Читать книгу Willem Poprok (skooluitgawe) - Derick van der Walt - Страница 7

5. Sagte branders met ’n bietjie skuim

Оглавление

Hy en sy pa ry in stilte slaghuis toe. Normale mense slaap nog dié tyd van ’n Saterdagoggend, maar nie die Van Vuurens van die Blou Bul-slaghuis nie. Dis die prys wat ’n mens betaal om jou eie baas te wees, sê sy pa altyd.

Willem hoor dit gereeld, al die afgelope vyf jaar sedert sy pa ’n pakket moes vat en die slaghuis in die sentrum begin het. Gereeld soos in amper elke dag.

Hy kyk deur die venster na die enkele mense wat draf of fietsry of met hulle honde stap.

“Wanneer begin julle wedstryde?” verbreek sy pa die stilte.

“Weet nie, ons moet nog span kies.” Willem dink hard aan iets om te sê om die onderwerp te verander. “Wanneer maak ons weer biltong?”

“Vandag. Eintlik moet ons nou elke dag biltong maak sodat daar Saterdae genoeg is. Die Super14 raak nou warm en die mense soek iets om te kou as hulle vir die Bulls skree.”

Toe hulle by die parkeerterrein indraai, staan oom Ravi se blou bakkie reeds onder die afdak.

Willem hoor die gekerm van die bandsaag en hy kry die reuk van vars, rou vleis nog voor hy vir oom Ravi gewaar. Oom Ravi kyk vlugtig op, maar kyk dan vinnig terug na die stuk karkas7 wat hy stadig en geoefen oor die skerp lem skuif.

“Hoe lyk dinge, Willem?” vra hy.

“Goed, oom, môre, oom.”

Willem stap met die oranje blikkie met die kleingeld na die geldlaai. Hy is vandag op till duty, soos sy pa dit noem. Gewoonlik sy ma se werk, maar sy werk nie meer weeksmiddae vandat Lydia daar is nie, en Saterdae moet die seuns hulle sakgeld hier verdien. Hulle maak beurte, en Coenie en Franna werk vandag agter die toonbank: neem bestellings en pak die vleis in sakkies.

Om by die kasregister te werk is die lekkerste. Jy sit en jy keer kleingeld uit en jy sê: “Dankie vir die ondersteuning, kom weer” en afhangend van wie die klant is: “Mag die Bul se horing vanmiddag skerp bly” of “Nou die Blou” of so iets. Hulle weet al teen dié tyd wie skree vir wie. As dit iemand is wat die Sharks of die Stormers of die Cheetahs ondersteun, sê jy: “Mag die beste span wen” of: “Die Sharks is darem op topvorm vanjaar.”

Willem is al verby die klein, donker kantoortjie sonder vensters waar sy ma in die week die slaghuis se administrasie doen, toe hy besef die lig is aan en dat iemand agter sy ma se rekenaar sit. Beslis nie sy ma nie. Hy loop stadig agteruit en loer binnetoe.

Sy het lang, blink, swart hare wat in ’n poniestert vasgemaak is en ’n vel soos heuning en ’n klein goue dingetjie aan die een kant van haar neus en groot, donker oë. Hy staan ’n ruk agteroor geleun en kyk. Die meisie konsentreer op die rekenaarskerm en sien hom nie raak nie.

Hy stap vinnig verby om die kleingeld in die geldlaai te gaan pak. Hy sorteer die hopies note en die munte versigtig op hulle plekke. Hy weet nie wie die meisie is nie, maar dit moet seker familie van oom Ravi wees.

Hy hoor sy pa ongeduldig op sy selfoon praat. “Waar bly julle? Ons maak oor ’n halfuur oop. Dis Saterdag, dit gaan besig wees. Magtig, man, roer julle!”

Coenie of Franna. Gewoonlik laat, want hulle wil nie saam met Willem en sy pa in die bakkie ry nie. Hulle ry met hulle fietse.

“Koffie, Willem!” roep sy pa. “En vra vir Alesea of sy ook wil hê.”

Nou onthou hy: oom Ravi se dogter. Alesea. Dit klink soos iets waarin jy die see hoor. Nie rowwe branders nie, maar kleintjies, rustige branders.

Hy loer weer versigtig om die kantoordeur. Die meisie konsentreer nog hard op die rekenaarskerm.

“Wil jy koffie hê?” vra hy verleë.

Sy skud haar kop sonder om op te kyk. “Julle rekenaar is oud, dit werk baie stadig,” sê sy met ’n swaar Engelse aksent.

Willem hou haar dop. Hy is beïndruk. Sy praat Afrikaans met ’n régte Engelse aksent, nie so fake soos Angelique Palworthy van langsaan nie. Hy huiwer en wil net omdraai toe sy opkyk. Sy kyk krities na sy Blou Bul-hempie, die hempie wat hulle almal Saterdae móét dra. Dis goeie bemarking, meen sy pa.

“Het jy ’n naam?” vra sy effens geïrriteerd. “Ek is Alesea.”

“Willem.” Sy stem klink vir hom skielik baie hoog, amper soos Lydia s’n.

“Willem,” sê hy weer, so laag as wat hy kan. Beter.

Sy kyk ’n oomblik na hom. Toe draai sy weg en konsentreer weer op die rekenaar. Hy bly huiwerig in die deur staan.

“Move it, Boetie Poprok,” sê Franna agter hom en klap hom teen die kop.

Willem wil hom eers iets toesnou, maar dan onthou hy van die meisie. Hy loop na die kombuisie en skakel die ketel aan.

Teen elfuur kom Alesea met ’n groot, groen kitaarsak oor haar skouer uit die kantoor. Sy sê iets vir haar pa.

“Ek gaan net gou vir Alesea aflaai,” sê oom Ravi vir Willem se pa.

Willem kyk hulle agterna. Alesea. Groenerige branders, met net ’n bietjie wit skuim aan die punte.

Willem Poprok (skooluitgawe)

Подняться наверх