Читать книгу Brouhaha - Eben Venter - Страница 6

Die ander Auschwitz

Оглавление

Min mense weet dat Auschwitz ook ’n dorp is, een met skoolkinders en winkels en gewone mense wat in die sitkamer voor die TV sit en ’n ordentlike lewe probeer lei. Teen 1940 het die Duitsers twee konsentrasiekampe, Auschwitz en Birkenau, hier in die suidweste van Pole begin oprig. Die dorpsmense het nie daarvoor gevra nie, maar dit was reeds besette gebied en die Duitsers kon maak wat hulle wil. Die breuk tussen die dorp en die konsentrasiekampe is tot vandag toe daar.

Eintlik moet die dorp op sy Poolse naam genoem word, naamlik Oświęcim, maar byna sonder uitsondering hoor jy Auschwitz. Oor die jare het die naam Auschwitz ook sinoniem geword met die Volksmoord van die Jode en vir een van die grootste vergrype teen die mensdom.

Stel jou nou voor om op ’n dorp met so ’n geskiedenis groot te word: Auschwitz is waar jy skoolgegaan het, dis waar jou ouers en jou oupa en ouma bly, by daardie winkel het jy altyd lewerwors en rogbrood gaan koop, hierso blikkies bier. Die breuk tussen Oświęcim en Auschwitz-Birkenau lê vas; vir die mense van Oświęcim beteken dit volslae ontmagtiging.

Paweł Zajas is ’n Poolse vriend van my. Hy het in Oświęcim grootgeword en sy ouers woon tot vandag toe daar. Sy oupa-hulle ook – hulle bly in een van daardie woonstelblokke uit die kommunistiese era.

Paweł lag maklik oor dié soort goed. Hy gaan wys vir my sy skool, ’n gebou waarop enige leerling trots kan wees. “Net jammer dis in Auschwitz.” In my geselskap huiwer hy nie om sy dorp so te noem nie. Hy beskik oor al drie die gawes waarmee die Pole twee wêreldoorloë, besettings en die partisie oorleef het: gesonde sinisme, ’n oor vir ironie en ’n goed ontwikkelde aptyt vir Poolse bier.

Deesdae is Paweł medeprofessor aan die Instituut vir Filologie en Engels aan die Adam Mickiewicz-universiteit in Pozna´n en gaan kuier nog gereeld in Auschwitz.

Vandag is Auschwitz-Birkenau ’n museum, in der waarheid museums van heilig verklaarde begraafplase. “Wil jy na die konsentrasiekampe gaan kyk?” vra hy my. Ek weet nie … ons het immers ons eie. “Nee, jy moet,” sê Paweł, “dis deel van jou lewensopvoeding.”

Paweł het reeds ons dag beplan. Sy pa, Wieslaw, is ’n taxibestuurder en hy gaan ons Auschwitz toe vat. (Hoewel ons reeds in Auschwitz is – dís hoe problematies die gebruik van die naam is: Ons praat hier van die konsentrasiekamp, maar dis ook die Zajas-familie se tuisdorp.)

Wieslaw bied vriendelik aan om ons ná twee uur weer by die hekke te kom oplaai en dan Birkenau toe vat, die tweede en veel groter konsentrasiekamp naby Auschwitz. Daarna gaan ons by die Zajasse se huis iets eet en dan gaan ons koek en vodka geniet by sy Oupa Mieczyslaw-hulle. Sy ouma gaan spesiaal bak.

In sy taxi gesels ek en Wieslaw in elementêre Duits wat hy tydens die oorlog en ek by die PU vir CHO aangeleer het. As ons nie regkom nie, tolk Paweł. Werkloosheid en gepaardgaande armoede in Oświęcim is aan die orde van die dag. Die implikasies om Auschwitz-Birkenau binne sy munisipale grense te hê is byna ondraaglik. Veral Paweł is uitgesproke hieroor. Oor die jare heen was daar min of geen ontwikkeling hier nie. Groot toerbusse ry in en weer uit, maar oornag nooit in Oświęcim self nie. Die ekonomie het lankal gaan staan.

Nadat ons die toegangsgeld betaal het, stap ons onder die ingangsboog met sy skreiende leuse van arbeit macht frei (“arbeid maak vry”) die konsentrasiekamp van Auschwitz binne. Die netheid van die paaie tussen die eweneens netjiese rooibaksteenblokke, die ordelikheid van die kamp, sou elders rustigheid skep, maar hier is dit ’n voorbode. Regs van ons is messelaars besig om een van die blokke te restoureer.

“In die geskiedenis sal dit so staan: Die Duitsers het die konsentrasiekampe gebou, die Pole het dit in stand gehou,” lag Paweł. Ironie is die gepaste houding.

Dieper die kamp in, die son so ’n skraletjie. Ten spyte van heelwat ander toeriste bly die plek swaar en leweloos, en uiters boosaardig. Ons stap van die blokke binne – daar is altesame sewe en vyftig. Elke blok verteenwoordig die tereggesteldes van ’n bepaalde land, byvoorbeeld Blok 14 – Rusland, Blok 15 – Pole, Blok 20 – Frankryk en België, en so aan. Blok 11 is bekend as die doodsblok. Duisende gevangenes, hoofsaaklik Pole, is hier aangehou, ter dood veroordeel en teen die teregstellingsmuur geskiet. In die kelder van blok 11 is gevangenes ook vir die eerste keer in September 1941 met Sikloon B-gas uitgewis. Die Duitsers het die gas laat vervaardig in wat voorheen ’n chemiese fabriek in Oświęcim was. Later het die einste fabriek weer verf vervaardig. Paweł se moeder het toe ’n ruk lank daar gewerk. Daar is ’n historiese vervlegtheid tussen die dorp en sy mense, en die konsentrasiekampe, iets waaroor hulle nooit self kon besluit nie.

In sekere blokke is vertoonkaste van glas so groot soos slaapkamers. Daar is ’n glaskas vol gebruikte Sikloon B-gas-houers – wat nog min of meer kan gaan. Dis die glaskaste met die persoonlike dinge wat jou ruk: Een is net vol tasse, elk met die naam van die eienaar daarop. Ines Meyer van Keulen of Jette Messing van Steindler. Een van die glaskaste is net vol skoene en brille. In ’n normale museum word ’n skoen ten toon gestel as voorbeeld van ’n vroeëre styl, ’n bril oor sy antieke waarde. Hierdie persoonlike besittings is van mense se voete en kop afgeruk. Die geweld van die handeling skuil in daardie leë skoene en nuttelose brille, skuil oral waar ons in die kamp kom. Dis waarom dit heeltyd so onheilig voel.

Die ontstellendste is egter die glaskas – onthou, dis so groot soos ’n kamer – propvol hare. Lokke en vlegsels en kuiwe, alles afgeskeer tot op die kopvel. Paweł vertel dat dit maar net van die hare moet wees wat oorgebly het; die meeste afgeskeerde hare is deur die Duitsers gebruik om matrasse op te stop. ’n Vrou in swart klere kom plaas ’n ruiker rose voor dié glaskas. Ek durf nie na die uitdrukking op haar gesig kyk nie. Auschwitz is en kan nooit net ’n museum wees nie.

Teen ’n muur is ’n bord met al die kentekens wat die verskillende soorte gevangenes moes dra: die geel ster vir die Jode, die pienk driehoek vir homoseksuele, swart vir die Roma (sigeuners) en “asosiales” soos geestelik of fisiek gestremdes, rooi vir kommuniste, groen vir algemene misdadigers soos bedelaars. Hoewel negentig persent van die slagoffers Jode was, is meer as 150000 Pole en 23000 Roma net na Birkenau gedeporteer, en die meeste van hulle is doodgemaak.

Blok 19, 20 en 21 is die “hospitaal” waar mediese eksperimente op misdadigers uitgevoer en siekes uitgewis is deur ’n inspuiting van fenol reg in die hart. “Dis die hel dié,” sê ek vir Paweł. “Nee,” sê hy, “wag tot jy in Birkenau kom.”

Dis oorweldigend. Dit voel asof jou laaste geloof in die mens se menslikheid besig is om te sterf. Ons stap onder daardie berugte boog uit. Dis moeilik om die besoek as ’n voorreg te beskou.

Buite wag Wieslaw al in sy taxi. Hy lyk vir my ernstig, maar nie neergeslane nie. Om mense Auschwitz toe en terug te ry is ’n eerbare werk.

Ek vra nie of hy nou werk verloor deur ons so aan te ry nie. Ek is maar te bly ek kon in Auschwitz ook ’n man soos Wieslaw Zajas ontmoet, al was dit net vir ’n rukkie. In sy gesellige, rokerige taxi wat soos ’n sitkamertjie ingerig is. Vir mense.

*

Naby Auschwitz lê Birkenau, wat op 171 hektaar byna soos ’n dorp is.

Die veetrokke met die transports, die nuwe gevangenes, het Birkenau op die spoorlyn binnegekom. Onderdeur die wagtoring wat deur SS-wagte beman is en gou bekend gestaan het as die Doodshek: As jy eers binne is, kom jy nie weer uit nie.

Aan weerskante van die spoor staan rye barakke. As jy verby die eerste ry kyk, staan daar ’n volgende. En dan nog een en nog een, tot waar jy nie meer kan sien nie. Omdat die barakke van hout gemaak is, het die meeste al ineengestort, met net die baksteenskoorsteen wat nog bly staan. Enkele van die houtbarakke word in stand gehou sodat jy kan sien hoe die mense geslaap het.

Dis te sê as hulle dit terug tot by die barakke gemaak het. Want reg aan die einde van die spoor is “Kanada”, ’n magasyn waarheen gevangenes by aankoms geneem en van hulle klere, juwele en ander besittings gestroop is. Baie gevangenes, veral Jode, is onmiddellik van die perron af gaskamers toe gevat. Hierdie mense is nooit eens geregistreer nie.

Ons loop een van die barakke binne. Dit laat my dink aan ’n kraal op ’n vendusie waar vee ingejaag word. ’n Ligte reuk van ontsmettingsmiddel hang in die lug; die Poolse museumbestuur hou die plek netjies. Die stilte word gelaai deur jou eie gedagtes oor hoe dit moet gewees het om hier aan te kom, te bly en te slaap. En tot wanneer. Jy’t nooit geweet nie. Teen daardie tyd was jou kop kaalgeskeer, jou lyf gestort en ontluis en jy’t een van daardie blou-en-wit-gestreepte uniforms gekry.

Die gevangenes wat wel aan die lewe gehou is, moes die reusagtige kamp aan die gang hou. Daar was bouers en kokke en skoonmakers. Gevangenes moes die veetrokke met die nuwe aankomelinge skoonmaak. Onthou, baie babas, bejaardes en van die swakkeres het daardie lang reis in die ingepropte veetrokke sonder vars lug en water nie gemaak nie.

Paweł vertel my van die Poolse skrywer Tadeusz Borowski wat in Auschwitz én Birkenau aangehou is en dit oorleef het. Volgens Paweł is sy boek, This Way for the Gas, Ladies and Gentlemen, die rouste verslag oor die lewe in die konsentrasiekampe. Borowski, met die nommer 119198 op sy arm getatoeëer, was ook een van die kommando van werkers in die kampe. Toe hy egter uitkom, het hy, om dit eenvoudig te stel, geworstel met die ondraaglike konflik dat hy sowel medepligtige as slagoffer was. En boonop die skrywer van sy diaboliese boek. In 1951 het Tadeusz Borowski selfmoord gepleeg.

We climb inside. In the corners amid human excrement and abandoned wrist-watches lie squashed, trampled infants, naked little monsters with enormous heads and bloated bellies. We carry them out like chickens, holding several in each hand.

Pole, Hongare, sigeuners, Grieke, Franse. Die mense moes almal help met die administrasie van Birkenau. Maar kyk nou op ’n snerpende wintersdag heen oor daardie sneeu-bedekte pad wat tussen die barakke loop, na ’n kommando werkers wat aangeja word deur ’n Kapo, ’n medegevangene, gewoonlik ’n Duitse misdadiger wat verhef is tot ’n soort onderoffisier, en jy herken lank nie meer jou ma of jou kind of jou vriend, enigiemand, manlik of vroulik, nie. Kaal koppe in streeppajamas, almal gestroop tot ’n nommer. Die verontmensliking was volkome.

Ek en Paweł stap aan deur die barak. Aan al twee kante van die gangetjie is drie verdiepings houtbeddens onder ’n kaal sinkdak. Aan die einde van die gangetjie staan ’n antieke keramiekverwarmer, die enigste mooi ding wat ek in Birkenau gesien het. Daar is slegs ’n paar ander besoekers in die barak; die meeste sien nie kans vir meer as die afgryse van Auschwitz nie. En steeds die gelaaide stilte. Dis byna onmoontlik om jou nié in te leef nie: ongewaste lywe bo en onder jou houtbed; die Poolse winter wat doodskoue dra; die angs vir wanneer die SS-wagte jou uitjaag na die rooktorings waar die reuk van brandende vlees in die lug hang.

“In Oświęcim kon die mense dit ruik. Hulle het nooit geweet wat presies daar aangaan nie.” Ek het niks hierop te sê nie. Ek kyk op en lees wat teen die muur van die barak geskrywe staan: Eine Laus dein Tod. Een luis beteken jou dood.

Ons stap uit en kom weer op die pad tussen die rye barakke. Ek sê vir Paweł dis eers genoeg vir my, ons kan maar terugdraai. Maar weer sê hy nee, ek moet deur die hele kamp stap; dis my lewensopvoeding. Tot daar ver aan die einde, tot by “Kanada” en die ruïnes van die gaskamers, die “sauna”, en die dam waar die water volgens hom nou nog die grys, stinkende doodsheid van verbrande lyke hou.

By “Kanada” word goud en silwer ten toon gestel saam met edelgesteentes en horlosies. En teen die mure hang foto’s van ’n ganse familie waarvan nie ’n enkele lid die konsentrasiekamp oorleef het nie: grootouers, ouers, kinders, tantes en ooms en naaste familielede verder langs die stamboom af.

Maar wat my veral bybly, is die feit dat jy tussen die uitstallings op loopbrûe van glas loop, verhewe bo die oorspronklike vloer. Terwyl jy dus kyk na die ontstellende foto’s, vrees jy heeltyd dat die glasvloer onder jou gaan breek.

Loop op glas: Jy is onseker van jou trap, dit voel of jy gaan inval en nooit weer daar uitkom nie. Die sielkunde van die Birkenau-gevangenes word só gedupliseer. My senuwees was naderhand op.

Ek móés daar uitkom, maar die uitgang is nie ’n vinnige besigheid nie. Al langs die lang treinspoor, tussen die rye en rye barakke, moet jy nou terugloop tot by die Doodshek reg aan die anderkant van die kamp. En die afgryse die hele tyd langs jou, op die treinspoor: The morbid procession steams on and on – trucks growl like mad dogs. I shut my eyes tight, but I still see corpses dragged from the train, trampled infants, cripples piled on top of the dead, wave after wave … freight cars roll in, the heaps of suitcases and bundles grow, people climb out, look at the sun, take a few breaths, beg for water, get into the trucks, drive away. And again freight cars roll in, again people …

*

Ná ons besoek gaan geniet ons koek en koffie en vodka by Paweł se oupa en ouma. Sy ouma het spesiaal gebak: sernik (kaaskoek) en makowiec (papawersaad-rolkoek) en jablecznik (Poolse appelkoek). Ons praat en lag, maar kan nie help om te probeer sin maak van die dag se belewenis nie. Het die mensdom die lesse geleer van die slagting?

Nog ’n rondte Zubrowka-vodka vir almal. Onthou, as die bottel eers oopgemaak is, mag jy die doppie nie terugskroef voordat hy dolleeg is nie. Verdere besinning. Op 27 Januarie 2005, by die herdenking van die bevryding van Auschwitz-Birkenau, het die destydse Israeliese president, Moshe Katsav, na Auschwitz verwys as die grootste begraafplaas van die Joodse mensdom. Uitdruklik waarsku hy teen die herlewing van antisemitisme en beklemtoon dat die huidige geslag wêreldleiers moet seker maak dat die lesse van Auschwitz nooit vergeet word nie.

Tog was daar weer sulke vergrype: In Kambodja het Pol Pot drie miljoen mense vermoor. En op ons eie vasteland was daar die slagting in Rwanda. En wat is Gasa en die Wesoewer met sy apartsheidsmuur anders as verontmenslikte ghetto’s?

Ons klink ons glasies: ironie, sinisme en vodka, dié drie bly oor.

*



Brouhaha

Подняться наверх