Читать книгу ‘n Enkele verhaal - Deon Wiggett - Страница 10
3
ОглавлениеEk het in twee dekades nooit aan Willem gedink nie, maar nou pyl die gedagtes van die seebodem boontoe. ’n Paar weke na Dadda se dood – die wyle, onsterflike Mannie Wiggett – word ek skielik gedwing om te dink aan ’n man wat op géén manier met hom vergelyk kan word nie.
Dit is dus tyd dat ek u voorstel aan Willem Breytenbach, wat een van die mans is oor wie dié verhaal gaan. Hy was ’n onderwyser. ’n Knap onderwyser, soos baie leerlinge jou sal vertel.
“As niks hiervan gebeur het nie, en hierdie was ’n onderhoud oor my skooldae, sou hy een van die onderwysers wees wat regtig uitgestaan het,” sê Anton Visser. Ons sit in ’n winderige en lawaaierige parkie aan die agterkant van Tafelberg. Anton is Engels, maar tweetalig soos dit ’n Grey-boy betaam, so ek vertaal ons gesprek hier.
Willem was Anton se debatsonderwyser by die beroemde Grey Kollege in Bloemfontein – en was ’n onderwyser soos niemand by Grey al beleef het nie.
Anton, wat nou ’n regisseur is, vertel my van een middag in 1990 toe mnr. Breytenbach die skool se debatsvereniging laat bloei het. Buite is dit vroegherfs in die konserwatiewe Rosestad in apartheid-Suid-Afrika. ’n Paar weke vantevore in die Parlement het FW de Klerk die ANC ontban, en oral is Afrikaner-verset in die lug.
In Bloemfontein sit die debatsvereniging se slegs-blanke seuns in mnr. Breytenbach se klaskamer. Hy is so ’n kreatiewe, onkonvensionele onderwyser dat ’n mens nooit weet wat om volgende te verwag nie.
Vir debat het mnr. Breytenbach iets gebring wat die seuns nooit veronderstel was om te lees nie: die Freedom Charter, waarvolgens Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin leef, en nie net aan ons nie. (Oeps.) Dis mos vir jou ’n vieslike ding om te sê, en tot onlangs nog hoogverraad.
Maar mnr. Breytenbach is nie klaar nie. Hy het die lirieke vir “Nkosi Sikelel’ iAfrika” ook hier.
“In daai tyd, as ’n wit kind, is jy afgesonder van dié soort ding, so ons het geweet dis nogal braaf [van hom],” vertel Anton. “In ’n skool waar die meeste onderwysers uit dieselfde patroon geknip is, het hy ’n heeltemal ander energie gebring. Hy was ’n groot invloed op ’n klomp mense.”
Nog ’n oudleerling, Victor Yazbek, vertel van gelukkige middae van bladuitleg saam met mnr. Breytenbach, wat ook die skoolkoerant behartig het. Rekenaars was nog ’n nuwe ding en die meneer het toe reeds begin om tegnologie te besing.
Dan vertel Victor, wat ’n bietjie preuts klink, ’n snaakse storie van tienerhormone. In sy jaar is die Afrikaans-klasse opgedeel tussen mnr. Breytenbach en ene juffrou Hattingh. “Baie ouens wou in mevrou Hattingh se klas wees, want …” sê hy en probeer ongemaklik haar buustelike manjifiekheid oor die foon uitdruk.
“So, die ouens [in my klas] was jammer toe ons hom gekry het. Maar ek het van hom gehou. Ek was ’n redelik akademiese student en het die uitdaging geniet van ’n werklik goeie onderwyser. Hy was snaaks, gaaf en hartlik. Altyd gelukkig; altyd met ’n glimlag.”
Maar vir al sy persoonlike betowering, is daar iets wat Willem nog nooit kon ontglip nie: sy asembenemende onaantreklikheid. Self dink ek nog altyd hy lyk soos brulpadda se kind. Hy is ’n groot, rollerige man; hy sweet by die emmers vol; en wanneer hy moet sit, plof hy terneer.
En dan is daar die lastigheid met die spoeg. Dalk is dit weens ’n ooraktiewe klier dat Willem meer spoeg vervaardig as wat hy kan sluk. Stroompies daarvan dam in sy mondhoeke op en wanneer hy hard praat – soos sy gewoonte is – gee die volume die spoeg vlerke, en druppeltjies val op gesigte, rekenaarskerms en hare.
In kombinasie met die gesweet kry ’n mens die indruk van ’n man wat oorvol vloeistof is. Asof Willem se logge liggaam gewoon nie al sy afskeidings in toom kan hou nie.
Teen die tyd dat my geheue in 2018 terugkeer, woon Willem in Kaapstad in die prentjiemooi Drieankerbaai, met Tafelberg en Duiwelspiek links en die Atlantiese Oseaan regs. Hy deel ’n huis daar met sy lewensmaat, Danie van Rooyen, oorspronklik van Port Elizabeth. Hulle het die eiendom saam in 2011 gekoop en mooi opgeknap. Sy jare ná die onderwys was goed vir Willem se sak.
In 2018 weet ek dit nog nie, maar dit was ’n hartseer affêre wat hierdie gebore onderwyser die onderwys laat verlaat het. Dit was maar dieselfde probleem soos altyd: Willem doen die ding wat hy doen.
Op ’n warm lentemiddag op Stellenbosch en ’n koel herfsoggend in Minnesota gesels doktor Anna Salter met my oor Skype. Sy drink koffie terwyl ’n yslike swart kat oral om haar balanseer om onverdeelde vertroeteling te eis.
Die onderhoud het my so ietwat bekruip. Ek is by Nella se huis en al heelmiddag lank is ons op die witwyn. Nou sit ek in haar studeerkamer om te gesels met ’n 73-jarige Amerikaner wat my van haar lewenswerk vertel.
Ek het, soos dit ’n professionele persoon betaam, my wynglas sorgvuldig buite sig geposisioneer, en soos sy koffie drink, neem ek diskrete slukkies deur soms swaar na regs te leun.
Ek gesels met haar omdat my terapeut iets gesê het wat ek wyer wil bevestig, en verkieslik van oorsee.
“Could it have been an accident?” vra ek, want Anna is nie van hier nie, “or did Breytenbach plan the whole thing since the beginning?”
“Typically it’s a plan, antwoord sy. “It’s not like he becomes friends with a kid and gets carried away by it. He’s planning, thinking. It’s on his mind absolutely all the time.”
Dis net soos Craig gesê het. Ek was nie Willem se enigste teiken nie, en nie die enigste een wat dit oorleef het nie. Ek was net nóg een van die seuns wat hy wou hê; nie ’n uitsondering of ’n afwyking nie.
Dit was kwalik merkwaardig toe hy my op 17-jarige ouderdom in my mond verkrag het.
Hierdie storie gaan nie oor verkragting of molestering nie. Dit is geen Leaving Neverland of Solly Ozrovech: Die Blyspel nie. Daar is helaas geen laasgenoemde, maar in Leaving Neverland vertel twee mans van rofweg my eie ouderdom, Wade Robson en James Safechuck, hoe Michael Jackson hulle verkrag het. Ek is veronderstel om te sê Wade en James beweer hulle is deur Jackson verkrag, maar hulle lyk en praat soos mans wat dit alles nou onthou. As pedofiele bestaan, en Michael Jackson een sou wees, is dié twee mans die toonbeeld van oorlewers van seksuele geweld. Hulle is Wade en James en hulle voel vir my soos broers.
Maar Leaving Neverland is nie wat mý storie is nie. Ek gaan u nie bemoei met al die intieme besonderhede van wat Willem my aangedoen het nie, en die ander mans hier gaan ook nie. Elke insident was volkome onwettig en ’n angswekkende aanval, en laat ons nie verder met tienerpenisse te behep raak nie. Dis nie waaroor dié storie gaan nie. Dit gaan oor hoe ’n mens te werk kan gaan om ’n brulpadda soos myne te vang. Wanneer jy eers weet hoe om na oorlewers te luister, begin jy die tekens en simptome van seksaanvalle raaksien. En wanneer ’n mens eers verstaan waar en waarvoor om te kyk, begin jy die brulpaddas in ons midde herken.
Dit kan nie te moeilik wees nie, dink ek in 2018, drie maande na Dadda se dood. Ek sit op die stoep met my laptop. Vir die eerste keer in 21 jaar wonder ek wat van Willem Breytenbach geword het.