Читать книгу Skoppensboer - Duane Aslett - Страница 4

1

Оглавление

Katvoet kruip hy uit sy skuilplek terwyl hy die omgewing bespied vir tekens van gevaar. Instink dryf hom egter om nie té lank te talm nie, want in hierdie omgewing word vars kos nie lank gelos nie. Dan skiet hy vorentoe, met pote wat klein powwe modder opskop as hulle hom deur die slik dryf – tot op die denimlangbroek. Daar verander hy blitsig van rigting, na waar die reuk van vars bloed hom lok. Klein lugborrels wat aan die denim vasgeklou het, word vrygestel as hy daaroor klouter, sweef dan stadig die hoogtes in, na die oppervlak toe, waar hul individualiteit verlore sal gaan wanneer hulle met die atmosfeer herenig word.

Die reuk van menslike urine verskerp as hy teen die broekspyp op beweeg en hy talm ’n oomblik lank by die kruis om die bron daarvan te verken. Hongerte dryf hom egter voort en hy ruik skaars nog die urine toe hy klouter oor die duikersgewigte wat om die middellyf vasgegespe is. Sy pote vind nouliks vasklouplek op die naakte vel van die midrif. Hy beur egter vorentoe, tot by die harige borskas waar rooi vloeistof uit twee ronde gate sypel om met die troebel water te meng. Hy steek vas en toets die vlees om een van die gate. Te taai. Hy probeer ’n ander hoek. Dan versteen hy.

’n Donker skaduwee wat nader sweef. Hy sak af, sy pote styfgespan, gereed om na skuiling te skiet as hy moet. Die skaduwee neem ’n vorm aan. Die baber draai egter weg en gly weer stadig die dieptes in, meer geïnteresseerd in die soeke na ’n wyfie om mee te paar as om uit te kyk vir kos. Hy ontspan eers wanneer die baber deur die donkertes ingesluk word, maar besef dié ryke fonds is nie meer sy eie nie. Binnekort gaan dit krioel as die ander ook hul honger kom stil.

Hy versaak die taai vlees om die twee gate en skiet vorentoe. Uit ondervinding weet hy waar om die sappige vlees te kry. Teleurstelling wag egter op hom, want hy sien hoe klein vissies reeds om die lippe saamkoek. Hulle val weg daaraan sodat die tande geleidelik ontbloot word – die doodsglimlag. Ver bo hom dreun die enjin van ’n skiboot, met die skaduwee wat oor die slikbedekte bodem flits, tot die onderwater-stilte weer oorneem. Hy kies koers na die kant van die kop; die regteroor. Sukses!

Hy slaan sy wit knyper om die sagte lob, skeur dan ’n stuk van Casper de Witt se oor af. Dieselfde oor wat oomblikke tevore sy laaste woorde gehoor het. ’n Strofe van dekades gelede, uit die pen van Eugène Marais:

“Want swart en droef, die hoogste troef … oor ál wat roer, is Skoppensboer.”

Nie die eerste keer dat Casper de Witt daardie strofe gehoor het nie. Inteendeel, voor vandag het hy hom in dié woorde verlustig. Die doodsberig. Met gevoel in ’n afgemete tempo voorgedra om die twee doodskote aan te kondig. Die double-tap, soos hulle dit genoem het. Twee skote kort opmekaar. Altyd in die naakte bors, want Skoppensboer wou sien hoe naby aan mekaar hy die twee wonde kon kry. Casper moes gereeld met die verchroomde CZ75 peuter om die resultate te verbeter. Die snelleraksie verfyn, met verskillende kompensators eksperimenteer, ander grepe aanskroef, alles sodat die twee gate nader aan mekaar gebring kon word. Hy het nooit kon droom dat hý vandag die teiken sou wees nie. Want Casper de Witt het twee groot foute begaan. Die eerste was om geld te verduister in een van die geldwassery-skemas wat hy vir Skoppensboer bedryf het. En die tweede was om te veel Klippies-en-Coke te drink – want toe word sy tong los.

Skoppensboer

Подняться наверх