Читать книгу Willem Poprok (skooluitgawe) - Derick van der Walt - Страница 4

2. Die dooie argitek

Оглавление

“Delila” maak Willem wakker soos elke oggend die afgelope twee weke. Of dis iets wat soos “Delila” moet klink.

Bieep-bieep-bieep-bieep soos trappe van laag na hoog, en dan weer bieep-bieep-bieep-bieep van hoog na laag. Dis ’n onaardse gekerm en dis vals en dis verskriklik. Willem kreun en druk sy kop onder sy kussing in.

Coenie en sy beuel, soos sy pa dit noem. Coenie sien sleg en kan skaars ’n rugbybal op ’n rugbyveld raaksien, wat nog van vang. Daarom hóéf Coenie nie rugby te speel nie. Coenie ontgin nou ander talente, het sy ma een aand vir tannie Snip oor die foon gesê. Soos in die skool se blaasorkes, waar Willem vermoed Coenie nie sommer ’n verlore talent sal opspoor nie.

Willem kan sien sy ma en pa byt ook soggens op hulle tande oor die lawaai wanneer almal toustaan vir die badkamer. Hy kan nie dink dat daar iemand anders op hierdie aarde is wie se dag só begin nie.

Dis net Franna: “Maak stil daai mens! Druk ’n mieliestronk in die ding! Kan julle nie hoor dis vals nie? Ek kan nie wag om van hierdie huis af weg te kom nie!” Deur die badkamervenster.

Maar niemand anders sê iets nie. Dis net Lydia wat Coenie se lawaai waardeer; sy dans in die kombuis op die maat daarvan.

Willem het eenkeer sy pa vir sy ma hoor sê: “Die arme Coenie. Ek dink nie die kind is die skerpste potlood in die pakkie nie.”

“Sies, Hans,” het sy ma gesê, “die kind het ’n hart van goud.”

Coenie is oukei, dink Willem. Dis net Coenie wat vir Franna sal sê: “Pick your own size.” Dis net Coenie wat weet hoe om met Franna te werk, want hy is groter en sterker as Franna.

Willem loop kombuis toe vir ontbyt. “Francois,” hoor hy sy ma sê, “dis vandag jou beurt. As ek eenuur van die slaghuis af kom, wil ek jou varkhok pak.”

Willem sien Franna se kop ruk effens.

“Ek sal self my kamer regpak, Ma.”

“Nee, jy sal nie, ek ken jou. Ek gaan vanmiddag jou kamer ordentlik skoonmaak. Mense sê graad 11 is selfs moeiliker as matriek – vra maar vir Coenie. Jy kan nie leer as jou kamer só lyk nie.”

Willem glimlag leedvermakerig2 vir Franna. Hy dink sy broer steek meer as net sigarette in sy deurmekaar kamer weg.

Terwyl hy sy boeke in sy tas pak, kom Franna by sy kamer in met ’n groot, bruin koevert.

“Jy moet dié vir my bêre tot môre.”

“Ek sal nie.”

“Jy sal, want anders vertel ek vir Pa jy het twee weke laas rugby geoefen. En as jy dit oopmaak, vertel ek éérs vir Pa jy oefen nie meer rugby nie en dán maak ek jou vrek.”

Hoe weet hy van die rugby? dink Willem verslae. Hy vat die koevert sonder ’n woord. Franna verdwyn met sy rugsak oor sy skouer gangaf.

Willem bekyk die koevert. Dis deeglik toegeplak. Daar is nie ’n manier hoe hy dit kan oopmaak sonder dat Franna sal weet nie. Hy is nie seker wat daarin is nie, maar hy is darem nie stupid nie, al kan hy nie wiskunde doen nie.

Hy hou die koevert by die venster teen die lig. Dit lyk soos tydskrifte. Hy dink hy sien iets: ’n meisie met nie baie klere aan nie.

Hy druk die koevert onder die mat in, onder sy bed. Sy pa toet ongeduldig in die oprit.

Hulle ry in stilte skool toe. Die koerantplakkaat teen die boom regoor die skool se ingang sê ’n bekende argitek is in sy slaap oorlede.

Hulle moet in die ontvangsvertrek sit en wag vir ou Voete, wat iemand anders in sy kantoor het. Iemand wat ’n áfspraak gemaak het, sê die kantoortannie vermanend.3

Hulle het vandag die eerste periode wiskunde en Willem hoop ou Voete se besoeker is nie haastig nie. Hy wat Willem is, is glad nie. Hy het heeldag tyd.

“Julle kan maar deurgaan, meneer Van Vuuren,” sê die kantoortannie. Willem sien teleurgesteld dat die wiskundeperiode nog nie eens begin het nie.

Ou Voete skud sy pa se hand en nooi hulle om plaas te neem. Sy pa en ou Voete gesels eers oor die weer en toe oor die Blou Bulle en toe oor die toestand van die ekonomie. Toe maak ou Voete keel skoon.

“E … nie alle leerders is aangelê vir wiskunde nie, maar dit bly ’n belangrike vak. Willem se punt vir die eerste kwartaal …”

Jy kan maar sê, dink Willem. Almal weet seker al teen dié tyd, die Pretoria News ook. Dit was 19% vir die eerste kwartaal. Net Paul Siebert het minder gekry, al is hy nou die tweede keer in graad 8.

“Wiskundige geletterdheid is verpligtend vir alle leerders tot graad 12. Ons vind aanvullende klasse help gewoonlik baie,” gaan ou Voete voort. “Ons beveel gewoonlik vir doktor Schoeman aan. Hy het reeds afgetree en woon in die omgewing.”

Ou Voete draai na hom. “Wat wil jy eendag word, seun?” vra hy terwyl hy oor sy bril loer.

Willem weet nie wat om te sê nie. Hy weet nie wat hy wil word nie. Definitief nie ’n slagter nie.

Hy soek in sy kop rond. Veearts, speurder, IT boffin … nee, nie regtig nie. Hy raak paniekerig.

“ ’n Argitek,” kom dit van iewers. “Ja, ’n argitek,” sê hy met meer selfvertroue.

“Wel, wel,” sê ou Voete verbaas. “Dan moet jy beslis ’n vak soos kuns oorweeg. Dit verskaf nogal … e … agtergrond vir argitektuur, dinge soos ruimtelike perspektief en … Dis die eerste jaar dat ons kuns addisioneel aanbied,” sê hy trots vir Willem se pa. “Die klasse is Dinsdae en Donderdae ná skool.”

Willem se mond wil-wil oopval. You must be joking! wil hy sê. Julle wil hê ek moet ekstra wiskundeklasse neem én kuns én rugby speel én al die ander vakke se huiswerk doen én gras sny én skottelgoed was! Én nog met Lydia gaan stap!

“Kuns?” vra Willem se pa terwyl hy onseker na ou Voete kyk. “Willem kan nie eintlik teken nie,” sê hy verskonend.

Toe kliek iets in Willem se kop. Niemand sal mos van hom verwag om ál die goed te doen nie. Hy is seker sy má sal nie.

Hy sal iets moet los. Iets wat hy nie wíl doen nie, iets wat hy haat. As sy loopbaan as argitek op die spel is, sal almal mos verstaan. Hy weet niks van kuns nie, maar énigiets moet beter as rugby wees.

“Ja, ek wil graag kuns neem,” sê hy beslis en ignoreer sy pa se geskokte gesig.

Ou Voete glimlag tevrede. Nog ’n jongeling op die regte spoor gehelp, sê sy glimlag.

Willem Poprok (skooluitgawe)

Подняться наверх