Читать книгу Liefde deur ’n lens - Elsa Winckler - Страница 4

1

Оглавление

O, aarde, hoe gaan sy dít nou regkry? Nicola het ’n skinkbord met aartappelslaai en ’n gerookte varkboud in haar hande. Haar handsak is oor haar skouer en haar kamera om haar nek.

Die Kerspresente is nog in die motor, sy het nie genoeg hande daarvoor ook nog gehad nie. Die deurklokkie is net te hoog om by te kom sonder die gebruik van haar arms. Sy moet óf die skinkbord neersit, óf probeer om die voordeur met haar elmboog oop te maak.

Dalk eerder die elmboog, haar rompie is beslis te kort vir ’n bukkery.

Die bloedrooi nousluitende kantrompie wat sy in Buenos Aires gekoop het, moet eintlik net gedra word wanneer mens heeltyd staan. Om daarin te probeer sit of buk, skep ’n probleem. Dis jammer dat sy dit vandag eers agtergekom het, die eerste keer wat sy dit aantrek. Dit was nogal ’n gesukkel om in die motor te klim en toe sy eindelik sien hoe hoog die rompie optrek wanneer sy sit, was daar nie tyd om iets anders aan te trek nie. Buitendien moes sy, volgens die tradisie wat haar ma jare gelede begin het, iets roois na die gesin se jaarlikse Kersete aantrek, en dit was al rooi kledingstuk wat sy in haar baie deurmekaar tas kon kry.

Hier by die huis van haar broer Chris en sy vrou, Amelie, word die etenstafel darem gewoonlik met ’n lang tafeldoek gedek, so hopelik sal dit haar fatsoenlik hou.

Nicola draai, haar elmboog beweeg na die voordeur toe … Ag, vrek, dit gaan nie werk nie. Die deur se handvatsel is ’n knop, nie een wat sy kan afdruk nie. Buk sal sy moet buk, daar is geen ander manier om die deur oop te kry nie.

Laat sy net die skinkbord uit die pad kry voordat sy boonop op die slaai en varkboud trap. Voor haar is nie genoeg plek nie, en sy draai haar rug op die deur en leun vorentoe om die skinkbord op die grond te sit.

Terselfdertyd vlieg die voordeur agter haar oop.

“Dankie, tog,” lag sy sonder om om te kyk. “Ek het gewonder hoe ek die deur gaan oopkry!” Sy kom orent, draai om en blaas, swoesj, omtrent die laaste molekule van haar asem uit.

“Hallo, Nicola,” sê Francois.

Francois Olivier, haar nuwe skoonsus se broer, staan in die deur. Sy het onthou hy is aantreklik, maar sjoe, hy is langer, groter as wat sy onthou, sy hare blonder. En was sy oë nog altyd so helder groen?

Om die een of ander rede is sy kake styf opmekaar geklem en beweeg sy mond skaars wanneer hy praat.

“Francois, haai,” groet Nicola vreemd hees en wil verby hom stap, maar hy steek sy hande uit om die skinkbord by haar te vat.

Sy vingers raak aan hare. Hulle al twee vries, groen oë vang hare vas.

“Jy was lank weg,” sê hy.

Sy lek oor haar skielik droë lippe. “Amper ’n jaar.”

“Elf maande en drie weke.”

Uit die veld geslaan, staar sy na hom. “Hoe weet jy?”

“Ek weet.”

En is sy kop nie nou nader as netnou nie? Sowaar, die man gaan haar soen. Asof gehipnotiseerd hou sy sy mond dop wat al hoe nader kom. Maar oukei, hulle is eintlik familie, of hoe?

Sy lippe vang hare vas. Wow. Dit is nou nie asof sy mans elke dag soen nie, maar dit is beslis nie ’n soen wat sê ons is mos familie en dis Kersfees nie. Ek wil jóú graag soen, is wat hierdie soen sê.

Haar oë val toe. Sy sal later daaroor skaam kry; op die oomblik geniet sy die sensasie van warm lippe op hare, die growwigheid van ’n mansgesig teen haar sagter een en die onmiskenbare geur van bergamot, kardemom en sederhout wat om haar hang.

Hy lig sy kop op: “Geseënde Kersfees en welkom terug.”

Sy probeer hom nog bedank, toe stap hy al, skinkbord in sy hande, in die gang af.

Vir ’n paar sekondes staar sy hom agterna. Wat het so pas hier gebeur? Sy probeer haar met haar hand koel waai. Haar hele lyf gloei.

“Is sy hier?” hoor sy Amelie uitroep en die volgende oomblik verskyn haar suster, René, en beide haar skoonsusters, Amelie en Natalie, aan die bokant van die gang.

“Sussa!” René storm met oop arms op haar af. “Dis omtrent ’n groot Krismisboks om jou terug te hê.”

Amelie en Natalie is ’n kortkop agter haar.

“Jy’s al ’n dag lank hier, en ons sien jou nou eers!” raas Amelie voordat sy ook vir haar ’n drukkie gee. “Ek was so bly om te hoor jy sal betyds vir Kersfees hier wees.”

Natalie gee haar ’n klapsoen. “Hallo en geseënde Kersfees!”

“Ma en Pa kom eerste, ek het gister net by hulle gekuier,” lag Nicola en verkyk haar aan die twee vroue wat haar broers se harte gesteel het.

“Ons arme broers het darem nie ’n kans gehad met dié twee mooi girls nie,” sê sy vir René en beduie na Amelie en Natalie.

“Ja, foeitog, hulle voete is behoorlik onder hulle uitgeslaan.” René haak by haar in. “En ons is so bly, want nou het ons nog twee sussies bygekry.”

“Kom, kom, ons kan nie wag om te hoor wat jy die afgelope jaar aangevang het nie.” Amelie druk hulle voor haar uit. “Almal is al hier, ons het net vir jou gewag voor ons begin eet.”

“Francois het gelukkig jou motor hoor stilhou, anders het jy nou nog met daardie skinkbord gestoei. Hoe hy dit reggekry het om iets te hoor bokant die geroesemoes van stemme en die kinders se lawaai wil ek graag weet,” sê Natalie.

“My hande was so vol dat ek op pad was om die skinkbord op die grond neer te sit, toe Francois die deur oopmaak.”

Amelie se oë vonkel toe hulle op die stoep uitstap. Haar oë sak af na Nicola se kort rompie. “Goeie ding jy’t nie voor die man gebuk nie, anders het hy sweerlik sy tong vasgetrap. Baie sexy nommertjie wat jy aanhet.”

In die skielike stilte op die stoep klink Amelie se woorde hard en duidelik op.

’n Blos dreig om teen Nicola se nek op te klim en sy kyk verbouereerd op, vas in Francois se oë. Sy kan in die grond wegsak. Vinnig draai sy haar rug op hom. Hoe sy moes gelyk het, wil sy liewer nie weet nie – seker soos ’n eend wat onder die water duik, boude in die lug. G’n wonder die man het op sy tande gekners nie. O, aarde, sy skaam haar morsdood.

“Hallo, almal, geseënde Kersfees,” groet sy en buk af om haar pa en ma te soen, bly dat haar hare oor haar gesig val.

Haar broers kom vinnig nader.

“Hallo, Sus, jy was heeltemal te lank weg.” Neethling gee haar ’n stywe drukkie.

“Bly ons is weer voltallig.” Chris soen haar op die voorkop.

Terwyl sy gesels en drukkies uitdeel, bly sy oorbewus van die blonde man wat eenkant staan.

Dit is nie asof dit die eerste keer is wat sy Francois raaksien nie. Sy het wel nie baie met hom te doen gehad voor sy oorsee vertrek het nie. Hy het pas as geoktrooieerde rekenmeester in die Paarl begin werk toe sy weg is.

Die langste wat sy nog met hom gesels het, was op Neethling en Natalie se troue en dit was om hallo te sê. Tydens die een of twee Sondagkuiers by Amelie en Chris voor sy weg is, was hy gewoonlik by die mans en het hulle nooit regtig gesels nie.

Chris slaan sy arm om haar skouers. “Jy het so baie gemis in die jaar wat jy weg was. Kyk hoe groot is ons kinders al.” Hy beduie na waar die spruite buite op die gras speel.

Nicola lag en sit haar handsak op ’n stoel neer sodat sy albei haar hande vir haar kamera kan gebruik. Kinders is vir haar ’n bron van inspirasie. Sy kan nie wag om deur die foto’s te gaan wat sy die afgelope jaar geneem het nie. Van al die gesigte wat sy afgeneem het, is dit die kinders s’n wat sy onthou, veral die heel kleintjies wat nog onbevange lag voor hulle hartseer leer ken.

Maar dis ook die eindelose hartseer juis op kindergesiggies geëts wat haar keer op keer so ontstel het – iets wat sy nooit sonder haar kamera sou oorleef het nie.

Neethling tel sy dogtertjie op en bring haar nader.

Nicola glimlag breed. Sy het Mila nog net op foto’s gesien.

“Dis jou tannie Nicola,” sê Neethling. “Sy het oorsee foto’s geneem toe jy gebore is en het nog nie kans gehad om jou vas te hou nie.”

Die dogtertjie het ’n bloedrooi tutu aan. “Ons lyk amper eenders,” lag Nicola en steek haar hande versigtig uit na Mila.

Sy word lank en ernstig beskou voordat die dogtertjie haar armpies uitsteek.

Nicola sak terug op haar bene en lig die kind hoog in die lug. “Jy lyk soos jou mooi mamma, dankie tog,” terg sy, en die kleintjie kraai soos sy lag.

Liefde deur ’n lens

Подняться наверх