Читать книгу ‘n Enkele verhaal - Deon Wiggett - Страница 8

1

Оглавление

Dit is ’n Saterdag wanneer alles verander.

Ek is by ons huis in Johannesburg se boomryke noorde. Dit is November 2017 en ek vier die vroegsomer op die gebruiklike wyse: rook ’n paar spliffies, lees iets, swem ’n bietjie.

Ek is ’n kopieskrywer by ’n klein advertensie-agentskap wat ek besit en seker maar moet geniet, maar in die swembad vandag doen ek my bes om dit te vergeet. Dit maak my angstig, soos baie goed maar.

My man, Riaan, is ’n liefie en selde angstig. En nou is hy op pad na OR Tambo Internasionaal om San Francisco toe te vlieg.

“Vir wat gaan jy so vroeg?” vra ek wanneer hy my totsiens soen. “Jy gaan net moet rondsit en wag.”

“Jy bedoel daar gaan nie ’n groot gejaag teen die einde wees, soos wanneer ons saam is nie?”

“Jy weet dit maak dit meer opwindend,” antwoord ek, soos altyd wanneer Riaan oorversigtig is.

“Lief vir jou!” sê hy en gee my nog ’n druk.

“Geniet Silicon Valley!” En onder ’n geskal van welwense en belangstellende katte wiel Riaan uit.

Ek is self veronderstel om binnekort te waai, maar die water is lekker en die sonnetjie ook. Ek moet éintlik my ma-hulle bel, en vir Riaan ’n boodskap stuur, en werklik, ek moet al reg wees vir dieselfde Mexikaanse restaurant as gisteraand. Dis ’n ent se ry en niks om oor huis toe te skryf nie, maar dis waar die twee helftes van ’n geskeide paartjie op agtereenvolgende aande partytjies gereël het. Nie uit venyn nie; bloot toevallig.

Ek is nie lus vir saai Mexikaans nie, maar om nié vir die tweede aand op te daag nie sal ’n Petrus-vlak verloëning van Geskeide Nommer 2 meebring.

Ek het nou nie meer tyd om my ouers te bel nie. My pa is geselserig in die regte lewe, maar op die foon is hy so kripties soos ’n man wat ’n telegram skryf: “Gaan dit goed? Hoe gaan dit met die besigheid? Hoe gaan dit met Riaan? Hier’s jou ma.”

Dan, ’n lieflike en baie lang gesprek. In die volgende uur sal my ma my op hoogte bring van haar dosyn jong olyfboompies, haar uitdagende nuwe kwilt en wat ook al vandeesweek haar slim oë gevang het.

Ek sal môre bel, besluit ek wanneer ek kaal uit die swembad klim.

Wanneer ek uiteindelik in die Uber sit, dink ek aan die begin van somer, en aan meer ingeligte keuses vanaf gisteraand se spyskaart. Ek vergeet om vir Riaan ’n SMS te stuur terwyl hy nog hier is.

Dit is die laaste aand van my eertydse lewe.

‘n Enkele verhaal

Подняться наверх