Читать книгу Brouhaha - Eben Venter - Страница 13
Die Kerstafel
ОглавлениеLiewe Robbie,
Kom kuier asseblief vir Pa met Kersfeestyd, jong. Ek betaal vir jou kaartjie tot in Bloemfontein. Laat maar net weet hoevil dit sal kos.
Groete, Pa.
Ns. Ons bid vir reën.
Robbie verseg om te gaan, kaartjie ofte nie. Laas jaar was hy daar, in sy pa se aftreehuisie op Reddersburg net agter die Abraham Kriel-kinderhuis.
Twee van sy pa se vriendinne ook aan tafel. Die een met die oranje oorbelle is dalk ’n girlfriend; hy wou eerder nie weet nie.
En toe net ’n halwe kalkoen. Van wanneer af kan jy ’n halwe kalkoen koop? Taaierig en die stuffing droog. Niks gesê nie.
Robbie is dus ook een van ons Kersdagwesies. Kersfees word vanjaar hier by my en Liam in Australië gehou.
Dis nie ons regte name nie. Ek gebruik nie die regte naam van enige van die mense aan die Kersfeestafel nie. Dis hoe sensitief Kersfeesetes kan raak. Die hele familie skielik saamgegooi nadat hulle mekaar ’n jaar, soms jare, nie gesien het nie.
Ná die derde glas wyn begin die gal uitkom. Onwillekeurig. Dis nie asof jy van wie weet waar af gekom en vooraf besluit het aan die Kersfeestafel gaan jy uitpak nie. Dis net toe jou broer daai slag sê die ys is op en hy kyk dwingend na jou, na kleinboetie. En toe besef jy die rolle wat elkeen binne die familie vertolk het, het niks verander nie, al is almal nou grootmense. En dit sal ook nooit nie. En toe kry jy ’n bevlieging. En spyt, spýt, tot lank ná die tyd toe almal ’n bietjie gaan skuinslê het van die swaar warm kos.
Christa en Paul, haar nuwe Aussie-man, vlieg van Londen af. ’n Maand voor die tyd skryf Christa sy’t vreeslik begin uitslaan. G’n twyfel dat dit oor die weersien van die familie is nie.
Daar gaan ten minste een Groot Baklei wees; sy’t klaar haar Seredyn ingepak. Julle Van Wyks, sê sy.
Ek is onmiddellik op my perdjie toe ek haar e-pos lees: Waarvan praat sy? Watter Van Wyks? Sy’s dan self een. Maar ek skryf net terug van hoe lekker dit gaan wees. Ek skryf: Moenie kommer nie, Christa. Ek gaan sorg dat almal kalm bly.
Wat natuurlik twak is.
Ons het besluit ons gaan nie dié jaar ’n kalkoen maak nie. Liam weier botweg. Te veel van ’n beslommernis. Nieu-Seelandse groengarnale op die rooster en oondgebakte gevogeltes (spatchcocks) met rissie en koljander en lemmetjie.
So skryf ek om die vrede te bewaar – ek is immers ’n Weegskaal. As ons net koelkop deur die ete kan kom en buite onder die skadu van die skubliesroos kan afblaas, dink ek.
Maar ek weet presies waarvan Christa praat. Die Van Wyks het ’n bakleigeen in hulle.
Dis hulle petrol en hulle hóú daarvan om daarop te trap. Laas jaar toe Pa nog geleef het, was die Groot Baklei oor die ding dat hy nog steeds vir Christa Lammetjie dit en Lammetjie dat. Pa het geen idee wat haar werk in Londen van haar verg nie.
Die verantwoordelikheid, die stres. Vir hom is sy Kleinlam-kom-sit-hier-op-Pa-se-skoot. En: Jong, jy moenie dat daai wolf jou kom vang nie, fluister hy in haar oorskulp.
Christa het daardie slag begin huil van woede. En so haar pa se Lammetjie-stereotipering van haar gevoed. Omdat sy vertroud is met die sielkunde, het sy geweet wat besig was om te gebeur en dit het haar verder laat kook. En sy kon nie daaruit kom nie.
Die tafel voor ons daardie jaar: kalkoen en ’n gebraaide varkboud (daar moet crackling wees, anders is hy nie reg nie) en warm Krismispoeding wat vlammend in die brandewyn tafel toe gedra word. Is daar tiekies in? skree ek sommer. Niks het verander nie.
En almal begin toe maar lag. Lammetjie ook, uitslag dwars oor haar blaaie. Sy’t ná die tyd haar swart Pradarok laat sak sodat ek kon sien.
Met die twee skoenveter-skouerbandjies het die rok vir my meer na ’n onderrok gelyk. So ’n regte slippie. Natuurlik het ek niks gesê nie.
Jy hoef nie wys te wees om te weet hoe die masjinerie binne die familie werk nie. Dis asof elke lid van die familie geëien word asof sy of hy aan jou behoort. En in ’n mate is dit waar.
Sien jy nou ’n rokkie wat te eina lyk of ’n vreemde kol op iemand se voorarm, dan rek jy jou mond daaroor. Jy matig jou dit aan. Jy maak asof jy en die familie almal saam ’n kollektiewe moreel en ’n gesamentlike gesondheid deel.
Een se fout of vlek is almal s’n. Ook dit is twak, maar niemand steur hulle daaraan in die atmosfeer van lyflike nabyheid aan die Kerstafel nie.
Daardie jaar was daar ook droë vonkelwyn wat kwaai gewerk het met Pa se brekfismaag, en hy’t sommer losgetrek met “Wat maak oom Kallie daar”. Almal was so verbaas dat hulle hom maar laat begaan het.
Of praat ek nou van die vorige jaar toe ons op Jeffreysbaai bymekaargekom het? Kersfeeste vloei naderhand deurmekaar sodat jy uiteindelik net so ’n argetipiese gedoente onthou met die boom in die hoek, die geur van die heuningmarinade op die gebraaide varkvel as die oonddeur oopgaan, die Groot Baklei wat wag om te gebeur.
Ek onthou net die jaar in Jeffreys was die kalkoen iets besonders. Liam het gesê: Oukei, ek sal die stuffing maak. Net om weg te kom van die Van Wyks; ek ken hom mos.
Toe maak hy dit volgens die resep van een van Australië se beste sjefs, haar klassieke salievulsel:
125 g vars broodkrummels
60 g gerasperde harde vet (“suet”) of gesmelte botter
skil van 1 suurlemoen, fyngerasper
4 vars salieblare, fyngekap
½ knoffelhuisie, fyngekap
1 plaaseier
2 eetlepels droë sjerrie
sout en peper na smaak
Al die bestanddele word deeglik saamgemeng en in die holte van die kalkoen ingestop. Maklik.
Liam, later al lekker getrek, het aangedring dat alle eer vir die kalkoen aan sy vulsel gegee word. Ek het gesien hoe vererg ouma Kraletjies haar en kyk oor haar skouer agtertoe na die koekoekhorlosie wat daar hang, net om iets te doen.
Gelowige mens, sy glo in die ding dat jy jou humeur moet beteuel.
Ouma Kraletjies, sê almal vir haar, ek inkluis, hoewel dit my ma is. Sy vlieg ook vanjaar, dis waarskynlik haar laaste slag in Australië.
Nee, daar moet ’n kalkoen wees. En ’n ham. Jy sien, ouma Kraletjies se Kersfees sal altyd die Kersfeeste op Alartsfontein wees, die plaas in die Colesberg-distrik waar sy en my pa gebly het tot hulle te oud geword het vir die winters daar.
En vir die gevaar van ’n moontlike aanval. Nie ’n bang haar op my kop nie, sê ouma Kraletjies nou nog. Haar kalkoen is al van voor die winter af op geel mielies gevoer: Magtig, maar hy’s moddervet vijaar.
Ek hoor my pa nou nog as hy met die geslypte vleismes begin kerwe. Ouma Kraletjies hoor hom ook in haar gedagtes. Sy sal huil dié jaar, so ver weg en die eerste keer sonder haar wederhelf.
Daardie tyd op Alartsfontein, apartheidsjare, was Kersetes eintlik ’n verligting. Die Groot Baklei kon persoonlik raak, maar dit was nooit uitsluitlik oor dié of daardie een nie. Politiek was die koue, harde vlam. Dis waaroor alles toe gegaan het.
Uit Suid-Afrika het ouma Kraletjies vir Christa met haar allergieë en uitslanery ’n bottel velroom gebring wat met rooibostee gemaak word. Ek draai die bottel om en om: Clicks. Ek kan jou nou al sê, Christa is te Londens vir so ’n allemansnaam. Ek swyg.
Onder familie word baie menings meer dikwels as nie onuitgespreek gelaat. Ek wil mos nie vir ouma Kraletjies met die grootste hart in die wêreld seermaak nie. As Christa maar net in die hitte van die Kerstyd verby die naam na ouma Kraletjies se suiwer bedoeling kan kyk.
En dan’s daar Cindy, my suster, wat van Pennsilvanië af gekom en al hoeveel keer vertel het hoe sy twéé kaartjies moes koop. Net ingeval sneeu vir die Woensdag voorspel is – dan sou sy al die Maandag haar verbindingsvlug na Los Angeles haal.
Met die twééde kaartjie. Sy’t seker maar gedink ouma Kraletjies sal haar ’n bietjie haak met die geld, maar Ouma, afgehaal oor ons vreemde goeters soos garnale op ons Kersfees-spyskaart het, het net haar mond gepruim. Nou toe, wat het julle Aussies vir poeding? Dis al wat sy wou weet.
Toe gaan haal Liam sy jellie uit die yskas. Gestol in ’n outydse Victoriaanse vorm met lemoensap en rooswater en vonkelwyn, en voorgesit met room en vars kersies en mango en so aan. So ’n lieflike drillende ding wat ons almal aangegryp het.
Monde ’n slag gesnoer ja, maar iets kinderliks, iets vroliks en onbevange het ook in ons losgekom. En net daar spring Robbie op, heeltemal teen sy geaardheid, en skree ’n heildronk op daardie eensame pa van hom in sy huisie op Reddersburg.
*