Читать книгу Op die toneel - Dana Snyman - Страница 6
Geestelike voorbereiding
Оглавление’n Kort mannetjie in ’n moeë grys pak klere stap by tant Nellie se kroeg op Ventersdorp in. Hy kan veertig wees. Of dalk net ’n vernielde dertig. Op sy voorkop is ’n rooi letsel en om sy een hand is ’n verband. In die ander hand hou hy ’n lêer vas. “Is Antie-hulle oop?” vra hy vir tant Nellie.
“Hoe lyk dit vir jou?” antwoord tant Nellie op haar stoeltjie by die geldkas agter die toonbank. Dit is ’n Dinsdagoggend en die Boeing is nog nie oor nie.
Ek is die enigste ander een by die toonbank. Ek eet een van tant Nellie se toasted cheese-broodjies en drink koffie.
Uit die asbakkie voor tant Nellie lek ’n Courtleigh Satin Leaf Mild ’n strepie rook die lug in.
Die mannetjie gaan staan voor tant Nellie. Dit lyk of dit ’n Veka-pak kan wees wat hy aanhet – die kerkpak van die tag-tigerjare. Die baadjie se moue wurg aan sy voorarms. Hy kyk na die ry bottels wat kop onderstebo van die rak af hang, asof dit vriende van hom is wat hy jare laas gesien het. “Ek moet myself op-psyche,” sê hy. “Maak dit maar ’n vodka, my antie – ’n double vodka. Met water.”
“Ek’s nie jou antie nie,” sê tant Nellie. “Oukei?”
“Sorry, Antie,” sê hy en sit die lêer op die toonbank neer. Hy sukkel ’n pakkie Winston uit die baadjie se binnesak en laat val dit langs die lêer.
“Ys?” vra tant Nellie.
“Nee dankie, Antie. ’Seblief nie. ’Seblief nie.” Die mannetjie kyk na my. Die letsel op sy voorkop is taamlik vars. Dit lyk of bloed enige oomblik daaruit kan syfer. “Ys maak my tande seer,” sê hy, dan hys hy hom tot op ’n kroegstoeltjie. Onder sy arms grynslag die baadjie se nate.
Hy het lanklaas das gedra. ’n Mens kan dit sommer sien aan die losserige manier waarop die bont das met ’n Mickey Mouse op, geknoop is.
Tant Nellie sit die glas vodka en water voor hom neer. Hy vat een, twee diep slukke, en laat sak die glas. “Niemand kan mos ruik as jy vodka gedrink het nie, nè?”
“Dis waar,” sê tant Nellie. “Jy ruik hom nie.”
Hy lig die glas en sluk die res van die vodka af, sit die glas neer, en blaai die lêer oop. Dit lyk of dit sy CV daarbinne is, en nog dokumente en briewe.
Ek en tant Nellie hou hom stil dop terwyl hy lees-lees daardeur blaai.
Hy skud later sy kop, mompel iets, en stoot die leë glas oor die toonbank, verby die Opel se sleutels en die pakkie Winston, in tant Nellie se rigting. “Maybe moet Antie maar vir my nog enetjie gooi,” sê hy.
Die Beefeater-horlosie teen die muur bokant die rak sê dis net ná halftien.
“Wil jy nie iets eet nie?” vra tant Nellie. “Dis nog vroeg, man.”
Hy kyk na tant Nellie, dan kyk hy na my, dan kyk hy na die leë glas in tant Nellie se hand. “Nee thanks, dankie, Antie. Gooi liewer vir my nog enetjie.”
Hy kyk weer na my. Dit lyk of die letsel op sy voorkop al rooier word. “Ek sweet verskriklik as ek eet,” sê hy.
Tant Nellie sit die glas weer vol voor hom neer.
Hy neem ’n paar diep slukke.
“Kan ek julle iets vra?” Hy kom van die stoeltjie af orent. “As ek vir julle sê ek het oor ’n kruiwa geval, sal julle my glo?” Hy beduie met die verbinde hand na die letsel op sy voorkop. “Lyk ek soos iemand wat oor ’n kruiwa geval het? Hè?”
“’n Mens sal seker so kan sê,” sê tant Nellie.
Ek sê eerder niks nie. In tant Nellie se kroeg sê ek so min moontlik.
Die mannetjie kom staan weer by die toonbank. Hy mompel weer iets – iets wat ons nie kan hoor nie, en vat weer na die glas. Tant Nellie karring aan die radio op die rak. Freek Robinson praat oor RSG met iemand oor die krisis in Suid-Afrikaanse netbal. Ons het onlangs glo selfs teen Malawi verloor. “Jisso, dis pateties,” sê tant Nellie en skakel dit weer af.
“Ek moet skedaddle,” sê die mannetjie en drink die laaste bietjie vodka en water. Hy sit die glas neer, druk die pakkie Winston in sy sak, en tel die lêer van die toonbank af op. “Ek gaan vir ’n job interview.”
“Waar?” vra tant Nellie.
“By die stadsraad, Antie. Hulle’t ’n pos vir ’n plaagbeheerbeampte.” Hy wys met die verbinde hand na die lêer onder sy arm. “Hier’s my pampiere. Hier’s als.”
Die Beefeater-horlosie teen die muur sê dis op die kop elf minute voor tien.
Die mannetjie stap na die deur toe, en by die deur gaan staan hy. Hy kyk na ons en wieg effens op sy voete.
“Ek weet genuine nie hoekom gaan ek vir hierdie interview nie,” sê hy. “Hulle gaan anyway die job vir ’n swarte gee.”