Читать книгу Kringe in 'n bos: Skooluitgawe - Dalene Matthee - Страница 5

Inleiding tot die genre

Оглавление

Die roman (novel) word beskryf as ’n prosawerk wat die indruk skep dat dit die werklike ervarings is van geloofwaardige karakters in ’n sekere omgewing. Anders as die liefdesverhaal (romance), is die fokus van die roman nie net op die intrige nie, maar meer op die karakters.

Met die opkoms van die middestand in die helfte van die agtiende eeu was daar meer mense wat kon lees en hulle het geld gehad om boeke te koop. Daniel Defoe se Robinson Crusoe (1719) en Moll Flanders (1722) word beskou as die eerste ware Engelse romans, hoewel sommige kenners die briefroman Pamela (1740 en 1741) van Samuel Richardson as die eerste roman bestempel. Romans het, veral in die Victoriaanse tyd (ongeveer 1837-1901), gewilder geword as gedigte en dramas. Lesers het gevoel hulle lees stories oor mense wat soos hulle is.

Die skrywers het veral met die rol van die verteller begin eksperimenteer. Wie vertel die storie? Is die verteller een van die karakters in die verhaal of word die verhaal vertel deur ’n verteller wat alwetend en alomteenwoordig is? Charles Dickens (1812-1870), die skrywer van onder meer David Copperfield, het gewoonlik die alwetende verteller gebruik. Die skrywer kon dus die gedagtes van enige karakter weergee. In die laaste paar dekades van die negentiende eeu het Henry James begin met die skep van ’n soort sentrale intelligensie, dit wil sê, die verhaal word aangebied uit die bewussyn van ’n sekere karakter. Die ander persone in die verhaal word dus beoordeel deur hierdie karakter.

In Afrikaans het S.J. du Toit se historiese roman, Di koningin fan Skeba, in 1898 verskyn. (Lesers het in briewe aan die koerant gekla dat hulle ontsteld is omdat ’n predikant ’n boek kon skryf wat hulle gelees het asof dit die waarheid is en toe vind hulle uit dis net ’n storie!) Na die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het heelwat romans verskyn wat bedoel was om die mense se leeslus aan te wakker, soos J.H.H. de Waal se Johannes van Wyk (1906), ook ’n historiese roman. Terwyl die digkuns ontwikkel het, was dit eers J.J.van Melle met Bart Nel (1942) en C.M. van den Heever met Laat vrugte (1938) wat sterk romans met oortuigende karakters kon skep. Gewilde historiese romans later was die Groot Trek-reeks van F.A. Venter wat begin het met Geknelde land (1960).

Die skrywers wat bekend sou staan as die Sestigers het gesorg vir vernuwing, soos Etienne Leroux met die satiriese Sewe dae by die Silbersteins (1962) en André P. Brink met ’n roman soos Die ambassadeur (1963).

Enkele van die belangrike romanskrywers ná 1960 is Anna M. Louw, Karel Schoeman, Dalene Matthee, Etienne van Heerden, Marlene van Niekerk en Ingrid Winterbach.

Terwyl Dalene Matthee en haar gesin in 1980 die Outeniekwa-wandelpad gestap het, het hulle daar, diep in die Knysna-bos, op ’n uitheemse akkerboom afgekom. ’n Boom wat glad nie gepas het by die vliere, kalanders en kershoute nie. Daar was ook tekens dat ’n groep mense lank gelede daar gewoon het. Sy was dadelik nuuskierig: Waarom het die mense weer weggetrek? Wie het die Bos so uitgeroei? Waarheen is die troppe olifante?

Sy het daarna van die oumense van Knysna teruggeneem bos toe en hulle uitgevra. Geslagte lank het hierdie mense in die bos gewoon. Hulle is later, teen 1939, uit die bos weggeneem, want toe was die inheemse bosse feitlik heeltemal uitgeroei. Hulle het haar vertel van hul armoede en hul stryd om te oorlewe.

Een van die mans het vir haar gesê: “Sal iemand dan uiteindelik voor die Here ons storie vertel?”

En dit is wat Dalene Matthee gedoen het.

By hulle het sy gehoor van ’n man, Saul Barnard, wat later een van Knysna se grootste houtkopers geword het.

Kringe in ’n bos, wat in 1984 verskyn het, was ’n internasionale sukses en is in veertien tale vertaal, onder meer Frans, Duits, Spaans, Italiaans, Hebreeus en Yslands. Dalene Matthee het die ATKV-prys vir goeie gewilde prosa vier keer verower en in 1993 het sy op grond van Kringe in ’n bos in Zürich ’n Switserse literatuurprys ontvang vir haar lewenskragtige literêre werk en haar hartstogtelike belangstelling in natuurbewaring. Die Engelse vertaling, Circles in a forest, wat in 1986 verskyn het, was ’n blitsverkoper, nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd.

Omdat Kringe in ’n bos op skool voorgeskryf is, het toere na die Knysna-woud toegeneem. Honderde groepe skoolkinders het al in die voetspore van Saul Barnard deur die Bos gestap. Hierdie ervaring, maar veral die lees van die boek, het duisende mense bewus gemaak van die bos en van die belangrikheid van natuurbewaring.

Die geheim van Kringe se sukses het die skrywer Elsa Joubert só saamgevat: “Ek dink dis eerstens die absolute gevoel van waarheid in die boek. Die mense, veral in die eerste gedeelte, loop op die aarde, hulle is van vlees en bloed. Hulle ondervindinge en swaarkry gryp jou aan …

“Jy weet dat jy nooit weer deur Knysna se wêreld sal ry nie sonder om aan hierdie mense en hulle swaarkry te dink. Sonder om te wonder: Staan Meulbos se spookdorpie nog? Waar lê Groot Eiland, Diepwalle, Jim-Reid-se-Draai? Watter een van die groot meubelsake op die dorp had sy ontstaan op Thompson se hoekerf wat Kate toe gekoop het sonder Saul se medewete?”

Kringe in 'n bos: Skooluitgawe

Подняться наверх