Читать книгу Willem Poprok (skooluitgawe) - Derick van der Walt - Страница 6

4. Willem Poprok

Оглавление

Willem hou vir Pietie Palworthy deur die kombuisvenster dop terwyl hy sy middagete afsluk.

“Nie so vinnig nie, Willem. Jy sal maagpyn kry,” sê sy ma terwyl sy vir Lydia voer.

“Ek gaan daai kind nog vermoor.” Willem beduie na die venster. Pietie loer oor die heining en gooi die arme Flip met suurlemoene.

Willem draai na sy ma. “Gaan Lydia ’n partytjie kry as sy volgende week verjaar?”

“Ek gaan sommer ’n paar goedjies na die dagtannie stuur, hulle kan haar verjaarsdag sommer daar vier. Sy’s nog klein, ek dink nie sy gaan eers weet sy verjaar nie. En ek sal vir haar ’n koek bak en dan kan ons vir haar sing as julle almal by die huis is.”

Willem vervies hom. Daar is altyd geld vir ander goed, behalwe vir hom en Lydia. As Franna net vra, nog net die “t” van tokse sê, het sy pa al gekoop. En Coenie. Hy kan nie eens meer tel hoeveel brille Coenie al gekry het nie.

Sy oog vang weer Pietie se blonde kuifie wat blitsig bo die betonmuur verskyn. Dan sien hy die goue bom wat deur die lug trek en die ou hond sekuur teen die kop tref.

“Nou het ek genoeg gehad!” Willem vlieg op en loop by die voordeur uit. Hy sluip stilletjies langs die betonmuur af en raap een van die Palworthies se suurlemoene op wat aan hulle kant van die muur lê.

Maar Pietie sien hom en begin hardloop in die rigting van hulle huis. Willem loer oor die muur en gooi, maar hy weet dadelik dis mis. Die suurlemoen tref die Palworthies se kombuismuur.

Pietie lag met sy haasbek en steek vir hom tong uit.

“I’m going to murder you one day. Very dead,” sis Willem woedend.

Pietie loer om die kombuisdeur en skree: “Jou pa-hulle het tog vier keer geseks!”

Willem moet homself keer om nie oor die muur te spring en die kind te verwurg nie.

Hy gaan haal sy fiets onder die afdak, sy gedagtes terug by Lydia. Hý sal vir haar ’n present koop, met die geld wat hy laas by sy oupa gekry het.

Dertig rand is nou nie juis ’n fortuin nie, en sy ma het gesê dit mag nie lekkergoed wees nie. Dalk moet hy ’n boek koop waaruit hy vir haar stories kan lees. Soos met baie ander goed moet hulle ook saans beurte maak om vir Lydia ’n storie te lees as sy in die bed is.

Willem vertel gewoonlik maar wat in sy kop kom as dit sy beurt is. Sommer iets wat hy op televisie gesien het, soos die program oor die Okavango wat hulle verlede week gekyk het. Die moerasse5 en die eilande en die diere, wild en woes en baie mooi. Tot Franna het gekyk sonder om soos gewoonlik ongeduldig rond te skuif.

Willem dwaal besluiteloos deur die sentrum. Hy besef gou ’n boek sal nie werk nie, dertig rand is te min vir ’n boek. By Pick n Pay is ’n paar plastiekspeelgoed, die meeste duurder as dertig rand.

Hy gaan staan voor die tuisnywerheid se venster en kyk na die koeke en terte en lekker eetgoed. Die pasteie, wat die tannie self maak, kos tien rand. Hy weet, hy en Schalk het al baie hier kom koop. As hy ’n pastei koop, het hy net R25 oor, dis nou saam met die vyf rand wat Schalk hom geskuld het en wat hy vanoggend terugbetaal het.

Willem huiwer. ’n Mens moet eet ook, en hy is honger. Miskien kan hy tog maar vir Lydia lekkers koop en maak of hy sy ma verkeerd verstaan het.

Dan vang sy oog die poprokke wat teen die linkerkantse muur in ’n ­ry aan hakies hang. Handgemaak, staan op ’n bordjie wat bokant die ry aangebring is. Hy stap nader en kyk versigtig na die prys: R23.50 elk.

Hy ruik die pasteie. Sy mond water. Hy probeer onthou hoe groot Miempie is. Is die rokke groot genoeg? Hy dink so. Miempie is nie ’n baie groot pop nie. Hy kyk selfbewus in die winkel rond. Daar is gelukkig nie ander mense nie. Die tannie by die geldlaai is druk besig en kyk nie op nie.

Watter rok? Hy besluit op die bloue met wit blommetjies en ’n paar wit valletjies. Hy gryp die rok van die hakie af en pyl op die pasteie af. Barbeque beef.

Die tannie kyk op toe hy die rok en die pastei op die toonbank neersit. “Dis vir my sussie,” sê hy vinnig. Sy druk die rok in ’n grys plastieksakkie en hy raap dit en die pastei op nadat hy betaal het.

Lydia gaan erg van die poprok hou, dink hy ingenome6 toe hy kouend deur die sentrum stap. Baie erg, en hy is seker Franna en Coenie sal nie eens onthou dat sy verjaar nie. Hy sal vra dat sy ma die rok mooi toedraai.

Coenie en Franna eet toebroodjies by die kombuistafel toe hy by die huis kom. Franna het rugby geoefen. Sy rugbytrui is vuil en vol groen grasvlekke. Hy ruik na sweet en sy voete stink. Sy tokse en kouse lê eenkant op die kombuisvloer.

“Wat het jy gekoop?” Franna se oë is op die grys sakkie in Willem se hand.

“Dis my saak.”

Willem probeer vinnig by hulle verbydruk kamer toe, maar Franna gryp die sakkie uit sy hand. Hy skud die inhoud al kouend op die tafel uit. Coenie buig nuuskierig vorentoe. Franna lig die poprok met ’n vinger op en kyk daarna.

“Slaan my dood, Willempie. Nou kort jy nog net die pop.”

“Jou simpel aap, dis nie vir my nie!” sê Willem kwaad.

Coenie het nog nie die kloutjie by die oor gekry nie. Hy druk onseker met sy vinger aan die hopie materiaal. “Is dit ’n panty?”

Willem gryp die poprok en druk dit terug in die sakkie. Terwyl hy kamer toe loop, hoor lag hy vir Franna. Hy sal nie verbaas wees as hy nog eendag sy broer met een van sy pa se vleismesse steek nie.

“Ek het vir Kokkie Kok en Klein Kokkie Kok van Kokkies’ Motors by die bank raakgeloop,” sê Willem se pa die aand aan tafel terwyl hy ’n beentjie aflek.

“Groot Kokkie sê hulle het ’n karavaan ingekry. ’n Bargain.” Hy suig aan die beentjie. “Ouerig maar tog. Hy sê die karavaan moet skuif voor die einde van die week.”

Willem se ma sug.

“Vakansies is deesdae so duur.” Sy pa skep nog ’n stuk skaapvleis op sy bord. “Met ’n karavaan kan jy enige plek gaan vakansie hou en sommer teenaan die see stilhou.”

Hulle ma sit haar mes en vurk hard neer. “Hans, kan ons nie maar liewer … Dis so ’n gesukkel met die een badkamer.”

Willem sien sy pa hoor nie. “Kokkie sê …”

“Kakka,” sê Lydia terwyl sy ’n ertjie op die vloer gooi.

“Lydia!” raas hulle ma.

“Wie leer die kind so lelik praat?” vra hulle pa vererg.

“Dis Willem Poprok,” grynslag Franna met ’n mond vol kos.

Willem word kwaad, so kwaad soos hy nog nooit in sy lewe was nie. Voor hy hom kan keer, gooi hy vir Franna met sy broodrolletjie. Franna koes en die rolletjie tref die muur agter hom.

Daar is skielik ’n ysige stilte om die tafel. Hulle pa se vurk hang in die lug. Almal kyk vir Willem. Franna grynslag steeds. Willem wil hom vermoor.

“Willem,” sê sy pa stadig terwyl hy sy mes en vurk bymekaar op sy bord sit. “Gaan wag vir my in jou kamer.”

Willem wil huil so kwaad is hy. Hy sit op sy bed en wag. Hy gee nie om wát sy pa aan hom doen nie, hy sal vir Franna terugkry.

Ná ’n ewigheid kom sy pa in en maak die deur toe. Hy gaan sit op die voetenent van die bed.

“Willem. Ek wil jou nie foeter nie. Jy is te groot.”

Willem wag.

“En ek wil jou nie hok nie. Dis rugbyseisoen en jy moet oefen. Jy moet jou nie so baie aan Francois steur nie. Hy terg jou maar net.”

“Maar hy maak my so kwaad!” sê Willem heftig. “En hy lieg oor die gevloek!”

Willem sien sy pa is nie regtig kwaad nie. Sy gedagtes is op ’n ander plek.

“Hoeveel mense kan in die karavaan slaap, Pa?” vat hy die gaping.

“Man,” sê sy pa opgewonde, “nie te veel nie. Maar die ding is, hy het ’n tent wat jy langs die karavaan opslaan, sê oom Kokkie. Julle seuns kan daarin slaap, en ek en jou ma en Lydia in die karavaan. Ek sal kampbedjies vir julle koop. Teenaan die see, dis waar ons Desember gaan staan. Sommer reg langs die water waar ons die see kan hoor en ruik. En ons kan elke aand braai terwyl ons vir die see kyk.”

“Ek dink Pa moet hom koop.”

“Sal maar moet sien. Sal moet hoor wat jou ma sê.”

By die deur draai sy pa om. “Jy moet die hele week skottelgoed was. Alléén, en niemand mag jou help nie. Nee, magtig, man, in hierdie huis mors ons darem nie met kos nie.”

Willem Poprok (skooluitgawe)

Подняться наверх