Читать книгу Willem Poprok (skooluitgawe) - Derick van der Walt - Страница 5

3. Die nuwe juffrou

Оглавление

“Jy moet maar oppas, ou Willem. Hulle sê daar is serious weirdo’s in die kunsklas,” sê Schalk toe hulle kortpouse hul toebroodjies op die muurtjie langs die skoolsaal eet.

Willem antwoord nie. Vir die eerste keer hierdie jaar voel hy nie lus om in ’n gat te klim nie. Hy het ’n plan, ’n plan wat kan werk.

“Wie is juffrou Blom?” vra hy met ’n mond vol brood vir Schalk.

“Jy kan my soen as ek weet,” antwoord Schalk met ’n mond vol brood.

“Ou Voete sê sy gee kuns én sy gaan rugby afrig. Ek het nog nie ’n juffrou by die oefening gesien nie.”

Schalk snork. “Ou Voete se kop kap aan. Hoe kan ’n vrou rugby afrig?”

Schalk was reg oor die weirdo’s, sien Willem toe hy Dinsdagmiddag met ’n gesukkel die kunsklas opspoor en om die deur loer waar die klas reeds vyf minute aan die gang is. Juffrou Blom lyk nogal na ’n nuwe meneer met haar groot lyf en kort hare. Sy dra jeans en tekkies en ’n lang, swart oopknoophemp wat los oor haar jeans hang.

“Kom, kom, kom,” wink sy Willem nader. “Wat is jou storie?”

Hy oorhandig ou Voete se briefie. Die juffrou lees, frommel die briefie op en gooi dit in haar snippermandjie. Sy kyk oor die klas.

“Daar by Mia,” beduie sy.

Willem sien die oop plek agter in die klas raak langs die meisie met die deurmekaar rooi hare. Mia. Hy onthou nou: sy is die weird een met die klere wat lyk asof dit te groot is vir haar. Moet dit so wees, of is hulle arm?

Hy skuif ongemaklik langs die lang meisie in, wat hom nuuskierig bekyk.

Terwyl die juffrou haar lesing hervat, kyk Willem in die klas rond. Tien kinders: sewe meisies en drie seuns. Dis net hy en Desmond Holzapfel wat hy van biologie onthou. Dis die vaak vis wat so stadig en skuif-skuif loop en lyk of hy van ’n ander planeet kom. Sy bril is byna so dik soos Coenie s’n. En Varkie. Varkie! Have a heart. Wat maak hý hier?

Varkie trek sy mondhoeke met sy vingers weg terwyl die juffrou iets op die swartbord skryf en wikkel sy tong in sy mond, waai dan woes vir Willem en gee ’n thumbs-up.

Willem ignoreer hom.

Die juffrou praat oor ’n skilder met ’n vreemde naam. Op die bord staan Matisse, maar sy spreek dit snaaks uit. Soos Maties, net met die klem op die laaste deel van die woord – tiés soos in niés. Sy wys voorbeelde van die ou se skilderye. Stokou goed. Willem is nie beïndruk nie. Hy dink die prentjie van Gansbaai wat teen hulle eetkamermuur hang, is baie beter gedoen.

Mia-met-die-groot-klere skuif blitsvinnig ’n rooi toffie oor die bank na sy kant toe sonder om na hom te kyk. Hy kyk onseker daarna. Druk dit dan in sy mond sonder om na haar te kyk.

Toe die klok lui en die kinders by die klas uitbondel, roep die juffrou hom: “Wikus!”

“Dis eintlik Willem.”

“Willem, jy sal moet vinger trek, jy is ’n kwartaal agter.” Sy kyk stip na hom. “Waar het ek jou al gesien?”

Hy weet nie. Hy antwoord nie.

“Speel jy rugby?”

“Soort van.”

“Soort van? Wat beteken dit?”

Hy antwoord nie, want hy dink nie die vraag het ’n antwoord nie.

“Nou ja toe. Welkom. Ek is bly die klas groei. En glo my, julle klomp kan doen met ’n bietjie kultuur.”

Voor hy om die hoek verdwyn, kyk hy vlugtig om. Juffrou Blom staan op die stoep en teug aan ’n sigaret. Sy blaas die rook behaaglik4 die lug in. Sy lyk weird, maar hy dink hy hou van haar. Sy sê haar sê soos sy dit bedoel.

Willem Poprok (skooluitgawe)

Подняться наверх