ook lees en skryf.
En dit was op pad Diepwalle toe om sy ma se mense te gaan sê, dat hy Oupoot die eerste keer gesien het. Dit was net ná die middag en hy en Jozef het by Klein-Skuinsbos gerus en van die waterpatats wat tant Martjie vir hulle saamgegee het, geëet. Hulle het nie gepraat nie, sommer maar net gesit en gewag dat hul bene beter moet voel.
Die beweging was links van hulle in die ruigte, net so ’n effense roering, en hy dog eers dis ’n loerie of iets, maar toe roer dit weer en hy skrik hom koud, want dis ’n reuse-oor wat tussen die blare flap! Dis ’n olifant! En hy vat na Jozef en Jozef sien dit ook en skrik hom styf. Die olifant moes die hele tyd daar gestaan en hulle dopgehou het. En hy weet hy en Jozef kies instinktief dieselfde stinkhout vir die klim, maar hulle sit asof hulle rotse is! En hy kan nie sluk nie, want sy hart klop te wild en die wind is teen sy rug … Toe die bos voor hulle begin roer en die ontsaglike groot lyf geruisloos vorentoe begin beweeg, het Jozef opgespring en boom toe gehardloop.
“Dis Oupoot!” het hy geskree en geklim dat die takke kraak.
Die volgende oomblik het die olifant in die oopte van ’n stuk kruppelbos gestaan en Saul se hart wou uit sy borskas skop. En asof die olifant wou hê dat hulle hom goed moes sien, gaan staan hy in die oopte en wieg sy slurp stadig heen en weer oor die seweweeksvarings voor hom. Waar die groot, dik tande langs sy kop uit die kasse bult, was hulle blink en geel tot halfpad waar jare en jare se wortels grawe en bas afskeur die voorste deel tot by die ronde punte groen-swart gevlek het. Ten minste honderd pond ivoor aan elke kant. Hy het geweet hy moet by Jozef in die boom kom, maar sy oë wou nie loskom van die ontsaglike olifant nie. Onder die oog wat na sy kant toe gedraai was, het ’n nat kol die skurwe plooie donker gevlek asof hy gehuil het. Oor sy kruis was ’n diep sloot waar ’n koeël jare gelede deurgegroef het en in sy een oor was nog ’n ronde koeëlgat. Net die poot waarvan amper die helfte glo weggeskiet is toe hy nog ’n kalf was, kon hy nie sien nie, want die pote was in die kort ruigte verskuil.
“Saul!” het Jozef benoud uit die boom gefluister.
Maar hy kon nog steeds nie roer nie. Hy het die gevoel gekry dat die olifant daar staan sodat hy hom goed kan bekyk en kan sien dat hy nie die verbeelding van die houtkappers is nie … Daar was iets onbeskryfliks verhewe aan hom. Plegtig groots. Saul se hele lyf was klam gesweet van vrees en tog wou iets vir hom sê om nie bang te wees nie. Nie op dáárdie oomblik nie.
Toe het die slurp skielik opgehou met wieg en die olifant het stadig oor die oopte gestap en in die ruigtes verdwyn asof hy nooit daar was nie.
“Dit was Oupoot!” skree Jozef.
“Hy’t ons nie gejaag nie!” was die eerste woorde wat Saul kon uitkry. “Hy kon ons getrap het, maar hy het nie.” Jozef het uit die boom geklim en versigtig nader gekom. “Hoekom sou hy ons nie gejaag het nie?”
“Miskien het hy ons nie gesien nie.”
“Hy hét ons gesien. Ek weet. En die wind is verkeerd, hy hét ons gesien!”
“Ons moet loop,” het Jozef gesê en bly kyk in die rigting waar die olifant verdwyn het.
“Miskien weet hy van Ma en Sara …” Saul kon nie dink waarom hy so iets sê nie. Dis net dat hy nie kon verstaan hoekom die olifant net daar gestaan en gestaan het nie.
“Jy’s laf,” het Jozef gesê en begin aanstap. “As daardie grootpoot vandag omdraai, is ons getrap, ek sê jou! Kom!”
Teen die laatmiddag het hulle bokant Diepwalle in die hardepad uitgekom.
“Sal jý dit sê?” het Jozef onderlangs gevra.
“Jy’s die oudste.”
“Ouma sal dit van jou wil hoor.”
“Goed, ek sal sê.”
Heeldag deur die Bos het hy geweet Jozef wil nie hê hy moet sien dat hý ook maar kort-kort huil nie. Jozef was soos hul pa. ’n Barnard met ysterhout onder die bas: hard en sterk en goed. Hy het soms die gevoel gekry dat Jozef en sy pa met mekaar praat sonder dat hulle iets sê; oor wat hulle moes kap, waar die boom moet val en nie val nie …
Jozef was altyd bosmens. Hy wou nooit iets anders wees nie.
Hul ouma het langs die huis gestaan soos een wat wag. Sy het nader gekom en haar oë was bang.
“Julle bring tyding.”
“Die engels het vir Ma en Sara kom vat,” het hy vinnig verby die knop in sy keel gepraat en sonder dink bygevoeg: “En ons het Oupoot langs die pad gekry.”
Hulle kon die volgende dag eers teruggaan huis toe. Sy oupa en sy ma se drie broers het in Lelievleibos gekap en hulle moes Hans Oukas stuur om hulle te roep. Hans Oukas is ’n Outeniekwa soos Maska.
Toe hulle die môre in die pad val, was hulle ag: hy en Jozef, hul ouma en oupa en drie ooms en ou Sanna. Sanna is sommer van die los mense in die Bos en sy gaan graag waar sterfte is. Sy is van Veltmaspad se mense en sy was maar altyd simpel. Oom Willem, sy ma se oudste broer, het voor geloop, toe sy oupa en ouma, toe hy en Jozef, en toe die ander twee broers met Sanna agterna. So asof hulle klaar agter die kiste geloop het. En oom Willem het napad Jonkersberg-Eiland deur gesteel en hulle amper in ’n groot trop laat vasloop. Gelukkig was die wind reg en kon hulle bokant verby.
Kort nadat hulle by die huis aangekom het, het sy pa en oom Anneries van die dorp af gekom met die twee kiste. Die volgende middag het hulle Ma en Sara aan die onderpunt van Groot Eiland begrawe. Die meeste mense van daardie deel van die Bos was daar. Saul het met Magdalena geloop en Jozef met Izak. Magdalena wou weet waarheen die engels met Ma en Sara was en wat dan in die kiste is. Jozef het ’n askoek in sy sak gehou en vir Izak gegee as hy huil omdat die grootmense huil. Izak was toe vyf.
Daar was nie ’n predikant nie. Oom Johannes Pels, wat by Portland tuiemaker was, het die diens kom hou. Hy het mooi gepraat en gesê die mense van Groot Eiland sal Maria Barnard mis; hulle het altyd hul Bybels vir haar gebring sodat sy die geboortes en die sterftes kon inskryf.
Magdalena en Izak is saam met hul ouma en oupa Steyn terug Diepwalle toe en het Diepwallers geword. Jare later, nadat Saul se pa hom weggejaag het, het Izak teruggekom en in Joram Barnard se span kom kap.
Sanna is nie saam terug Diepwalle toe nie. Sy maak so. Trek sommer in waar heenkome is en ouma Steyn het gereken hulle moes haar maar hou; sy kon darem na die tuin kyk, die vark kos gee en so aan.
Een ding moes Saul later van haar sê: sy kon ’n stuk grond net so goed soos enige man omspit en ’n patatrank het net nooit onder haar hande verlep nie. In die huis het hy en Jozef maar soms skoongemaak as dit te erg geword het. Sanna het op die katel in die voorvertrek geslaap en hy en Jozef by hul pa in die kamer.
Teen die laatmiddag drink Saul vir die eerste keer in ’n baie lang tyd die bruin water van die Homtini en proe die Bos daarin. Iewers op hierdie dag het Oupoot ook sy dors by ’n bosstroom geles. Waar? Nie ’n teken of ’n gerug wat waar is, het hy van hom gekry nie. Dis nie vreemd nie; jy kan dae en weke lank in hierdie uitgestrekte bos na ’n spesifieke olifant loop en soek. As jy die tyd het. Gewoonlik weet iemand darem watter kant ’n trop wei of waar Oupoot laas gesien is; jy moet maar net aanhou tot jy sy spoor kry en dan moet jy bid dat dit nie reën nie en op hom bly.
’n Paar keer deur die dag wou hy omdraai en teruggaan, maar elke keer het Freek Terblans se gesig hom laat voortsoek na ’n teken van Oupoot. Nie dat die ou ivoordief ’n oulap se omgee of steur werd sou wees as hy hom in die Bos moes raakloop nie; dis die geweer wat Freek dra wat hom met al groter onrus laat voortsoek …
Kort duskant die plek waar hulle die slag die groot kalander afgekap het, besluit hy om slaapplek vir die nag te soek, en kry dit in ’n holte tussen ’n witpeer en ’n assegaai waar die onderbos dik onder ’n man se moeë lyf sal wees.
In die laaste lig van die dag trek hy sy klere uit en loop in die koel water van die Homtini in. Dis soos ou lafenis waarvan sy liggaam al byna vergeet het … Die hele dag was vol ou dinge. Miskien is dit goed dat hy ’n laaste keer deur hierdie bos moet loop sodat sy siel ontlaai kom van alles en hy leeg aan boord van die Pictor kan gaan.
Sou hulle teen dié tyd weet dat hy terug is? Jozef-hulle? Die Bos het eenmaal ’n manier om dinge te weet. Toe hy en Jozef klein was, het ou Anneries altyd gesê die bosbokke vertel die bosloeries, die bosloeries vertel die groot loeries en die groot loeries vlieg met die nuus van tak tot tak, van boom tot boom en van kloof tot kloof, en voor jy weet, weet die grootvoete waar jy is! Mens-nuus het sy eie manier om deur die Bos te trek.
Die volgende môre is sy lyf seer van die harde slaap. Daar is drie dae oor waarin hy hom moet kry. Teen die tyd dat Freek begin soek, moet alles verby wees.
Hy sal hoër langs die rivier op soek; die olifante is lief om op ’n plek omtrent vier myl noord deur die rivier te gaan wanneer hulle wes trek.
Dis weer ’n warm dag. Ná omtrent twee uur se soek kry hy tekens waar ’n trop die nag deur is en besluit om ’n oostelike rigting in te slaan. Dis amper halfdag toe hy suid van hom byle hoor en nader stap. Hy moet kos kry.
“Is meneer van die dorp af?” Hulle herken hom nie. Dis ou Diepwallers met seuns wat intussen groot manne geword het: pa, oupa, drie seuns. Hy onthou die ou man goed.
“Ek wag vir ’n skip om klaar te laai, oom.”
“Lekker geweer wat meneer het. Meneer kan gerus vir ons ’n bosbok skiet.”
“Oupa kan mos sien die meneer soek grootvoete met daardie ding,” merk een van die seuns onderlangs op.
“Wat sal die meneer dan alleen loop en grootvoete jag?” brom die jonger een.
“Ek verneem daar is Sondagnag ’n kind deur een van hulle gedood,” sê Saul asof hy nie seker is nie.
“Saterdagnag gewees, meneer,” help die ou man hom reg. “Dis ’n vreeslike ding. Nogal Jozef Barnard se oudste seun. Maar net twaalf jaar oud gewees. Ons ken hulle goed. My suster is met ’n neef van hom getroud. Hulle sê die grootvoete is dwarsdeur die skerm, die tand is agter by sy rug in en voor by sy maag uit. Verskriklike ding. Ons slaap nie een nag nie. Hulle het die kind dorp toe gedra, maar hy was af voorlat hulle daar was. Dis goed lat meneer ’n swaar geweer by meneer het. Die boggher loop nog hier in die Bos.”
“Wie?” lok hy hulle uit.
“Oupoot,” gee die een seun antwoord. “Hulle sê dis hy wat die kind geskep het. Al baie kwaad in hierdie bos aangerig … Kry vir meneer van die patat. Kleinkoos, gee vir die meneer jou katotjie … Dis ’n verskriklike grootvoet meneer. Meneer moet lig loop vir hom. Ons is juis ’n man te wagte wat hom moet kom skiet.”
“Watter kant toe is hy?”
“Hulle sê hy’s Kwê-se-Draai se kant toe,” gee die ou man antwoord. “Watter rigting stap meneer?”
“Gouna se kant toe,” lieg hy.
“Meneer ken die Bos?”
“Ja. Ek ken die Bos.”
“Ek wou sê meneer se gesig lyk bekend,” sê die pa en kyk agterdogtig op.
“Maar ek was lank weg,” keer Saul vinnig en vra: “Hoeveel skuld ek vir die kos?”
“Ons deel wat ons het, meneer,” sê die ou man trots en Saul sien sy hande wat soos ’n ou boom se stam verknobbel is.
“Dan sê ek vir julle baie dankie.” Hy staan op en groet.
Toe hy van hulle wegstap, roer ’n weemoedigheid in hom wat hy nie gekeer kry nie. Nêrens het hy edeler as húlle, die oues van die Bos, teengekom nie. Opreg. Eenvoudig. Skoon van gemoed en van goedheid tevrede met hul lot. Hulle is onskuldig omdat hulle nie weet wat hulle doen nie … Dan stoot hy die oomblik se genade van hom weg; hy ken ook hul koppigheid, hul blindheid! En hy kies koers Kwê-se-Draai toe.
Sy ma en Sara is November dood. Die Januarie daarna het hy veertien geword. Hulle het by Grootdraai waenhout gemaak en die grootste gedeelte van sy werk was nog altyd om die skerm. Omdat die waenhout teen ’n taamlike skuinste gekap is, was die skerm ’n halfmyl laer af gemaak.
“Dis Saul, hy is verjaar vandag,” het sy pa op die ou Bos-manier teen die voordag onder die skerm aangekondig.
“Geluk, Saul,” het oom Anneries krakerig omgedraai.
“Is ek nou veertien, Pa?” wou hy net seker maak.
“Ja. En geluk van my ook. As ’n man eers veertien is, begin jy vleis aan jou bene kry en bas aan jou vel en kan jy uitkyk na die dag wat jy jou eie byl kan swaai – jy moet kom begin uitkap aan die kwaallatte later vandag. Ons is amper reg vir uitsleep.”
Dit was ’n vreemde gevoel. Die veertien-gevoel. So asof jy in twee bome gelyk staan.
As een van hulle verjaar het, het sy ma altyd vir ’n vleiskossie gesorg. Hy het die keer onthou toe sy pa verjaar het en die wildekat die oggend die laaste hoender gevang het. Sy ma het die hele dag met ’n wip gesukkel, maar toe sy pa-hulle teen skemer uit die Bos kom, was daar ’n fisant in die pot.
Maar al sou sy ma nog geleef het, sou sy nie op die dag van sy verjaardag vir vleiskos kon sorg nie; hulle het te ver van die huis af gekap. Hulle sou ook nie kon huis toe gaan nie, want die houtkoper op die dorp was haastig vir die hout. Sy pa het gesê die man sê die hele land wag vir waens; die mense trek van oral af agter diamante aan in die land op en die wamakers wag vir hout! Omtrent al wat hout is vir alles kom uit hierdie bos.
Hy het besluit om vir sy eie verjaardagvleis ’n plan te maak. Nadat die ander weg is hout toe, het hy ’n groot ysterhoutvuur aangepak sodat hy later lekker as kon hê om patats in gaar te kry, die katotjies vir kwartdag se koffie oor die kleinvuur gehang, en toe is hy met ’n stuk bloklyn en die klein handbyltjie Bos in. Hy wou bloubokkievleis vir sy verjaardag hê.
Die nag se skemer was nog nie heeltemal onder uit die ruigtes weg nie en hy moes mooi kyk vir ’n bloubokkiepaadjie of ’n bondeltjie mis. Sonopkant het die egalige kap, kap, kap van die byle geklink en op plekke moes hy self pad kap deur die fynruigte. Tekens dat bosvarke die nag bedrywig was, was daar baie en kort-kort het ’n groot loerie bokant hom in die bome opgehou met kok-kok-kok en in die keel begin gorrel en sis soos ’n slang om die ander te sê van die naderende gevaar. Dis hoe hulle die grootvoete van ’n mens sê, het Saul besluit.
In ’n oopte, waar die hout voorjare uitgekap is, het hy die bloubokkiemis gekry. Maar daar was niks om ’n wip mee te stel nie en hy moes anderkant die oopte maar weer die ruigtes in totdat hy uiteindelik die plek gekry het waar die bloubokkietou deur die onderbos rank. Hy het geweet daar moet iewers ’n paadjie wees. Waar bloubokkietou rank, kan jy seker wees van jou geluk. ’n Entjie verder het hy die lus aan ’n vliertak se punt gestel.
“Ek het ’n galkoppiewip gestel,” sê hy toe sy pa-hulle kwartdag kom eet en rook.
“Ja … ons had lank laas vleiskos,” sê sy pa en kyk anderpad. Vandat hul ma en Sara dood is, het hy dikwels so in die niks sit en kyk.
Ná kwartdag, die dag van sy verjaardag, is hy, Saul, saam uit hout toe om die kwaallatte te begin uitkap.
“Gert Willemse sê hy het die week voor laas agter by mister Barrington gaan help kalander uitsleep,” het hy sy pa vir oom Anneries hoor sê. “Gert sê, mister Barrington sê, daar kom ’n man aan.”
Kap, kap, kap. Ou Anneries kon soms baie draai met praat. “Watse man?”
“Die Goewerment het nou glo ’n grootman oor die Bos aangestel. ’n Harison-kêrel. Hý gaat nou glo kom sê waar ons mag kap en nie mag kap nie. En hy gaat glo baie boswagters aanstel wat elke dag moet bosloop en spaai.”
Kap, kap, kap. “Gert Willemse praat sy lewe lank nog altyd ’n bietjie te skielik na my sin. Die magistraat op die dorp moes ook kastig boswagters aanstel om vir die Goewerment te spaai en nou is hulle groter wildstelers as ons.” Kap, kap, kap. “Jan Snel en sy twee helpers moes kastig hierlangs spaai, nou hoor ek by jou skoonpa lat Jan agter by Kaffirskop vry. Spaai nou sommer daar.”
“Die Kaffirskoppers sal nie met hulle laat skoor van hom nie … Toe, Saul! wat staan jy soos ’n stoets byl en sukkel met daardie onderbos? Kap! En gaat links by daardie upright verby anders sleep ons ons boontoe vas … Gert Willemse sê hierdie Goewermentsman gaat lol. Hy’s glo moeilik. Hy praat van alles bewaar vir die agtergeslagte of iets en hy wil glo al die grootvoete ook laat tel.”
“Klink my na ’n mal man.”
Kort voor halfdag is Saul terug skerm toe om die patats in die vuur te kry en die katotjies oor te hang vir etenstyd se koffie. En dit was net nadat hulle klaar geëet het dat die twee skote Keurkop se kant toe klap.
“Dis raak,” het oom Anneries gelag, “nog een minder vir … Hoe’s die man se naam, Joram? Harrington?”
“Harison.”
“Nog een minder vir Harison om te tel!”
“Ja,” het sy pa beaam. “Die boswagters kan liewers loop kyk of daai skoot onder ’n liksens afgetrek is en of dit tandesteel se skiet is.”
“Hulle sê die base van die skippe by die dorp betaal goed vir die tande,” sê oom Anneries. “Hulle neem dit glo saam Engeland toe vir messegoed se hewwe. Kan jy dit nou glo!”
“Net Joram Barnard wat nie daardie klas geluk kry nie. Hy het nie geld vir koeëls en kruit en skietliksens nie.”
“Aagneveryoumine, Joram,” het oom Anneries met ’n skelm laggie getroos. “Een van die dae trek ons vir ons een plat op jou houtliksens. Wiljam gaat mos nou self koeëls maak. Ons kry by hom en dan trek ons sommer vir Oupoot plat … Ek wonder wat hulle nogal betaal vir so ’n tand?”
Ná halfdag was die bokkie in die wip. En hy het hom self by die skerm gaan afslag; bietjie geskeur by die lieste maar glad nie sleg nie. Hy was nie net bly oor die vleis omdat dit sy verjaardag was nie, maar ook vir sy pa en Jozef en oom Anneries se part. Sy pa het altyd gesê daar is twee dinge wat ’n moeë man weer man maak: ’n stukkie vleis en sy pyp.
En ’n bloubokkiekop gooi jy saam met die binnegoed weg, want sy gal sit in sy kop. Jy eet nie sy kop nie. Sommer van nuuskierigheid vat hy die handbyltjie en kloof die koppie middeldeur om te kyk hoe die gal nou eintlik in die kop sit. Maar dit lyk nes enige ander bok se kop, hy kry nêrens ’n galsakkie nie! Hy het tussen die binnegoed gaan krap en die gal op die gewone plek gekry … Hy is weer terug na die koppie toe en het met sy vingers in die oopgevlekte harspan gaan krap, geproe of dit bitter smaak, maar niks. Hoe is dit dan moontlik? Die gal sit dan nie in sy kop nie? Dit was al of ’n onrus deur hom trek.
Oorkant by Keurkop het nog ’n skoot geklap. Hy is weer uit boontoe en het niks gesê van die bloubokkie nie.
“En jy sê ons niks?” lag Jozef die aand toe die vleis oor die kole hang. “Pleks jy lankal verjaar het, man!”
Hy het gewag tot sy pa-hulle rook. “Sit sy gal regtig in sy kop?”
“Ek het gesien lat die honde hom jaag totlat hy blind is en gaat staan vir die vat,” sê oom Anneries. “Hulle jaag hom totlat die gal in sy oë in loop.”
“Het oom die gal in sy kop gesién?”
“Nie lat ek kan onthou nie … Gee daar ’n stukkie vuur aan, my pyp is dood.”
Hy het ’n stompie vuur uitgesoek en aangegee en weer gevra: “Het oom dit gesién?”
“Wat gesien?”
“Die gal in sy kop. Ek het gekyk en daar is nie gal in sy kop nie, oom.”
“Kry end met jou gekef, Saul!” het sy pa hom stilgemaak.
En die onrus was weer in hom: Die grootmense het óf opsetlik vir hom gelieg óf hulle het self die lieg geglo.
’n Mens begin so rondom veertien dink. Vóór dit dink iets anders vir jou. Miskien dieselfde iets wat vir die diere dink? Miskien dink jy voor jy veertien is sonder dink. Hy weet nie. Hy weet net dat die ander dink op ’n dag in jou begin. Van binne af. Ook nie altyd nie. Soms dink jy jouself in ’n bosbraam vas omdat jy nie na die dink wat van binne af kom, luister nie. Nie wil luister nie. Soos wat hy op hierdie oomblik nie wil luister na iets wat vir hom sê dat Oupoot nie Kwê-se-Draai toe is nie! Dat by besig is om tyd te mors.
Sou hy vandag as vyand in hierdie bos geloop het as hy nie daardie dag die bloubokkie se kop oopgekloof het nie? Sy soektog na Oupoot is besig om dinge in hóm oop te kloof wat hy nie oopgekloof wou hê nie! As hy nie daardie dag die bloubokkie se gal gesoek het nie, sou hy vandag Jozef se hand kon vat en vir hom sê: Ek is jammer oor jou seun? As hy terugdink, het die eerste weerbarstigheid dáárdie dag in hom losgekom …
Jozef.
Jozef met die goeie hart. Jozef wat eenmaal die rieme van sy skouers afgehaal het.
Die derde oggend ná sy veertiende verjaardag het hulle met die uitsleep van die waenhout begin. As sy pa-hulle gekap het waar dit te skuins was om die osse af te bring, moes hulle self die hout stuk vir stuk uitsleep tot waar die osse aangehaak kon word. Afgesien van die kalander vir die buikplanke, was die hout daardie keer nie te swaar nie. Sy pa het besluit dat hulle eerste die kalander sou uitsleep tot bo in die sleeppad. In die sleeppad word al die hout dan eers hoopgesleep en van voor af kantig gewerk en in die regte lengtes gesaag voordat dit op die slee gelaai en met die osse tot by die wa gesleep word.
Self uitsleep is eintlik maar net soos uitsleep met osse; al verskil is dat hulle dan die osse is. Eers woel jy die rieme goed om die blok vas en dan, nes met osse, span jy die sterkstes agter teen die blok in: sy pa en oom Anneries. Tussen hulle deur kom dan twee ander rieme tot voor by hom en Jozef, en eers moes hy Jozef se riem ook oor sy skouer vat. Jozef moes agter met die handspar lig sodat die blok kopkant kon opswaai en agter omswaai.
Gewoonlik het ou Maska kom help met die uitsleep as dit te skuins was, maar Maska was by oom Gert Oog aan die help en gevolglik moes Saul in sy plek die rieme vat. Hy het nogal uitgesien daarna.
“Is jy reg vir ons, Jozef?” het sy pa geskree toe hulle ingespan was.
“Ja, Pa.”
“Hiep!” het sy pa die bevel gegee en almal lê gelyk vorentoe. “Kry voete! Trek!”
Die rieme het oor sy skouers gespan en om sy hande styf getrek.
“Gelyk, manne!”
Die blok het geroer; die vastrap was sleg, maar hy het geroer.
“Lig sy kop, Jozef! Swaai sy gat!” Sy pa het die woorde ritmies afgemeet en soos rympies laat klink.
Die blok het weer ’n ent gekom. Saul kon die krag waarmee sy pa en oom Anneries agter hom trek, voel en het self nog harder vorentoe gebeur. Dit het gevoel of sy bloed in sy kop saamdam en agter hulle het daar weer ’n skoot in Keurkop se bos weerklink.
“Gelyk nou! Weer so! Nog ’n slag!”
Sy pa het altyd gesê hout-uitsleep is nie menswerk nie …
“Swaai sy gat, Jozef! Laat hom kom!”
Die sagte bosvloer het onder hul voete gesak.
“Weer so! Hiep! Hou hom! Bring hom!”
Die blok het mooi gekom.
“Kyk voor jou, Saul!” het sy pa vir hom geskree toe hy wou omkyk. “Sak! Gelyk!”
Die rieme het in sy skouervleis ingesny, sy een voet het gegly en hom op sy knieë laat beland.
“Op, Saul! Hou! Kry voete en hou hulle onder jou! Kom vat hier voor, Jozef!”
Die blok het nog steeds gekom. Jozef het sy riem kom vat en langs Saul ingeval.
“Gelyk! Wys hom, manne! Wys hom! Nog ’n slag. Vat hom uit!”
Langs hom het Jozef se asem hard en egalig geblaas; met sy linkerhand het hy nog die sware handspar ook saamgesleep. Hy het sy broer se sweet geruik en die spiere op sy arms sien bult.
“Hou hom, manne! Hou hom! Weer so!” Mense het altyd gesê daar is nie ’n man wat ’n span osse kan dryf soos Joram Barnard nie. “Weer so! Nog ’n slag! Kyk voor jou, Saul!”
Die blok het mooi gekom. Tree vir tree. Hoër en hoër. Saul het gewens hy kon sy riem oor sy kop lig sodat dit ’n slag in die ander skouer invreet. Maar hy kon nie; dit het gevoel of daar tussen hulle en die kalanderblok net ’n oomblik se skietgee lê dan gly hy terug tot onder. Voet vir voet het hulle hom uitgetrek. Trek vir trek. Elke keer ’n entjie hoër teen die skuinste uit. Stadig maar altyd hoër.
Hy het die klipbank voor sy oë sien inskuif.
“Hier’s klippe.” Hy wou die waarskuwing geskree het, maar sy stem het stukkend en dun geklink.
“Vat Jozef se riem!” roep sy pa en hy wil skree dat hy nie kan nie. Maar Jozef was klaar die riem aan die oorbring en hy moes dit saam met sy eie om sy hande vaswoel. “Hou!” bulder sy pa. “Lig sy kop met die spar, Jozef! Laat hom klim! Laat hom klim!”
Saul se bolyf was eerste oor die klipbank, toe sy voete. Sy neksenings het tot in sy blaaie gepyn, sy lieste soos vuur gebrand.
“Lig hom, Jozef! Lig hom!”
Oom Anneries het soos ’n os geblaas.
“Kyk voor jou, Saul! Swaai met hom regs van die rooi-els verby!”
Daar was spikkels voor sy oë. Bittergoed het in sy keel opgekook en hy het in sy hart geweet dat hy dit nooit tot bo sou maak nie.
“Kry bene, Saul!”
Die rooi-els het teen sy regterskouer verbygeskuur.
“Keer sy kop. Jozef! Dis smal hier!”
’n Os kan neerslaan as hy nie meer kan nie … Tree vir tree … beur na beur … hoër … steiler …
“Kyk waar jy trap, Saul! Bring hom deur!”
’n Os kan neerslaan.
“Trek, manne! Gelyk!”
Hoër en hoër. Seerder en seerder.
Jozef het weer sy riem kom vat en Saul se hande het soos dooihout so dood gevoel.
“Hou die witpeer dop! Gaat links verby!” Saul het gevoel sy maag skeur uitmekaar toe hulle die blok by die witpeer verbysleep. Anderkant die witpeer, waar die skuinste ’n holte maak, het sy pa uiteindelik “Asem!” geskree.
Die rieme was skielik slap. Sy vooroorgeboë lyf wou nie regop kom nie. Hy het stadig vorentoe geval, met sy dooie hande in die bosvloer gedruk, omgerol en op sy rug bly lê. Sy keel het tot in sy bors gebrand.
“Ons is halfpad,” het sy pa iewers onderkant hom gesê.
“Lyk my jou Saul het kersgeblaas,” het oom Anneries gelag.
Saul het sy oë toegemaak en in sy hart getwyfel of hy ooit weer sou regkom. Sy skouer en sy hande, sy hele lyf was tot niet. ’n Os is ’n os, maar ’n mens is ’n mens!
Ná ’n rukkie het hy sy oë oopgemaak en Jozef deur die spikkels op die blok sien sit. Hy het Jozef in lengte ingegroei maar nog lank nie in taaiheid nie. Sy pa en oom Anneries het ’n entjie laer af met dooie pype in hul monde gerus. Joram Barnard was altyd streng oor rook. Net by die skerm waar dit oopgekap is en ’n twakkool kan val sonder dat dit ’n hel om jou laat opvlam.
“Kom, kêrels!” Sy pa het opgestaan en die dooie pyp ingedagte uitgekap. “Slegte kom van dikeet en lank lê.”
Toe oom Anneries en Jozef fynruigte toe loop, wou hy vir sy pa sê dat hy nie sal kan op nie, dat hulle hom eers eenkant moet sleep om die kalanderblok verby te kry.
“Op, Saul!”
Hy het stadig omgerol tot op sy maag en hande-viervoet orent gekom. Agter hom het sy pa en oom Anneries onder die rieme gebuk en langs hom het Jozef sy hande in sy riem vasgewoel.
“Op, Saul!”
Hy het sy kakebene opmekaar geklem sodat die woorde nie kon uit nie en die riem oor sy ander skouer gevat.
Hoe Jozef geweet het dat hy anderkant uithou verby was toe hulle die blok amper bo had, weet hy nie; hy het net gevoel Jozef bring sy skouer tot teen syne en vat sy riem by hom. Toe hy in die kooigoedbos neersak sodat die ander kon verbykom, het hy eers gesien dat die bloed op hul skouers ook maar deur hul hemde slaan. Net minder as syne, want hulle was taaier.
Teen die aand had hulle die ander hout ook uitgesleep: hout vir twee waens. Witpeer vir die vellings, assegaai vir die speke, ysterhout vir die langwaens en die voortange en agtertange, ysterhout vir die disselbome.
Dit was ’n Vrydag.
Die volgende môre wou sy lyf nie regop kom nie; hy het die werk om die skemer skerm kruip-kruip gedoen en sy pa en Jozef se koffie gemaak. Oom Anneries was donkervoordag al weg dorp toe met sy speke. Meer as ’n halfdag se stap, maar die ou het nie omgegee nie; hy het altyd gesê die terugkom is so lekker.
Sy pa en Jozef is alleen uit sleeppad toe om met die regmaak van die hout te begin. Hulle het niks gesê toe hy nie opstaan van die vuur af nie, hulle moet geweet het sy lyf is te verniel.
“Hou jou lyf maar by die vuur,” het Jozef op sy manier getroos.
Eers teen halfdag, toe die hitte van die son tot onder in die Bos afgesak het, kon hy sy lyf regop kry.
Daar was weer skote daardie dag.
Laatmiddag kon hy darem ’n halfblik water onder van die stroom af tot bo sleep, en Jozef het hom skemerdonker kom help om Sondag se vuurhout te kap. Joram Barnard het nie toegelaat dat ’n byl om sy skerm op die Sabbat gelig word nie. Toe hulle klaar was met die vuurhout, het hy vir die eerste keer met Jozef gepraat oor die ding wat die hele tyd nog in hom gebroei het.
“Jozef, ek het die ander dag die bloubokkie se kop oopgekap.”
“Jy moet maar weer jou lyf by die vuur kry. Die aandlug bring sommer weer die styfte terug.”
Miskien het Jozef nie gehoor nie. “Ek het die bloubokkie se kop oopgekap en sy gal sit nie in sy kop nie. Dis ’n lieg!”
“Jy weet mos sy gal sit in sy kop,” het Jozef skielik vererg gesê. “Almal weet sy gal sit in sy kop. Loop kry jou lyf by die vuur.”
Hulle het geëet en gaan lê.