Читать книгу Skoppensboer - Duane Aslett - Страница 7

4

Оглавление

Hoekom wil Horst vroeg aftree? Is dit die emosies wat met sy werk gepaard gaan? Om verantwoordelikheid te aanvaar vir elkeen wie se hanteerder hy is? Elke oomblik te wonder of hulle nog lewe? Hul paaie het die eerste keer gekruis toe hy besig was met sy LLB, aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Tot vandag weet hy nie hoekom Horst hóm as agent wou werf nie, hoe hy besluit het Rex is ’n geskikte kandidaat nie. Want toe Horst die aanbod aan hom gemaak het, het Rex hom van geen kant af geken nie. Stomgeslaan het hy gesê hy sal die aanbod oorweeg.

Die PUK was egter te kommervry en hy het Leigh Edwards toe pas ontmoet – wel, soort van ontmoet – en kon haar nie uit sy kop kry nie. Hy het die aanbod van die hand gewys aangesien hy haar daarvoor sou moes prysgee. Die aanbod het beslis nie voorsiening gemaak vir die moontlikheid van ’n vaste verhouding nie.

* * *

Tydens sy en haar eerste ontmoeting is Rex reeds primarius van Veritas-manskoshuis. Die aksies met dameskoshuise is altyd groot pret, soos vanaand ook. Hy staan in die klubhuis met twee meisies en gesels. Op die dansvloer juig almal toe Bryan Adams se “Summer of ’69” oor die luidsprekers begin speel. Rex dra visnet-sykouse, ’n blou minirok en ’n opgestopte bra onder ’n styfpassende helder geel T-hemp. Die skouerlengte blonde pruik word gekomplementeer deur blou oogskadu en rooi lipstiffie. Die twee meisies dra kakieklere en boshoede en het ook elk ’n vals snor.

Dan sien hy haar. Dit lyk of sy die klubhuis binnesweef, soos ’n godin. Haar blonde hare tuimel onder die cowboyhoed uit. Daarby dra sy ’n denimromp met cowboystewels en ’n geruite manshemp waarvan sy die twee los punte om haar heupe vasgeknoop het. Onder die hemp span ’n stywe wit T-hemp oor die rondings van haar borste.

Hy maak oogkontak met haar terwyl sy glimlaggend in gesprek met ’n vriendin is. Teleurstelling volg egter toe sy dadelik weer wegkyk. Sy het hom nie opgemerk nie. En waarom sou sy?

Daardie haselneut-oë bekoor hom egter. Hy móét haar vanaand ontmoet.

Twee uur lank sirkel hy soos ’n arend om haar. Die moed om haar te nader begewe hom egter. Hoe nader ’n sterflike mens die godin Venus? Onder normale omstandighede sou hy eers behoorlik oogkontak gemaak het om te peil of sy belangstel, maar vanaand is anders. Hy is vermom in die gewaad van ’n prostituut en geen meisie sal hom aantreklik vind nie. ’n Paar manne het deur die loop van die aand die moed bymekaar geskraap om soos aasvoëls neer te stryk, net om te sneuwel. Gelukkig vir hom kon nie een van hulle die bravade wat op die effek van alkohol berus het met intelligente gesprekke rugsteun nie. Hy wil nie soos hulle in vlamme neerstort nie.

Dan tref dit hom. ’n Briljante plan. Hy stap nader, het skaars beheer oor sy ledemate soos die senuwees oor hom spoel. Opgewonde oor die vooruitsig om haar eindelik te ontmoet. Om diep in daardie haselneut-oë te kyk.

“Haai, ek’s Rex, die prim van Veritas.” Sy hart klop in sy keel. Hy teug aan sy bier om die droogheid in sy mond weg te neem.

Sy kyk hom ’n kort ruk aan voor sy laggend reageer. “Wow! Twee uur en dís waarmee jy vorendag kom?”

“Wat bedoel jy, twee uur?” vra hy verontwaardig en onderdruk die sinkende gevoel.

“Ek bedoel, Rex, dat jy al twee uur probeer om met my te gesels en ek het ’n bietjie meer as die prim-kaart verwag. Of dink jy ek is so vlak dat ek vir mans in belangrike posisies val?” Sy maak aanhalingstekens in die lug met haar vingers terwyl sy die woorde “belangrike posisies” uitspreek.

Rex voel hoe hy rooi word. Hy raak vies – vir hom en vir haar. Want hy wil nie bloos nie, en wie dink sy is sy? Hy wil iets sê om sy eer te herstel en haar ’n bietjie aarde toe te bring. Maar die woorde kom nie. Sy brein versaak hom; haar oë hipnotiseer hom.

“Welkom hier by ons en ek hoop jy geniet die aand,” sê hy eindelik, draai op sy hak om en stap weg om sy wonde te gaan lek. Verdomde vroumens!

Hy hoor stemme. Verlangs. Is die een ’n vrou? Is dit sy? Kan dit wees? ’n Duisend hamers probeer musiek maak in sy kop. Die reuk van Dettol walm om hom.

“Ek gaan nie meer jou hooligans versorg nie, Niel!” sê die vrou kwaai.

“Ag, Alicia, jy sê dit elke keer en dan doen jy dit maar net weer, so hou op kla,” antwoord ’n manstem.

Rex se oë fladder oop. Kyk in die pragtigste paar blou oë vas. Sy sit langs hom op die bed, besig om iets wat hy aanneem bloed moet wees van sy oor af te vee.

“Hy’s wakker,” sê sy met ’n koel blik op hom gerig.

“Dankie, Alicia, jy kan nou maar gaan,” sê die manstem weer.

Sy staan op en hul oë ontmoet nog ’n keer voor sy haar rug op hom draai en wegbeweeg.

“Hallo, Rex.” Die man se gesig is skoongeskeer, die donker hare modieus gejel, die ry wit tande wat vir hom glimlag perfek. Grys oë verbasend vriendelik.

“Is jy Niel Campher?” vra Rex.

Gesiggie knik, steeds glimlaggend.

“Help my op!”

Hy kom stadig orent met Niel wat hom onder sy linkerarm ondersteun. Spoed en verrassing, dink hy – en die vuishou tref Niel voor hy kan keer. Hy val terug, beland op die vloer.

“Bly te kenne,” sê Rex sarkasties voordat sterk hande hom skynbaar van oral gryp en op die bed vasdruk. Hy spook vergeefs om los te kom. Kyk op, in Tiny se gevreet vas.

“Wat’s fout met jou?” snou Alicia hom toe as sy Niel te hulp snel.

“Waarvoor was dit?” vra Niel verbouereerd. Hy druk versigtig teen die teer plek waar die hou getref het.

“Ek het myself belowe,” antwoord Rex.

Hy kyk op na Tiny, Rusty, Nommer Drie en Nommer Vier. Almal wat help om hom vas te druk. Hulle lyk nog broos na gisteraand se nederlaag en waag geen kanse nie. Van Weasel is daar egter geen teken nie.

“So, gisteraand se onderonsie was met jóú maatjies?” wil Rex weet.

Niel wend hom tot Alicia wat nog gehurkend langs hom sit. “Jy kan regtig nou gaan.”

Sy staan op en gluur Rex aan. Haar donker, los hare stroom oor haar gladde wange. Diepblou oë penetrerend. Sy bly hom aangluur tot sy die deur agter haar toetrek.

“Los my!” beveel Rex.

Hulle kyk na Niel vir goedkeuring en hy knik. Dan beweeg hulle versigtig weg, oë deurgaans op Rex gevestig. Nommer Vier het geen uiterlike letsels nie, maar sy ribbes is seker nog ’n bietjie teer; Tiny se keel het ’n rooi gloed en hy vryf kort-kort daaroor; Nommer Drie het ’n verband om sy kop, seker weens skade deur die bierbottel veroorsaak; en Rusty se linkeroog spog met ’n lieflike blougroen skynsel. Rex raak aan sy agterkop, waar ’n kaal kol geskeer is.

“Drie steke,” verskaf Niel ’n verduideliking. “Joe het sy eie krag ’n bietjie onderskat.”

“Hy gee seker nie om nie.” Niel lag, maar die ander kyk Rex vraend aan. “Die tattoo … op sy voorarm,” verduidelik hy.

“O,” sê hulle soos een man en lag dan verleë. Nie die skerpste potlode in die pennesakkie nie, dink Rex.

“Wat de hel het julle gisteraand probeer bewys?”

“Dat jy nie James Bond is nie,” kap Tiny van die kant af.

Rex staar hom aan. Dan: “Daar’s studies wat wys dat James Bond ’n volslae alkoholis sou gewees het, na aanleiding van hoeveel alkohol hy gedurende die tyd waarin die boeke afspeel, verbruik het. Dit was in Beeld. Lees jy nie koerant nie?”

“Ag, sjarrap,” snou Tiny hom toe.

“Luister,” onderbreek Niel hulle, “ek kan jou nie back as ek nie glo jy kan die punch vat nie. Ek vat ’n moerse kans om jou ‘in’ te wees … plaas my lewe op die spel … so ek moes jou eers toets.” En toe Rex vat aan die seer kol op sy regter-boarm: “O ja, ons het jou ingespuit. Die hou oor die kop sou jou nie lank genoeg uitgesit het tot ons jou hier kon kry nie.”

Rex verstaan ook nou hoekom sy kop so muf voel. “Wie het die steke ingesit?”

“Alicia. Sy’s ’n opgeleide verpleegster.”

“Wat nou een van jou prostitute is.”

“Ja,” beaam Niel vinnig voor die ander iets kan sê. Hulle kyk hom vraend aan, maar hy gluur hulle tot stilswye.

Daar is ’n ligte klop aan die deur en Alicia loer in. “Niel, ek gaan ry,” sê sy. Vermy oogkontak met Rex.

* * *

“Ek hou nie van die ouens met wie jy uithang nie, Niel,” berispe Alicia hom. Sy is bly hy het saam met haar kar toe gestap. Sy wou nie voor sy gespuis met hom hieroor praat nie. Sy sien hoe hy hom vervies. Hy voel seker sy preek weer vir hom, maar sy gee nie om nie. Sy moet tot hom deurdring.

“Alicia, moenie jou met my sake bemoei nie. En jy het nie gekla toe dit vir jou Baccalaureus Curationis betaal het nie.”

Die neerhalende manier waarop hy dit uitspreek, maak seer. “Ek het nie geweet nie!” kap sy terug. “As ek het …”

“Dan wat? Sou jy gaan till slaan het by Spar? Asseblief! Jy weet ek het gedoen wat nodig was om ons ’n beter lewe te gee.”

Frustrasie borrel in haar op. Sy wens sy het nooit sy aanbod om vir haar studies te betaal, aanvaar nie. Sy sal vir ewig voel sy skuld hom. As haar omstandighede anders was, het sy hom elke sent met rente teruggegee. Nooit weer sal sy toelaat dat enige mansmens ’n houvas op haar kry nie. Dit het sy haarself belowe.

“Wat is volgens jou ’n beter lewe, Niel? Dis alles ’n gejaag na wind. Wat was só verkeerd met ons lewens? Dat ons meubels nie die beste was nie? Dat daar nie ’n swembad was nie? Ons het ’n dak oor ons koppe gehad, kos om te eet en klere om aan te trek. Nou soek jy penthouses, sjampanje en kaviaar. En wil al die designer labels dra, of hoe, Blink Stefaans?”

“Wat’s fout daarmee om die goeie dinge in die lewe te geniet? My hele lewe moes ek met hand-me-downs klaarkom. Elke keer met ’n glimlag dankie sê wanneer oom Charles die klere wat te klein vir Pieter was vir my gebring het. Ek het Pieter se ou grys suit gedra toe ek in die kerk voorgestel is, en die volgende jaar weer na my matriekafskeid toe. Terwyl al my pelle ’n mooi nuwe suit vir elke event kon uitkies. Ek het myself voorgeneem: Nooit weer nie! En nou geniet ek die lewe. En ek doen goed vir myself, Alicia.”

“Maar onwettig!” verhef sy haar stem. Sy wil hom aan die skouers gryp en ruk, vies oor hoe die blink goed hom verblind.

“Ek bedryf ’n besigheid, soos enige ander goeie sakeman. Ek gee my kliënte wat hulle wil hê en niemand kry seer nie.”

“Jy bedryf ’n hoerhuis! Moenie jouself bluf nie!”

“Jy sal verbaas wees as jy weet wie my kliënte is. Regters, advokate, top-polisiemanne. Nee, Alicia, in my oë is dit nie onwettig nie, en my kliëntelys bevestig dit.”

Die idee daarvan maak haar siek. Hierdie mans, wat veronderstel is om reg en geregtigheid te laat geskied, vergryp hulle eerder aan vroue wat enige iets sal doen vir ’n daalder.

“Hulle is korrup, en moenie dink ek glo dit is ál wat jy bedryf nie. Jy steek baie vir my weg. Soos hierdie Rex-karakter. Wie is hy?”

“’n Besigheidsgeleentheid, dis al.”

“So, nog ’n groot skurk.”

“Moet jou nie aan hom steur nie,” sê Niel met ’n handgebaar wat Rex se onbelangrikheid moet aandui. Sy kom agter die onderwerp is sensitief. Asof dit gaan oor meer as ’n blote besigheidsgeleentheid. Sy kon sien hy is ongemaklik toe hy haar gevra het om die man te versorg. As dit anders kon, sou hy haar nie ingeroep het nie.

“Die ergste is dat ek vir Pa en Ma moet lieg.” Sy kan nie meer die trane keer nie. Dit druis in teen elke grein van haar wese om haar ouers te moet bluf. Om Niel te help met sy oëverblindery, om saam te stem elke keer as hulle sê hoe trots hulle op sy sakevernuf is. As sy moet hoor hoe hulle by ander spog oor sy prestasies. Sy haal ’n snesie uit haar handsak en druk die trane in haar ooghoeke dood, versigtig om nie haar maskara te smeer nie.

“Jy lieg nie vir hulle nie, Alicia. Jy weerhou net inligting. Dis nie dieselfde ding nie.”

“Dit voel ewe boos. Hulle sal verpletter wees as hulle moet uitvind wat jy regtig doen. En as hulle uitvind ék het geweet …”

“Hulle sal nie! So los dit nou!”

Sy kyk op haar polshorlosie. “Ek gaan laat wees vir my skof.” Sy klim in haar kar en ry sonder om te groet. Haar gedagtes dwaal na die man wat sy moes versorg. Sy hou nie van hom nie. Daar is iets aan hom wat maak dat sy hom nie vertrou nie. Hy is te vol van homself. Sy moet meer uitvind oor dié Rex-kêrel.

* * *

Rex gluur die vyf trawante een vir een aan. Hy voel onrustig. Hoeveel weet hulle van hom? Hy hou nie daarvan dat Niel hulle betrek het nie. Hoe meer mense van die operasie weet, hoe gevaarliker raak dit vir hom. En hy is reeds nie gemaklik met die Campher-kêrel nie. Iemand wat sy eie gat probeer red, kan nie vertrou word nie. As die vet in die vuur is, sal Campher nie skroom om hom te verraai nie. Lojaliteit is ’n woord wat sy soort nie ken nie.

“Hoe laat is dit?” vra hy.

Hulle kyk na mekaar om te sien wie hom gaan antwoord. Swape!

Eindelik antwoord Tiny: “Haff pass twelf.”

“Geen wonder ek is honger nie, het ek so lank geslaap?”

“Ons wou seker maak, cousin, so ons het jou seker ’n bietjie meer gegee as was needed.” Die ander grinnik met knikkende koppe. Tiny lag selfvoldaan, geniet duidelik die aandag wat hulle hom gee. Sien homself ooglopend as tweede-in-bevel.

“Kan ek kos kry?”

“Um … Niel sal nou hier wees.”

Rex glimlag innerlik vir die besluiteloosheid. Tiny is duidelik nie die leiersfiguur wat hy homself voordoen nie.

“Hoe voel die strot?”

Tiny streel liggies oor sy keel. “Nee, hy’s orraait. Wasn’t so bad. Lucky shot,” brom hy.

“Dit het nie gisteraand so orraait geklink toe jy na jou asem gelê en hyg het nie.”

Nommer Drie snork, maar keer sy lag toe Tiny hom aangluur.

“Wat is julle twee se name?” vra Rex vir Nommer Drie en Nommer Vier.

“Wingnut,” antwoord Nommer Drie. Vroetel met die verband om sy kop. Rex lei af dat sy bakore die oorsprong van sy bynaam is.

“Chester,” stel Nommer Vier homself voor. “Kort vir Chesterfield. Want dis al wat ek rook.”

Rex staan van die bed af op, sy kop nog dof van gisteraand se inspuiting. Sy mond is wollerig; dalk die na-smaak van die inspuiting, gemeng met bloed. Hy lyk seker so sleg as wat hy voel. Sy klere is vol stof. Droë bloed het ’n kors op die skouer van sy baadjie gevorm en daar is ’n winkelhaak in die regtermou. Hy gaan staan langs die toe deur. Staar na die ander wat ongemaklik rondstaan, steeds onseker wat om te doen. Die vertrek is te groot om ’n woonhuis se slaapkamer te wees en die staalbed waarop hy gelê het, lyk soos surplus-weermagvoorraad. Dit staan in die middel van die vertrek, ooglopend net daar vir tydelike gebruik. Die vertrek het geen ander meubels in nie, behalwe ’n leë kroegtoonbank in die hoek. Die son weerkaats skerp vanaf die blink houtvloer.

“Waar is ons?” vra Rex.

“Een van Niel se safe houses,” antwoord Rusty.

“Sjt,” maan Tiny en gluur hom aan.

“Wat? Is mos!” kap hy terug.

Die deur swaai oop en Weasel loop hom in Rex vas, gil, maak ’n netjiese duik-rol verby hom. Spring dan orent om agter Tiny te skuil.

“Hallo, Weasel,” groet Rex vriendelik.

“H-hallo,” groet hy onseker terug. Frons.

“Jy het gisteraand darem mooi by jou pelle gestaan.”

“Ag, sjarrap!” kom dit nou dapper. “Ek het jou ingespuit,” sê Weasel en druk sy bors uit.

“O, ons sal ’n bietjie daaroor moet gesels.”

“Ek … ek kan dit weer doen, as jy slaap. D-dan moer ek jou!”

Rex tree vorentoe.

“Tiny!” gil Weasel.

“OK, los mekaar nou,” sê Niel wat in die oop deur verskyn het. Hy kyk na Rex, hande op die heupe. “Honger?”

“Rasend!”

* * *

“Hoeveel weet jou bendelede?” vra Rex.

Hy en Niel sit in Tashas in Melrose Arch. Rex het pas sy Roast Beef Wonder Ciabatta verorber en sluk dit nou af met ’n Coke Zero. Die plek is stampvol. Seker te verwagte met middagete op ’n Saterdag. Die meeste klante is welvarende vroue wat mekaar vir hul weeklikse skindersessie ontmoet. Die kinders sit by aparte tafels aan lekkernye en smul. Gaan van die mure af bons na al daai suiker, dink Rex.

“Wanneer jou are toeslaan van al die vet in daai rooivleis, moet jy nie by my kom kla nie,” ontwyk Niel die vraag.

“Ja wel, ek kan nie glo iemand kies om ’n vegetariër te wees nie,” sê Rex met sy oog op Niel se Caprese Tramezzini. Die Appletiser staan hom ook nie juis aan nie. “Daar is niks lekkerder as ’n stuk steak nie.”

“Wys net hoe verbeeldingloos jy is.”

“Antwoord my vraag. Hoeveel weet jou gang?”

“Nie veel nie,” antwoord hy met ’n sug. “Hulle dink jy is ’n nuwe contact en dat ek jou op ’n ad hoc-basis wil intrek. Hulle weet definitief nie jy’s ’n poliesman nie.”

“Ek is nie.” Hy merk die verbasing op Niel se gesig.

“Nou wat is jy dan?”

“Ek bemark Chappies bubblegum. Didn’t you know?”

“Ha-ha, moer snaaks,” kap Niel terug. “As jy dan nie ’n poliesman is nie, hoekom doen jy dit? Dís meer puzzling as iemand wat ’n vegetariër is.”

“Ek het my redes. Wat is die plan?”

“O, so ek moet die plan uitdink? Julle het my genader, hoekom dink júlle nie die plan uit nie?”

Rex leun vorentoe. “Want behalwe vir jou prostitute, weet ons nie wie jy ken nie. Jy sal weet wie die beste kontakpersoon is om ons na Skoppensboer te lei.”

“En ek kan dit nie doen as ek nie weet wat jou expertise veronderstel is om te wees nie,” sis Niel deur sy tande.

“Wat bedoel jy?”

“As ek jou voorstel, moet jy tog iets na die party toe bring. Dink jy mens stap sommer net in en begin operate?”

“Ek is ’n toegelate prokureur.”

“’n Lawyer nogal! Nou weet ek jy’s mal. Hoekom kry jy nie eerder vir jou ’n lekker hoek-kantoor iewers in Sandton nie, en dan over-charge jy ’n paar van hierdie ryk vroue wat van hul boring mans wil skei.” Hy wys met sy duim in die rigting van ’n tafel waar die vroue in diep gesprek verkeer.

“Kan jy asseblief ’n bietjie minder ADD wees? Soos ek gesê het, ek is ’n toegelate prokureur, so ek kan help met geldwassery-skemas. Jy kan my voorstel as iemand wat die opbrengs van onregmatige aktiwiteite doeltreffend kan verbloem sodat dit as wettige inkomste voorkom.”

“Gmf. Jy klink soos ’n blerrie prokureur: ‘opbrengs van onregmatige aktiwiteite’. En niemand gaan jou sommer net so met ’n pot geld vertrou nie.”

“Nou, wat stel jy voor?”

“Ek het mos gesê julle het my genader, so …”

“Fine, kom ons los die deal en dan vat jy maar jou kanse in die hof.”

“Julle bliksems is supposed om die wet toe te pas en dan kom pers julle mense af!”

“Take it or leave it. Jou keuse.”

Niel dink duidelik na terwyl hy langtand aan sy kos eet. Sy eetlus is blykbaar nie meer so groot nie.

“OK, daar is iets waarmee jy baie street cred kan kry, maar dis baie risky. As jy uitgevang word, sal nie eers jou pelle jou kan help nie. Want die Oosblok- organised crime groepe is blerrie ruthless.”

“Vertel my!”

* * *

Volgens Niel was die plan eenvoudig.

“Daar is ’n hoop Amerikaanse dollars in Bulgarye wat iemand in Suid-Afrika wil kry. Jy moet dit gaan haal en as jy dit veilig hier kan kry, sal die deure makliker vir jou oopgaan.”

“Wie is dié ‘iemand’?”

“Trust my net.”

“Ek trust jou glad nie. So, wie is die ‘iemand’?”

“OK, dis Freddie Kruger, hy’s …”

“Jy praat stront!”

“Wat?”

“Freddy Krueger? Regtig?”

“Man, hy het sy naam gekry voor die Nightmare on Elm Street-flieks! In elk geval, wat ek wou sê, is: Die geld is aan Freddie verskuldig, maar die delivery het skeefgeloop en nou moet Freddie self die geld hier kry.”

“Watse deal was dit?”

“Man, ek weet nie! Dink jy ek en Freddie bespreek sy besigheid oor tee en melktert? Al wat ek weet, is die geld is in Bulgarye en hy soek dit hier.”

“Nou hoekom stuur hy nie een van sy eie mense om dit te gaan haal nie?”

“Want dis donkiewerk. En jy’s die ass.”

“Jy bedoel seker die mule.”

“Nee, in hierdie geval is dit ’n ass – want dis jy.”

Rex wou hom weer met die vuis bydam. Die klein snotkop ’n bietjie maniere leer.

“Hoe de moer gaan ek die geld hier kry?”

“Ek het lankal ’n plan daarvoor, maar kon dit nie uitvoer nie. Met jou contacts is dit egter kinderspeletjies.”

“En verskil Freddie Kruger enigsins van Freddy Krueger?”

“Ja, wanneer hy mense doodmaak, gebruik hy nie ’n handskoen met staalkloue nie.” Campher het egter nie uitgewei hoe Freddie Kruger sý slagoffers doodmaak nie. En Rex beplan nie om uit te vind nie.

Die plan was toe glad nie so eenvoudig soos wat Niel voorgehou het nie. Rex het drie dae gelede as toeris van OR Tambo na die Marco Polo Internasionale Lughawe in Venesië gevlieg, sy dekmantel as toeris deur twee goed gesteun: die Canon-kamera om sy nek, wat hy gedurig tydens die reis na Venesië geklik het, en die Schengen-visum wat hy as “toeris” deur Capago bekom het. Die vlug was lank, want hy kon nog nooit op ’n vliegtuig slaap nie. Teen ses voet twee is die beenspasie heeltemal te min vir ’n gemaklike nagrus. Hy het hom toe eerder met die flieks op die klein TV-skerm voor hom besig gehou. Die bejaarde vrou langs hom het dinge egter vererger toe sy haar skerm op die vlugbesonderhede ingestel het. Elke keer as Rex se oë daarheen gedwaal het, het dit gelyk of die vliegtuig op presies dieselfde plek op die aardbol was.

Nou staan hy aan boord van ’n passasierskip en kyk hoe ’n Oosterse sanggroep die “Macarena” vir die jolige skare uitvoer. Die skip se horing blaas, die passasiers skree van opwinding en die drywende reus verlaat die kaai. Sommige passasiers staan tou voor die vier reuse-ketelbraaiers waarop die sjefs besig is om die vleiskoekies vir hul hamburgers te braai. Rex span weer die Canon in ter wille van sy dekmantel. Agter hom skitter die Mediterreense See in die middagson, asook die waterkanale wat skoner van ver af lyk as van naby.

’n Entjie van hom af hoor hy hoe twee vroue ’n gesprek in Afrikaans voer. Lyk soos ma en dogter. Hy bestudeer hul gesigte; wil ’n punt daarvan maak om hulle te vermy. As hulle agterkom hy is ook Afrikaanssprekend, is sy anonimiteit daarmee heen. Die skip se amptelike fotograaf het hom reeds onkant betrap toe die passasiers hul paspoorte moes verruil vir hul persoonlike reiskaarte. Toe die fotograaf Rex se foto vir die reiskaart geneem het, het hy genoem dat hy ook ’n Suid-Afrikaner is. En iemand wat ’n foto van Rex het, kan baie moeilikheid veroorsaak.

“Ek is ’n vriend van Horst Faber,” het die fotograaf egter met ’n knipoog gefluister. Verlig het Rex sy paspoort oorhandig; die ontvangsbewys daarvoor vorm ’n integrale deel van Niel se breedvoerige plan.

Rex verlaat die vermaaklikheidsarea op die twaalfde dek en gaan by die trappe af tot op die vyfde dek. Hy sal die meeste van die tyd, tot hul aankoms in Korfu, in sy kajuit deurbring. Hoewel dit maklik sal wees om die twee Afrikaanssprekendes te vermy, wil hy nie hê sy gesig moet aan enige van die passasiers of bemanningslede bekend raak nie. Want op Korfu neem iemand anders sy plek op die skip in, met die hulp van die fotograaf. En niemand mag agterkom dat Rex Reynecke ’n gedaanteverwisseling ondergaan het nie, want dáárdie Rex Reynecke gaan geselsies aanknoop vir ’n vale sodat niemand die feit kan bevraagteken dat hy ’n passasier was op die sewe dae lange vaart na die Griekse Eilande nie.

Skoppensboer

Подняться наверх