Читать книгу Uit die binneland - Dana Snyman - Страница 7

Erfsonde

Оглавление

Oupa Swannie het sy beste resiesduiwe saamgeneem. Dit onthou ek.

Ouma Swannie het padkos gemaak: tamatietoebroodjies en hardgekookte eiers, frikkadelle, koue skaapnek, wors, gekapte biltong en droëperskes.

Pa het die watersak by die kraan volgemaak en voor aan die Holden se bumper gehang en Ma het haar naels rooi geverf. Toe ons by die hek uitry – Pa en Oupa voor in die Ford Fairline, ek en Ma en Ouma agter – het Simon in sy blou overall met ’n leë oliekannetjie in die hand om die huis se hoek gedraf gekom. Ons moet vir hom seewater saambring.

“Ons loop nie by die see nie, my skepsel!” het Ouma deur die Fairline se venster geroep. “Ons loop by Pretoria, by oubaas Verwoerd se begrafnis! Jy moet nou mooi kyk hier vir ounooi, hoor!”

’n Hoender het oor die radio gekraai en op Landbouradio het ’n stem gesê: “Ons roep die landman.”

Dit was aand en dit was môre, die vierde dag ná doktor Verwoerd se dood.

10 September 1966.

Van die rit stad toe onthou ek nie veel nie. Naby Brandfort, weet ek, het Pa langs die pad stilgehou, regoor ’n bordjie met ’n plaasnaam: De Aap. Dit was staatspresident C.R. Swart en sy vrou Nellie se plaas.

Ons het altyd op pad see toe daar stilgehou om padkos te eet. Dan het Oupa altyd gemaak asof hy deur ’n verkyker na die opstal tussen die bloekombome kyk en goed gesê soos: “Kan jy glo, ou Blackie en ou Nellie is nog in hul gowns. Allamintig! Die ou lady het nog krullers in haar hare!” Of: “Ou Blackie-hulle eet vanmôre net pap en longe. Dalk moet ons hulle oornooi vir ’n ordintlike brekfis.”

Maar daardie oggend het Oupa niks gesê nie. Ons het net daar langs die pad gestaan en ons padkos geëet. In die mandjie op die Fairline se dakrak het Oupa se duiwe geraas en hulle vlerke geklap. Oupa se favourite duif se naam was Kaptein, as ek reg onthou. En was daar nie een met die naam Jopie Fourie ook nie?

Naby Pretoria het Oupa “Nader, my God, by U” begin fluit terwyl die waaiertjie op die Fairline se dashboard heen en weer gedraai het. (Oupa het altyd “Nader, my God, by U” gefluit wanneer ons naby die stad kom.)

Ons is eers na oom Ys en antie Baba in Capital Park toe om ons kerkklere te gaan aantrek want die hele Pretoria was daardie dag ’n kerk. Niemand het hul karre hard ge-rev nie en ek moes skoene dra en oral teen die lamppale was luidsprekers waaroor die begrafnisdiens in die Uniegebou se amfiteater uitgesaai is.

“Ek weet nie wat gaan nou van ons word nie, ou suster,” het oom Ys gesê en Ouma omhels. Antie Baba het swaar van die hortjiesbank op die stoep orent gekom. Sy was nie so vet van te veel eet nie. Dit was haar kliere.

Die grootmense het ingegaan kombuis toe en oom Ys het vir hom en Pa en Oupa elkeen ’n tot whisky by hulle koffie gegooi. Of wag: Het oom Ys nie die whisky in hul koffie gegooi die keer toe die nuus oor die radio gekom het dat die resiesperd Sea Cottage geskiet is nie? Ek is meteens nie seker nie.

Ek wens ek kan meer van daardie dag onthou.

Ek wens ek kan meer van my hele verlede onthou. (Hoewel, soms wens ek ook ek kan alles vergeet.)

Ons het tussen ’n klomp mense op ’n sypaadjie in Pretoria se middestad gaan wag vir die lykstoet om verby te kom. Ouma het die hele tyd my hand vasgehou en antie Baba het ’n swart hoed op gehad met ’n swart net wat oor haar gesig hang. Laag oor die geboue het drie Spitfires gevlieg gekom.

Of eintlik onthou ek dit nie heeltemal só nie. Ek het net sulke vae beelde in my kop. Ouma se sterk hand. Swart nette oor vroue se gesigte. Geraas bo in die lug. ’n Man plat op sy boude op die sypaadjie met ’n sakdoek in die hand. ’n Spietkop met kamaste en sweetkolle onder sy arms. lemand wat vra: “Ek wonder wat gaan nou van Doktor se bulldog word, van ou Punch?” En iemand wat antwoord: “Hulle sal die ou dier seker maar uitsit.”

Heel voor in die stoet het ’n kanonwa met doktor Verwoerd se kis daarop gery. Tant Betsie was agter ’n swart motor se donker ruite. En oral het soldate se stewels op die teer gestamp terwyl Ouma my hand al hoe stywer vasvat en Oupa die duiwemandjie op die Fairline se dakrak oopmaak en antie Baba ’n sakdoekie onder die swart net indruk en oor haar wange vee.

Was ek ook hartseer? Of bekommerd? Of spyt?

Ek weet nie, ek was vyf jaar oud. Ek het jare later eers verstaan.

Uit die binneland

Подняться наверх