Читать книгу Op die toneel - Dana Snyman - Страница 7
Sondagmiddagkuiertjie
ОглавлениеDie Sondagmiddag ry ek gou by Japie aan, en toe is sy ma, tant Tillie, ook daar. Uit die ouetehuis uit. Net vir die middag.
“Kry solank vir jou ’n wyntjie, pêl,” sê Japie. “Ons wil net gou met Kallie-hulle in Kanada praat.” Hy kyk op sy horlosie. “Ons het afgespreek: drie uur.”
In die hoek van die woonkamer staan Japie se rekenaar op ’n tafel.
“Kom, Mammie.” Japie beduie na die twee regop stoele voor die rekenaar. “Kom sit Mammie hier.”
Hy help tant Tillie orent van die rusbank af, tot op haar Green Cross-sandale. Tant Tillie is al by die tagtig. Om haar arm wieg ’n naaldwerksak heen en weer en in haar hand is ’n kierietjie. Japie lei haar tot by die rekenaar. Sy gaan sit op die stoel se punt, met die naaldwerksak op haar skoot en die kierietjie tussen haar knieë.
“Mammie, Mammie moet hier praat.” Japie tik met sy vinger op die mikrofoon wat by die rekenaar staan. “Hiér.” Hy wys na die kameratjie bo-op die rekenaar se skerm. “En dan kyk Mammie heeltyd hiér.”
“Gaan ek hulle kan sien, ou kinta?” Tant Tillie wikkel nog vorentoe op die stoel.
“Mammie sal.”
“My kop is te plat, ek weet nie hoe dit werk nie.” Tant Tillie kyk na my. “Weet jý hoe dit werk?”
Japie druk die rekenaar se toetse, klak, klak, klak. Sonder om haar oë van die skerm te haal, vroetel tant Tillie in die naaldwerksak en haal ’n pakkie sensen te voorskyn. Sy skud enetjie uit en sit dit in haar mond.
Uit die rekenaar se maag kom ’n piepgeluid en op die skerm flits ’n vierkantjie.
“Miskien is hulle nie daar nie,” sê tant Tillie. “Die kinders is mos maar besig.”
Japie se vingers trommel weer oor die toetse, dan gee die rekenaar nog ’n piep, dan verskyn ’n man, ’n vrou en ’n kind op die skerm: Kallie, Linda en hul vierjarige seuntjie, Brett. Hulle sit op ’n bank en agter hulle teen die muur is ’n abstrakte skildery, in pastelkleure; en langs dit, langs die skildery, hang ’n gehekelde “Onse Vader” in blokvorm – een van die “Onse Vaders” wat tant Tillie so graag hekel, in stysel styf en laat raam.
Dit is asof alles te vinnig en te maklik gebeur het: ’n paar oomblikke sit Japie en tant Tillie en Kallie en Linda en die kind daar, amper oorbluf.
Dan kom Kallie se stem helder oor die rekenaar se luidspre-ker: “Hallo, Mammie. Hallo, Broer. Hoe gaan dit daar by julle?”
“Hi, julle,” volg Linda.
Die kind sit tussen hulle en suig aan sy vingers.
Hulle het drie jaar gelede Kanada toe geëmigreer en was sedertdien nog net een keer weer in Suid-Afrika. Twee kersfeeste gelede.
“Hallo, julle,” praat Japie reguit na die mikrofoon langs die rekenaar. “Dit gaan goed, dankie. En daar by julle?” Hy leun oor na tant Tillie. “Kan Mammie hoor?”
Tant Tillie knik. “Hallo, kinders,” sê sy sag met haar oë stip op die rekenaar se skerm.
“Hallo, Mammie,” kom Kallie se stem weer. “Mammie lyk goed. Hoe gaan dit met Mammie?”
“Goed, dankie, ou kinta. Die ou bene lol bietjie, maar die ou bors is darem nou beter.”
Japie leun weer na haar toe. “Mammie moet bietjie harder praat, hoor.” Hy wys na die mikrofoon. “Praat hier – hiér.”
“Ek sê die ou bors is darem nou beter, kind.” Tant Tillie praat nou aansienlik harder. “Die pille wat dokter Heinrich voorgeskryf het, werk darem. Het julle die pakkie gekry wat ek gestuur het?”
“Ons het, Ma. Dankie,” antwoord Linda.
“Pas daai toppie wat ek gehekel het darem?”
“Hy pas, Ma. Dis pragtig, regtig pragtig.”
“En die ander goed?”
Linda beduie na die “Onse Vader” agter hulle teen die muur. “Ma sien mos. Dankie. Dis pragtig. Iets besonders.”
“Dankie, Mammie,” voeg Kallie by.
Die kind se vingers is steeds in sy mond.
Tant Tillie en Japie staar na die skerm waarop Kallie en Linda na hulle staar. Dit is asof iets in hulle probeer begryp dat dit digitale en elektroniese impulse, net soveel as die bloed in hul are, is wat hulle deesdae verbind.
Tant Tillie lig haar kierietjie. “Hoe gaan dit met hom?” Sy reik vorentoe en druk byna met die kierie op die kind se gesig op die skerm. “Hoe gaan dit met jou, hè, Ouma se grootseun? Praat met jou ouma. Toe.”
“Dit gaan goed met hom, Ma. Net bederf.” Linda trek sy vingers uit sy mond uit. “Say hi to Ouma. Come, say hi to Ouma. Come say: Hi, Ouma.”
“Hi, Ouma.”
Tant Tillie buk af en haal ’n nuutgebreide blou trui uit die sak. “Looked what your Ouma …” Tant Tillie soek na die woord: “… your Ouma brei-ed for you.” Sy hou die trui oop voor die skerm. “I brei-ed this for you, my skattebol. Nice for the cold there in Canada, nè?”
“My daddy is going to take me to Disneyland in July,” sê die kind.
“You can put this on when you go to Disneyland.” Tant Tillie hou weer die trui oop voor haar.
“And my mummy bought me a new PlayStation.”
Tant Tillie laat sak die trui tot op haar skoot, dan trek sy ’n sakdoekie uit haar rok se mou. Die kind se hand glip terug sy mond in.
“Hoe gaan dit verder daar by julle, Boeta?” vra Japie.
“Nee, ons kap aan, ons kap aan,” antwoord Kallie.
“Besig?”
“Nogal. En jy?”
“Ek ook, ja. ’n Mens moet maar werk, nè?”
Tant Tillie sit woordeloos langs Japie en draai die sakdoekie se punt om haar wysvinger; styf draai sy dit om haar vinger terwyl sy na die skerm kyk.
Linda se gesig kom nader aan die skerm. “Ma moet kom kuier,” sê sy.
“Ek weet tog nie hoe sal ek op ’n vliegtuig kom nie, kind.”
“Nee wat, ons kry vir Ma ’n rolstoel. Tjoef-tjaf en Ma is hier.” Linda draai na Japie toe. “Kan ek jou ’n guns vra, Japie?”
“Enige tyd, Skoonsus. Vra.”
“Kan jy vir my na Wetherlys toe gaan – die meubelwinkel daar by julle? Ons is ’n paar Suid-Afrikaanse vroue hier wat ’n container van hul meubels wil invoer. Jy kry nie ordentlike goed hier nie. Kan jy vir my uitvind wat ons moet doen? Asseblief.”
“Ek maak so, Skoonsus.”
Die kind lê nou met sy kop op Linda se skoot. Kallie se een been wip die hele tyd senuagtig op en af. Tant Tillie vroetel in haar naaldwerksak.
“En verder?” vra Japie.
“Nee wat,” antwoord Kallie. “Soos ek sê: ons kap aan. Die ekonomie maak ons net seer.” Hy kyk op sy horlosie. “Miskien moet ons eers weer koebaai sê, Broer. Dan praat ons weer volgende Sondag dieselfde tyd, nè?”
“Reg so,” antwoord Japie. “Ek sal weer vir Mammie gaan haal.” Japie sit sy hand vlugtig op tant Tillie se skouer en beduie na die rekenaar se skerm. “Mammie moet nou vir Boeta-hulle groet, ons sal volgende Sondag weer praat.”
Tant Tillie kyk na die skerm en draai en draai weer die sakdoekie se punt om haar vinger. “Tattatjies, kinders.” Die sakdoekie raak stil in haar hand, dan bring sy dit na haar gesig toe.
“Mooi bly, Mammie,” sê Kallie. “Dit was lekker om met Mammie te praat.”
“Ma moet nou kom kuier, hoor,” voeg Linda by.
Die kind het op Linda se skoot aan die slaap geraak. Linda wikkel onder hom uit en staan op. Kallie strek homself uit. Linda neem seker aan die rekenaar is reeds afgeskakel, want die volgende oomblik sien ons, ek en Japie en tant Tillie, hoe Linda om hul rusbank in Toronto, Kanada, stap, en die “Onse Vader” langs die skildery van die muur haal.