Читать книгу Willem Poprok (skooluitgawe) - Derick van der Walt - Страница 8

6. Die Twickenham-knie

Оглавление

“Mac the knife” is die blaasorkes se nuwe liedjie. Wie sal so ’n simpel naam vir ’n liedjie gee? dink Willem.

Die deel wat Coenie speel, is beep (in die middel), beep (laer), beep (hoër) en dan weer beep (in die middel) en dan weer en weer en weer. Die middelnote klink reg, maar die laer noot en die hoër noot klink nie reg nie.

“Hoër, dêmmit, hoër,” sê Willem vir Coenie in sy kop terwyl hy in sy bed lê en wag vir sy beurt in die badkamer. Hy wag vir Franna se geskree. Dan kom dit deur die oop badkamervenster: “Ek gaan daai ding nog in jou agterent opdruk!”

Hulle sing vir Lydia “Veels geluk, liewe maatjie” om die ontbyttafel in die kombuis, en sy ry ’n paar wilde draaie met die swart plastiekmotorfietsie wat hulle ouers vir haar gekoop het.

Toe haal Willem die pakkie met die poprok agter sy rug uit. Lydia skeur dit oop en kyk nuuskierig na die stukkie lap.

“Sien jy, Lydia, dis vir Miempie, jy moet dit vir Miempie aantrek,” sê Willem.

Lydia bly kyk net na die poprok.

“Gaan haal vir Miempie, dan trek jy die rokkie vir haar aan,” sê hulle ma.

Maar Lydia het ander planne. Sy probeer eers haar voet in die poprok druk, maar toe dit nie werk nie, hardloop sy tot by die kombuistrappie en trek die rok oor Flip se kop wat in die oggendsonnetjie lê.

“Dis vir Miempie!” sê Willem afgehaal.

Lydia ignoreer hom en klim op die ou hond se rug. Sy ry hom soos ’n perd, met die blou-en-wit blommetjiesrok oor sy kop getrek, op en af voor die kombuisdeur.

Terwyl Willem en Schalk skool toe ry, vertel hy vir Schalk dat hy die middag gaan rugby oefen. Dis stap een van sy plan.

“Hoekom sê jy nie maar net vir jou pa jy wil nie meer speel nie?”

“Daar’s nie ’n manier nie. Jy ken nie my pa nie. Rugby is vir hom anders as vir ander mense. Rugby is vir hom …”

Willem soek na woorde. “Hy het vir Oos-Transvaal gespeel toe hy 22 was. Toe het hy sy knie seergemaak en hy moes ophou. Hy dink hy sou Springbok kon haal as hy nie seergekry het nie. Nou dink hy ek en Franna is net so goed soos wat hy was.”

Hulle stoot hulle fietse tot in die fietsloods8 en sluit dit. “My pa dink hy kon vir die Springbokke teen Engeland op Twickenham uitgedraf het as hy nie sy knie seergemaak het nie.”

“Waar is Oos-Transvaal?” Schalk druk ’n stafie kougom in sy mond en hou die pakkie na Willem uit.

Willem vat ’n stafie en haal sy skouers op.

“En waar is Twickenham?”

“Ek dink dis in Engeland.” Willem gooi sy rugsak oor sy skouer. “Coenie is lucky dat hy nie mooi kan sien nie. Blérrie lucky.”

Toe Willem ná die kunsklas op die stoep uitloop, sien hy dis nog ’n halfuur voor hy by die rugbyoefening moet wees. Hy bly besluiteloos staan. Gaan sit dan op die trappie en haal sy toebroodjies uit.

Agter hom hoor hy juffrou Blom die klas sluit.

“Hoekom gaan jy nie huis toe nie, Willem?”

“Ek oefen nou-nou rugby,” sê hy sonder om op te kyk.

Die juffrou kom sit langs hom. Sy steek ’n sigaret aan.

“Lyk my jy het toe besluit.” Sy buk vooroor en krap aan haar enkel. Rooi kouse met goue strepies. Dit lyk na nuwe tekkies.

Willem kou aan sy toebroodjie.

“Ek bedoel, jy het toe besluit jy speel tóg rugby.”

Hy wonder ongemaklik wat om te sê. Hy en die juffrou sit ’n ruk in stilte. Hy kou, sy rook.

Dan trap sy haar sigaretstompie in die gruis dood. “Sien jou netnou by die B-veld. Ek begin vandag.”

Hy gaan trek sy oefenklere in die kleedkamer aan en stap tydsaam veld toe. Sy tweede laaste rugbyoefening in sy lewe, sy héle lewe, as dinge uitwerk soos hy beplan.

Meneer Grobbelaar blaas op sy fluitjie en roep die seuns nader.

“Manne, dié van julle wat nog nie vir juffrou Blom ontmoet het nie, dis nou juffrou Blom.” Grobbies beduie in die juffrou se rigting. “Juffrou Blom gaan vanjaar die onder 14’s afrig.”

Die seuns fluister en proes onderlangs. “Have a heart,” sê Varkie langs Willem.

“Stilte!” bulder juffrou Blom.

Daar sak ’n stilte oor die seuns neer wat verbaas na die juffrou staar. Willem sien Grobbies lyk ook effens van stryk gebring.

“Jammer, meneer Grobbelaar, dat ek in jou sop val, maar ons moet ’n paar dinge sommer van die begin af duidelik maak: dissipline, dissipline, dissipline. Op die veld en van die veld af. Dissipline te alle tye.”

Grobbies probeer iets sê, maar die juffrou maak hom stil. “Jammer, meneer. Ek wil net gou hierdie sakie afhandel. Om die veld, vyf keer, nóú.”

Die seuns begin onseker beweeg, nie seker of dit ’n grap is nie.

“Move it!” bulder sy. Toe laat waai hulle.

“Die ou koei gaan ons lewe hel maak,” sê Varkie vir Willem en Schalk toe hulle hygend hulle vyfde rondte voltooi.

Juffrou Blom wag hande in die sye langs die veld. “Nou ja, noudat ons mekaar mooi verstaan, kan ons begin oefen.”

Sy kyk fronsend na hulle. “Te oordeel na hoe julle nou lyk, is julle nie danig9 fiks nie. Julle kan vergeet van wedstryde wen en drieë druk as julle nie fiks is nie. Ons sal dit moet regstel. Rugby is nie grappies nie, en as jy dalk dink dis grappies, moet jy dit eerder los en saam met die meisies gaan netbal speel. Right, nog drie rondtes.”

Toe hulle haar ongelowig aankyk, bulder sy weer: “Move it!”

Tweede laaste keer, die tweede laaste keer in my héle lewe, dink Willem toe hy en Schalk uitasem by die juffrou gaan staan met hulle hande op hulle knieë.

Sy gil op die agterosse wat sukkel-sukkel aangedraf kom: “Opskud, opskud. Move it! Dis al daai Chesterfields wat julle skelm rook. Julle wil mos grootmeneer wees!”

Sy verdeel hulle in vier groepe. Toe moet hulle met die bal hardloop en toe oefen hulle om te skrum en toe hardloop hulle weer ’n paar rondtes en toe sê sy uiteindelik: “Right, dis genoeg vir een dag.”

Hulle sak stokflou op die gras neer.

“Nee, magtig,” sê Schalk. “Sy gaan ons vrek maak.”

Willem haal diep asem. Die tweede laaste keer. Die héél laaste tweede laaste keer. Die héél, héél laaste tweede laaste keer.

Willem Poprok (skooluitgawe)

Подняться наверх