Читать книгу Liefde deur ’n lens - Elsa Winckler - Страница 3

Proloog

Оглавление

“Ek race jou!” skree Jannes. “Tot by die hoek!”

Nog voordat Nicola op haar fiets kan klim, trek Jannes al ’n hele ent in die pad af.

“Jy kroek!” skree sy terug terwyl sy op haar fiets spring en begin trap. Die fiets se bande sing en die kamera om haar nek swaai heen en weer.

Jannes is amper by die hoek van die straat, maar sy kan hom dalk nog inhaal. “Ek gaan jou wen!” Sy trap vinniger.

Hy kyk laggend om.

Haar bene werk nog harder, die afstand krimp. Hulle is amper by die hoek waar Jannes sal stop.

“Ek wen!” Hy kyk weer oor sy skouer, maar stop nie.

’n Motor kom vinnig om die hoek. Remme. Glas.

Iemand gil.

Nicola stop, staan met haar bene weerskante van haar fiets. Haar asem jaag. Jannes lê op die teer. Hy beweeg nie. Daar is bloed. Onder sy kop. Mense kom aangehardloop uit hulle huise.

Iemand huil verskriklik. Nicola se gesig is nat. Dis háár trane. Dis sy wat so huil. Sy kry so verskriklik seer, die motor moes haar seker ook raak gery het. Sy druk haar hand teen haar lyf en kyk daarna. Geen bloed.

Hoekom pyn dit dan so?

Sy gooi haar fiets eenkant toe, en hardloop na waar Jannes lê. Mense staan in ’n kring om hom. Snikkend beur sy tussen hulle bene deur tot by hom. Hy lê nog steeds stil. Hoekom is hy so stil?

Waar haar kamera aan haar lyf raak, pyn dit asof iets daar uitgeruk is. Sy voel aan haar wang. Haar trane het opgedroog. Haar hande vou om haar kamera. As sy dit styf vashou, kry haar vingers seer, maar dan is die pyn hier binne nie so erg nie.

“Nicola!” Haar ma se stem.

Die volgende oomblik lig haar pa haar op en vou sy arms om haar.

“Sy’s oukei vrou, sy’s oukei.”

“Kyk vir Jannes,” snik haar ma. “Hy’s dood.”

Haar ma slaan haar arms om Nicola en haar pa, en hulle staan lank so. Om hulle praat en huil mense, maar Nicola druk haar kop styf teen haar pa se bors.

Sy sal nooit weer kan huil nie, sy het al die trane wat mens kry, uitgehuil. Opgehuil.

Buitendien pas haar kamera mooi oor die gat in haar maag. Sy moet net seker maak sy het dit altyd by haar.

Liefde deur ’n lens

Подняться наверх