Читать книгу Skoppensboer - Duane Aslett - Страница 9

6

Оглавление

Rex druk sy persoonlike reiskaart in die toestel wat aan die bemanningslid se skootrekenaar gekoppel is. Sy foto verskyn op die skerm en die stelsel registreer dat hy aan wal gaan. Hy stap teen die skip se loopplank af en vermy die taxibestuurders wat klante probeer werf. Die son bak, al is dit nog die middel van die oggend; dit weerkaats helder op die betonkaai en hy sit sy sonbril op. Hy stap al klikkend met die Canon deur Korfu se hawe tot by die doeanekantoor, ’n klein rugsak met ekstra klere en toiletware op sy rug.

Soos ’n nuuskierige toeris stap hy in sy kniebroek en T-hemp die eiland se idilliese tonele en bewonder. Hy bestudeer die kaart van Korfu en vind sy bestemming, die rooi koepel van die St. Spyrídon-kerktoring. Hy val in gelid met die ander mense wat voetslaan bo ’n taxi verkies het, maar knoop geen gesprekke aan nie. Hulle stap al langs die dubbelpad af, waar die taxi’s met ’n dieselgekletter verbyzoem. Hulle draai in een van die smal systrate op na die ou gedeelte van die dorp: Corfu Old Town, soos die kaart aandui.

Daar aangekom, druk hy deur die skares wat in die smal stegies drentel tot hy die Agios Spyrídon bereik. Die kerk is kleiner as wat hy verwag het. Smal geplaveide stegies loop weerskante daarvan verby, wemelend met toeriste op soek na winskopies tussen al die smouse wat luidrugtig hul ware adverteer.

Rex stap die kerk binne. Die binnekant is beplak met allerhande relieke van die Christendom. Nuuskieriges waggel stil-stil teen die mure langs om details van die verskillende kunswerke te bewonder. Op een van die banke sit ’n man wie se gelaatstrekke baie aan sy eie herinner. Om sy regtergewrig is ’n bandjie met die kleure van die Suid-Afrikaanse vlag.

Rex gaan sit langs hom. “Horst sends his regards,” fluister hy, kwansuis om die stilte in die kerk te eerbiedig.

“Thank you. Mr Faber and I go way back,” fluister die man terug.

Oomblikke later verlaat hulle die kerk en drentel saam deur die smal strate van Korfu om ook kamstig vir winskopies rond te snuffel. Rex bestudeer die omstandighede waaronder een van die oudste beskawings tans sy bestaan voer. Alexander die Grote se nalatenskap. Wasgoed wapper oor die stegies, van een gebou na ’n ander gekatrol om die paar sonstrale te vang wat tussen die geboue deurdring. Die rou klippe waarmee die eens helderkleurige geboue opgerig is, word plek-plek ontbloot waar die sementpleister die jare lange geveg teen die elemente verloor het. Party vensterluike hang lendelam aan een skarnier, op die punt om oor te gee aan swaartekrag. Ander luike hang in verskillende posisies bo die grondverdieping, sommige oop, ander toe, ander halfpad – asof die moeite om dit soggens en saans te verstel te veel geword het vir die inwoners. Só leef die nageslag van die oprigters van die eertydse Griekse Ryk en onderdane van die Griekse gode.

By een van die stalletjies wat allerhande produkte van olyfhout verkoop, oorhandig Rex die Canon aan sy medereisiger sodat hy ’n olyfhout-heuningpot kan optel en van nader beskou. Hy neem nie die kamera terug toe hy die heuningpot weer neerplaas nie. Terwyl hulle voortdrentel, oorhandig die man ’n toerismebrosjure van die Griekse Eilande aan hom. Die man wandel by een van die rariteitewinkels in en Rex draai in die volgende stegie af. ’n Bromponie knetter verby, met ’n bestuurder wat die een of ander kasdeur onder sy linkerarm vasklem en met indrukwekkende behendigheid sy ryding met die ander hand stuur. Dié stegie is meer verlate as die voriges.

Rex soek die hoofstuk oor Korfu in die brosjure. Blaai dan versigtig tot hy op ’n visitekaartjie afkom. Op daardie bladsy is die lughawe met ’n blou merker omkring. Die visitekaartjie het ’n woord in rooi daarop geëts. Dit is Grieks: άδελφός. Agter die woord is die silhoeët van ’n wit duif met ’n olyftakkie in sy bek, teen ’n swart agtergrond. Hy draai die kaartjie om. Lees die letters en syfers met die blou merker agterop gekrabbel. ’n Tyd is onder dit aangedui. Hy raadpleeg die kaart en vind sy posisie, dan kyk hy op sy polshorlosie. Hy het ’n bietjie meer as twee ure. Hy sal moet wikkel.

* * *

Kaptein Januarie laat sy oë oor die misdaadtoneel dwaal. Die voordeurslotte en veiligheidshek het geen ooglopende tekens dat daarmee gepeuter is nie. Die veiligheidskettinkie makeer ook niks. Hy dink terug aan hoe sy leermeester, die nou afgetrede superintendent Van Ellewee, hom geleer het – begin deur te probeer visualiseer hoe die misdaad plaasgevind het. Aanvaar niks as vanselfsprekend nie en bevraagteken elke stukkie leidraad.

Die hoop grond waar ’n blompot omgeskop is, wys dat toegang deur die balkonvenster verkry is. Die venster het geen diefwering nie; dit is immers nie op die tweede verdieping nodig nie. Hy trek die skuifdeur langs die venster oop en loop buitentoe. Hoe het die indringer op die balkon gekom? Hy kon nie van bo af gekom het nie. Vier verdiepings toring bo dié woonstel uit. Het hy moontlik van een van die aangrensende balkonne af oorgeklim? Hy sal later ondersoek instel. Hy wil nie nou die bure se emosies opjaag nie.

Hy stap weer die woonstel binne. Geen tekens van ’n struweling nie. Roof was blykbaar nie die motief nie, want daar is verskeie waardevolle items gelos: ’n skootrekenaar in die sitkamer; ’n selfoon op die bedkassie; juwele, Fossil-horlosie, iPod en ’n Ray-Ban-sonbril lê oop en bloot op die spieëlkas. Die onopgemaakte bed wys dat een persoon daarin geslaap het – tot hoe laat?

’n Klam handdoek in die badkamer en waterdruppels in die stort wys dat iemand laat gisteraand of dalk vroeg vanoggend gestort het. Die res van die woonstel is netjies, behalwe vir ’n paar stewels wat half onder die bed ingeskop is. Hy hoor iemand by die voordeur.

“Ha, CSI is hier,” sê hy spottenderwys.

“Ja, and you think you’re the FBI,” kap die bruin vrou terug.

“Ag, OK, Vi, truce.”

“Hoe lyk die toneel, Myron?”

“Hier’s nie veel nie. It boggles the mind.”

“Nou wat maak die Scorpions dan hier? Julle cherry-pick mos julle se sake,” spot sy verder.

“Se gat! Die Skerpioene is gone.”

“Ja, and from the ashes rises the phoenix,” spot Violet met dramatiese handgebare om die verrysing van die mitiese voël uit te beeld.

“Hawks!”

“Same thing, different badge,” mompel sy verder.

“Die Hawks is beter as die Scorpions. En ek is hier, want die top brass is skittish. Hulle onthou Leigh Matthews se ontvoering alte goed. Ons moet dié saak reg hanteer. Hulle soek nie ’n media frenzy oor jong meisies wat ontvoer word nie.”

“O sorry, Myron Byleveld, top cop, ek sal my bes doen.”

“Gmf, ek bly Januarie, maar ek sal die ‘top cop’ vat.”

Sy spring aan die werk terwyl hy hom steeds probeer verbeel hoe die toneel afgespeel het. Hoekom sou die meisie nie wakker geskrik het toe daar met die venster gepeuter is, of die blompot omgeskop is nie?

Vermaas kom die vertrek binne.

“Wat het jy, Verrie?”

“Myron, die oorledene is ’n pensioenaris. ’n Wewenaar wat almal as oom Basie geken het. Hy het blykbaar maar altyd hier rond gesnoop en sy neus in almal se sake gesteek. Was glo ’n pyn oor parkering. As iemand op die verkeerde plek gestop het, het hy ’n briefie onder die ruitveër gelos. Lyk of hy maar baie verveeld was. Dit was ook sy gewoonte om laatnag hier rond te sluip om te sien wie in- en uitgaan.”

“Maar dis seker nie genoeg rede om hom dood te skiet nie?”

“Die distriksgeneesheer sal môre die lykskouing doen. Hopelik is die projektiel nog in goeie toestand vir ballistics.”

“OK, check met al die neighbours of iemand iets gesien of gehoor het. Ons sal maar hier moet rondhang tot dié wat by die werk is huis toe kom. En nog nie ’n woord oor Chantelle nie, hoor. Ek soek nie die media op hol nie.”

Vermaas verlaat weer die woonstel. Kaptein Januarie stap slaapkamer toe, waar Violet nog besig is.

“Fingerprints?” vra hy.

“Nog net een stel opgetel. Ek neem aan dis hare, want dis oral, maar ek sal moet check.”

“Hier’s f- … boggerol!” keer hy homself.

Sy glimlag.

“Is jy klaar met haar BlackBerry?”

“Ja.”

Hy tel die selfoon op en druk die groen knoppie sodat die lys oproepe op die skerm verskyn. Die laaste oproep was om 22:40 aan ene Tanja R. Hy haal sy eie selfoon uit en skakel die nommer.

“Haai, dis Tanja. Ek is nie nou beskikbaar nie, maar laat ’n boodskap en ek bel jou terug.”

Hy druk die foon dood. Sal later weer probeer.

Vermaas stap die woonstel binne. “Myron, hier’s van die stasie se ouens op die perseel.”

“Waarvan praat jy?”

“Hulle reageer op ’n klag van huisbraak.”

“Maar ons is mos hier. Wie het hulle gebel?”

“Die mense hier langsaan.”

“Vir wat dan? En hoe het hulle geweet hier was ’n huisbraak?”

“Die huisbraak waaroor hulle ’n klag lê, is nie hier nie. Dis langsaan.”

* * *

Rex hou die visitekaartjie op en bestudeer wat daarop geskryf staan. Op die agtergrond verskyn dieselfde letters en syfers, teen die silwer romp van ’n Dakota DC 3-vragvliegtuig. Hy laat sak die kaartjie en staar verslae na die vliegtuig. Die twee reuse-voorwiele onder die vlerke en klein agterwiel wat die stert net-net van die grond af lig, maak dat die vliegtuig se neus in die lug opgetrek is, soos ’n rykmansvrou wat afval ruik. Hy kan nie glo die drie lemme op elk van die twee motore sal genoeg wees om dié logge lyf deur die lug te trek nie.

Die bemanningslede is naarstiglik doenig met die laaiproses. Die houtkratte wat hulle besig is om in te laai, moet olyfolie bevat. Of dalk wyn. Hy verlang meteens na die lugredery se Boeing, want die Dakota staan alombekend as die “Kotskoets”. Geen flieks op ’n persoonlike TV-skerm op dié vlug nie. En ’n sitplek ongemaklik genoeg om die vlug twee keer langer te laat voel as wat dit is. Maar dit kan hom nie minder pla nie. Dit is die vooruitsig om die Balkan-bergreeks met ’n Dakota oor te steek wat hom angstig maak.

Dakotas kan slegs so hoog as tienduisend outydse voet vlieg aangesien hulle nie lugdrukbeheer het nie; iets wat die Federale Lugvaartadministrasie se regulasies bo daardie hoogte vereis. Verder het hulle nie toerusting wat voorkom dat die vlerke kan toe-ys nie. En as dít gebeur, word hulle lomp en moeilik beheerbaar, wat nie gerusstelling bring wanneer mens in ’n hoë bergreeks gaan rondneuk nie. Een van 35 Eskader se Dakotas het juis in Desember 2012 in die Drakensberge neergestort nadat dit skielik hoogte verloor en in een van die kruine vasgevlieg het.

Hy wens nou hy was steeds Rex Reynecke, toeris. Die man wat hy in die kerkie ontmoet het, het egter reeds sy plek ingeneem met ’n vervalste passasierskaart wat hy by die skeepsfotograaf gekry en aan die bemanningslid oorhandig het toe hy aan boord gaan. Nou verskyn dié man se foto onder die naam Rex Reynecke op die stelsel – Rex Reynecke wat weer aan boord is na sy uitstappie in Korfu om die res van die sewe dae lange skeepsreis te voltooi – na Santorini, Mykonos, Katakolon en terug na Venesië. In Venesië sal hy en die werklike Rex Reynecke mekaar op die Piazzale Roma ontmoet, as die werklike Rex sy eie terugtog oorleef. Sodat hy die werklike Rex Reynecke se paspoort, wat hy met die werklike Rex Reynecke se ontvangserkenning sal opeis, aan die werklike Rex Reynecke kan terugbesorg, steeds in die verseëlde koevert van die passasierskip. Sodat die werklike Rex Reynecke dit kan gebruik met sy terugkeer na Suid-Afrika, om daar die sak vol geld wat hy in Bulgarye gaan optel het met Horst se hulp deur doeane te smokkel. Die amptelike rekords sal dus getuig dat Rex Reynecke ’n heerlike vakansie op die Griekse Eilande gehad het en nooit sy voete in Bulgarye gesit het nie. Aldus Niel Campher se verspot ingewikkelde plan om Freddie Kruger te beïndruk.

Maar die werklike Rex Reynecke vind dit onoortuigend en deurmekaar. Hoekom hy besluit het om daarby in te val, weet nugter alleen. Anders as Rex Reynecke, die toeris, staan die werklike hy op die punt om aan boord van die Kotskoets te gaan, bloot om dit weer iewers in die Balkan te verlaat. En hy sou veel eerder ’n Corona op die passasierskip se dek wou drink terwyl hy oor die kalm Mediterreense See staar.

* * *

Kaptein Januarie wys sy aanstellingsertifikaat en stel homself voor aan die twee konstabels van die plaaslike polisiekantoor.

“Ons ondersoek ’n moordsaak hier, manne, en ek dink hierdie klag kan miskien daarmee verband hou. Wie is die klaer?”

“Ene meneer Terblanche het die inbraak telefonies gerapporteer,” antwoord een van die konstabels terwyl hy sy polisiesakboek nagaan. Januarie glimlag. Superintendent Van Ellewee was altyd streng oor die opskryf van sakboeke – en die liassering daarvan wanneer hulle volgeskryf is. Dit kan jou baie help wanneer jy in die hof getuig, het hy gewaarsku. Jy kan nie onthou wat jy verlede week vir brekfis geëet het nie. Hoe gaan jy dan maande of soms jare later onthou wat tydens ’n ondersoek gebeur het?

Die deur van die woonstel langs Chantelle s’n gaan oop voor die polisiebeamptes kan klop.

“Meneer Terblanche?” vra kaptein Januarie. Hy skat die fronsende man in sy vroeë twintigs. Stywe denimlangbroek met ’n stywer grys T-hemp wat aan sy slanke bolyf klou. Wit plakkies aan sy voete. Hare vol allerhande produkte deurmekaar gevryf. Seepgladde vel. Lyk of hy nog nooit ’n skeermes nodig gehad het nie. Propvol swart vullissak in sy regterhand.

“Nee, Van Wyk,” sê hy terwyl hy Januarie op en af kyk. Daar spoel ’n sweem van oordeel oor sy gesig; hy het Januarie se uitrusting geweeg en klaarblyklik veerlig bevind.

“Kaptein Januarie, van die Valke.”

Die frons verdwyn en die man lig sy wenkbroue. “Die Valke?” vra hy met ’n nasale stem. “Maar hier is nie eens iets gesteel nie.”

“Ons ondersoek ’n moordsaak hier in die kompleks, en vermoed die inbraak hou dalk daarmee verband.”

“Moord? Wie?”

“U sal hom ken as oom Basie.”

Van Wyk slaan sy hand oor sy mond. “Wie sal oom Basie wil doodmaak?” vra hy toe hy weer tot verhaal kom.

“Dis wat ons wil vasstel. U sê niks is gevat nie?”

“Coenrad!” skree Van Wyk oor sy skouer. “Hier is groot moeilikheid, skat! Die Valke is hier!”

“Hoe nou?” vra ’n man wat iewers vanuit die woonstel die sitkamer binnegestap kom. Hoewel Januarie Coenrad in sy vroeë dertigs skat, het hy reeds ’n bles kol op sy kop. Sy oorblywende hare is kort geskeer – met ’n nommer-een-kam, skat Januarie. Sy atletiese bou word beklemtoon deur sy moulose T-hemp en kortbroek.

“Oom Basie is doodgeskiet. Ek het jou mos gesê hierdie kompleks is going to the dogs. Ons moes lankal getrek het.”

“Kalmeer, Leendert.” Die man stel hom as Coenrad Terblanche aan Januarie voor en nooi die twee speurders binne.

Leendert plak die swart sak langs die voordeur neer.

Januarie se oë dwaal oor die sitkamer wat, hoewel klein, modieus ingerig is. Die groot skildery bo die rusbank van ’n naakte vrou wat op haar rug lê, trek sy aandag. Die straight ou se pornografie is die gay ou se kuns, of in dié geval seker andersom, dink hy. Besef dan die twee staan hom in afwagting en aanstaar, effense glimlagte op hul gesigte.

“H’m, u het genoem dat niks gesteel is nie, meneer Van Wyk?”

Van Wyk rol sy oë. “Noem my Leendert, asseblief! Nee, hulle het die diefwering gebreek en die skuifdeur na die balkon het oopgestaan toe ons inloop, maar verder is alles net soos ons dit gelos het.”

“Wanneer het u die inbraak ontdek?”

“Ons was op ’n vierdag-cruise van Durban af Bazaruto toe en het vanoggend teruggekeer. Toe ek hier instap, kon ek dadelik sien hier was iemand in die woonstel gewees. What an invasion of privacy! Weet nie hoe ek vanaand geslaap gaan kry nie. Sal maar ’n paar Comprals moet drink.”

“Is dit nie pynpille nie?” vra Januarie.

“Werk vir my vir slaap. Twee van hulle sit my lights-out.”

Coenrad rol sy oë agter Leendert se rug.

“En dan spin alles nog ook.” Hy druk met sy handpalm teen sy voorkop. “Ek was so seesiek soos ’n verdwaalde veldmuis op die skip. Daai motion sickness-pleisters wat mens agter jou oor plak, het absoluut niks gehelp nie. Ons moes eerder Stugeron gekry het, Coenrad. Ek het mos gesê daai apteker-bitch weet nie waarvan sy praat nie.” Wend hom dan tot Januarie: “My hele vakansie is opgeneuk. Ek lê in die kajuit en doodgaan en hý baljaar die hele skip vol,” met ’n kopknik in Coenrad se rigting. “Bring net nou en dan vir my ’n Coke en dan’s hy weer vort. No sympathy,” en Coenrad ontvang dieselfde oordeelsblik as wat Januarie vroeër vir sy uitrusting gekry het.

“H’m, hoe het u nie die moordtoneel vanoggend gesien nie?” wend Januarie hom tot Terblanche.

“Ons parkeer onder die gebou en gebruik die agterste trappe. Is oom Basie in sy huis vermoor?”

“Nee, hy is op die voorste trappe geskiet. Mag ek asseblief die balkon sien?”

“Sekerlik,” antwoord Leendert weer uit sy beurt. “Maar dis nog ’n gemors. Ek het nog nie klaar skoongemaak nie. Ons het ’n ‘Anchors Aweigh’-partytjie gehost voor ons Durban toe gery het en daar was toe nie tyd om skoon te maak nie. Ag, alles spin nog steeds.” Hy druk op die rugleuning van een van die eetkamerstoele.

“Hoekom gaan lê jy nie ’n bietjie nie?” vra Coenrad in ’n simpatieke stemtoon. “Ek sal die balkon klaar skoonmaak.”

“Ek dink ek moet, dis alles te veel. Dankie, skat. Verskoon my, kaptein. Sersant.” Hy stap in die gang af met die ander drie wat hom agterna staar.

Coenrad wys na die skuifdeur en Januarie stap uit op die balkon. ’n Staalreling is aan die voorkant aangebring, maar ’n baksteenmuur, meer as kophoogte, skei Chantelle se balkon van haar bure s’n om privaatheid te verleen. Veelkleurige ballonne, waarvan die meeste lug verloor het, hang teen die skeidingsmuur onder ’n banier met die woorde Bon Voyage op. Leë glase wat klaarblyklik skemerkelkies bevat het, staan op ’n skinkbord gepak. Gebruikte blou papierborde met ’n wit-en-rooi reddingsboei en anker daarop gedruk, is gestapel op ’n tafel in die hoek, gereed vir die volgende swart vullissak.

Die skeidingsmuur is maklik omseilbaar. Die inbrekers het beslis van hier af toegang tot die woonstel langsaan verkry. Maar hoekom al die moeite aangaan om hiér in te breek as hulle eintlik in Chantelle se woonstel wou wees?

“Meneer Terblanche, ek twyfel of die inbrekers enige vingerafdrukke gelos het, maar ek sal graag wil hê dat Forensies seker maak.”

“Sekerlik. Dis jammer oor oom Basie. Ek wonder of hy die inbreker verras het en hy daarom vermoor is.”

Kaptein Januarie haal sy skouers op. Wil so min moontlik inligting verskaf. Hoe langer hy die media van dié saak kan weghou, hoe beter.

“Dis wat ons probeer vasstel.”

Leendert kom weer die sitkamer binne. “Ek kan nie slaap nie. Sodra ek my kop op die kussing neerlê, voel dit of ek in ’n tumble-dryer is. Ek sal eerder die balkon klaarmaak. Die gemors pla my grensloos.”

“Wag net eers daarmee, Leendert,” keer Coenrad voor Januarie iets kan sê. “Die polisie wil eers kyk of hulle die inbrekers se vingerafdrukke kan kry.”

“En wat van die nanny cam?”

“My hene, ek het nie eens daaraan gedink nie!” roep Coenrad uit.

“Nanny cam?” vra kaptein Januarie hoopvol.

“Ja,” antwoord Leendert. “Ek vermoed al lankal ons bediende steel. Coenrad sê ek is laf. Toe installeer ek ’n nanny cam om hom te wys ek is reg. Dit record alles wat in die woonstel gebeur en word deur ’n motion sensor geaktiveer. Dit record slegs wanneer en vir solank as wat daar beweging is. Die kamera sou tog sekerlik die inbrekers se bewegings afgeneem het.”

“Waar word dit gerecord?” Kaptein Januarie raak al hoe meer opgewonde.

“Daar is ’n rekenaar in die derde slaapkamer, wat ek as my studeerkamer ingerig het. Dit word daarop opgeneem,” antwoord Coenrad met ’n sug, en Januarie kry die indruk dat die gebruik van die rekenaar vir dié doel nie die man se goedkeuring wegdra nie.

Maar Januarie glimlag ingenome. Danksy dié twee se huismoles gaan hy hierdie saak vinnig oplos, hy voel dit in sy bene.

* * *

Kaptein Januarie staan langs die IT-spesialis wat die opname van Coenrad Terblanche se rekenaar aftrek. Hy kyk vol afwagting na die greinerige beeld wat op die skerm afspeel. Dit wys hoe ’n gespierde man die diefwering oopforseer en dan sy logge lyf deur die venster trek. ’n Enkele inbreker. Sy kop is kaalgeskeer en hy dra ’n denim met ’n styfpassende T-hemp. Januarie swets toe hy die man se handskoene sien. Forensies gaan niks in hierdie woonstel kry nie, nie eens ’n haar nie. Die inbreker stap deur die sitkamer, maak die balkondeur oop en verdwyn. Dit is die einde van die opname.

Die volgende beweging wat opname geaktiveer het, is Leendert van Wyk wat die voordeur oopsluit en tas in die hand die sitkamer binnestap. Dan sy hand oor sy mond slaan en paniekbevange iets oor sy skouer skree.

Die IT-spesialis draai die beeld terug en vries dit waar die inbreker in beeld kom.

Januarie swets weer. “Sy gesig is nie duidelik nie.”

“Dis te donker en dis nie infrarooi-kameras nie,” sê die IT-spesialis.

“Kan jy dit verbeter?”

“Ek sal probeer, maar ek dink nie ek gaan dit veel beter kry nie.”

“OK, ek soek ’n foto van die beste beeld wat jy van sy gesig kan kry.”

“Ek sal dit môre reg hê.”

Januarie en Vermaas keer terug na Chantelle se woonstel.

“Verrie, dis hoe ek die ding sien,” sê Januarie toe hulle weer in haar sitkamer staan. “Die ontvoerder wil nie hê sy moet suspect dat hy in die woonstel is nie, en hy besef dat die bure nie tuis is nie. Hy breek daar in om oor die balkon na Chantelle se woonstel te klim. Hy forseer daai venster langs die skuifdeur oop en klim daardeur, maar skop die blompot in die proses om. Dan lê en wag hy hier iewers tot sy huis toe kom. Hy los haar tot sy rustig in die bed is en wag dalk eers tot sy slaap, dan jump hy haar. Maar, op pad uit met haar, loop hy die snooping oom Basie raak en skiet hom, dalk met ’n gun met ’n silencer, want niemand hoor die skoot nie. Dan laai hy haar in haar eie kar en gebruik haar remote om by die hek uit te kom.” Hy glimlag innerlik. Superintendent Van Ellewee sou trots gewees het.

“Klink vir my reg.”

“My vraag is, hoekom? Die motief was nie roof nie, want daar is baie valuables agtergelaat. Haar ouers is nie ryk of famous nie, so hulle kan nie ’n groot ransom betaal nie.” Hy bly ’n rukkie stil, nadenkend, voor hy voortgaan. “Hierdie is personal. Ons moet by die mense naby aan haar begin. Hierdie is die handewerk van iemand wat haar ken. Waar is haar ouers?”

“Op pad. Van Bloemfontein af. Hulle het 10111 gebel toe hulle haar nie in die hande kon kry nadat sy nie vanoggend by die werk opgedaag het nie. Gelukkig was daar ’n wakker sersantjie van Radiobeheer aan diens en hy het ons kantore gebel. Hy het vroeër die oproep gekry wat die moord op oom Basie gerapporteer het en besef hier’s groot fout toe Chantelle by dieselfde kompleks vermis word.”

Januarie haal sy selfoon uit en probeer weer Tanja R se nommer.

* * *

Dit was malligheid om Campher se plan te volg. Rex staan in die oop sydeur van die Dakota, ver onder hom ’n teelaarde van georganiseerde misdaad – Bulgarye. Genadelose mense. Die Bulgaarse sekuriteitspolisie was per slot van rekening die krag agter die moord op die Bulgaarse dissident Georgi Markov in 1978. Hulle het hom egter nie doodgeskiet of die lug in geblaas nie; daardie soort optrede was blykbaar na hul mening te veel van ’n cliché en hulle het ’n sluipmoord op ’n besige Waterloo Bridge verkies. Dit is uitgevoer sonder dat enige omstander onraad gemerk het, want die moordwapen was ’n voorwerp wat geen wenkbroue in Londen sou laat lig nie: ’n doodgewone sambreel, die punt daarvan met dodelike gif gesmeer. Eenvoudig. Sonder bohaai. Stil. Só stil dat die moordenaar nooit opgespoor is nie.

In die verte skitter die liggies van Sofia, ’n stad wat hy tot dusver net in ’n atlas gesien het as ’n geel blokkie wat aandui dat dit die hoofstad van Bulgarye is. Die lug is yskoud, maar streel die naarheid weg wat tydens die vlug in hom opgebou het. Kotskoets inderdaad! Sy lyf is tam.

Van die oomblik toe hy vir die vlieënier die visitekaartjie gewys het, is hy soos ’n bemanningslid hanteer. Hy moes help om die houtkratte klaar te laai. Hy het geleer dat άδελφός “broeder” beteken. Dat die vlug ’n sendingstog is, om voorraad na sendelinge te vervoer. Toe nie olyfolie of wyn soos hy vermoed het nie. En omdat die vliegtuig nie so hoog mag vlieg nie, hoef die vlieënier geen aanpassings vir ’n valskermsprong te maak of na die vlug enige lastige vrae oor hoogteverwisselings te beantwoord nie; hoogteverwisselings is onnodig. Net ’n bietjie spoed verminder en die vliegtuig stabiel hou vir die sprong. Ideaal, het die vlieënier gereken, en dit is seker so as jy nie die een is wat moet spring nie.

“Get ready!” skree die bemanningslid bo die gedreun van die motore. Rex voel hoe die vlieënier die Dakota se spoed verminder. Van honderd-en-veertig knope na ongeveer negentig, het hy gesê. Waarna hy sal poog om die vliegtuig so stabiel moontlik te hou terwyl hy die GPS nagaan vir die regte oomblik.

Rex wag gespanne. Hy hoop die vlieënier lees sy instrumente reg. Hy is nie lus vir ’n lang trek deur ’n vreemde land nie. Die gedreun van die motore is oorverdowend in die oop deur. Die propeller se punte skets ’n geel sirkel teen die swart doek van die nag. Voor Rex strek die donkerte nimmereindigend uit en die koue lug sny teen sy rug af.

Die oomblik as hy homself die donkerte inwerp, is hy in Niel se hande tot hy terug is in Venesië, waar Horst se plan weer gevolg sal word sodra Rex sy paspoort terug ontvang het. Horst se beplanning het hom tot hier in die oop deur van die Dakota gebring. Goeie, betroubare Horst. Hy gee nie om om sy lewe in Horst se hande te plaas nie, want hoewel dit gevaar inhou, weet hy Horst bepeins elke moontlike afwyking. Om voorbereid te wees vir die onverwagse en daarvoor ook gebeurlikheidsplanne te hê. Hy het nie dieselfde vertroue in Campher nie. Die keerpunt is nog nie verby nie. Hy kan steeds omdraai; die vlug deurmaak en help kratte aflaai. Op Horst se netwerk bly en ’n ander plan beraam om Skoppensboer op te spoor. Wil hy werklik sy lewe aan Campher toevertrou? Maar waarvoor wil hy in elk geval sy lewe behou? Is die dood so skrikwekkend, iets om tot elke prys te vermy? Sal dit nie ’n welkome ervaring wees nie? Die herontmoeting sal asemrowend mooi wees …

“Go!” skree die bemanningslid agter hom.

Rex werp homself die donkerte in.

Skoppensboer

Подняться наверх