Читать книгу Uit die binneland - Dana Snyman - Страница 6

Trurat

Оглавление

Dink ek aan die Kalahari noord van Upington, dink ek nie aan doringbome, rooi sandduine en leeus nie. Ek dink aan die dag toe Oupa se Ranchero-bakkie se ratkas ingegee het.

Eintlik is dit ’n te mak woord. Die Ranchero se ratkas het nie ingegee nie. Die Ranchero se ratkas het daardie dag soos ’n dier in pyn gesterf.

Die Kgalagadi Oorgrenspark was toe nog die Kalahari Gemsbokpark. Ek was so ses jaar oud en soos gewoonlik vir die vakansie saam met Oupa en Ouma. Dit was deel van my opvoeding, elke vakansie het dié twee my ’n plek in die land gaan wys wat volgens hulle onontbeerlik was vir my geestelike en morele ontwikkeling. Die Voortrekkermonument was eerste, natuurlik. En toe die Kasteel in Kaapstad. Daarna Bloedrivier, die Randse Paasskou en die riksjas in Durban.

En toe, daardie vakansie, die Gemsbokpark se leeus.

Êrens in ’n laai het ek nog foto’s wat Ouma op daardie trip geneem het. ’n Uit-fokus-leeumannetjie by ’n watergat. ’n Stippeltjie in die verte wat soos ’n eland lyk. En Oupa wat in sy wit stofjas onder die Ranchero inloer nadat iets onder ons anderkant Lutzputs eensklaps gesug, weemoedig gekraak en toe begin rinkel en klingel het.

“Dis die gêrboks.” Oupa het langs die Ranchero orent gekom en agter die stuurwiel ingeskuif.

Hy het die Ranchero soos ’n Spitfire op ’n aanloopbaan opge-rev terwyl ons stadig vorentoe beweeg. Eerste rat. Tweede rat. Maar toe Oupa hom in derde druk, is dit weer daardie troostelose klanke. Terug in tweede. Terug in eerste. Dit was kompleet asof iets onder ons sy laaste stuiptrekkings gee.

Toe Oupa die enjin afskakel, was dit eintlik ’n verligting.

“Nou’t ons nie meer gêrs nie, Mammie,” het hy gesê en sy kop op die stuurwiel laat sak.

Dit was al laatmiddag en daardie wêreld was toe nog leër as nou: 60 kilometer se niks tussen Lutzputs en Keimoes.

Dit is eienaardig hoe die natuur ’n bedreiging word wanneer jy langs die pad gestrand is. Jy is opeens bewus van elke geluid, elke beweging. Ek het gedink aan die honger hiënas in Jamie Uys se fliek Dirkie, wat in ons inry gewys het, en begin huil.

Ouma het gesug en gesug.

Later het Oupa sy harde helmet – een van dié wat die ou ontdekkingsreisigers gedra het – afgehaal en gebid: “Dierbare Vader, ons wil vandag u hulp vra. Ons sit hier in die Kalahari sonder gêrs …”

“Jy jok, bok,” het Ouma hom in die rede geval.

“Wat bedoel jy?”

“Wat van reverse?”

Dit was die eerste van twee lesse oor die langpad wat ek daardie dag geleer het: Moet nooit desperate dinge doen voor jy nie al die logiese moontlikhede probeer het nie. Want met die Ranchero se trurat was niks fout nie. Dit was net ’n gesukkel om hom in die smal grondpad omgedraai te kry. Maar nie lank nie, toe loei die Spitfire weer. En toe beweeg ons – reguit Keimoes toe. In trurat. Met Ouma wat benoud roep: “Gaan meer links, bok! Links! Jy’s nou in die veld.”

Ouma – sy moes navigeer want Oupa had ’n stywe nek – het op haar waardigste by die Ranchero se ruit uitgekyk: “Ek sê li-hinks!”

“Maar ek gaan dan links, Mammie.”

“Die ander linkerkant.”

Om so ver in trurat te ry, is ’n bietjie soos om in die ruimte te reis, stel ek my voor. Jy is later nie meer seker van jou links en regs, jou voor en agter nie. Daarom moes Ouma haarself daardie middag meer as een keer korrigeer. Tog het ons goed gevorder, al het Oupa kwaai onder die helmet gesweet en al was Ouma later met albei knieë op die sitplek, haar kop by die venster uit, aan die navigeer.

Êrens het Oupa stilgehou, onthou ek, sodat Ouma die dooie muggies van haar bril kon afvee. Hoe lank ons daardie 60 kilometer getrurat het, weet ek nie. Dalk twee uur. Dalk drie. Dit was al sterk skemer toe Keimoes se liggies agter … wel, voor ons verskyn het.

Oupa se helmet het op die dashboard rondgeskuif en Ouma het halflyf by die venster uitgehang. “Meer mittel toe, bok! Meer mittel toe!”

Toe het ek my tweede langpadles geleer: Teëspoed is nooit verby voor dit verby is nie.

Net buite Keimoes was daar opeens teerpad. Ouma het Oupa in die regterbaan in genavigeer, en ja, dit was seker die regte besluit want in die regterbaan het die Ranchero se neus in die regte rigting gewys.

Oupa het die Ranchero gemoor. Die helmet was terug op sy kop en hy het so effe geglimlag, daar waar hy agter die stuurwiel sit en kyk het hoe die teëspoed van ons af wegskuif.

Ek kan nie alles mooi in volgorde onthou nie. Ek weet net daar was ’n draai. Toe was daar ’n motor, reguit op pad na ons toe. En ons na hom toe.

Ouma, steeds halflyf by die venster uit, se stem het opeens anders geklink: “Linkth! Linkth!”

Oupa het met geweld van die pad af geswaai. En daar was stof. En ’n toetergeskal. En remme.

Toe alles bedaar, het Ouma die Ranchero se deur oopgeswaai en vir my gesê: “Hardloop gou terug, theun, en gaan kyk tog of jy nie jou ouma se valthtande êrenth thien lê nie.”

Uit die binneland

Подняться наверх