Читать книгу ‘n Enkele verhaal - Deon Wiggett - Страница 15

7

Оглавление

Stadig sak ek in die sitplek af. Is dit minder verdag om vinnig of stadig verby te ry?

Stadig begin ek verby ry, maar staar stip voor my en waag dit nie om regs te kyk nie. As Willem nou by sy voordeur sou uitkom, gereed om kantoor toe te ry, en hy kyk op en reguit vorentoe, sal hy my sien – ’n 39-jarige man wat hy meestal vergeet het.

Maar nou is ek verby. Ek sirkel terug en parkeer op ’n veiliger afstand. As Willem nóú uitkom, behoort hy my nie te sien nie, tensy ek iets opsigtelik doen.

Ek het ’n klankopnemer en oorfone saamgebring, net soos die regte Sarah Koenig. Ek praat in die mikrofoon en probeer om oor my gevoelens verslag te doen.

Ek sê: “There’s a car parked outside. Is that his car? Is he metres away?”

Meeue skreeu; ’n trokkie stop verder af met voorraad vir ’n waterverkoeler; uit ’n blok woonstelle skree ’n ma met ’n bruin aksent: “Hey, stop it!”

Dit is alles skitterende agtergrondklanke vir my podcast. Al die handboeke oor audio sê ek moet in die pad gaan staan om ’n paar minute se tape op te neem.

Maar dit sal ’n stap te ver wees. Ek sal die tweede beste ding moet doen. Ek sak so laag af in die kar se sitplek dat verbygaande motoriste net ’n oop venster sal raaksien met ’n lang arm wat in ’n mikrofoon uitmond. Ek neem dertig sekondes se tape op voor my arm begin bewe.

Ek is werklik geskok oor my vreesvlak. Hoe gaan ek Willem vang as bloot sy huis my laat dissosieer? Wag bietjie: ek sit nou reeds vir ’n paar minute hier sonder dat ek daaraan dink. Dissosieer ek reg hier? Dit is tyd om na my liggaam te luister en vinnig van hier weg to kom.

Maar eers sal ek my voornemens op tape opneem.

“I am going to have one more drive past, and then I’m driving to his work. His most basic daily routine … driving to the office. Because everything is changing. I am no longer the one who doesn’t know about him. He’s the one who doesn’t know about me.”

Ek moet dapperder klink in die opname; ek probeer iets anders: “Soon we’ll have our very first encounter in decades,” sê ek vir ’n teoretiese Willem. “And this time, the surprise will be all yours.”

En dan eers verstaan ek hoekom ek hierheen moes kom. Ek moes weet waar hy is. Hy is nie ’n teoretiese monster wat oor Drieankerbaai regeer nie. Hy bly in ’n huis hier – daai huis daar – tussen gewone Kapenaars wat glad nie soos hy is nie.

Dít is deel van die krag wat ek moet terugeis. Hy behoort vir mý bang te wees, want hý is nou die prooi. Net voor ek die kar aanskakel, weet ek wat ek hier moet sê.

“Willem,” sê ek. “I am sitting outside your house.”

‘n Enkele verhaal

Подняться наверх