Читать книгу Skoppensboer - Duane Aslett - Страница 8

5

Оглавление

In die parkeerterrein van die Crowthorne-winkelsentrum klim Chantelle Heyneman in haar Hyundai Getz. Sy plaas die Woolworths- en Spar-sakkies op die passasiersitplek, skakel die voertuig aan en sit die motor in trurat. Die omroeper van 94.7 Highveld Stereo kondig aan dat dit tyd is om die nuus te lees. Haar oë flits na die horlosie – 18:00. Sy is laat.

Sy skakel die hoofligte aan, kyk vlugtig oor haar skouer en stoot haastig terug. Iemand spring op ’n toeter. Sy merk dan eers die Mercedes-Benz S-klas wat moes rem om nie in haar vas te ry nie. Die bestuurder wat haar aangluur.

Sy kyk in haar truspieël na die bestuurder, ’n ouer man met grys-gespikkelde swart hare. Waar het hy vandaan gekom? Sy het hom glad nie gesien nie. Geïrriteerd hou sy haar middelvinger vir hom op terwyl sy wegry. Simpel ou man!

Sy merk nie hoe hy sy selfoon uithaal en ’n oproep maak nie.

* * *

“Die aand was great!” sê Chantelle oor haar selfoon toe sy by haar parkeerplek intrek en die enjin afskakel. Sy druk die afstandbeheer en die flikkerligte verhelder die omgewing oombliklik in skakerings van oranje. Twee biepgeluide bevestig dat die kar gesluit is. Sy stap in die rigting van die trappe.

“Ek het Shaun gespoil met lasagne en ’n bottel shiraz. Ons het die eerste keer gesoen. En sommer baie daarna,” gaan sy giggelend voort. “Hy is so ’n great kisser. Hy wou hê ek moes langer bly, maar ek wil dinge stadig vat. Ek wil nie weer seerkry nie. Dit het my lank gevat om oor Harry te kom.” Die pyn wat deur haar hart skiet wanneer sy die naam sê, verras haar.

Sy giggel toe Tanja vra of hulle ooit by nagereg uitgekom het. “I don’t kiss and tell,” skerts sy terwyl sy die trappe stadig klim na haar woonstel op die tweede verdieping. Kry nie haar huissleutel in haar handsak opgespoor nie.

“Ek moet aflui,” sê sy dan en groet.

Sy hou die handsak in die rigting van die ganglig om beter te kan sien. Spoor eindelik die bos sleutels op. Twee draaie met die sleutel en sy trek die veiligheidshek oop. Die opgewondenheid borrel steeds in haar. Sy sluit weer agter haar, maar sit nie die veiligheidskettinkie op voor sy die sitkamer binnesweef nie.

Sy ontklee in die badkamer en gooi die klere in die wasgoedmandjie, staan dan kaal by die wasbak en kyk in die spieël terwyl sy haar grimering afvee.

’n Beweging in die spieël laat haar skrik. Sy spring om.

“O, dis net jy,” sê sy verlig vir die gekko wat besig is om ’n mot op die muur te bekruip. Sy blaas asem uit, druk haar palm op haar bors om haar kloppende hart tot bedaring te bring. Draai dan weer om om haar gesig verder skoon te vee. “Ek het gedag jy het my verlaat. Hopelik gaan ek jou geselskap nie meer so nodig hê soos die afgelope paar maande nie. Ek het ’n nuwe ou ontmoet – Shaun. Hy is great!”

Sy voel skielik selfbewus dat sy met ’n reptiel staan en gesels en draai die stort se warmwaterkraan oop. Sy voel tot die water verhit en draai dan die koue kraan oop. Klim in as die watertemperatuur gematig is en trek die deursigtige stortdeur agter haar toe. Die water is verfrissend en sy laat dit ’n ruk lank oor haar lyf spoel. Die dag se emosies is skielik oorweldigend. Sy stort langer as gewoonlik terwyl haar gedagtes om die nuwe liefde in haar lewe wentel.

Eindelik droog sy haarself af en trek ’n ligpienk japon oor haar naakte lyf, borsel dan tande voor sy nagroom aan haar gesig smeer. Sy skakel die badkamerlig af en stap in die donkerte na haar bed toe.

Dan struikel sy. Druk op die dubbelbed om haar balans te herwin. Probeer vasstel wat haar laat struikel het. Besef dit is die stewels wat sy die vorige dag op die vloer laat lê het. Sy voel-voel in die donkerte tot sy die bedlampie aanskakel.

Sy trek ’n satynnagrok aan, klim in die bed en skakel die bedlampie af. Voel egter nie vaak nie. Haar gedagtes is gevul met lasagne, groenslaai, broodrolletjies en rooiwyn. En die soen. Die soen wat haar tone laat krul het. Die soen wat rillings van plesier deur haar lyf gestuur het. Die soen wat haar inhibisies laat wegsmelt het. Dit was ’n gesukkel om haarself in toom te hou. Hoe lank sal sy kan uithou? Hoe lank voor sy hom toelaat om sy sterk hande oor haar borste te laat gly? Om haar klere af te pluk, haar …

Die slaap oorval haar … en sy is onbewus van die skim wat tot voor haar kamerdeur beweeg. Wat na haar egalige asemhaling luister. Wat om die bed sluip. Wat nes sy in die donker oor haar stewels struikel.

Sy raak eers van hom bewus toe hy op die bed druk om sy balans te herwin. Sy skrik behoorlik wakker, maak haar mond oop om te gil. Sy hand sluit egter om haar keel, klem dit toe, die greep ongenadiglik sterk. Sy wil die hand wegtrek. Kan nie beweeg nie. Haar arms is onder die duvet vasgepen, hy sit dit vas. Haar longe brand. Sy probeer suurstof intrek. Voel of haar kop gaan ontplof. Sy besef sy is besig om dood te gaan. Skop. Worstel. Ruik sy chemikalieë? Voel die nat lap oor haar mond. Die hand om haar keel wat laat los. Besef sy moenie inasem nie. Maar haar longe brand, smag na suurstof. Instinktief asem sy diep in. Móét suurstof na haar longe stuur. Haar oë verloor fokus. Haar kop sweef. Wie is hy? En hoekom …

* * *

Hy verwyder die lap van Chantelle se mond, maak seker sy is bewusteloos. Dan tel hy haar oor sy skouer, gryp haar sleutels en dra haar by die woonstel uit. Af met die gang tot by die trappe.

Daar loop hy ’n bejaarde man raak, wat wil weet: “Waar gaan jy met Chantelle? Wat is fout met haar?”

Die ou man raas te veel. Kan vir hom moeilikheid maak. Die CZ75 bokspring in sy hand – byna geluidloos, met slegs die gefluit van die knaldemper wat die skoot verklap. ’n Rooi kol verskyn op die ou man se bors toe hy neersyg. Die bloed deurweek sy hemp en vloei oor die teëls langs sy dooie liggaam.

Hy draai weg, dra haar teen die draaitrap af, druk die afstandbeheer op die bos sleutels. Hoor die biepgeluid agter hom en draai om. Sien die oranje flits van die flikkerligte. Hy lê haar op die agtersitplek van die Getz neer, klim voor in, skakel die voertuig aan en druk die afstandbeheer wat die elektriese hek aktiveer. Ry by die kompleks uit. Sy oë flits na die horlosie op die paneel – 01:23. Dit is nog ’n bietjie meer as ’n uur se ry na die vakansiehuis toe.

Hy is bly hy is nie in haar skoene nie. Wonder wat sy gedoen het om Skoppensboer so te ontstel.

* * *

Chantelle trek vergeefs aan die toue wat haar hande aan die bed vasbind. Sy skree om hulp, maar as haar ontvoerders nie die moeite gedoen het om haar mond te snoer nie, is die moontlikheid dat iemand haar sal hoor skraal. Sy luister aandagtig. Die gesuis van die wind en getjirp van verskeie soorte voëls is egter al wat sy hoor. Of verbeel sy haar sy hoor ook die gedruis van water? Is sy by die see?

Die kamerdeur swaai oop en twee mans kom die vertrek binne. Die ouer man se swart hare is met grys gespikkel. Hy lyk bekend, maar sy kan hom nie plaas nie. Die jonger man se kop is kaalgeskeer. Sy spiere bult onder die wit T-hemp.

Die ouer man gaan sit op ’n gemakstoel langs die bed. Hy staar haar ’n wyle aan. Sê niks. Chantelle kan die snikke nie keer nie. Sy probeer steeds om die man te plaas, maar kan nie. Hy is pynlik netjies aangetrek. Sy kortgeskeerde hare is platgekam. Sy donkerblou baadjie is toegeknoop oor die wit-en-rooi gestreepte das wat treffend met die wit van sy gladgestrykte hemp kontrasteer. Die roomkleurige langbroek se nate loop lynreg teen die pype af.

“Onthou jy my?” vra hy beleefd.

Sy frons en skud haar kop stadig. Die snikke bedaar. Hy vat haar linkerhand en knyp haar middelvinger liggies tussen sy duim en wysvinger vas. ’n Seëlring pryk aan sy ringvinger. Toe hy verder praat, is sy stemtoon vriendelik.

“Jy het dit gister goed gevind om hierdie vinger vir my in die lug te hou.”

Meteens val dit haar by: die ou man in die Mercedes. Haar gesig vertrek. Die man lig sy wenkbroue vraend. Sy knik.

“By Crowthorne,” sê sy saggies.

“Ja, by Crowthorne. Eers ry jy soos ’n maniak voor my in, en dan vra jy nie eens om verskoning nie. Nee, jy beledig my eerder. Ek, wat van ’n ouer geslag is, word nie deur jou gerespekteer nie. Hoe het jou ouers jou geleer?!” Hy het homself so opgewerk terwyl hy praat dat hy die laaste sin uitskree.

Chantelle ruk haar hand los en trek haarself teen die kopstuk vas. Sy aggressie is vreesaanjaend. En vir wat? Omdat sy haar misnoeë met ’n vingerteken gewys het? Hoe kan iemand só kleinlik wees? Het hulle haar werklik ontvoer bloot omdat sy dit gedoen het?

“Ek is jammer,” sê sy verward, onseker wat van haar verwag word.

“Nee, jy is nie!” skreeu die man. Bedwing hom dan met moeite, sy stem egter steeds bewend van woede: “Jy is jammer jy is gevang; jy is jammer jy verkeer nou in hierdie posisie. Maar jy is nie jammer oor gister nie.”

Sy gee oor aan die trane. Huil onbeheersd, want sy besef sy het nie met ’n normale mens te doene nie. Die man is versteurd en dit maak haar vreesbevange. Waartoe is so iemand alles in staat?

Die man trek weer haar hand nader, bring ’n draadknipper te voorskyn en knyp haar middelvinger daarin vas. Die koue metaal klem om die vlees.

“Miskien moet ek dié vinger afsny. Dan sal jy dalk maniere leer!”

Sy gil histeries. Voel hoe die koue metaal stywer klem. Die staalkake gaan enige oomblik haar vinger afbyt. Sy wag vir die pyn om deur haar liggaam te skiet, maar dit kom nie.

Hy sit die draadknipper neer, troos haar dan soos ’n vader. “Toemaar, my skat, ek sal dit nie doen nie.”

Sy bedaar, maar kan steeds nie die snikke keer nie. Dit is te verwarrend: die een oomblik is hy buite homself van woede, die volgende die toonbeeld van kalmte.

“Jy sien, my meisie, as ek die vinger afsny, sal die plek te lank vat om te herstel. En jy is meer waardevol met jou vinger aan. Ek vat gewoonlik nie Suid-Afrikaanse meisies nie. My meisies kom almal uit die Oosblok. Maar jy het nie maniere nie – so dan is jy mos uitgeknip om ’n hoer te wees.” Hy staan op en gaan staan in die deur. “Ken jy Eugène Marais se gedig ‘Skoppensboer’?”

Sy skud haar kop.

“Nee, iemand so onopgevoed en ongemanierd soos jy sal dit nie ken nie,” sê hy met ’n sug. Hy staar haar ’n wyle aan en bars dan uit van die lag. “‘Die een wat deur die nag ons pret beloer en laaste lag is Skoppensboer’,” resiteer hy en tik op sy bors toe hy die laaste woord sê. Met ’n kopknik aan die jonger man verlaat hy die vertrek.

Die handlanger gaan sit langs haar op die bed. “Hallo, mooi ding,” spreek hy haar die eerste keer aan. “Jy gooi darem ’n mooi show in die shower. Dis genoeg om ’n man van sy kop af te maak – sexy lyfie soos joune, en met so ’n juicy rack.” Hy maak ’n gebaar om die vorm van haar borste aan te dui. Hy is walglik. Lyk soos ’n steroïed-gegote dierasie. Hy sweet konstant en ’n muwwe stank hang om hom.

Hy laat gly ’n klam hand oor haar dy. Chantelle gril. Hy trek haar satynnagrok op tot by haar heup. Dit sit effens los en haar linkerbors word ontbloot. Hy staar daarna, sy gesig ’n toonbeeld van wellus. Sy verwag die ergste – eers verkragting en dan ’n hopelik spoedige dood.

“Maak klaar, ons moet ry!” roep die ander man van buite die vertrek.

Die dierasie bring ’n spuitnaald na vore.

“Happy juice,” sê hy. “Dis my eie cocktail. Jy gaan dit baie laaik.” Hy druk sy gesig teen hare en sy stinkende asem maak haar naar. “Na so ’n paar van hulle gaan jy my smeek daarvoor. Jy gaan jouself opoffer daarvoor. Jy sal nie meer gril as ek aan jou vat nie, jy sal bly wees daaroor, bitch!”

Chantelle kreun toe hy haar wang lek. Dan gryp hy haar arm en druk dit teen die kopstuk vas. Sy krul van die pyn. Dit voel of haar arm gaan breek onder sy sterk greep. Sy voel die steekpyn wanneer die naald haar vel penetreer. Sy skreeu. Toe hy terugtree, skop sy na hom. Hy vang haar voet en lag. Suig haar groottoon.

Die kamermure begin swem. Hy praat met haar, maar sy kan nie hoor wat hy sê nie. Sy stem kom vanuit ’n tonnel. Dan sweef hy by die deur uit. Haar ooglede fladder, dan dryf sy die lug in.

Skoppensboer

Подняться наверх