Читать книгу Skoppensboer - Duane Aslett - Страница 6

3

Оглавление

“Het ons ’n deal?”

Niel steek die sigaret met bewende hande aan. Hy rook nie werklik nie, maar hoop dat dit kalmte sal bring. Want kalmte is tans soos ’n mirage in die woestyn – bly nét buite bereik. Die Valke vra te veel van hom. Hy het hard gewerk om iets van homself te maak en hy gaan dit nie prysgee vir ’n klomp dom poliesmanne wat die kollig soek nie. In sy wêreld verdwyn verraaiers stilweg en spoorloos. Maar daarteenoor is die tronk nie ’n piekniek nie. Die probleem is hy weet nie of hy hulle kan help nie, al wíl hy.

“Kolonel, ek het geen idee wie Skoppensboer is nie. Ek het al van hom gehoor, maar min mense ken sy identiteit. En dié wat weet, verklap niks. Wat beteken dat dit iemand is wat mens tot elke prys wil vermy.”

“Ons wil nie hê jy moet Skoppensboer vir ons gee nie, Campher. Jy moet net een van ons agente se contact wees. Hom voorstel aan ’n paar sleutelfigure. Pa staan vir sy betroubaarheid. Help om die regte netwerke te infiltreer. Dis al.”

Dis al? Dis lagwekkend! Die man laat dit klink asof hy bloot toergids gaan speel. Hulle besef nie waarvoor hy hom sal inlaat nie. Dit is ’n skaakspel om die dood; een verkeerde skuif en alles is verby.

“Kolonel, ek hoop net nie julle gee my die een of ander palooka wat dink hy is James Bond nie. Ek kan nie verantwoordelikheid vir sý lewe ook neem nie. In Suid-Afrika lei julle mos nie jul agente op nie. Julle hoop en bid eerder die ou survive op sy eie street-smarts en, as hy die emmer skop, recruit julle bloot die volgende naïewe student van ’n kampus af. Of die een of ander eks-poliesman wat sy hele pensioen weggebliksem het en dit nie in die grootmenswêreld kon maak nie.”

“Doen jy net jou deel en los die res vir ons,” sis die kolonel. “Die man wat ons wil instuur, is uiters bekwaam.” Dit verskaf Niel genoegdoening om te merk dat hy onder die man se vel kon inkruip. Hy kan sien die man moet sy humeur met moeite beteuel en dit beteken hy word nie oordonder nie; hy gee nie sy teenstander die oorhand nie, maar onderhandel as sy eweknie. Hy bly lank stil en gee voor dat hy die aanbod ernstig oorweeg. As hy dit aanvaar, sal hy ten minste beheer neem oor wat met hom gebeur – tronkstraf vermy en die indruk skep dat hy saamspeel. Soos ’n klein skootbrakkie wat op bevel sit, lê en omrol. Maar hy is slimmer as die pote. Hy sal hulle uitoorlê. Hul selfversekerdheid gaan hulle nog in die gat byt. Wat weet hulle van georganiseerde misdaad af? Hierdie kolonel dink hy weet alles, want hy maak ’n bietjie uit van tronkbendes. Geen wonder die land is ’n teelaarde vir misdaad nie. Idiote!

“Deal, kolonel,” sê hy eindelik. “So, wat gebeur nou?”

“Jy keer terug na jou woonstel toe.”

“Dis ’n penthouse,” sê hy terwyl hy die sigaret in die asbak dooddruk.

Die kolonel gluur hom aan. In die ou dae sou hy lankal ’n snotklap gekry het, maar die nuwe bedeling werk anders. Hy kan sien dat die kolonel hom steeds met moeite beteuel en dit bring ’n mate van genot, selfs in dié omstandighede.

“Keer terug na jou pénthouse en wag vir instruksies. Ons weet waar om jou in die hande te kry. En onthou, jy is Mammie en Pappie se klein blue-eyed boy. Niks sal my meer plesier verskaf as ’n lang kuier om hul seuntjie se doen en late met hulle te bespreek nie. Trap in jou spoor!”

Die bliksem! Frustrasie wel in Niel op. Hulle moet sy ouers uitlos, want hierdie saak het niks met hulle te doene nie. Hy wil die kolonel bydam. Maar dit is sy beurt om selfbeheer toe te pas, want sy ouers mag nooit, ooit uitvind nie.

“Ek sal saamwerk, kolonel.” Maar die planne draai reeds in sy kop. En die mirage verdwyn noudat ’n kalm oase op die horison sigbaar begin raak.

* * *

“Die piggyback is gereël, Rex,” sê Horst in alle erns.

Hulle sit in Walnut Grove in Sandton City, elk met Eggs Benedict en ’n koppie koffie voor hulle.

“Julle sal mekaar binnekort ontmoet en dan vat julle dit van daar af …” Na ’n rukkie stilte gaan Horst voort: “Hierdie is my laaste projek, Rex. Ek is moeg. En te oud vir hierdie jop. Sodra hierdie operasie klaar is, tree ek amptelik af.”

Rex is stomgeslaan. Hy verstaan nou waarom Horst die afgelope ruk so af gelyk het. Hy wil iets sê, maar die woorde ontwyk hom. Wat gaan hy doen? Want sonder Horst sal hy nie hierdie werk kan doen nie. Horst is meer as sy hanteerder. Meer as ’n kollega. Hy is ’n vertroueling. ’n Vriend. En dan dring dit tot hom deur – dit gaan ook sý laaste operasie wees. Maar wat anders sal hy doen? Hierdie werk het sy lewe weer sinvol gemaak. Hom rigting gegee toe hy soos ’n skip sonder mas op die oop see gedobber het. Dit was iets groters as hy, ’n bestaansrede as hy een móés hê. Daarsonder …

“Dan sal ek moet begin dink wat ek na hierdie projek gaan doen, Horst. Ek sal nie met ’n ander hanteerder kan saamwerk nie.”

“As jy aan die einde van die projek steeds so voel, is dit reg. Ek het nog ’n paar contacts wat my skuld, ons sal iets kry.”

“Wat gebeur volgende?”

“Ek sal jou kontak met die details sodra ons die ontmoeting gereël het. Hierdie is ook die laaste keer dat ek en jy so gaan ontmoet. In die vervolg sal ons deur middel van die dead drop kommunikeer. Het jy nog jou sleutel?”

Rex knik as hy met sy vurk in die geposjeerde eiers rondkrap, sy eetlus weg. Hy dink terug aan die begin van hul werkverhouding, toe hy Horst op kantoor gaan sien het – wat is dit, vyf jaar gelede? Hy kan nie glo dis so lank terug nie. Voel soos gister.

“Hoekom nou? Jy het dan verlede keer my aanbod van die hand gewys,” het die ouer man hom gevra.

“Dinge het verander, Horst. My lewensomstandighede is anders, ek is meer volwasse, die praktyk doen goed, maar dit voel nie of ek enigsins ’n verskil maak nie.”

“Maar ’n vennoot in ’n prokureurspraktyk maak seker goed geld?”

“Geld is nie alles nie. Die spreekwoord is nie waar nie.”

“Spreekwoord?”

“Geld wat stom is, maak reg wat krom is,” het hy met neergeslane oë geantwoord, sy gedagtes nog by haar.

En dit was asof Horst sy gedagtes kon lees. “Ek is jammer oor Leigh,” het hy sag gesê, “maar ek soek nie iemand wat ’n death wish het nie.”

“Dis nie waaroor dit gaan nie.”

“Is jy seker?”

Rex kon hom nie ’n eerlike antwoord gee nie.

* * *

“Wat kry ek vir jou?” vra die kroegman.

“Whisky, op ys,” antwoord Rex en sit en kyk rond. Waarom die Campher-vent dié plek vir hul ontmoeting gekies het, weet nugter alleen.

“Jy moet soos ’n rock-liefhebber aantrek,” het Horst laat weet. “Alles swart.” Rex het gisteraand die plek vinnig kom verken en die klante se kleredrag uitgekyk. Hy hoop Campher sal hom herken met hierdie haredos wat hy van die internet af nageboots het. Die verslete swart denim met noupassende T-hemp van sy universiteitsdae wat hom heel moontlik vir Campher onherkenbaar sal maak. Die T-hemp met die logo van die rockgroep waarop hy versot was in sy tweede jaar op universiteit. Leigh het hom baie geterg oor sy liefde vir dié groep, wat musiek gemaak het waarop geen mens volgens haar kon sokkie nie.

“Gelukkig het sy musieksmaak verbeter teen die tyd dat ons ontmoet het, want dit kon ’n deal-breaker gewees het,” het sy spottend vir hul vriende gesê. En toe word die T-hemp haar gemaklikste slaaphemp en teen sy sin verloor hy eienaarskap daarvan. Hy kon dit nooit oor sy hart kry om die hemp weg te gooi nie, en vanaand kry dit ’n nuwe doel as deel van ’n geheime agent se vermomming.

Hy gluur onder sy kuif deur na die gesigte in die kroeg. Hy het die foto wat Horst van Campher gestuur het aandagtig bestudeer, maar hy sien die vent nêrens nie. Alles is swart binne die kuierplek. Van die leiklipteëls op die vloer, taai van al die drank wat daarop gemors is, tot die mure waar die kleur hier en daar onderbreek word deur verbleikte advertensies van verskillende biersoorte. Op die swart pilare tussen die tafels verskyn huldeblyke in wit aan legendes soos die Beatles, Rolling Stones, Pink Floyd en David Bowie.

Oor die klanksisteem kom oorverdowende doef-doef-musiek wat Rex nog nooit gehoor het nie. Op die klein dansvloer staan ’n paar in swart geklede mense hul koppe en rondswaai, oë toe.

Die kroegman het nie ’n haar op sy kop nie en ’n tatoe van ’n brullende leeu loer onder die linkermou van sy styfpassende swart T-hemp uit. Op sy regterkantse voorarm is die woorde I DON’T CARE in swart geëts. Hy is ’n groot seun en Rex sal verkies om nie moeilikheid van sy kant af te kry nie. Hy het reeds die kyke wat hy van al die ander pare oë in dié plek kry, opgemerk. Die meeste van hulle is klaarblyklik vaste besoekers wat die teenwoordigheid van vreemdelinge steurend vind.

Ses mans wentel om ’n swart biljarttafel met rooi vilt bedek wat eenkant staangemaak is. Ook hulle gluur hom af en toe aan terwyl hulle gesels.

Na ’n ruk kom een van hulle oorgestap, die ander vyf volg kort op sy hakke. Rex weet instinktief dit gaan nie ’n vriendelike gesprek wees nie. Hy sou nou die versekering waardeer het wat sy Heckler & Koch P30 9 mm-Parabellum hom soms bied. Daarsonder sal hy op sy ander wapens moet staatmaak – verrassing en spoed. Hy bly op die kroegstoel sit om so onaggressief moontlik voor te kom.

“Ek is Tiny,” sê Voorbok en lees dan die naam op Rex se T-hemp: “The Men They Couldn’t Hang … Weasel het gewonder wat is jou favourite song van hulle. Hy sê dis seker ‘The Colours’.” Hy snorklag en draai na een van sy maats, ’n tingerige mannetjie met olierige donkerrooi hare wat tot op sy skouers hang. Hoewel Weasel se bynaam sy gesig perfek pas, herinner die goue ring in sy neus Rex eerder aan die gesegde oor lelike ape.

“Omdat dit sê: ‘You’ve come here to watch me hang’,” sê Weasel met ’n kekkel-lag wat ook goed by sy bynaam pas. Rex raai dat die iPhone in sy hand hom gehelp het om skielik ’n kenner van dié rockgroep se musiek te word; “The Colours” was een van hul bekender treffers.

Voorbok, oftewel Tiny, se naam sinspeel ooglopend op sarkasme, want daar is niks kleins aan hom nie. Sy grootte is egter meer te wyte aan vet as spiere. Rex skat hom op ses voet vier teen honderd-en-veertig kilogram. Hy voorspel dat Tiny ’n lomp bakleier sal wees, maar hy was al verkeerd in die verlede. Hy merk dat twee van die ander hul snoekerstokke saamgebring het. Dit is al moontlike wapens wat sigbaar is. Rex oorweeg sy opsies. Op die toonbank staan ’n leë bierbottel binne sy bereik en hy het die glas whisky in sy hand. Sy beste verdedigingsmiddels bly egter spoed en verrassing. Hy moet daardie Campher-kêrel ’n goeie pak slae gee. Wie kies so ’n plek?

“Weasel is verkeerd,” sê Rex vir Tiny. Mooipraat gaan hom nêrens bring nie – die handskoen is hom reeds toegewerp. Die vraag wat in die lug hang, is of hy dit gaan opneem. “My favourite song van hulle is ‘Bounty Hunter’.” Dan wend hy hom tot Weasel en aap dié se nasale stem na: “Omdat die woorde sê: ‘I am the bounty hunter … My weapons are guns and cunning and speed’.”

Die groepie staar mekaar verdwaas aan terwyl die woorde insink. Dan verraai Tiny se skouerbeweging sy bedoelings; Rex sien die hou kom voor dit hom kan tref. Sy regterpalm skiet op en hy slaan Tiny op die strot. Met sy linkerhand gooi hy terselfdertyd die whisky in Nommer Twee se oë. Van Tiny se keel af skiet sy regterhand na die leë bierbottel, wat in skerwe breek op Nommer Drie se kop.

Rex skop die kroegstoel weg en retireer om ’n hou van Nommer Vier se snoekerstok te ontwyk. Die kroegtoonbank aan Nommer Vier se regterkant forseer hom om hoog te swaai. Rex buk onder die hou deur en sy regterhak tref Nommer Vier op die krop van sy maag. Rex se volle vyf-en-negentig kilo’s was agter die skop en Nommer Vier val langs Tiny, waar albei na hul asems lê en hyg. Dit was spoed. Volgende – verrassing.

Nommer Twee het sy sig herwin en gluur Rex aan terwyl hy die snoekerstok soos ’n krieketkolf vashou.

“Moer hom, Rusty!” gil Weasel agter hom.

Na Rusty se verwagting sal Rex terugdeins as hy die stok swaai. Rex trap egter vorentoe, teen die trajek van die stok in. Verrassing. Hy gryp die stok met sy linkerhand terwyl sy regterelmboog Rusty in die ribbes tref sodat sy greep op die stok verswak. Rex hou aan met sy draaibeweging en dwing die snoekerstok uit Rusty se hande. Hy tol verder totdat die agterkant van die stok kontak maak, weer met Rusty se ribbes. Die vent krul van die pyn en Rex verlig hom van sy lyding; gee hom ’n hou met die stok op sy kennebak. Rusty syg neer soos die spreekwoordelike sak patats.

Rex wend hom volgende tot die gillende Weasel, maar dan ontplof iets teen sy agterkop. Sy oë verloor fokus. Kroegman! skiet dit deur sy gedagtes voor die donkerte hom oorval.

Skoppensboer

Подняться наверх