Читать книгу ‘n Enkele verhaal - Deon Wiggett - Страница 21
12
ОглавлениеIn sy bankiershuis leer sportiewe hoofseun Jean my van Grey Kollege se grondbeginsels. Word ’n Grey Gentleman. Volg die Grey Way.
Albei, sê hy, het te doen met “die manier wat jy optree voor jou portuurgroep, sowel as mense wat by die skool inkom. Dis die manier waarop jy aantrek – jou baadjie, jou das. Om op te staan wanneer grootmense verbyloop … die woord ‘gentleman’ is ’n groot aspek van daardie lewenswyse wat van vroeg af aan jou oorgedra word.”
By Grey noem hulle die koshuisseniors “old boys”, soos in: “Die old boys en die prefekte probeer definitief hierdie ‘gentlemanship’, hierdie lewenstyl, in jou kweek.”
In Grey se gedragskode vir 2019, die mees onlangse een op die skool se webblad, is daar ’n “Profiel van ’n Grey Gentleman”. Aan die hand van 31 instruksies leer ’n mens ’n Grey Gentleman “staan op wanneer ’n volwassene naderkom”, “strooi nie rommel nie, maar hou die skoolgronde skoon” en “is trots op sy voorkoms: skeer, maak sy skoene skoon, is trots op sy skooluniform en dra nie juweliersware skool toe nie.”
En ook: Hy “luister na afkondigings oor die interkom”, “besoek nie die tuck shop of coffee shop tydens lesse nie”, “respekteer sy Skepper, die personeel, volwassenes, mede-Grey-leerders en ander” en “maak seker dat sy skoolfooie betaal is en kom sy finansiële verpligtinge na.”
Maar reëls 23 tot 26 vind ek interessanter. In hierdie volgorde: ’n Grey Gentleman “baklei nie en knou nie ander af nie; bly nie passief as ander geïntimideer word nie; beskerm nie diegene wat kwaad doen nie; [en] doen nooit iets wat die goeie naam van Grey Kollege in gedrang bring nie”.
Jean onthou die eerste keer toe hy besef het hy is besig om in ’n gentleman te verander. Dit is 1986, laatsomer, en ná ’n ontgroeningstydperk word die jaar se nuwe seuns hul eerste middag in die stad gegun. Sommer vinnig, vertel Jean, besef jy dat wat jy by Grey geleer word, nie noodwendig by ander skole geleer word nie. “Jy weet, net die manier waarop jy aantrek. ’n Mens sou miskien kon sê ek is bevooroordeeld, maar ek sou altyd argumenteer dat die Grey-boys netjieser aangetrek is; hulle maniere; hoe hulle meisies van meisieskole behandel; of om op te staan wanneer ouers of, jy weet, senior mense verbyloop.”
Selfs daardie eerste middag in die stad, sê Jean, “was dit vir my duidelik dat wat ons geleer word ’n meer gentlemanly benadering en manier van leef is as sommige van ons eweknieë. By party van die ander skole in Bloemfontein, maar ook nie net in Bloemfontein nie – jy kom dit agter wanneer jy gaan interskole speel teen skole in die res van die land – kan jy definitief raaksien dat die Grey-boys se maniere beter is as dié van, vir ’n gebrek aan ’n beter woord, ons portuurgroep s’n.”
Dan vertel hy my van ontgroening. “Wanneer jy Grey toe kom as ’n standerdsesleerling, is daar soos by enige skool ’n vorm van ontgroening, wat ’n goeie ervaring is.”
Al is ek veronderstel om ’n joernalis te wees, is ek besig om kriewelrig te raak. Jean kom dit dalk agter, want hy sê: “Ek meen, dit ís ’n moeilike paar dae in enige jong seun se lewe. Maar as ek terugkyk, is dit definitief nodig volgens my. Ek weet daar’s ’n klomp verskillende opinies ten opsigte van, jy weet, ontgroening en of dit nodig is, maar my ervaring was baie positief en ek’s bly ek kon dit deurmaak. Dis tydens hierdie ontgroening wat baie van hierdie beginsels in jou gekweek word.”
Daar is ontgroening wanneer jy by die skool begin, maar jy word ook ontgroen elke keer wanneer jy na ’n nuwe koshuis toe gaan. In jou vyf jaar by Grey sal jy in drie koshuise bly, en elke keer sal jy ontgroen word.
“So wat presies gebeur?” vra ek.
Ek dink nie Jean vertel my die volledige storie nie. Hy sê ’n mens doen goed soos “rondhardloop in die son in jou baadjie” en daar is “sekere voorregte wat jy nie het nie; dalk moet jy vinnig eet. Maar niks lewensveranderend nie. Wel, seker nie vir die meeste van ons nie.”
“Wat bedoel jy?”
“Ek sou sê die meeste van ons het beter mense daaruit gekom. Ten minste het jy ’n goeie idee gekry van waaroor die skool gaan. Ja, daar is ’n bietjie trots wanneer jy klaarmaak, maar niks onvanpas nie. Ek meen, ek was ná skool in die koshuis op Stellenbosch waar almal deur dieselfde gegaan het. Definitief, vir my, maak dit die instelling ’n bietjie meer worthy. Ontgroening het sy plek, solank dit binne perke bly; solank dit nie die komposisie of die persoonlikheid van die individu negatief beïnvloed nie. Ek dink as dit daar is om jou te laat voel jy is nou deel van die span, of, jy weet, julle’t saam deur hierdie proses en verwelkoming gegaan, dan is dit goed; ek dink definitief daar’s ’n plek daarvoor. Maar as dit iemand se psige gaan affekteer, dan is dit natuurlik nie reg nie.”
Dit klink alles baie toksies, antwoord ek. “Dit klink vir my of Grey ’n baie moeilike plek is om te wees as jy anders as die mainstream crowd is. Ek het géén twyfel ek sou dit geháát het om in Grey te wees nie. Ek meen, ek’s ’n gay ou; ek was nie uit op skool nie, maar die Grey-boys sou nié van my gehou het nie. Dit moet ’n moeilike plek wees as jy nie een van die ‘manne’ is nie.”
“Mhh-hh-hmmm,” runnik Jean saggies. “Dis seker moontlik. Ek meen, ons maak wel voorsiening vir, ek meen, ons het baie slim nerds gehad, om dit só te stel, wat alleen gelos is om hul eie ding te … jy weet, hulle ding te gaan doen. Ons het, ek meen ek kan onthou ons het ’n paar – noem dit ‘potensieel’ – wat, wel, ek kan sê post-Grey het hulle ‘uit die kas’ gekom. Gay vriende wat nog steeds vriende van my ook is. Ek meen, per se het ek geensins ’n probleem daarmee as iemand wil gay wees nie.
“So ’n mens sou kon argumenteer dat dit definitief ’n skool is wat beter voorsiening maak vir die sportbehepte, tipiese seun, maar ek dink nie … ek kan nie onthou dat enigiemand van ’n … noem dit ‘meer sagter natuur’ – potensieel gay – ooit afgeknou is nie. Dalk, jy weet, dalk het ek dit gemis, maar ek kan nie onthou dat enigiemand uitgesonder is nie.”
Ek besef Jean se vertelling is ’n bietjie eensydig. Later, in my solder, soek ek na ander kante van die storie en amper dadelik kom ek af op ’n Grey-boy wat uitgesonder is omdat hy op die verkeerde grasperk geloop het.
Dit is Oktober 2018, en ’n sestienjarige leerling kom met ’n lyfwag by die skool aan. Sy moeilikheid, berig Rapport, “het eintlik al in Maart begin toe twee graad 11-leerlinge hom geslaan het; volgens die seun se klasmaats omdat hy oor ’n grasperk gestap het wat glo net vir graad 11- en 12-leerlinge van Grey beskore is. Sy kop is teen die muur gestamp en hy is op sy oor geslaan. Sy oortrommel is beskadig.”
Ek gee toe: Om op ’n verbode grasperk te stap is nié die mees volwasse wyse om teen gesag te rebelleer nie. By Paul Roos was daar ook ’n stukkie grasperk tussen die hoofgebou en die anneks waaroor net die matrieks mag loop. Ek het gewag tot ek in matriek was voor ek daaroor geloop het en het toe die wandeling tussen klasse verkwikkend gevind.
Maar dit is kwalik die punt. Later is dieselfde seun geskop en met rugbyballe gegooi, het sy ma aan Rapport gesê, en sy het toe besluit om vir hom ’n lyfwag aan te skaf want sy “vrees vir haar kind se veiligheid by dié spogskool”.
’n Halfuur nadat die seun en sy lyfwag by die skool aangekom het, word hulle albei weer weggestuur. Die seun het toestemming om vir die res van die jaar tuis te bly. “Die onderwysers gaan vir hom sy skoolwerk huis toe stuur en hy kan waar nodig afsprake maak sodat hulle hom smiddae kan help,” skryf Rapport.
En die twee seuns wat in Maart hul junior so bygedam het? Grey het sewe regsgeleerdes by die saak betrek, onder leiding van Ian Small-Smith, ’n vername Johannesburgse prokureur.
Volgens Small-Smith, die voorsitter van die dissiplinêre paneel, het “twee positiewe verslae” van ’n “onpartydige maatskaplike werker” bevind dat die oortreders “berou getoon het oor die voorval en dat ’n moontlikheid van herhaling uiters gering is”.
Grey het wel besluit dat die seuns gestraf moet word deur “gemeenskapsdiens” van onderskeidelik 25 en 15 uur te doen, sê Small-Smith. “Hulle moet take op die Grey-skoolterrein verrig soos vereis deur die terreinkomitee.”
Maar nog interessanter as die storie in Rapport is ’n brief aan Volksblad deur een van die beseerde seun se klasmaats. “Die rede waarom hy in Maart geslaan is, is omdat hy hom afvee aan die skool se tradisies,” skryf die anonieme kind. “By Grey boelie ons mekaar nooit nie, maar ons sorteer mekaar wel uit. Ons maak nie soos ons wil by die skool nie. Ons respekteer die tradisies en reëls, al verskil ons soms daarvan, want ons het na Grey toe gekom, nie andersom nie.”
Die grootste lesse wat jy by Grey geleer word, skryf die jong gentleman, is senioriteit en gesag. “Dit is verkeerd dat die slagoffer se oortrommel gebars het, maar hy moes dit sien kom het. Hoe kan hy besluit dat hy 163 jaar se tradisies en reëls net ignoreer?
“Niemand by Grey kry swaar nie, behalwe dié wat nie dissipline het nie. Hulle word dissipline geleer. Die meeste kom sterker daaruit en is net so lief vir die skool soos ek en duisende ander. Die res loop gewoonlik. Ons rand mekaar nie aan by Grey nie. Ons is ’n span. En jy moet deel wees van die span en teen die tyd wat jy die skool verlaat, gehelp het om dit ’n beter plek te maak. Jy moenie die skool afbreek en dit ’n slegte naam gee nie.”
Onderaan die brief het Volksblad se brieweredakteur dit goedgedink om by te voeg: “Die heel beste sou gewees het as die probleem maande gelede in privaatheid opgelos is.”
Dit was nie die eerste keer wat geweld by Grey Kollege onlangs die nuus gehaal het nie; ek lees alles daaroor op Netwerk24. Vroeër in Maart is ’n 13-jarige seun deur ’n prefek met ’n hokkiestok gemoer.
Rapport berig later die seun is by die skool weg “nadat hy na bewering ’n koshuisreël oortree het wat bepaal dat nuwe koshuisleerlinge op ’n sekere manier langs ’n muur loop”.
In reaksie spreek Grey Kollege “sy spyt oor die voorval uit en sal voortgaan om die seuns op te voed, gegrond op die skool se waardestelsel en etos waar respek vir mekaar en ander ’n sentrale rol speel”.
Die gemoerde seun het vir sy pa ’n foto van die haal op sy boud gestuur, want toegang tot jou ouers is ’n belangrike element van ’n kind se veiligheid. Maar as die slanery sou gebeur het in die seun se eerste twee weke by Grey, sou hy vir niemand kon sê nie.
Luidens ’n omsendbrief wat ouers voor die 2020-skooljaar ontvang het, word dit uitgespel (“NB!!!”) dat alle koshuisgangers in graad agt hul fone moet inhandig om “in veilige bewaring” gehou te word.
“Ons doen ’n ernstige beroep op ouers om asb. NIE vir u seun ’n addisionele (wegsteek) selfoon te gee NIE,” word die ouers gemaan. “Seuns wat kul (‘cheat’), verloor gewoonlik die respek van hul maats. Moet asb. nie u seun in hierdie posisie plaas nie en respekteer asb. ons reëls. Wanneer al die seuns sonder ’n selfoon is, leer hulle vinnig om as spanlid van ’n uitgebreide Murray-Huis-familie, hul mede-kosgangers te ken, te ondersteun en te vertrou. Die seuns leer deur hierdie kameraadskap om vriende te maak. Gun asb. u seun hierdie geleentheid deur nie aan hom ’n ekstra selfoon te gee nie. U seun gaan gedurende hierdie week geen direkte telefoniese kontak met u hê nie, maar wees gerus dat die Huisvader of die Matrone u onmiddellik sal skakel indien u seun siek voel of enige ander probleme ondervind.”
Dit alles is vir sy eie beswil, skryf die skool. “Ons ervaar ook jaarliks dat seuns wat gedurende die eerste twee weke gereeld met hulle ouers kontak het, dit die moeilikste vind om by die koshuis en nuwe omgewing aan te pas. Seuns sal veel eerder ’n ‘agterdeur’ aangryp as om te probeer aanpas. Ons vra asseblief dat u ons sal vertrou en glo dat ons werklik u seun se beste belange op die hart dra. Ons wil baie graag hê dat elke seun, so gou as moontlik, die aanpassing in sy nuwe omgewing moet maak.”
Oor en oor is die boodskap dieselfde. Vertrou die skool. Vertrou die stelsel. Óns is hier.
“Moedig hom aan om onmiddellik by ons aan te meld indien hy siek word, seerkry, olik voel, verlang, huilerig raak, onseker is oor skoolwerk, of enige ander probleme ondervind,” skryf dit.
As jou seun Grey Kollege toe gaan in 2020 en enigiets gebeur wat hom ongemaklik laat voel, mag hy jou nie daarvan sê nie. Hy mag slegs die skool vertel en húlle sal dit uitsorteer. Dis soos Volksblad se brieweredakteur sê: “Beste sou gewees het as die probleem […] in privaatheid opgelos is.”
Dit is vreemd dat ’n koerant klaarblyklik ’n magtige instelling adviseer om ernstige bewerings van aanranding toe te smeer. (Volksblad en Rapport, vir die rekord, behoort albei aan Naspers.)
Maar self voor die berigte oor aanranding was daar Grey se seksskandaal, plaaslik aangebied as glad nie ’n skandaal nie. Dit is 2016 en seuns sal seuns wees, maak Volksblad se skertsende stemtoon duidelik. Dit is die moeite werd om Mike van Rooyen se storie volledig aan te haal:
Die aanvallige jong onderwyseres van Grey-kollege in Bloemfontein wie se innige soenery met ’n skoolprefek deur ’n WhatsApp-boodskap op die lappe gekom het, het uit haar pos in die skool bedank.
Haar bedanking is ingedien kort nadat die soenery by die skoolowerheid aangemeld is. Sy hou steeds tot die einde van die jaar daar skool.
Blykbaar het sy glo ook ’n duur les geleer om twee keer te dink oor wat en aan wie sy so ’n boodskap uitstuur, is aan Volksblad gesê.
In dié boodskap vroeg vanjaar het sy glo aan vriendinne van die soenery vertel.
Maande later, ná ’n beweerde onenigheid tussen van die personeellede, het dié boodskap glo in ’n uitgedrukte vorm opgeduik en is dit onder die aandag van die skoolowerheid gebring. Toe het die ondersoeke begin.
Die matriekseun, wat as ’n briljante leerling en goeie sportman beskryf word, moes in ’n vertroulike skikkingsooreenkoms onderneem om as prefek te bedank, wat hy toe ook gedoen het.
Die aangeleentheid word glo nou deur die skoolowerheid as afgehandel beskou.
Iemand na aan die onderwyseres het aan Volksblad gesê sy het om ander redes, lank voor die soenery op die lappe gekom het, besluit om net tot die einde van die jaar by Grey skool te hou.
Sy gaan blykbaar nie die onderwys verlaat nie en glo by ’n ander skool skoolhou. “Sy gaan haar horisonne verbreed.”
Deon Scheepers, hoof van Grey-kollege, het by navraag die onderwyseres se bedanking bevestig.
Maar sal ’n gemaklike plaaslike boys’ club vir enigiemand geregtigheid of waardigheid kry? In 2019 is ek op soek na dit wat weggesteek is, en as ek dit eers kry gaan ek almal vertel.