Читать книгу Uit die binneland - Dana Snyman - Страница 4

Jimmy

Оглавление

Ek het Jimmy nou die dag weer gesien. Ná hoeveel jaar.

Ou Jimmy met die rooi hare en die baie sproete.

Hulle, hy en sy ma en sy pa, was eens op ’n tyd ons bure op een van die baie dorpe waar ek kind was. Hulle het ook in ’n rooibaksteenhuis gewoon maar hulle s’n was meer verwaarloos as ons s’n. Die dak het afgedop, die visdam was droog en hul foksterriër se bolle het die grasperk vol gelê.

Teen die hekkie het ’n bordjie met skewe letters gehang: Geen bedelaars of Jehova Getuies hier welkom nie.

Jimmy se pa het die bordjie geverf en daar vasgemaak. Maar Jimmy se pa was byna nooit by die huis nie want hy was ’n recce in die army. Hy was pal in Ovamboland of in Angola of plekke waarvan ons nie mag geweet het nie.

“My pa gaan vir my ’n Kubaan se oor bring.” Ek hoor nog Jimmy se stem.

“Wat hy waar kry?”

“By ’n Kubaan, natuurlik. Stupid. As hulle die Kubane in Angola skiet, sny hulle hul ore af.”

“Genuine? Hoe weet jy?”

“My pa het so ’n oor in sy wallet.”

Jimmy het graag met sy pa gespog. Hoe sy pa ’n jagmes – ons het dit ’n dagger genoem – op 20 meter in ’n boom se stam kan laat peck, nes Clive in die fliek Kaptein Caprivi. Hoe sy pa vyf minute sonder asem onder die water kan bly en hoe hy nes ’n Boesman kan spoorsny.

Partykeer het Jimmy die showcase in hul sitkamer oopgesluit en sy pa se army-medaljes vir my gewys: sulke goues met bont linte aan. In een hoek van die vertrek, langs ’n Pilot-radiogram, het ’n blinkgevryfde patroondop gestaan. Skuins bokant die patroondop het ’n foto van Jimmy se pa in sy recce-uniform gehang.

Party kinders het Jimmy gespot en gesê sy pa het hom met nat beesmis gegooi. Toe keer sy ma met die sif. Dis waarom hy so baie sproete het.

Elke middag het ons saam van die skool af huis toe gery, ek met my Chopper en Jimmy met sy gaar Hercules-dikwiel.

Een middag onthou ek beter as die ander.

“My pa het vanoggend met die Flossie van die grens af gekom. Kom ons gaan sê vir hom hallo.” Sy stem die ene trots.

“Scheme jy hy’t vir jou ’n Kubaan se oor gebring, Jimmy?”

“Kom ons gaan check.”

Eintlik onthou ek te veel van daardie middag.

Jimmy-hulle se voordeur was oop en in die sitkamer het ’n bruin army-trommel op die vloer gestaan. Op die trommel het ’n masjiengeweer, ’n R1, gelê. En op die koffietafeltjie was ’n drankbottel, halfvol. En op die mat ’n gebreekte glas, wat iemand teen die muur moet stukkend gegooi het want langs Jimmy se pa se foto was ’n klam, donker vlek.

Jimmy se ma het met rooi oë op die bank gesit.

“Waar’s Pa, hè, Ma?”

“Waar dink jy is hy?” Jimmy se ma het met ’n sakdoek oor haar wang gevryf.

Jimmy het by die voordeur uitgestap en weer op sy fiets geklim. In die moerbeiboom voor die venster het die vinke geraas en hul vlerke geklap.

Dit was simpel van my, ek weet, om daardie middag agter Jimmy aan te ry: af in Eugène Maraisstraat, regs in Voortrekker, tot by die hotel in die middeldorp.

Ons het ons fietse teen die muur gestut, onder die Bar/Kroeg-teken. Die hotel was vir ons verbode, maar een van die kroeg se vensters was oop. Jimmy het op sy tone voor die venster gaan staan, ek ’n entjie agter hom. Twee mans het pyltjies gespeel. By die toonbank het ’n ander man met ’n army-T-shirt gesit. Of nee, hy het nie gesit nie, hy het gelê, met sy kop op sy arms.

Dit was Jimmy se pa, met ’n leë glas voor hom op die toonbank.

“Pa!” het Jimmy geroep. “Pa!”

Sy pa het nie geroer nie.

“Pa-ha!”

Een van die mans by die pyltjiebord het nader gestap. “Wat’s dit met jou, boetie?”

“Sal oom nie seblief my pa vir my roep nie?”

Die man het aan Jimmy se pa se skouer gaan ruk. Maar Jimmy se pa het nie regop gekom nie. Nie dadelik nie. En toe hy eindelik sy kop oplig, was sy oë wild. Hy het die glas gelig en ’n sluk gevat, al was die glas al leeg. Toe het hy opgestaan en venster toe gestap, na ons toe, stadig, asof sy bene enige oomblik onder hom kan meegee.

“Hallo, Pa.”

Sy pa het vorentoe geleun, wiegend op sy voete. “Wie’s jou pa, hè? Ek is niemand se pa nie, oukei? Jy ken my nie. Jy en jou ma ken my nie. Loop. Skiederril. Jy’t niks hier verloor nie.” Toe het hy omgedraai.

Ek het ’n ent agter Jimmy gery. Die hele pad wou ek iets vir hom sê maar ek het nie geweet wat nie. By ons huis het ek hom gegroet en afgedraai. Maar hy het nie teruggegroet nie.

Dinge was van daardie middag af nie meer dieselfde tussen my en Jimmy nie. Hy het nie meer smiddae vir my by die fietsloods gewag nie en wanneer ek vir hom gewag het, het hy net stil langs my huis toe gery. En wanneer ek hom gevra het om by my te kom speel, het hy altyd die een of ander verskoning gehad.

Jimmy het my begin vermy. Aan die einde van daardie jaar het ons na ’n ander dorp toe getrek.

Toe, nou die dag, hou ek by ’n verkeerslig in die stad stil en daar, tussen die twee rye motors, staan Jimmy.

Ek het eers ’n bietjie getwyfel maar daardie rooikop en sproete was syne. Ek weet nie of hy my ook herken het nie want toe ek by hom verbyry, het hy omgedraai en my agternagekyk.

In die truspieëltjie kon ek duidelik die woorde op die plakkaat in sy hande lees: Geen geld. Geen werk. Help asb.

Uit die binneland

Подняться наверх