Читать книгу Liefde deur ’n lens - Elsa Winckler - Страница 6

3

Оглавление

Francois tokkel met sy vingers teen die stuurwiel. Op sy iPod sing Bob Marley: “Is this love, is this love, is this love?”

Hy druk die knoppie gou sodat hy na die volgende liedjie kan spring … Wie de hel praat nou vandag van liefde? Hy is heeltemal te vroeg vir die Oujaarsaandvieringe by die nuwe huis van sy suster, Natalie, en haar man, Neethling. Hy kan ’n rukkie sit en musiek luister, maar dis asof hy vir die eerste keer besef dat Marley nogal baie oor die liefde sing.

Hy het vrae. Baie vrae. Die een waaroor hy die meeste wonder, kan niemand anders egter vir hom beantwoord nie. Hoekom kan hy nie ophou aan Nicola dink nie? Dáárdie vraag. Dit is die een wat hom die afgelope paar dae sedert Kersdag besig gehou het. Hy was elke dag op kantoor, die enigste siel wat so toegewyd is. Hy het elke dag probeer werk en by tye kon hy konsentreer, maar as hy hom weer kom kry, sit en tuur hy voor hom uit en is sy gedagtes weer by Nicola en haar bleddie rooi rompie.

En haar reaksie toe René haar uitvra oor die vlugtelinge wat onlangs na Europa gestroom het? Hy het reg langs haar gesit, sy oë was op haar. Sy het oënskynlik nie gereageer nie. Maar vir ’n breukdeel van ’n sekonde, so vinnig dat niemand anders dit sou kon gesien het nie, het haar gesig, haar asemhaling, haar hele lyf verander.

Maar sy het nie gehuil nie. René, wat net foto’s gesien het van die gebeure, het hartseer geword toe sy daaroor praat. Sy het Nicola getroos, maar Nicola was nie hartseer nie. Nie ooglopend nie. Tog het sy dit diep gevoel; hy weet omdat hy gesien het hoe sy reageer. Hoekom sou sy haar emosies so inhou? Sy ken hom nie goed nie, maar al die ander wat om die tafel was, is familie, mense by wie sy tog sekerlik haarself kan wees.

Die woorde van die lirieke dring weer tot hom deur. “I want to love you every day and every night.” En hoe het sy geweet hy hou van Bob Marley?

Iemand klop teen sy venster. Natalie staan hande op die heupe langs sy motor. Hy klim uit.

“En as jy so sit en droom? Ek waai en roep, maar jy is op ’n heel ander plek.” Sy gooi haar arms om sy nek. “Kom in, ons is baie dankbaar jy is vroeg. Mila is onmoontlik, en ek en Neethling kry net nie klaar nie.”

Hy druk Natalie styf teen hom vas en vir ’n oomblik lê sy haar kop teen sy bors.

“Ek is so bly jy het deur al die jare nooit na my ophou soek nie, Ouboet,” prewel sy.

“Ek ook.” Hy druk ’n soen op haar kop. “Ek het amper moed opgegee, maar het nooit regtig van my klein sussie vergeet nie. En toe ek hoor van die kinderhuis waar jy was, het ek geweet daar is ’n goeie kans om jou op te spoor. En hier is ons nou, al ’n jaar lank deel van mekaar se lewens.”

Sy gryp sy hand, haar oë blink: “Dit was die wonderlikste jaar in my lewe. Nie net het ek ’n broer gekry nie, maar ook ’n man en ’n baba.”

Hy sit sy arm om haar skouers en beduie na die nuwe huis. “En ’n nuwe huis. Ek neem aan julle gaan jou skakelhuis verkoop?”

“Nicola gaan dit oorneem. Ek en Amelie is so bly. Ons was al twee so gelukkig in die plek en ons is opgewonde omdat ‘ons huis’ in die familie bly.”

“Nicola? Hoekom het sy ’n blyplek gesoek? Sy het mos ’n woonstel, dan nie?”

“Ja, maar sy het dit verkoop. Sy het nog altyd van die karakter van die skakelhuis gehou, en toe ons sê ons dink daaraan om ’n groter huis te koop, het sy dadelik laat weet sy wil die plek asseblief hê. Sy het haar woonstel die afgelope jaar mos gemeubileerd uitverhuur, maar later in die mark geplaas. Dis al ’n ruk gelede verkoop. Dinge werk nou mooi uit. Die nuwe eienaars van haar woonstel wil einde Januarie intrek. Dit gee ons kans om die skakelhuis te laat uitverf voordat sy daar intrek.” Sy lag. “Ons hoop sy is net so gelukkig daar soos wat ons was en dat sy iemand sal kry wat haar liefhet en verstaan.”

Terwyl sy praat, haal Francois die wyn en sjokolade wat hy saamgebring het uit. Hy laat die bottel amper val. Iemand sal kry wat haar liefhet?

Hy gee die sjokolade vir Natalie. “Soek sy so iemand?” glip dit uit voordat hy kan keer.

“Mmm, my favourite, dankie! Nicola sê gewoonlik sy het nie tyd vir ’n verhouding nie, maar ek gun haar ’n goeie man. Sy …”

“Ek het hulp nodig,” roep ’n paniekerige Neethling van die voordeur af. “Mila het jou bottel handeroom in die hande gekry. Sy … dis … kom help, asseblief.”

“Ag tog,” kreun Natalie. “Sy’s al gebad!” Sy en Neethling verdwyn in die huis.

Francois stap stadig soontoe. Tot onlangs sou hy heel waarskynlik die hasepad gekies het as iemand praat van dogtertjies wat handeroom oor hulleself uitgooi. Maar die afgelope jaar het hy gewoond geraak aan die lyfies van die kinders in die uitgebreide familie waarvan hy deel geword het. En die gedagte aan babas en kleuters is nie meer so vreesaanjaend nie.

Nicola. Iemand wat haar liefhet! ’n Ander man? Wow! Dis nie ’n gedagte waarvan hy hou nie. Hel, skrap dit – hy haat dit.

“Francois, kom help asseblief!” Natalie klink ontsteld. Hy moet seker gaan help.

Dis ’n heerlike soel Oujaarsdagaand en die hele familie is buite op die stoep. Die tafel is gedek, die manne staan en braai, die kinders speel op die gras. Nicola lê op haar maag ’n entjie van hulle af met haar kamera gereed sodat sy foto’s kan neem.

Die son is nog nie heeltemal onder nie, maar die ergste hitte van die dag het vir ’n koel luggie plek gemaak.

“Mila sit nie vir ’n oomblik stil nie!” roep sy na ’n rukkie uit. “Pierre en Paul is maklik, en ek kon ’n paar foto’s van Dewald en Christo neem waarmee ek tevrede is, maar Mila woel aanmekaar.”

“Wat kan ek sê?” vra Neethling, hoog in sy skik, van die vuur af: “Ek het twee besondere vroue in my lewe.”

“Sy is omtrent ’n besige enetjie.” Natalie keer Mila wat wil opstaan, en die dogtertjie gee haar ma ’n kwaai kyk. “Sien? Kwaai ook. Nicola, kom sit en ontspan jy ook.”

Nicola hou haar kamera gereed voor haar. “Die lig is dié tyd van die dag eintlik net reg. Ek gaan nog ’n rukkie wag. Dalk is daar ’n paar uitsonderlike oomblikke.”

“Ek is so bly jy’s terug.” Amelie buk af om vir Nicola ’n drukkie te gee. “Ek gun jou die jaar wat jy rondgeloop het, maar dit was darem baie lank. Jy het so baie geleenthede gemis!”

“Ek was nog hier toe Dewald gebore is. En ek het my vlugte geskuif om Neethling en Natalie se troue te kan bywoon; dis net klein Mila se geboorte wat ek gemis het.”

“En Christo se derde verjaarsdag,” kla Chris kamtig. “En natuurlik ons almal s’n.”

“Ag, toe nou, ek was nie eens ’n volle jaar weg nie,” redeneer Nicola. “En nou is ek hier. Ek gaan eers weer in Maart weg.”

“Jy’s dan pas terug, waarnatoe nou?” vra haar ma.

“Santa Fe, die hoofstad van Nieu-Mexiko,” sê Nicola terwyl sy Mila deur haar kamera dophou. “Dis net vir ’n paar dae, Ma. Daar is ’n werkswinkel oor portretstudies wat ek graag wil bywoon. Dit word deur twee wêreldbekende fotograwe aangebied.”

“Jy kan hulle dalk ’n ding of twee leer. Jy neem foto’s vandat ek kan onthou,” sê Neethling.

“Vandat sy ’n kamera op haar agste verjaarsdag gekry het,” sê haar ma.

“Gesigte fassineer my nog altyd. Geen twee mense is eenders nie,” prewel Nicola terwyl haar hand bokant die knoppie huiwer. Klein Mila leun vorentoe, trek ’n speelding nader en gooi dit so ver soos wat haar armpie haar toelaat. Sy lag en kyk hoog in haar skik hoe die teddiebeer oor die kombers trek.

Die oomblik waarvoor sy gewag het! Klik-klik-klik.

Tevrede kyk Nicola na die foto – ’n wenner! Nou kan sy die res van die familie afneem. Sy sit regop en kyk deur al die foto’s wat sy so pas geneem het. Om ’n onbevange oomblik te kan vasvang, wil gedoen wees, maar sy het ’n paar sulkes geneem.

“Jy sal nooit ’n man kry as jy so aanmekaar rondloop nie,” terg haar ma.

Nicola kreun hardop: “Ma, drie van jou kroos is getroud. Jy het vyf kleinkinders, los my uit. Ons hoef nie almal te trou nie. Ek is buitendien so besig, tyd om ’n man gelukkig te hou het ek beslis nie.”

“Mmmm, kom ons wag totdat jy in die skakelhuis intrek,” sê Amelie. “Ek en Natalie was ook al twee footloose and fancy-free toe ons daar ingetrek het. Maar toe kruis ons paaie met dié van die Meyers, en kyk nou.” Sy beduie na die kinders.

Nicola hou haar besig met haar kamera. Francois staan by die vuur met sy rug na hulle, maar hy moet elke woord hoor wat gesê word. Aargh! Hoekom wonder sy daaroor? Geïrriteerd staan sy op en slaan die los gras af van haar romp wat tot op die grond hang. Sy het nie kans gesien om weer ’n kort nommertjie aan te trek nie. ’n Week lank het sy gedroom oor die uitdrukking in Francois se oë toe hy haar rompie wou aftrek.

Die hele week het sy verdomp verwag die man gaan haar bel. Dis nie asof sy wou hê hy moet bel nie, maar hy hét beide sy hande op haar bobene gehad. Dit was heeltemal logies om te dink hy sou bel. Of dalk net ’n boodskap stuur, of iets. Sodat hy iets oor sy hande op haar bene kan sê. Maar nie ’n piep nie. Wie maak so? Dit behoort haar nie te pla nie, sy wil nie daaroor gepla wees nie, maar sy is. En dit irriteer die lewende …

“Hoekom staan en frons jy so?” roep Natalie. “Kom sit.”

Terwyl sy praat, buig Neethling oor sy vrou en soen haar.

Nicola se kamera is gelig voordat sy regtig die besluit neem: Klik-klik-klik. “Dis mos nou ’n baie nicer foto as dié wat ek moes neem toe jy nog net leepoog na Natalie geloer het,” terg sy.

“Ja, toe,” sê Neethling. “Ek wag nog vir die man wat jou voete netjies onder jou uitslaan. Dan praat ons weer. Al probleem is, ons sal nooit foto’s daarvan sien nie. Jy is al een wat altyd ’n kamera byderhand het.”

Amelie lag en hou haar selfoon in die lug. “Wel, ek hou altyd my foon byderhand vir ingeval sy dalk ’n man saambring. ”

“Moenie asem ophou nie,” brom Nicola.

“Gepraat van voete onder iemand uitslaan. Francois, wat het geword van daai blonde girl wat jy een of twee keer na ons Sondagmiddagetes gebring het?” vra Chris. “Ons het haar lanklaas gesien.”

“Sonet?” vra Francois.

Nicola gaan sit, haar bene skielik lam. Verbouereerd kyk sy deur die foto’s op haar kamera, maar sy sien niks raak nie. Blonde girl? Niemand het voorheen iets gesê oor ’n blonde girl in Francois se lewe nie.

“Haar naam onthou ek nie, maar sy was baie danig met jou, dít onthou ek,” lag Chris.

“Nee wat, ons werk saam en is net vriende. Sy is ook nuut in die Paarl, en ek het net …”

Chris slaan hom op die skouer. “Toemaar, jy hoef nie te verduidelik nie,” terg hy.

O, aarde, dit gaan ’n baie, baie lang aand word as sy nou al opgewerk en sonder asem is. Of Francois nou twintig vroumense vir etes bring, dit het hoegenaamd niks met haar te doen nie. Wat in sy lewe aangaan, is sy saak. Behoort te wees.

Sy vat ’n groot sluk wyn. Kan sy asseblief tog nou aan iets anders dink? Anders gaan sy mal raak. Oujaarsdagaand word gewoonlik uitgerek totdat almal mekaar teen middernag kan voorspoed toewens op die nuwe jaar. Eers dan gaan almal huis toe. Wat beteken sy kan nie loop voor oor vier ure nie. Wat beteken sy moet vrolik wees en vir almal glimlag en nie elke twee minute in Francois se rigting kyk nie. Vir nog vier ure.

Amelie het ook met haar selfoon begin foto’s neem, en sy wil baie seker maak daar is nie iewers ’n foto van haar wat sy nie kan verduidelik nie. Sy weet goed wat ’n kamera alles kan verraai. Dis juis die foto’s wat sy van haar twee broers geneem het wat hulle liefde vir die vroue in hulle lewens verklap het.

Liefde? Waar kom dít nou vandaan? Niemand praat van liefde nie! Lawwigheid, ja. Dis al wat hierdie simpel bewerigheid in haar binneste is wanneer Francois in die rondte is. Skone lawwigheid.

Hoe de hel het dit gebeur?

Francois trek die stoel uit. Hy sit weer om die een of ander duistere rede reg langs Nicola. Sy gesels met Amelie aan die oorkant van die tafel, maar is bewus van elke beweging wat hy maak. Moenie vra hoe hy dit weet nie, hy weet net. Hy sien dit aan haar lyf, hoor dit aan haar asemhaling. Sy weet van hom hier langs haar.

Hy skuif vorentoe, probeer ongemerk sy stoel effens skuif, maar die tafelpoot is in die pad. Blomme. Haar geur spoel oor hom. Wat ís dit wat hy ruik? Viooltjies? Rose? Pronkertjies? ’n Mengsel van die klomp? Hy kan sy vinger nie daarop lê nie, maar wat dit ook al is, dit maak hom heeltemal mal.

Hy vat gou ’n sluk wyn. Hy is lankal nie meer ’n hormoonaangedrewe skoolseun nie, magtag. Sy werk neem al sy tyd in beslag, hy het pas al sy spaargeld van die afgelope tien jaar gebruik om aandele in die firma te koop waarby hy betrokke is. Tyd vir vroumense en verhoudings het hy vir seker nie.

Die vroumens kan sekerlik enige man kry wat sy wil hê. Dis belaglik om eens te dink aan die moontlikheid van ’n verhouding tussen hulle. Sy het ’n familie, ’n beroep waarin sy uitblink – hy het niks om haar aan te bied nie.

Die gevoel van oë wat oor jou gly, wat jou weeg en telkemale te lig bevind, ken elke weeskind goed. Hy ook. Daardie bitter smaak van teleurstelling op die krop van die maag wil hy nooit weer ervaar nie. Dis die hoofrede hoekom hy sorg dat sy hart nooit betrokke is wanneer hy ’n vroumens uitneem of, in sommige gevalle, selfs seks met haar het nie. As grootmens verstaan hy met sy verstand hoekom hy so is, verstaan hy die begrip “vrees vir verwerping” alte goed. Maar hy het sy suster en hy is vir die eerste keer in sy lewe deel van ’n familie – dis meer geluk as wat hy ooit gedink het na sy kant toe sal kom.

Hoekom hom verder blootstel?

Waarom de hel die vroumens met haar kamera hom nou skielik pla, weet nugter. Hy het haar net ’n paar keer gesien voordat sy oorsee is, maar om die een of ander rede het hy sy ore altyd gespits wanneer iemand oor haar praat, veral gedurende die tyd wat sy weg was. Op dié manier het hy geweet waar sy haar bevind, wat sy doen en wanneer sy terugkom.

Waarop hy glad nie voorbereid was nie, was sy reaksie toe hy haar weer sien – gebukkend, haar netjiese boudjies in rooi kant gehul in die lug.

Volbloedmans reageer op mooi girls. Hy is geen uitsondering nie. Maar hel, hy hoef ook nou nie onophoudelik, kwylend aan die vroumens te dink nie.

“Kom ons bid,” sê Neethling.

Gelate vou sy hand om Nicola s’n en wag hy vir die hitte wat teen sy arm op beweeg, vir sy hart om wild aan die klop te gaan.

Die gebed is gou verby, en Nicola trek haar hand onmiddellik weg.

“Op die ou jaar!” Chris lig sy glas.

Die wilde galop van Francois se hart bedaar effens. Baie effens.

Teen skuins voor middernag het almal binnekant toe beweeg. Die skottelgoed is gewas, en die kinders het gaan slaap. Nicola het die laaste goed weggepak terwyl die mammas weer gaan kyk het of die kleingoed slaap en die mans buite opgeruim het. Sy maak klaar net toe hulle van buite af terugkom.

Haar pa slaan sy arm om haar skouers. “Dis nog net ’n paar minute, Nic, ek kan sien jy is al reg vir slaap.”

“Ek ís nou vaak, maar dit is ook nie asof enige van julle nog baie op en wakker is nie.”

Amelie en Natalie kom terug.

“Die kinders is uit soos kerse.” Amelie gaan sit langs Chris.

Haar pa en ma neem plek in op die een bank, Natalie en Neethling op die ander een, en al wat oor is, is nog ’n stoel.

“Francois, kry nog ’n stoel …” begin Natalie.

“Ek sit sommer hier op die kussing.” sê Nicola vinnig en gaan sit plat op die grond voordat iemand iets verder kan sê.

Dis eers toe Francois skuins agter haar op die stoel gaan sit dat sy bewus word van hoe naby sy aan hom is. Maar enige beweging wat sy nou maak, gaan aandag trek, so sy sit kiertsregop en stokstyf.

“Jy kan nie so sit nie, Nicola …” Natalie mik om op te staan.

“Skuif terug sodat jy teen die stoel kan leun,” sê Francois agter haar.

Twee hande vou om haar skouers. Sy skuif agtertoe. Dis ’n breë stoel, so daar is plek vir haar rug, maar reg langs haar lyf is sy bene. Sy gespierde, bruingebrande bene.

Help.

Haar kamera. Sy moet haar kamera in haar hande hê. Sy mik om op te staan, maar Francois druk met sy een hand op haar skouer: “Jy het dit nie nou nodig nie,” sê hy sag sodat net sy dit kan hoor.

Hoe sou hy weet wat sy wou gaan doen het? Sy sak terug. Omkyk kan sy nie nou nie, almal gaan sien.

“Oukei, Nuwejaarsvoornemens? Ek sal begin,” sê Chris.

Om haar dreun stemme, maar Nicola hoor nie ’n woord nie. Al wat sy voel, is die hitte van Francois se bene teen haar lyf en al wat sy hoor, is sy asemhaling. Sy onegalige asemhaling. Nes hare.

“En jy, Nicola?” vra haar ma.

Almal hou haar afwagtend dop.

“Uhm … wel, daar is die uitstalling, die werkswinkel in Santa Fe …”

“Dis alles dinge wat jy gaan doen,” sê Francois agter haar. “Ek weet nie of dit tel as voornemens nie.”

Hierdie keer draai sy om na hom toe. Almal kan seker sien hoe vererg sy is. “Natuurlik is dit voornemens. Wat is joune nogal?”

Hy trek nie ’n spiertjie nie: “Om meer verdraagsaam te wees.”

Natalie lag. “Wat kan jy nogal nie verdra nie?”

“Mense wat agter ander dinge skerm.” Sy oë hou hare vas.

Wat wil hy nou eintlik daarmee sê? Wat weet hy van haar af?

Êrens toet ’n motor lank en hard, klappers begin skiet. Nicola kyk weg. Hy kan baie bly wees hier is ander mense.

“Nuwejaar!” roep Amelie en spring op. “Happy New Year, almal!”

Almal staan op. Nicola druk op die grond om op te staan, maar ’n hand vou oor haar elmboog en help haar op. Sy ruk haar arm weg en omhels haar broer wat langs haar staan. As sy Francois so irriteer, hoekom vat hy gedurig aan haar?

Daar word oor en weer drukke en soene uitgedeel. Nicola maak seker sy bly so ver moontlik weg van Francois en beweeg deur se kant toe.

“Amelie en Chris, die kinders slaap nou so lekker. Los hulle hier tot môreoggend, dan kan julle bietjie later slaap,” bied Natalie aan.

Amelie en Natalie begin praat. Nicola kyk vinnig rond. Haar ma en pa is ook op pad, sy kan nou maar wegglip.

“Ek is op pad!” roep sy vrolik.

“Kan ons jou môre kom oplaai?” vra haar ma.

Nicola frons. “Oplaai? Waarnatoe?”

Haar ma gee haar ’n drukkie. “Lyk my jou kop is nog op ’n ander plek. Ons kry mekaar mos môre by die Spice Route vir lunch.”

“O, natuurlik, ek het skoon vergeet. Maar ek bly aan die ander kant van die dorp …”

“Ek bly naby aan haar, tannie, ek kan haar sommer oplaai,” sê Francois agter haar.

Nicola kners op haar tande. “Dis nie …”

“Dankie, Francois. Dit sal nice wees,” sê haar ma met ’n breë glimlag.

“Mamma …”

“My kind, as ’n aantreklike man jou wil oplaai, sê ’n mens net ja, dankie,” fluister sy. En met ’n wuif is haar ma en pa weg.

“Is julle ook op pad?” vra Natalie.

“Ek is,” sê Nicola. “Baie dankie vir die heerlike aand. Sien julle môre!” Sy moet wegkom.

“Ek is ook op pad. Sien julle in die nuwe jaar,” sê Francois.

Nicola wag nie om te hoor hoe daar gegroet word nie. So vinnig soos sy kan, stap sy in die rigting van haar motor.

Voor sy haar hand kan uitsteek om die motordeur oop te maak, is Francois langs haar. Hy tree voor haar in en maak die deur oop.

“Ek kan my eie deur oopmaak.” Sy probeer nie eens meer haar irritasie wegsteek nie.

Hy sê niks, kyk net vir haar.

“En ek kan self môre by die Spice Route uitkom, ek was al hoeveel kere daar en het beslis nie …”

“Jy praat darem baie,” sê hy en soen haar.

Vererg probeer sy hom wegdruk, maar haar hande beland op sy skouers net toe hy haar nadertrek. Onder haar vingers rimpel sy spiere. Begeerte vervang irritasie en in plaas daarvan om hom weg te druk, bondel haar hande sy hemp saam.

Sy tande byt sag aan haar onderlip, ’n snak glip oor haar lippe en blitsig glip sy tong verby haar tande tot in die holte van haar mond waar hulle tonge ontmoet, mekaar verken, verstrengel raak.

Agter hulle klap die voordeur, iemand lag.

Nicola druk Francois weg. Hy lig sy kop, sy oë halfmas. “Happy New Year,” prewel hy. “Dis al wat ek wou … maar toe … jy …” Hy draai om en stap met lang treë na sy motor toe.

Nicola moet gaan sit. Haar bene is heeltemal, heeltemal lam. Chris en Amelie kom verbygestap.

“En toe?” Chris druk haar motordeur toe. “Ek dog jy’s lankal weg.”

Verbouereerd skakel sy haar motor aan. “Uhm … ja, ek …”

“Is als reg?” vra Amelie fronsend.

Nicola probeer glimlag. “Als reg. Sien julle môre.”

Met ’n kreun ry sy weg.

Dis belaglik om so op ’n soen te reageer, verdomp. Dis nie asof sy nog nooit gesoen is nie.

Aaargh!

Liefde deur ’n lens

Подняться наверх