Читать книгу ‘n Enkele verhaal - Deon Wiggett - Страница 14

6

Оглавление

Na twee ure land ek in Kaapstad. Ek is ongemaklik oor die rit na Willem se huis; bang dat ek hom sal sien of, nog erger, dat hy mý sal sien. Ek stel dit dus uit deur met ou vriende en joernaliste te gesels. Hulle het skinderstories en gerugte en hoorsê – of “leidrade”, soos speurverhale dit noem.

Ek het middagete by ’n Italiaanse restaurant met Adriaan Basson, deesdae ’n vername redakteur. Ons is aan die Foreshore en Adriaan het oorgestap van die Naspersgebou. (Dit heet deesdae die Media24-gebou, maar vir enigiemand wat nie gister gebore is nie bly dit die Naspers-gebou.) Adriaan was ’n skoongesigskoolseun toe ons mekaar leer ken het met Naspers se Nasionale Skoolkoerantprojek – ons albei was redakteurs van ons skoolkoerante en ons het goeie vriende geword. By Die Matie vier jaar later het ons ’n groot en kinderagtige uitval gehad wat grootliks my skuld was. Sedertdien het ek ons verhouding as gespanne ervaar.

Op die vyftiende verdieping van die Naspers-gebou is Adriaan nou hoofredakteur van News24. Ek het iemand nodig om my te help – iemand met geld. As ek probeer om Willem te ontmasker, sal hy ’n aansienlike hoeveelheid geld aan ’n groot regspan betaal om my te dagvaar en te verneder terwyl regskoste die res van my lewe opvreet. Ek het iemand met prokureurs nodig.

Adriaan is nie wie ek wou gehad het nie. Ek het in 2018 al begin rondvra. Een oggend oor ’n hotelontbyt met Max du Preez vra hy my: “Het jy al met Adriaan hieroor gepraat?”

“Ek wil dit nie saam met Adriaan doen nie,” antwoord ek. “Ek kan dit nie saam met ’n Nasperstitel doen nie; it goes against everything this project is about.”

“Jy moet met Adriaan praat,” sê Max weer. “Of dalk met Pieter du Toit en Mandy Wiener.”

“Hulle werk álmal by News24.”

“Praat met Adriaan,” sê hy. “He’ll get it.”

Vir lank ignoreer ek sy advies, al was dit opwindend om Max du Preez te ontmoet.

“So wat is jou plan presies?” vra Adriaan terwyl ons wag vir ons pizzas.

“Obviously wil ek vir Breytenbach nail, maar ek wil dit doen op ’n baie openbare manier sodat dit iets kan betéken. Ek wil ’n Serial-tipe podcast maak oor die proses, want daar’s ál hierdie seuns wat die heeltyd verkrag word en ál hierdie joernaliste weet en niemand doen iets daaromtrent nie.

“Ook, ek wil régtig graag ’n Serial maak. My naam is Deon Wiggett, en ek is Sarah Koenig.”

Adriaan snap dit. Hy is gaande daaroor. “Kom ons nail die doos,” sê hy, want hy glo my. “Ons kan die regskoste betaal, maar dit moet waterdig wees. Deeply lawyered, signed affidavits, die works.”

“Ek sal die prokureurs gaan ontmoet,” sê ek, en in Johannesburg se boomryke Westcliff begin die land se voorste mediaprokureur reeds vir Adriaan geld kos.

Dan vra ek vir Adriaan: “Kan julle help betaal vir die produksiekoste?”

“Wel, as ons vir iets betaal, is dit ons s’n.”

“Dit gaan nooit gebeur nie. Dis podcast is entirely myne, en jy verstaan hoekom dit moet wees.”

“So, hier’s die vraag wat ek gevra gaan word,” sê Adriaan: “Wat is in dit vir ons?”

“Redemption?”

Ons lag albei hard en bitter.

En so kom ons uit, soos ons moes, by ’n rampspoed genaamd Naspers. Die maatskappy is berug vir soveel meer as om Willem Breytenbach ’n grootkop te maak. Lank voor sy eietydse sonde is die Nasionale Pers geskep om apartheid te slyp.

Dit is Desember 1914. In die Europese winter veg troepe van die Unie van Suid-Afrika sy aan sy met ander onderdane van koning George V. Maar ver weg, op Stellenbosch, is dit somer en rustig toe sestien Afrikanermans ’n monumentale besluit neem. Die tyd het gekom vir Afrikaans om sy eie, egte stem te vind, en dus weet hulle wat hulle te doen staan. Hulle sal ’n Nederlandse koerant begin.

Sewe maande later word De Burger vir die eerste keer in Kaapstad gepubliseer; dit sal ses jaar later Die Burger word toe, neem ’n mens maar aan, die kloutjie by die oor gebring is. Die eerste redakteur was doktor DF Malan, wat later jare as eerste minister apartheid sou instel.

Een ding lei tot ’n volgende. Dit behaag Die Burger se uitgewer, en Nasionale Pers – of bloot, met ontsag, “die Pers” – bring ander koerante en tydskrifte op die been. Almal basuin geesdriftig vir die Nasionale Party.

Die Nasionale Pers het intussen kortweg Naspers geword, en deesdae probeer die maatskappy sy tagtig magtige apartheidsjare stilhou, toe dit meer as net voorletters met die Nasionale Party gedeel het. ’n Grappie uit apartheid se laaste dekade is ’n duisend woorde werd. Aartsbiskop Desmond Tutu en president PW Botha is in ’n skuitjie in Tafelbaai om oor ’n skietstilstand te gesels. Uit die niet verskyn ’n fratsgolf en vee vir PW uit die boot en onder die golwe in.

Sonder om te aarsel klim Tutu uit die skuit, loop op water, tel vir PW op en lê hom veilig in die skuit neer.

Die volgende dag is die Cape Times se hoofopskrif: “Tutu walks on water!”

Die Burger het: “Tutu kan nie swem nie”.

Maar helaas vir Naspers raak apartheid ná tagtig jaar vir almal te veel. In die 1990’s bevind die Pers hom op die rant van irrelevansie. M-Net, wat vir die gelag betaal, is ’n onsekere en onmededingende seëning (deur die NP besorg). As die Pers gaan seëvier, gaan dit ’n wonderwerk verg.

Dit kry eerder ’n wonderwaagskoot, en dus werk dinge selfs nog beter uit. In die gejaag om iets met sy apartheidswinste aan te skaf, koop Naspers en sy “visioenêre” leier, Koos Bekker, ’n verskeidenheid hopelose start-ups. Een van hulle, Tencent, verander homself in ’n reus; al wat Bekker en Naspers moes doen, is om vir die applous op te daag. Sakevernuf raak nie meer passief as dié nie.

In 2017 maak Naspers ’n beleggersvideo met die hersiene geskiedenis, nou slegs in Engels vertel, en hier vertaal:

“Ons reis het meer as ’n honderd jaar gelede met ’n koerant in Suid-Afrika begin,” sê ’n man. “Mettertyd het ons gebou, gekoop en belê in vername tegnologie-platformbesighede …”

’n Vrou swiep binne vir ’n gevoel van inklusiwiteit: “… en vandag is ons ’n wêreldwye internet- en vermaakgroep en een van die grootste tegnologiebeleggers in die wêreld. Dit … is Naspers, ’n groep wat mense bemagtig en gemeenskappe verryk.”

Die twee gesels voort – hy oor die 25 000 werknemers, sy oor die bedrywighede “in 120 lande reg oor Afrika, die Amerikas, Asië, Oos- en Sentraal-Europa én die Midde-Ooste”.

Nog ’n paar logo’s flits verby, en dan ’n lawwe stelling: “Om ons te help om die volgende groeifase te stuur, identifiseer Naspers Ventures geleenthede om vennootskappe te vorm met internetondernemings in opwindende nuwe gebiede met ’n hoë potensiaal en help hulle om ’n globale skaal te bereik.”

Hy sê: “Een van ons waardevolste beleggings is Tencent, wat op die Hongkongse aandelebeurs genoteer is en deur ’n puik span bestuur word. Dit is een van die grootste internetmaatskappye ter wêreld en ’n vooraanstaande verskaffer van waardetoevoeging tot internetdienste.”

Dan nóg logo’s, nóg geesdriftige uitsprake (“een van die grootste internetmaatskappye in Rusland!”), tot die film die skaamfamilie bereik.

Sy: “En dan is daar Media24, Suid-Afrika se vooraanstaande uitgewer, en Novus, ’n markleier in die kommersiële drukkersbedryf. Media24 publiseer ’n wye verskeidenheid tydskrifte, koerante en boeke. En om die toekoms te omhels, ontwikkel hy nuwe digitale dienste soos die [nou hernoemde] Spree en Careers24.”

Terwyl die musiek crescendo vir die groot einde, sê die vrou: “Dít is ons groep …”, al is dit teen dié tyd duidelik.

Indien u, soos ek, die bostaande geskiedkunde ietwat gepoets vind, mag ek u dalk interesseer in my puntenerige herskrywing daarvan. Soos mý beleggersvideo begin, sê die man: “Ons reis begin meer as ’n honderd jaar gelede, toe apartheid nog ’n fantasie was en Afrikaner-nasionaliste ’n werklikheid daarvan moes maak. En so het ons vir tagtig jaar belê in besighede wat apartheid bevorder. Dit is geen verrassing dat die Nasionale Pers en die Nasionale Party dieselfde voorletters het nie, want tot in die middel-1990’s wás hulle dieselfde.”

Sy: “Vandag is ons grootliks staande te danke aan ons korrekte belegging in Tencent in ons soeke na relevansie ná die val van apartheid. Dit is Naspers, ’n groep wat magtige mense bemagtig en die rykstes verder verryk.”

Hy: “Amper een uit elke een mens in China gebruik WeChat en ander Tencent-produkte om hul lewens te reguleer, en dis vir die Naspersmaatskappye ’n hartsaak om pasklaar ervarings aan regerings te bied …”

Sy: “… met bedrywighede in Rusland, Latyns-Amerika, Afrika, Oos- en Sentraal-Europa, die Midde-Ooste, Indië en, natuurlik, ons geliefde China.”

Hy: “Dis net verkrygings wat ons help om die volgende fase van oorheersing te dryf – moet asseblief nie vra oor die goed wat ons self probeer skep nie – en daarom koop Naspers Ventures goedkoop internetbesighede. Ons is voortdurend op jag vir nóg ’n Tencent, so as ons iets gekoop het wat nié soos Tencent sal wees nie, maak ons dit toe in ’n japtrap.

“Ons besit meer as ’n derde van Tencent. Dit word bestuur deur ’n span wat nie ons is nie. Tencent is een van die grootste fasiliteerders van internetmonitering ter wêreld en ’n voorste kanaal van staatsensuur.

“Ons koester ook ons innige bande met leiers in Rusland, Indië, Latyns-Amerika, Oos-Europa, die Verenigde Arabiese Emirate, Saoedi-Arabië en, off the beaten track, brutale Sentraal-Asië.”

“Laastens is daar die netelige kwessie van Media24,” sê die vrou. “Vir tagtig jaar was Naspers sinoniem met Die Burger, wat vir die Nasionale Party gesê het wat om te dink. Deesdae is Die Burger ’n skaduwee van wat dit eens was: ’n dalende dagblad met inhoud wat aanlyn geaggregeer word deur die groep se Netwerk24.

“Maar selfs wyl ons Suid-Afrikaanse bedrywighede vervaag in ons geheue, leef ons kultuur voort in Media24, ’n filiaal wat só volledig ons is, dit wás nog ooit net ons.

“Dít is ons groep!”

Vir my brulpadda was ’n organisasie so moreel-neutraal en kommersieel psigopaties soos Naspers die ideale moeras.

Dis die plek waar hy van krag tot krag gegaan het in ’n glorieryke 19-jaar loopbaan: Eers as opvoedkunde-verslaggewer van Die Burger, en daarna ook die koerant se sake-, nuus- en promosie-redakteur in die Oos- en Wes-Kaap.

In 2005 het Naspers, midde duister gerugte, hom na Nieu-Delhi verplaas, waar hy glo moontlikhede vir ’n digitale vastrapplek vir Naspers moes ondersoek. Drie jaar later was hy terug in Kaapstad en is hy aangestel as uitgewer van Huisgenoot, YOU en Drum. Hy kon toe Huisgenoot se kommersiële mag gebruik om jong Afrikaanse sangers te maak of breek.

Willem is in 2014 weg by die Pers en het op sy agtergrond voortgebou om sy eie digitale media-empire te begin: eers Lumico en toe later Lightspeed Digital Media. Hy het ál die plekke waar hy gewerk het as vrugbare terrein gebruik vir die grooming van niksvermoedende jong mans.

Daar is iets anders wat aan my knaag. Dit is moeilik om voor te gee jy is ’n outsider nadat jy doodluiters ontbyt gehad het met Max du Preez en middagete met Adriaan Basson. Ek probeer ’n shaming-by-media orkestreer wat ’n mens slegs kan regkry deur invloedryke mense te ken. Mense wat jou glo, want hulle ken jou al ’n leeftyd en weet jy sal niks hiervan opmaak nie.

Apartheid het my die beste opvoeding gegee wat ongelykheid kon koop. Teen die tyd toe ek gebore is op die laaste dag van die 1970’s, was my verligte ouers reeds geseën met die erwe van hul vaad’re. Onverdienstelik het ek die 1980’s met ’n wenhand betree. In daardie stadium het dit nog nie geblyk dat ek beide gay én lomp sou wees nie, en dus nie ál die voordele van my uitverkore demografie sal ontvang nie.

Maar selfs met die koms van die destydse Nuwe Suid-Afrika kon wit mense hul geld hou en is die meeste van ons nog steeds heelwat ryker as dié van ons landgenote in die Herverouderende Suid-Afrika. Nogtans het amper elke braai mos ’n braaidoos – die ou wat luidrugtig vir almal vertel hoe moeilik dit is om wit te wees, totaal onbewus van die voorstedelike weelde van waar hy dit verkondig.

U mag, en moet, my vra wat mý verkragting so spesiaal maak dat ek die media mobiliseer om die oortreder te help vervolg. Die antwoord is: absoluut niks. My hoërmiddelklasverkragting het onder bevoordeelde omstandighede plaasgevind vir ’n verkragting. Baie van die mensdom het erger dinge as ek oorgekom, maar daar is tans niks wat ek aan die ander ongeregtighede kan doen nie. Ek kán egter iets doen aan die voortgesette verkragtings deur Willem Breytenbach. As ek hom kan vang, kan ek dalk ’n voorbeeld van hom maak. Kan ek dalk betekenis vind vir die seun en die dekades wat ek verloor het.

Oor saai pizzas met Adriaan vra ek hom: “Kyk, die baie geldige kritiek wat ons sal kry, is mense wat vra: Waarom berig julle oor ’n verkragting van ’n seun uit die wit middelklas wanneer vroue en kinders in die townships met veel erger te doen kry? Hoekom praat ons nie dáároor nie?”

“Maar ons praat die hééltyd daaroor,” sê Adriaan. “Ons praat nóóit oor die soort storie waarvan jy praat nie.”

“Dis nogal ’n goeie punt,” antwoord ek. Adriaan begin my meer aanstaan.

Maar nou kan ek dit nie meer uitstel nie. Dis ’n grootliks sonnige Donderdag in die Kaapse Skiereiland. Ek is in ’n huurkar en soos ek om die draai gaan, sien ek Tafelberg en Duiwelspiek links en die Atlantiese Oseaan regs. Voor my is Drieankerbaai en sy doolhof van smal eenrigtingstrate – en ook die huis waar Willem woon.

Soos ek nader ry, raak ek al hoe meer gespanne. Dit voel nou of dit ’n baie slegte idee is. Dit is ’n groot risiko, en waarvoor? Om te kyk hoe iemand se aanbouings lyk?

Ek is in ’n eenrigtingstraat en het die afdraai na Mutleyweg gemis, en nou is die pad hieruit reg voor en my persoonlike monster agter my. Dit is tyd om my uit die voete te maak.

Maar ek draai nietemin om, en dan is ek terug in dieselfde eenrigtingstraat. Ek sien die Mutleyweg-afdraai en, myself ten spyt, draai ek links soos Kate (UK) op Waze sê: “You have arrived at your destination.”

En daar, reg voor my, is die ding wat ek gevrees het. Daar is ’n kar voor Willem se huis geparkeer.

‘n Enkele verhaal

Подняться наверх