Читать книгу Brouhaha - Eben Venter - Страница 10
Vlugteling in die Sydney-hawe
ОглавлениеMy heel eerste Viëtnamese vriend het ek in die vroeë jare negentig in Sydney leer ken. Sy naam was Vân (jy spreek dit uit “vên”, soos in: my vên staan in die waenhuis). Vân het saam met sy familie en ander vlugtelinge, tweehonderd en vyftig siele altesame, op ’n boot uit Suid-Viëtnam padgegee. In Australië word sulke mense boat people genoem.
Vân het min gepraat oor daardie hellevaart. Hy was ’n seun, tien jaar of so oud, groot genoeg om niks daarvan te vergeet nie. Dit het ek gehoor by ander Viëtnamese wat ek leer ken het toe ek eers met Vân bevriend geraak het: Tommy, Bao, Trung.
’n Fyngeboude man was hy, maar nie tengerig nie. Sy beenstruktuur het gebeitel voorgekom. As jy in die donker ’n flits op sy oorskulp skyn, sou jy byvoorbeeld kon sê hy’s nie ’n Afrikaner of ’n true blue-Aussie nie. Sy vel was glad, haarloos en van nature so ’n jongappelkoospitbruin. Sy hare en oë was pikgitswart. Oor ’n bier en ’n sigaret – hy’t pal gerook – het ek soms sy blik probeer peil, maar nooit daarin geslaag nie. Wat ek van hom geweet het, het ek by Tommy-hulle gehoor.
Soos ander bootmense was sy familie ook handelaars: juweliers, materiaalverkopers, kruideniersmouse. Mense uit die middelklas wat met die inval van die kommuniste uit Noord-Viëtnam alles kon verloor. Ook hulle lewe. Vân het eenkeer gesê sy ma het al haar goue ringe weggegee. Aan wie? Waar? Hulle was klaar op die boot en dit was al keuse: óf die goud óf oorboord met sy familie. Dis omtrent al wat hy ooit oor daardie reis van Suid-Viëtnam tot by Maleisië en toe verder na die Noord-Australiese kus gesê het. Hy’t aan sy sigaret getrek en so effens gelag, net ’n bietjie, nooit gul en oordadig nie. Nooit.
Al die middelklas-Viëtnamese wou daardie jare vlug. Móés vlug. En hulle was bereid om alles te ruil, te verkoop of weg te gee vir ’n passaat. Hulle is verneuk deur seekarweiers, gekarnuffel deur korrupte polisie, mishandel – maar hulle gees het bly steek: brandend, entoesiasties. Party mense sê daardie gees het gemaak dat hulle hulle ónder die reënwoude ingegrawe het; daardie gees was die rede waarom die Amerikaners nooit die oorlog in Viëtnam kon wen nie.
Vân se familie was Katoliek, nege kinders altesame. Die ouma aan sy ma se kant het ook saamgekom, maar net ’n ent, het Tommy vertel. Sy wou glo bly, maar as die owerhede gehoor het haar familie het een nag skelm padgegee, sou sy met haar lewe boet. Sy’t glo gesê ja, eerder dit, maar Vân se familie het haar gedwing om te kom.
Die trauma van die daardie bootreis en die feit dat Vân nooit daaroor wou praat nie, is vererger deur ’n ander kwessie: Hy was homoseksueel, en dít kon hy nooit aan sy godsdiensvaste familie openbaar nie. Hy het gevrees dat sy enigste vlees en bloed hier op die Australiese vasteland hom sou verwerp. En daardie verwerpingsvrees moes gevoeg by word by ’n ander verwerping, meer subtiel, maar reëel.
Oor ons vriendskap was Vân ingenome. Kyk, die saak staan so, Vân het dalk Viëtnamese vriende gehad, maar hy was aangetrokke tot Aussies, die sogenaamde Kaukasiese voorkoms. In kroeë en kafees het dié klas mens egter nie maklik vat gekry aan ’n Viëtnamees nie. Nie in daardie jare nie. Ek het dit aanvanklik nie eens agtergekom nie, maar Vân was pynlik bewus van die vooroordeel. Die kyk en die wegkyk, die kil omdraai, die harde skouer. Vân, die bootkind, het nou in sy nuwe land, en ten spyte van al die geleenthede, die kans gestaan om twee maal verwerp te word: eers deur sy bloedfamilie (Tommy het gereken hulle weet klaar van sy seksuele voorkeur) en dan deur die sosiale kringe in Sydney se middestad.
*
Die mooiste manier om Sydney binne te kom, is op die water, met ’n veerboot. En die ideale roete is van die laaste kaai, Manley, tot by Circular Quay, die sentrale kaai aan die voet van die stad. Ek het onlangs weer die Manley-veerboot gevat, heeltemal op my eie, en die weer was perfek.
Manleykaai bestaan uit ’n modernistiese gebou net langs Manleystrand. Jy stap oor wye plaveisel die koel onderdak binne, waar dit wemel van mense met die minimum klere en skoeisel aan, en by ’n loket koop jy jou kaartjie stad toe teen $14 (omtrent R90). Dis die moeite werd, want die uitsigte is skouspelagtig. Van die boeg op die onderste dek af kan jy maklik om die boot beweeg om alles te sien: die rye hoë Norfolk-eilanddenne wat Manleystrand kenmerk, en feitlik onmiddellik na regs die uitgang tot die Sydney-hawe tussen twee kranskoppe.
As die groen-en-geel dubbeldekkerveerboot regoor die twee koppe kom, kry die oopsee kans om branders by daardie bek die hawe in te stoot. Ook daardie dag, sonnig en windloos, het die boot se neus ál dieper die see ingeduik. Eers oorkant die nudistestrand Obelisk het die boot weer sy gewone gly-sagte vaart herwin. Die branders wat vir daardie kort tydjie ingestoot het, was egter genoeg om my aan Vân te herinner. Jare gelede was ons twee op dieselfde roete, maar daardie dag het die son nie geskyn nie. Die lug was staalblou, die branders van die oopsee af hingste, woedend. En Vân byna dood.
Hy ís al lankal dood, Vân, en hierdie is ’n klein huldeblyk aan hom. In sy laaste jare het ek in Melbourne ’n onderneming gehad. Toe ek hoor Vân het hom op ’n treinspoor naby Redfernstasie gewerp, is ek Sydney toe om hom in die versorgingstehuis te gaan opsoek.
Sy selfmoordpoging was nie geslaagd nie. In sy rolstoel het hy my ontvang, onwillig, sy reguit hare afgegooi oor sy oë. Ek het hom omhels, onhandig; hy het hom styf gehou, nie een keer sy kop gelig nie. Net die swart gordyn van sy kuif waaragter hy sy lewe privaat kon uitspeel. Die brose, skaam kern van sy kort bestaan: kaalvoet buite, jillend, voor hulle winkel in die lou Viëtnamese moeson; kaal ook sy kindervrees op daardie helse bootreis; en toe Sydney, die brutaliteit van daardie stad wat sy hoop op ’n nuwe lewe finaal verpletter het.
Ek het nie welkom gevoel nie – Vân was te trots, hy het niks gesê nie.
’n Jaar of wat daarna het ek gehoor hy was MIV-positief. Daaraan is hy ook dood. Ek sou hom weer wou sien, want ek het gevoel ek het hom tog geken. Hy het dit geweet en hy wou hom teen daardie intieme kennis beskerm.
*
Die indringendste blik wat ek ooit op sy lewe gehad het, was op daardie veerboot tussen Manley en die hoofkaai van Sydney. Dit was die gevolg van die oopseebranders, die op- en afduik van die boot se neus, die skuimbolle wat teen die romp opgegooi is. Onwillekeurig het die onderdrukte geheue van daardie dae en nagte op die vlugtelingeboot teruggekeer.
Vân het aan my geklou. In sy mooi Engels met Vietnamees gekleurde vokale het hy stukke en brokke uitgekry. Ná drie dae op die oopsee het die bootenjin opgepak. Hulle het stuurloos gedrywe, die vars water het opgeraak, mense het begin yl. Ná twee dae se gesmeek het sy ma ’n bekertjie water afgestaan aan ’n vrou, ’n aktrise. Toe gebruik sy die helfte daarvan om haar gesig te was. Onder in die buik sing sy ouma slampamperliedjies vir Boetie, vasgedruk tussen ander op ’n walgmat van urine en braaksel en mensestank. Sy ma se hand aanhoudend voor haar mond, wit hale oor haar bruin vingers waar haar ringe gepryk het. Sy het geweet Boetie sou dit nie maak nie. Toe die lykie agtertoe oorboord gegooi is, het sy pa hulle in ’n wye omhelsing vorentoe gevat, wegkyk, wegkyk. As die plonsie gehoor word, is dit ’n kwessie van minute voordat die eerste haaie aangeswem kom.
Soggens as hulle uit gekwelde slaap wakker word, moes hulle hoor dat daar intussen nog soveel dood en oorboord gegooi is. Ouma ook. Dit kon sy ma of pa nie voorspel het nie. En Ouma wou nie eens saamkom nie. Dié tragiek het sy ma selfs meer geraak as die dood van Boetie.
Teen die tyd dat die Sydney-hawebrug en die wit suile van die Operahuis in sig kom, was Vân leeg. Drie maal opgebring en skaam, skaam oor die blootstelling in my teenwoordigheid. Hy het aanhoudend van my af weggedraai. By die hoofkaai het hy darem my arm gevat toe ons oor die loopplank na vaste aarde aanstap. Is dit die eerste keer dat alles weer so terugkom? wou ek weet. Hy het nie geantwoord nie. Tussen die skare mense op pad uit merk ek hoe bleek, geskend, sy gesig is.
*